die blink straaltjie uit ons boorgat al modderiger raak en oom Hans een middag ’n stuk of veertig uitgeteerde dorperooie op sy plaas moes keelaf sny.
Die meeste gesprekke het om reën begin draai. Het jy gehoor daar of daar het hulle darem so ’n los buitjie gehad? Dit was net stofnatmaak, maar dis darem iets.
Elke windjie en wolk was ’n belofte wat oral bespreek is.
En later het Ma opgehou om water by te gooi in die botteltjie op die vensterbank in die kombuis waarin ’n avokadopeerpit besig was om te ontkiem.
Een Sondagoggend het Dominee in die kerk afgekondig: ’n biddag vir reën sal Vrydagoggend om elf gehou word. Nou was daar nie meer Gatjieponders en Doppers en Hervormers en Apostolies op die dorp nie. Die biddag was oop vir almal.
Dominee was kalmer as gewoonlik, hy het nie een keer tydens die preek sy vuis in die lug geskud nie, en later was daar geleentheid vir gebed. Oom Andries het eerste orent gekom: “Dierbare, Almagtige Vader, ons raak vandag klein en nederig hier voor U . . .”
Ek kan nie onthou wanneer dit weer by ons begin reën het nie. Ek onthou daardie droogte beter as die reën wat die uitkoms gebring het.
Nou en dan kom rol die herinneringe daaraan stadig soos ’n tolbos deur my hart.
Boorman
Toe ek so ses, sewe jaar oud was, wou ek nie soos ander seuns eendag ’n dokter, ’n veearts of ’n polisieman wees nie. Ek wou ’n boorman word.
Ek wou my eie boormasjien hê en boorgate sink, op soek na water.
In die Noord-Kaap waar ek kind was, was daar knaend droogtes, en kinders het mos maar soms sulke edel drome en begeertes, voor hulle hul onskuld verloor.
Ek onthou baie dinge van daardie droogtes: Pa wat deur die groentetuin stap met die stoffies wat onder sy voete opslaan en vir Ma sê: “Kyk, Bokkie, die pampoene vrek ook nou.”
Of oom Gert wat kom vertel van die agttien dorperooie van hom wat in die veld bly lê het, agttien bondels vel en been, en hoe hy hulle met sy Joseph Rodgers-knipmes van die dors moes verlos.
Ek onthou bankrotveilings, en biddae vir reën waartydens ekstra stoele by die kerk ingedra moes word – biddae wat selfs deur oom Riempies, die hotel se kroegman, bygewoon is.
Ook vir oom Doepie, die boorman, onthou ek.
In droë tye was oom Doepie die draer van hoop in ons omtes.
Miskien is dit ook oor oom Doepie wat ek ’n boorman wou word, want die ou was vol stories – veral oor die plekke waar hy al boorgate gesink het, ver plekke, met name wat selfs ’n kind gelok het: Prieska, Sterkaar, Uitkyk.
Oom Doepie het ook maar lekker met stories gesmokkel, weet ek nou. Hy het my selfs vertel hoe ’n span van honderd kamele sy ou Thames Trader-lorrie en boormasjien een slag uit die sand gesleep het toe hy in Egipte gaan boor het. In die Saharawoestyn.
Oom Doepie het sy boormasjien – ’n nerfaf rooi affêre op vier swaar wiele – oral met daardie Thames getrek. Met sy vaal brak Jasper op die sitplek langs hom. En agterop die Thames het Jakkals, oom Doepie se dowe helper, gesit in sy verslete oorpak.
Dink ek aan oom Doepie, dink ek aan ’n spul ou, deurwinterde goed: Die ou boormasjien, die ou Thames, met die klomp ou gereedskap saam met ou Jakkals agterop; deurgeslyte grawe, ’n pik met ’n selfgekerfde steel, ’n effe gebuigde koevoet, geroeste stukke ketting, ’n dopemmer sonder ’n handvatsel; en daardie gereedskapkis wat jy net so in ’n museum ten toon sou kon stel.
Oom Doepie, wat toe seker so sestig was, het selfs so ’n deurwinterde gesig gehad, vol lyne en plooie. Of miskien moet ’n mens praat van ’n deursomerde gesig, want dis die Noord-Kaapse somers en droogtes wat hom so verniel het.
Die vel op oom Doepie se arms was plek-plek stukkend en rou, asof die son besig was om die bloed uit hom uit te trek. Maar as jy oom Doepie gevra het hoe dit gaan, het hy altyd geantwoord: “Uithou, aanhou, kophou en bekhou, dankie.”
Ek weet nie of oom Doepie ’n huis gehad het nie. Hy het nooit van ’n vrou gepraat nie. Of van enige familie nie. Daar waar oom Doepie geboor het, het hy ’n stowwerige tent opgeslaan. Dit was sy huis.
Die keer toe Pa hom gekry het om ’n nuwe boorgat by ons op die dorp te kom sink, het Ma oom Doepie saans genooi om in ons spaarkamer te slaap, maar die ou het elke keer ’n flouerige verskoning gehad. Hy wou eerder by die boormasjien wees.
’n Boordery was nie ’n private saak in ons wêreld nie – veral nie op ons dorp nie.
Ons dorp het nie munisipale watertoevoer gehad nie. Op byna elke erf, ook op ons s’n, was ’n boorgat, dikwels met ’n windpomp daarby.
Ons, weer, het ’n Wolseley-enjin gehad wat ’n pomp aangedryf het wat die water tot in ’n asbestenk gestoot het wat op ’n hoë stellasie agter op ons erf gestaan het.
Eintlik kan ’n mens daardie tamaai erf van ons nie ’n erf noem nie. Dit was meer iets soos ’n klein kleinhoewe, met ’n kweperlaning en ander vrugtebome: appelkoos, perske, vye, lemoen, nartjie, suurlemoen.
Dan was daar die groente: wortels, aartappels, pampoen – ’n hele spens.
Tot die droë jare kom en Pa een oggend die kombuis se sifdeur oopkraak en vir Ma sê: “Bokkie, ons gat pomp leeg.”
Dis wat gebeur: Jy sal die Wolseley op ’n oggend poef-poef-poef met die slinger aan die brand draai, ’n skaam straal water sal by die asbestenk begin inloop, en dan, ná ’n ruk, raak die straaltjie flouer en modderig – en hou dan op.
En as een boorgat op die dorp begin leegpomp, was daar gou ander ook. En dan het baie gesprekke oor water, of die gebrek daaraan, begin gaan.
Daarom het almal geweet as iewers geboor gaan word.
Die middag toe oom Doepie met sy trek by ons huis aankom, was daar gou ’n skaretjie dorpenaars om die situasie te kom bekyk. Selfs oom Niek Louw, die polisiekonstabel, was op die toneel, met sy SAP-pet op.
Pa-hulle moes ’n gedeelte van die agterste heining laat sak, want die Thames en die boormasjien was te wyd vir die hek.
Die volgende probleem was om die boormasjien te kry op die presiese plek wat oom Andries aangewys het waar die nuwe gat geboor moet word.
Oom Andries was ons dorp se waterwyser. Oor hom en al sy maniertjies gaan ek nie nou vertel nie. Ek gaan net sê: oom Andries het op ’n oggend, ná Pa-hulle besluit het om te laat boor, met ’n mikstok uit sy Opel Manta voor ons huis geklim en op die werf begin rondstap, die mikstok oopgesprei in sy hande.
Op ’n sekere plek, naby my duiwehok, het die stok knaend in sy hande begin draai, totdat dit soos ’n pyl grond toe wys. “Hier loop die aar,” het oom Andries later gesê en ’n groterige klip met sy voet soontoe gerol, want die klip was te warm van die son om met die hande op te tel.
By daardie klip het oom Doepie en Jakkals die boormasjien staangemaak en als begin gereed kry vir die boordery.
Ek ken nie die name van ’n boormasjien se onderdele en gedoentes nie. Eers het oom Doepie-hulle die boormasjien se toring – of dit het soos ’n toring gelyk – regop getrek. In die toring was ’n kabel wat oor pulleys geloop het, en vooraan die kabel was die boorpunt, so ’n swaar ysterding met ’n skerp punt.
Die volgende oggend het die boormasjien se enjin in ’n blou dieselwolk begin dreun, en toe het die kabel daardie punt op en af laat beweeg, stamp-stamp, duim vir duim die aarde in, terwyl my duiwe uit die hok uit die wolklose lug in fladder en Pa vir Ma sê: “Ons sal water kry. As dit die Here se wil is.”
Om ’n boormasjien op die werf te hê maak dikwels ’n desperate situasie nog meer desperaat.
Daardie gestamp en lawaai laat jou nie toe om van die modderige straaltjie water in die krane en die dooie pampoenranke in die tuin te vergeet nie.
Ek onthou