’n bietjie vreemd geword, want iewers tussen my twintigste en dertigste jaar het ek opgehou om kerk toe te gaan. Ek het begin twyfel aan die NG Kerk se geloofwaardigheid. Hoe kan dit wees, het ek begin wonder, dat die kerk eens sekere dogmas op grond van die Bybel kon verkondig, net om dieselfde idees later op grond van dieselfde Bybel te verwerp – apartheid, die vrou in die amp, homoseksualiteit, Sondagsport.
Baie predikante se preke het my ook nie meer geboei nie. Die preke was vol moeë woorde en mishandelde frases. Ek het die skrywers van die boeke op my boekrak meer as die Kerk en die predikante begin vertrou om vir my te sê hoe moet ek lewe.
In die toring bokant ons slaan die klok een keer: halftien. Die diens hier gaan begin. “Goeiemôre,” groet die dominee, ’n ouerige man met ’n grys kop, van die preekstoel af.
“Goeiemôre,” groet party mense terug.
“Is hier enige besoekers vanmôre by ons?” vra die dominee. “Steek ’n bietjie vir ons die hande op.”
Een van dié wat ’n hand opsteek, is ’n kind wat uit Londen gekom het om Kersfees by sy ouers hier op die dorp te wees. Ek steek nie my hand op nie.
Oor die jare heen het ek soms na ander kerke as die NG kerk gegaan. Ek was selfs een of twee keer in ’n charismatiese kerk, maar dit het, glo ek, nie veel vir my siel beteken nie. Die helder, onpeilbare woorde in ’n gedig bring my nader aan God as al die “hallelujas!” en die “amens!” in die dienste van ’n pastoor of prediker met ’n cowboyhoed.
“Kom ons bly net so sit,” sê die predikant, “dan buig ons ons hoofde in gebed.”
Hy bid rustig en redelik, en gee daarna nog ’n psalm op. Ons staan op en begin weer sing: “Loof, loof die Heer van alle here . . .”
Die pa voor ons staan ook op, met die dogtertjie in sy arms. Die kind staar met blou ogies oor die pa se skouer na my terwyl ons sing. Dit voel of dit my vroeëre onskuldige self is wat na my toe staar.
Sal sy nog eendag so skepties en vol vrae soos ek wees? staan ek en wonder terwyl ek na haar kyk en die psalm se woorde saambrom. Sal daar, wanneer sy groot is, vir haar ’n NG of enige ander kerk wees? Of sal sy gelukkig en geestelik geborge wees in ’n wêreld waarin jou internetverbinding jou weg na die waarheid en die ewigheid is, ’n wêreld waarin die etiket op jou klere of handsak jou identiteit help bepaal?
Ons gaan sit weer. Op die preekstoel blaai die predikant deur sy Bybel. Hy begin lees ’n hoofstuk uit Psalms: “Kom laat ons jubel tot eer van die Here, laat ons juig ter ere van die rots van ons heil . . .”
Hy maak die Bybel weer toe. Hy gaan preek oor die vreugde van Kersfees: Hoe daar ’n kindjie in Betlehem gebore is, en hoe daardie kindjie ’n man geword het wat vir die mensdom se sondes sou sterf.
Ek kyk na die mense in die banke rondom ons. Dit is asof daar ’n tam gevoel oor almal hang. Teen die dak veg ’n waaier moedig met wye arms teen die hitte. ’n Man lig sy arm en vee die sweet met ’n bruingebrande hand van sy nek af. ’n Tante sit en staar na ’n Bybel wat oop op haar skoot lê. Party van die tekste in haar Bybel, kan jy sien, is onderstreep.
Baie van die mense hier is plaasmense. Oor een oom se voorkop lê ’n wit rif van hoed dra in die son, en om die tannie langs hom se een vinger is ’n stukkie pleister gedraai. By hulle sit ’n man en ’n mooi vrou en twee seuntjies. Die man dra ’n smal pienk dassie. Hy is die oom en tannie se seun, wat nou ’n ingenieur of ’n rekenmeester in die stad is, raai ek. Hulle kuier net vir Kersfees op die plaas.
Miskien kyk ’n mens op Kersdag met meer genade na jouself en dié rondom jou; miskien is dít een van die laaste oorblywende wonders van Kersfees. Want opeens tref dit my: hierdie mense wat ek hier sien, is die NG Kerk. Die NG Kerk bestaan uit mense.
Mense met bruingebrande hande en smal pienk dassies.
Mense met kinders in Londen en Bybels vol onderstreepte teksverse.
Mense wat, nes ek, oor die jare heen deur predikante en teoloë en sinodes verwar en selfs mislei is.
Mense wat, ondanks als, aanhou om Sondag ná Sondag kerk toe te kom, en basaar te hou, en geld vir Bybelverspreiding en sendingwerk in Hongarye in te samel. Mense wat hul kinders Sondagskool toe stuur.
Op die preekstoel lig die predikant sy arms. Hy is klaar gepreek.
“Ons sluit nou af met ‘Stille nag’,” sê hy.
Die lied se woorde verskyn op die skerm, maar dis nie nodig nie. Ons ken “Stille nag” se woorde. Ons staan op en begin dit sing asof ons nuwe waarhede uit daardie ou-ou woorde probeer lossing.
Die pa voor ons staan weer met die dogtertjie in sy arms. Die kind staar weer oor sy skouer na my, die hele tyd staar sy na my terwyl ons sing.
Eers toe die orrel stil is, kyk sy weer vorentoe en vra saggies vir haar pa: “Pappa, hoekom huil hierdie oom hier agter ons so?”
Daniëlskuil toe
Ek en Pa sit by die kombuistafel op Ventersdorp. Tussen ons staan my skootrekenaar. Ek is besig om vir hom te wys hoe Google Earth werk.
Ons het reeds na Memel, sy grootworddorp, gekyk.
“Wat van Daniëlskuil, seun?” vra hy. “Kom’s kyk na Daniëlskuil.”
Ek – asook Pa – was meer as twintig jaar laas op Daniëlskuil.
Ek tik in die langwerpige kassie aan die bokant van die skerm: Daniëlskuil, South Africa, en druk die doen-knoppie. Die aarde begin voor ons te draai en te kantel, en dan, stadig, sak ons in die binneland af tot die buitelyne van ’n dorp 20 000 voet onderkant ons in die voue van die Noord-Kaap lê.
Daniëlskuil.
Ons het in die jare sestig en sewentig op Daniëlskuil gewoon. Pa was die NG predikant daar.
“Gaan nader, seun,” praat Pa my aan. “Nader.”
Ek talm ’n oomblik met my hand op die rekenaar se muis. Daar is ander dorpe in my verlede ook, Grootfontein in die ou Suidwes, Naboomspruit, Nylstroom, maar op Daniëlskuil het ek, soos die ou mense gesê het, my verstand gekry. Op Daniëlskuil het ek vanuit my eerste onskuld iets begin gewaar van die magiese verwantskap van goed en kwaad, van vreugde en verdriet, van verlede en hede.
Ek laat gly die pyltjie op die skerm tot op die ikoontjie wat jou nader aan die aarde bring. ’n Paar oomblikke later daal ons af tot 20 meter bokant Daniëlskuil se middedorp.
“Seun, seun, seun,” sê Pa. “Kyk net. Kyk net.”
Party van die geboue herken ek dadelik: die munisipale kantoor, die skool en die koshuis, die polisiekantoor. Gers se winkel. Die Commercial Hotel.
Die Commercial Hotel het destyds aan oom Martiens Uys behoort, maar oom Martiens is waarskynlik al oorlede. Of die Commercial steeds ’n hotel is, kan jy nie vanuit die lug sien nie.
“Oom Osche se winkel is afgebreek, seun. Sien jy?”
Inderdaad. Skuins oorkant wat destyds ’n BP-vulstasie was, is nou ’n oop stuk grond waar oom Osche se kontantwinkel gestaan het.
Pa kies met sy vinger oor die skerm koers na die kerk en die pastorie naby die skool. “Kyk net hoe’t die bome gegroei wat ek geplant het, seun.”
Die pastorie het steeds ’n teëldak, maar die sementdam agter op die erf is nou leeg.
Die herinneringe kom in flarde in my los: paddaslyk. Dahliabolle in die motorhuis. Pa trap ’n koringkriek op die tuinpaadjie dood en net ’n geel pappery bly oor. ’n Groot rooi stamper-boormasjien boor vir water langs die huis, stamp, stamp, stamp, dae lank. Stofdeeltjies hang in ’n streep sonlig in my kamer. Ek stap met ’n bottel Creme Soda by die voordeur uit, die bottel gly uit my hand en val stukkend op die trap. Vlekkie jaag ’n haas deur die veld agter die huis, tjankend. Vlermuise in die skemer.
Langs die dam staan die geboutjie steeds. Hoe het ons dit nou