sit by Simon op die bliktrommel langs sy bed waarvan die pote op verfblikke staan. Die kamer ruik na Vaseline en Jeyes Fluid en Lifebuoy-seep. Agter die deur hang ’n blou overall aan ’n spyker. Op die tafel voor die venster is die draagbare Supersonic-platespeler wat Simon oor die pos van Ghoors op Vryburg bestel het. “Across the bridge, there’s no more sorrow,” kraak Jim Reeves se stem by die luidsprekertjie uit. Iemand hamer aan die deur. Dis Pa. Sy gesig is rooi. Hy wil weet wat ek in Simon se kamer doen. Nooit ooit weer mag ek daar kom nie.
“Weet Pa wat Simon se van was?” vra ek.
“Nee, seun. Hoekom?”
“Ek wonder sommer net. Ons het hom net as Simon geken. Maar hy’t ’n van gehad: Khumalo of Sangweni of wat ook al.”
Pa is dadelik sy liggeraakte self. “Wil jy vir my sê ons het nie goed vir Simon gesorg nie, seun?”
“Dis nie wat ek probeer sê nie, Pa.”
Ek druk met my vinger op ’n gebou in die hoofstraat. “Die stadsaal staan darem nog,” probeer ek die onderwerp verander. “En die hoofstraat is geteer.”
“Dis seker nou Zuma-straat of Mbeki-straat,” brom Pa.
Die stadsaal was die kulturele middelpunt van die kontrei. Charles Jacoby het daar opgetree. Ook Martino, die towenaar, en die Drakensbergse Seunskoor. Een aand het ’n minister vir ons van daardie saal se verhoog vertel ons, die blankes van Suid-Afrika, het ’n Goddelike roeping om die Westerse beskawing hier aan die suidpunt van Afrika te laat voortbestaan.
Ná klagtes oor die saal se akoestiek het meneer Piet Human, die skoolhoof, die mure met eierhouers laat uitplak, tot teen die dak. Soms het meneer Human vir ons op ’n Saterdagaand ’n fliek in die saal vertoon. Dis waar ek Kaptein Caprivi die eerste keer gesien het. Dirkie wat in die Namib verdwaal, met ’n hiëna op sy spoor. Dirkie wat al in die rondte loop, vuil en dors en honger, en oor en oor sê: “My pa het my lief, hy sal my kry. My pa . . .” terwyl ek snikkend agter die stoele insak om nie te sien wat gebeur op die skerm nie.
Twee straatblokke van die stadsaal af, skuins oorkant die skool, is die gebou waarin die Sonskyn Kafee was – oom Mike Botha se kafee.
“Oom Mike van die kafee is seker al oorlede,” sê ek.
“Dit sal my nie verbaas as sy kafee nou ’n China shop is nie, seun. Die Chinese neem als oor.”
“Die dorp lyk vir my heel goed, Pa.”
Pa laat gly sy vinger tot by die township aan die rand van die dorp. “En dié, seun? Lyk dít ook vir jou goed?”
Die township lyk soos soveel ander in hierdie land: Een gedeelte bestaan uit ouer, gevestigde huise; ’n ander bestaan uit hoekige HOP-huisies; en dan is daar die wond van ’n plakkerskamp.
“In ons tyd is die swart mense gedwing om in armoede in die tuislande te bly, Pa.”
“Dis reg, seun. Maak ons wittes maar sleg.”
“Ek sê net dis hoe dit was, Pa. Dis al.”
“Ons het nie van die regering verwag om alles vir ons te doen nie, seun. Ons het basaars en môremarkte gehou om geld in te samel vir ekstra klaskamers by die skool, en vir die bou van die nuwe pastorie, en die nuwe pawiljoen by die skougrond.”
O, ’n môremark op ’n Saterdagoggend op Gers se stoep: Ma en tant Hester van Niekerk en tant Berdina Smit en die ander tantes met hul blou-en-wit ACVV-voorskote aan. ’n Lang tafelblad wat op bokkies rus. Primusstofies. Eenkant staan die deeg, wat die vorige aand aangemaak is, in ’n roomkan. Pa en die ooms neem die geld en is in diens van die tantes. “Ou Japie, toe-toe, maak jouself handig,” praat tant Hester vir oom Japie Griesel aan. “Kom doen ’n bietjie iets aan al hierdie vlieë. Hulle dra ons weg.” Die reuk van kaneelsuiker, o, die reuk van kaneelsuiker. Tant Berdina roep my nader. “Jy’s so mooi soet, kind,” sê sy. “Jy kan maar een van die flops kry.”
’n Hele ruk sit ek en Pa stil na die rekenaar se skerm voor ons en kyk, asof dit ’n spieël is wat ons gesigte verwronge na ons toe terugkaats.
Dan kyk Pa na my. Sy oë lyk moeg. “Jy’t nog niks gesê oor al die bome wat ek en Simon geplant het nie, seun,” sê hy en skuif sy vinger oor die skerm, terug in die pastorie se rigting.
Opruim
Nog net die kat bly oor.
Die man ry by die huis se hek in, maar hy druk nie die knoppie op die afstandbeheer wat die motorhuis se deur laat oopgaan nie. Hy hou in die oprit stil. Die oggendson hang in die boom by die voordeur se blare. Die man klim uit die kar. Hulle het in ’n hotel oornag, want die lorrie het gister die laaste meubels kom haal. Die meeste goed het hy aan ’n tweedehandshandelaar verkoop. Die res – die Wetherlys-stel en die linnekas wat hy by sy ouma geërf het – is saam met die kinders se fietse en die ander goed in die vraghouer wat met die skip Australië toe gaan.
Die man sluit die voordeur oop, stap deur die leë portaal en luister na sy voetstappe op die teëls asof dit dié van ’n vreemdeling is. Hy gaan by die kombuis in. Die kat se bakke staan naby die agterdeur, langs die yskas wat nie meer hier is nie. Hy stap weer by die kombuis uit. Hy kyk vlugtig by die studeerkamer in. Op die blou mat is ’n vaal kol waar sy voete gerus het wanneer hy by die lessenaar gesit het.
Die kat lê in haar mandjie by die venster in hul jongste se kamer. Hy het geweet die kat sou hier wees, want sy was elke oggend hier wanneer hy sy jongste kom wakker maak het. Hy buk en tel die kat op en stap vinnig met haar in sy arms deur die huis, voor die klank van sy voetstappe uit. Hy maak haar in die kar toe, dan kom hy terug en sluit weer die voordeur. Hy talm ’n rukkie in die tuin. In die bome kwetter voëls. Hy wou nog die voëls se name geleer het, en die bome s’n, en die struike en die blomme s’n.
Hy gaan klim terug in die kar. In die truspieëltjie sien hy die kat op die agtersitplek sit, gehurk, met al vier pote onder haar gemmerlyf.
Toe hy by die hek uitry, kom die ou man wat al vir hoeveel jaar in die bure se tuin werk, op die sypaadjie aan. Die ou man kom staan langs die kar. “Loop baas nou?” vra hy.
“Ek gaan nou, ja,” antwoord hy. “Jy moet mooi bly, nè?”
“Is die miesies-hulle klaar daar oorkant?”
“Ons vlieg môre eers.”
Die ou man lig sy hand en beduie na die agtersitplek. “En die kat, baas? Loop hy saam?”
Hy antwoord die ou man nie. “Jy moet mooi bly, nè?,” sê hy weer, en ry weg.
Die man ry in die straat af, druk die knoppies wat die kar se agtervensters laat sak. Dalk spring die kat vanself uit. Die man ry al vinniger, met ’n kar vol wind. Die kat sit steeds op die sitplek toe hy voor die veearts se spreekkamer stilhou. Hy klim uit, maak die agterdeur oop en tel die kat op. Hy stap in die paadjie af en hy probeer om nie die kat se sagte pels te voel nie.
Dis net ’n kat, dink hy. Dis net ’n kat, dit is net ’n bleddie kat.
Vlug
Ek sit in ’n koffiedrinkplek op die Johannesburgse lughawe. Ek drink ’n espresso en bekyk die gesinnetjie wat pas by die tafeltjie langs myne ingeskuif het.
Daar is ’n pa, ’n ma en ’n kleinsus. Nie dat die kleinsus meer so klein is nie: Die beloftes van vrouwees slaan ferm onder haar Truworths-toppie deur. Sy is op pad oorsee, lei ek af, want die ma vra: “Het jy jou paspoort, sus?”
“Ja, Ma. Ek sê dan.” Die kind beduie na die rugsakkie op haar skoot. “Hiér.”
“En jou ponde?” vra die pa. “Waar’s jou ponde?”
“Ook hiér.” Die kind wys weer na die sak. Haar vingernaels is blou geverf.
“Jy moet oppas, ounooi,” sê die pa. “Daar oorkant is ook skelms. Oom Saag sê vir my Londen is deesdae vol Turke en Nigeriërs.”