Gideon Joubert

Die groot gedagte


Скачать книгу

wat soos pierings saamwentel, aan hulle vasgestrik met die onsigbare linte van swaartekrag.

      Ons eie Melkweg het twee satelliet-sterrenewels, die twee Magellaanse Wolke, wat op helder aande in die suidelike naghemel gesien kan word. Die groot wolk is 170 000 ligjare ver en die kleintjie is 205 000 ligjare ver. In werklikheid is die “kleintjie” baie groter as die “grote”, maar omdat die kleintjie soveel verder is, vertoon dit kleiner, al is dit die grootste van die twee.

      Die Magellaanse Wolke is genoem na die ontdekkingsreisiger Ferdinand Magellaan (omstreeks 1480-1521), die eerste Europeër wat hulle in besonderheid beskrywe het. Albei die Wolke bevat, afgesien van sterre, groot hoeveelhede waterstofgas, die sogenaamde Magellaanse Stroom. Die stroom is waarskynlik by een of al twee “uitgesuig” toe die Wolke nagenoeg tweehonderd miljoen jaar gelede naby die Melkweg verbygeskuur het. Die stroom bevat nagenoeg ’n duisend miljoen sonmassas.

      Galaksies is nie almal eenders nie. Daar is grotes en kleintjies. Twee wat deur ’n sterk verkyker na gloeiende donsies lyk, is M31 in Andromeda en M81 in Ursa Majoris (die Groot Beer). Laasgenoemde is net in die Noordelike Halfrond sigbaar.

      M31 en M81 is moontlik ’n bietjie groter as ons eie Melkweg, maar hulle is piepklein in vergelyking met sommige groot galaksies wat diep in die donker ewigheid van die buitegalaktiese ruimte lê. M31, in die plaaslike groep, is ietwat meer as tweemiljoen ligjare ver. M81 is buite die plaaslike groep, meer as 11 miljoen ligjare ver.

      NGC 3646 is egter ontsaglik groot en 270 miljoen ligjare ver. M81 kan maklik tussen die arms van NGC 3646 wegraak! Daar is galaksies wat nog baie groter is. Teen die einde van 1990 het sterrekundiges in die Amerikaanse tydskrif Science aangekondig dat hulle ’n galaksie ontdek het wat oor ’n afstand van sesmiljoen ligjare strek. Dit is meer as sestig keer groter as ons eie Melkweg.

05.jpg

      Die spiraalgalaksie M81 in die konstellasie Ursa Majoris is naastenby so groot soos die Melkweg. Maar kyk hoe verdwerg dit op dieselfde skaal en afstand teen NGC 3646. M81 is 11 miljoen ligjare en NGC 3646 is 270 miljoen ligjare ver. Palomar-sterrewag.

      Die cD-galaksie (vir “central Dominant”) is die middelste in ’n veraf groep galaksies naamlik Abell 2029. Die cD-galaksie bevat meer as 100 000 000 000 000 sterre. Dit is die grootste enkele galaksie wat tot nog toe onderskei is. Saam met sy stralekrans, die verspreide lig rondom die galaksie, is dit die grootste voorwerp wat in die heelal bekend is.

      Abell 2029, ’n groep van sowat duisend galaksies, is ongeveer 1 000 miljoen ligjare ver en elke galaksie bevat miljarde sterre. Nogtans straal cD meer as ’n kwart van die lig van die hele groep uit.

      In die hemelruim is tallose spiraalgalaksies soos die Melkweg. Daar is ook elliptiese newels soos groot, blink hoendereiers. Daar is galaksies met ’n balk sterre of stof deur die middel, bekend as balkspirale. Daar is onreëlmatige newels soos silwer spinnerakke.

      Swaartekrag is die raamwerk wat alles aanmekaarhou. Dit is universeel, oral dieselfde. Dit is die heelal se grondwet, die wet van orde, dieselfde wet wat ’n boek op die tafel en ons voete op die grond hou.

      Stadig en amper tydloos draai die groot wiele van die spiraalnewels, soos die skitterende ratte van ’n diamanthorlosie. Ons eie blink spiraal draai soos ’n mallemeule vol juwele om sy eie as, een keer elke 225 miljoen jaar.

      Dit is ’n enorme wiel. Lig het 100 000 jaar nodig om van die een kant na die ander te trek. Sedert sy ontstaan het die son al 25 keer saam met die wiel gedraai.

      Ons wiel is saamgestel uit ’n groot verskeidenheid van blink hemelliggame. Sommige sterre is reuse: rooi seepbelle, honderde miljoene kilometer in deursnee, groot genoeg om ’n sonnestelsel soos ons s’n in te sluk.

      Ander sterre blink soos blouwit diamante. Daar is rooidwergies wat soos robyne gloei. Daar is geles soos ons eie son, en daar is swartes wat spookagtig in die skemerlig van ander sterre opdoem.

      Sommige sterrekundiges glo selfs dat daar sterre van suiwer diamant is, koolstof wat deur ontsettende swaartekrag tot skitterende, soliede diamante saamgepers is.

      Die groot, rooi seepbelle is lig soos veertjies. Dan is daar klein sterretjies wat ontsettend dig en swaar is. ’n Speldekopgrootte hiervan weeg meer as Tafelberg.

      Die meeste sterre het maats. Twee-twee tol hulle om mekaar, soms drie-drie, en soms is dit ingewikkelde groepe van ’n dosyn of meer wat soos gloeiende kole om mekaar maal.

      Sommige pare draai ver van mekaar. Op ander plekke raak twee hier en daar aan mekaar, en blink stof word afgeskuur. Die silwer stof lyk soos wit linte wat die sterre aan mekaar bind.

      Baie sterregroepe lyk soos hopies juwele wat in al die kleure van die reënboog skitter. ’n Skitterende sterreswerm in die Suiderkruis is só aangrypend mooi dat sterrekundiges dit die “Juweledoos” noem. Daar is ook groot sterrehope, miljoene sterre wat saamtros en soos blink klonte aan die spiraalwiel se speke sit.

06.jpg

      ’n Valskleur-beeld van galaksie cD, soos vasgelê deur ’n lading-gekoppelde toestel. In die galaksieswerm Abell 2029 is cD die grootste wat bekend is (8 000 miljoen ligjare in lengte). Die Melkweg is die wit kolletjie links onder op dieselfde skaal.

      Daar is ander verskynsels soos supernovas: skerp, helder ligte wat kortstondig meer lig uitstraal as al die sterre van die spiraalwiel saam. Daar is swartkolke, vreeslike bodemlose putte wat alles insluk wat naby kom, en dit vir ewig laat verdwyn.

      Daar is newels wat net waargeneem kan word deur middel van instrumente wat infrarooi strale opvang. Daar is hemelverskynsels wat kragtige bronne van radiogolwe is.

      Die miljoene neweleilande in oseane van niks is te groots vir die menslike begrip. Dit laat ’n mens verwonderd saam met Bildad die Suagiet uitroep, soos dit in Job 25 opgeteken staan: “As vir God selfs die maan nie helder is nie, en die sterre nie blink genoeg nie, hoeveel te minder ’n mens, ’n blote wurm, ’n mensekind, wat maar net ’n ruspe is?”

      3

      Uitdyende ruimte

      God is ’n sirkel waarvan die middelpunt oral

       en die omtrek nêrens is nie.

      – Empedokles (5 v.C.)

      Mistige wolkies

      Toe die Eerste Wêreldoorlog losgebars het, het sterrekundiges nog gedink ons Melkweg is die enigste in die heelal en dat dit ál die sterre bevat. Tussen die sterre is hier en daar mistige wolkies opgemerk. In die suidelike sterrehemel was die Groot en die Klein Magellaanse Wolke duidelik sigbaar.

      In 1905 het die Britse sterrekundige sir Robert Ball in sy boek The Story of the Heavens (1905. Londen: Cassell and Company) geskryf: “As ons met ’n goeie teleskoop na die hemel kyk, sal ons af en toe een van die merkwaardige hemelse voorwerpe raakloop wat as newels bekend staan. Hulle is dowwe, wolkerige kolletjies of ligvlekkies teen die swart agtergrond van die lug . . . die kleinste newel wat aan ons bekend is, is onvergelykbaar groter as die son . . . die newels is byna ondenkbaar ver . . .”

      Op daardie tydstip was 8 000 newels bekend. Hulle “verskil van mekaar in vorm, grootte, kleur en materie, soos agtduisend klippies sal verskil wat na willekeur op ’n seestrand opgetel is. En tog, soos die klippies, het hulle ’n sekere generiese ooreenkoms,” het hy geskryf.

      Niemand het presies geweet wát dit is nie. Die woord “galaksie” kom nêrens in sir Robert Ball se boek voor nie. Hoewel die “wolkies” noukeurig gekatalogiseer is, het sterrekundiges teen 1920 nog getwyfel of dit op die rand van die Melkweg lê en of dit buitekant is. Niemand het vermoed dat elkeen van die “dowwe, wolkerige kolletjies” ’n ontsaglike galaksie met miljoene en miljoene sterre is nie.

      Die stokou, kleinerige Metcalf-teleskoop (25,4 cm; 10 dm), wat nou onder ’n koepel van die Boyden-sterrewag in Bloemfontein staan, het indertyd ’n belangrike rol gespeel om die omvang en struktuur van die heelal te openbaar.