nié teruggaan nie. Ek het genoeg vernedering verduur. Julle gaan dit nie langer aan my doen nie. Sy vee die trane met die agterkant van haar hand af. Ek het ook ’n reg op my eie lewe. Ek kan self besluit wat ek daarmee wil maak.
Sy kyk nie om haar rond nie. Die bosse en bome bestaan vir haar nie. Sy is net bewus van die verset in haar en die doodse gevoel teenoor haar pa en Sias Beneke.
“Bly doodstil staan, senorita …”
Theresa ruk orent en kyk vas in die gesig van ’n vreemde man. Sy donker oë is soos stukkies koue oniks. Dis die oë van ’n man wat geen genade ken nie, besef sy dadelik. Sy houding is uitdagend, half geamuseer en half geïrriteer.
’n Koue rilling gaan langs Theresa se ruggraat af. Die noodlot het haar ’n moedswillige streep getrek. Intuïtief weet sy dat die man hier voor haar, die een met die koue gesig en donker oë, El Toro is …
2
Dit duur ’n tydjie voordat dit met ’n skok tot haar deurdring dat die man haar nie sommer net so weer sal laat gaan nie. Sy het heel per ongeluk op hulle wegkruipplek afgekom. Sy volgende woorde bevestig net haar vermoede.
“Kom liewer saam met my,” sê hy ietwat bars en beduie vir haar om voor hom uit te loop.
“Waar … waar neem jy my heen?” vra sy effens hees.
’n Glimlag raak aan sy mondhoeke.
“Ek glo nie dit maak eintlik meer saak nie. Toe, stap nou.”
Hy neem Bonita by haar toe sy by hom verbystap. Sy wil nog keer, maar besef goed dat dit nodeloos sal wees.
Skaars honderd tree van waar hulle ontmoet het, kom hulle onverwags op die bende se kamp af. El Toro stoot haar vorentoe toe sy huiwer en sy struikel oor haar voete. Sy gesig bly uitdrukkingloos en nog ’n koue rilling gaan langs haar ruggraat af. Van sy kant af sal sy geen genade kan verwag nie.
Vier mense kyk verbaas na hulle toe hulle die kamp instap. Daar is drie mans en ’n jong vrou. Haar slordige voorkoms en onverskillige houding val Theresa dadelik op. Dit lyk asof die meisie net nie meer omgee wat met haar gebeur nie. Sy sidder liggies en kyk na die ander drie.
Die een is ’n jong seun, moontlik nog jonger as sy self. Die ander twee is in hulle laat dertigerjare, skat sy, en albei so verwaarloos soos die meisie. Dis egter die een met die rooi baard wat haar kriewelrig laat voel. Sy oë lyk asof hulle regdeur haar kyk en die glimlag wat om sy mondhoeke speel, vertrou sy glad nie.
El Toro stamp haar weer vorentoe terwyl hy die jongste een nader roep.
“Neem dié een na die ander perde. Dis ’n goeie, bruikbare dier.”
Die seun knik ywerig en neem Bonita weg.
Theresa se hart klop in haar keel. Wat gaan hulle met haar maak?
“Jerez! Paolo! Kom hier!” roep El Toro na die twee mans wat nog steeds na hulle staan en staar.
Hulle kom lui nader gestap.
“Het jy nou mal geword, Romero? Vir wat bring jy die dorp se vroumense hierheen?”
El Toro gluur hom aan.
“Hou jou mond, Jerez. Sy het per ongeluk op ons kamp afgekom.”
Jerez se oë rek en dan bekyk hy Theresa aandagtig.
“Dis ’n gemors. Jy kan haar nie laat gaan nie en sy is te lelik om prettig te wees.”
Theresa bloos vuurrooi en slaan haar blik neer.
Paolo grinnik breed.
“Nogal ’n skaam een daarby! Ons gaan meer pret hê as wat julle dink!” Hy skater van die lag.
El Toro se koue oë laat sy lagbui verdamp.
“Ek het myself nog nooit aan koelbloedige moord skuldig gemaak nie. Ons sal haar hier vasbind aan ’n boom en môre die kamp verskuif. Dis buitendien op die oomblik te gevaarlik om so naby die dorp te wees.”
Jerez knik instemmend.
“Hierdie kamp het my nog die hele tyd ongemaklik laat voel.”
Die meisie kom ook nou nader en bly net buite die kring mans na Theresa staar. Daar is ’n vyandigheid in haar blik, maar dit lyk nie asof sy Theresa as té veel van ’n gevaar beskou nie. Dan gly haar blik na El Toro en die uitdrukking in haar oë versag. Vir Theresa is dit nie moeilik om te besef dat die meisie op die bendeleier verlief is nie.
“Vat haar na jou slaapplek, Zeta; ek sal later met haar praat,” sê El Toro en wink sy makkers eenkant toe.
Zeta stamp Theresa venynig in die ribbes in die rigting van haar eie slaapplek onder ’n boom. Daar druk sy Theresa op die grond neer en gaan voor haar staan met haar hande in haar sye.
“Wie is jy?” vra sy bars.
Theresa kyk nie op nie.
“Theresa Verhoef van Sonheuwel. Ons plaas is hier naby. Dit grens aan die plaas teen die rivier.”
Zeta bly ’n rukkie nadenkend staan en dan helder haar gesig op.
“Bedoel jy jou pa is daardie ryk buffel wat teen die bult bly? Die een met die swart hare en die moesie langs sy linkeroor?”
Theresa knik. Wat maak dit saak wie haar pa is? Vir hierdie mense beteken dit tog niks nie.
“Haai! Romero!” roep Zeta skielik na die leier. “Ek dink ons het ’n gansie gevang wat goue eiers kan lê!”
El Toro lyk geïrriteer.
“Jou ligsinnigheid is onvanpas!” snou hy haar toe, maar dit stuit haar nie.
“Haar pappa is skatryk, weet jy? Hy is daardie onbeskofte Verhoef-skepsel wat teen die bult bly.”
El Toro verstyf en dan kom hy stadig nader gestap.
Theresa kan haar tong afbyt van spyt dat sy ooit gesê het wie sy is. Hierdie mense sal nie verstaan as sy hulle vertel dat haar pa nie ’n dooie duit sal betaal om haar terug te kry nie.
“Praat Zeta die waarheid?” vra hy skielik hier by haar en verslae kan sy net knik. “Kyk na my, vroumens! Ek wil sien of jy lieg!”
Sy kyk op en sidder toe sy agterkom dat sy oë ’n hipnotiese uitwerking op haar het.
“Hoekom sal ek jok? Dit kan my nie juis iets in die sak bring nie.”
Sy oë vernou. “Ons sal sien,” sê hy kalm, maar die dreigement in sy donker oë is onmiskenbaar. “Ek en jy gaan eers ’n bietjie gesels voordat ek besluit of ek jou glo of nie.”
Theresa sug liggies. “Wat maak dit saak of jy my glo? My pa sal maar te bly wees om van my ontslae te wees.”
Sy blik dwaal oor haar skraal liggaam, die duur tabberd van roomkleurige sy, die breë strook Franse kant om haar hals en die stringetjie glimmende pêrels om haar nek. ’n Wrede glimlaggie plooi om sy mondhoeke.
“Ek dink ek weet wat my te doen staan.”
Theresa kyk hom met ’n diep frons agterna toe hy van haar af wegstap. Sy vermoed wat hy beplan, maar sy weet nie hoe sy hom daarvan gaan laat afsien nie. Dit gaan net noodlottige gevolge vir hulle albei inhou. Sy kyk af na die vuil kombers waarop sy sit. Niks maak werklik meer saak nie. Al kom sy hier uit, sal sy nog met Sias Beneke moet trou. Sy sal nog steeds moet voortgaan met dit wat haar pa vir haar beplan het. Nie haar moeder óf Johannes sal iets kan doen om haar te help nie.
Zeta kom weer voor haar staan.
“Jy is ’n snaakse een. Hoekom tjank en pleit jy dan nie? Hy mag dalk net sag raak.”
Theresa kyk op na die meisie.
“En wat sal dit my help? Hy is nie die soort wat sag sal raak nie.”
Zeta lag opgewek.
“Hy is so hard soos klip en so wreed soos ’n