Hermann Giliomee

Die Afrikaners


Скачать книгу

       Die burgers en hul godsdiens

      As iemand in die sewentiende en die agtiende eeu ’n “Christen” genoem is, is veel meer as net sy geloofsoortuiging daarmee aangedui. Winthrop Jordan merk ten opsigte van Amerika op dat om Engels of wit te wees en om Christen te wees feitlik dieselfde ding was. “The concept embedded in the term Christian seems to have conveyed much of the idea and feeling of us against them: to be a Christian was to be civilized rather than barbarous, English rather than African, white rather than black.”

      ’n Dergelike houding is in hierdie tyd ook in ander Europese kolonies aangetref. Omdat die Kaap nie deur mense van ’n enkele Europese nasie gekoloniseer is nie, was die koloniste miskien selfs meer geneig om hul Christelike identiteit met hul politieke identiteit te vereenselwig. Dit was algemeen dat burgers na hulle self as Christene verwys het. Volgens ’n bron het ’n grensboer, toe hy twee ander boere in die teenwoordigheid van ’n Khoi-Khoi en ’n Engelsman opmerk, gesê: “Hier kom twee Christene, ’n Hottentot en ’n Engelsman.”

      Die eerste amptelike gemeente is in 1665 in Kaapstad gestig met Johannes van Arckel die eerste predikant. Daarna het gemeentes in Stellenbosch (1686) en Drakenstein (1691) gevolg. Die Kompanjie het die geestelike versorging van die koloniste in die dieper binneland verwaarloos. Eers vyftig jaar later het nog twee bygekom, Roodezand (nou Tulbagh) in 1743 en Swartland (nou Malmesbury) in 1745. Daarna het nog vyftig jaar verloop voordat nog twee gestig is: Graaff-Reinet (1792) en Swellendam (1798).

      In die eerste eeu of wat was die burgers glad nie besonder godsdienstig nie. Volgens boedelopgawes het min Bybels besit en teen 1726 was net een vyfde van die burgeregpare in die distrik Stellenbosch albei aangeneem. In 1743 het die Hollandse amptenaar G.W. van Imhoff met “verwondering en leedwese” opgemerk dat “weinig werk van die publieke godsdiens” gemaak word. Hy het verklaar: “Die onverskilligheid en onkunde van ’n groot aantal van die grensboere is so erg dat dit wil lyk of ons met ’n gemeenskap van blinde heidene te doen het eerder as ’n kolonie van Europeërs en Christene.”

      Die vroue het die leiding geneem in die noue betrokkenheid by die kerk wat die Afrikanergemeenskap vyftig jaar later sou kenmerk. Teen 1770 was 90% van die volwasse vroue in die Stellenbosse gemeente aangeneem teenoor slegs een derde van die mans.

      Die vraag is hoekom vroue lidmaatskap van die kerk so hoog op prys gestel het. Die antwoord lê waarskynlik opgesluit in die feit dat dit die enigste simboliese manier was om iemand wat nie wit was nie van die gesin uit te sluit en om ’n onderskeid te tref tussen die kernfamilie op die plaas en die slawe en ander werkers. Teen die einde van die agtiende eeu het dit ’n algemene verskynsel geword dat paartjies groot afstande afgelê het om hul kinders te laat doop en aanneem en om Nagmaal te vier. Ouers was geneig om hul toestemming vir die huwelik te weier as die paartjie nie albei aangeneem was nie. Aanneming was die drempel wat oorgesteek moes word voordat iemand ten volle in die burgergemeenskap op die platteland aanvaar is.

      ’n Golf van godsdienstige oplewing het oor die koloniste begin spoel en die persentasie van die burgers wat deur die kerk aangeneem is, het bestendig gestyg. Lichtenstein, een van die bes ingeligte reisigers, het vroeg in die negentiende eeu opgemerk: “[We] never heard from the mouth of a colonist an unseemly word, an overstrained expression, a curse, or an imprecation of any kind … The universal religious turn of the colonists, amounting almost to bigotry, is, perhaps, a principal cause to which this command of themselves is to be ascribed.”

      In die 1830’s het ’n ander reisiger opgemerk: “There are certainly no people in the world who are so truly God-fearing as the Afrikaner.”

      In die loop van die agtiende eeu het die Christelike kerk hoofsaaklik ’n wit kerk geword. Daar was min hulpbronne vir sendingwerk beskikbaar, maar daar was ook ander redes. Die Kompanjie het van die staanspoor ’n spesifieke stempel op godsdiens afgedruk deur in die instruksies aan predikante en onderwysers daarop klem te lê dat hulle die Gereformeerde Kerk en die Hollandse taal moet bevorder. Algaande is die burgergemeenskap en hul kerk gedefinieer deur ’n bepaalde geloof en taal.

      By die burgers het die oortuiging ontwikkel dat God ’n verbond gesluit het met hulle as ’n bepaalde gemeenskap en hul afstammelinge. Volgens hierdie verbondsteologie was daar ’n kontinuïteit tussen God se verbond met die Jode en die een wat Hy met Christene gehad het. Dit is versterk deur die doopteologie wat op die ou end in die NG Kerk aanvaar is waarvolgens kinders van Christelike ouers reeds in die moederskoot gered is. Die simbool daarvan was die kinderdoop. Ouers is slegs gevra om te beloof dat hulle die kind in die geloof sou opvoed. Wanneer die kind volwasse word, het hy of sy formeel ’n geloofsbelydenis afgelê om as lidmaat aangeneem te word. Slegs lidmate kon Nagmaal ontvang.

      Namate die verbondsteologie wortelgeskiet het, het die burgers oortuig geraak dat lidmaatskap van die kerk en die gebruik van die kerk se sakramente hulle as ’n gemeenskap saambind. Dit het terselfdertyd hul band met die Christene en Europeërs elders in die wêreld bevestig.

      As die vernaamste besluitnemende organisasie van die Gereformeerde Kerk in Nederland het die Sinode van Dordrecht in 1618 die basiese leerstellings en prosedures neergelê wat die kerk in die kolonies gevolg het. Die sinode het beklemtoon dat die evangelie aan almal gebring moet word, maar het die verantwoordelikheid op die hoofde van huishoudings geplaas om hulle slawe en ander werkers te laat doop. Diegene wat gedoop is, het dieselfde reg op vryheid as ander Christene geniet. Soos die sinode dit gestel het, moes hulle nie weer deur hul Christelike meesters “aan die mag van die heidene oorhandig word nie; sy dit deur verkoop of deur enige ander besitsoordrag”.

      Die sinode het egter nie onomwonde verklaar dat gedoopte slawe vrygestel moet word nie. Dit is verkeerd om aan te neem dat geloof aanvanklik die belangrikste skeidslyn in die Kaapse samelewing was. Die Kompanjie het sy slawe laat doop, maar nie vrygestel nie. Baie slawe in private hande wat vrygestel is, is nie vooraf gedoop nie.

      Die eienaars het die aanmaning om hul slawe te laat doop geïgnoreer, alhoewel dit teen die Calvinistiese geloof ingedruis het. Baie het verkies om Dordrecht verkeerdelik so te vertolk dat hulle verplig is om hulle slawe vry te stel as hulle gedoop is. In 1801 het Johannes van der Kemp, een van die eerste sendelinge, die posisie korrek opgesom: daar is geen wet wat bepaal dat ’n slaaf vry word nadat hy gedoop is nie, maar daar is ’n verbod op die verkoop van ’n gedoopte slaaf aan iemand wat nie gedoop is nie.

      Die belangrikste rede waarom eienaars hul slawe ongedoop gehou het, was hul vrees dat die doop hul beheer in gevaar sou stel. Om saam met sy eie slaaf in die kerk te sit, was ’n vorm van gelykstelling wat in die oë van ’n meester sy posisie van gesag en meerderwaardigheid ondermyn. Min eienaars het dus hul slawe vir doop of aanneming na die kerk gestuur, en die Kaapse predikante het dit ook nie juis aangemoedig nie. ’n Vader kon sy buite-egtelike kind by ’n slaaf bring om gedoop te word, maar baie min sulke vaders het by die kerk opgedaag. Die reisiger C.P. Thunberg het die situasie goed opgesom: “If the child is a bastard and its father does not discover himself, the infant remains unapprised. If the mother is a Black or a Hottentot, but the father a Christian, who requires it to be baptized, it is baptized”.

      Die Kompanjie het wel sy eie slawekinders laat doop, maar in die eerste vyftig jaar van die Kompanjiesbewind is slegs 319 slawekinders wat in private hande was en 124 volwasse slawe in private hande (minder as vier per jaar) gedoop.

      Om aangeneem te word, was selfs ’n strawwer toets vir ’n slaaf om af te lê. Gereformeerde predikante het geen beswaar daarteen gehad om nie-Europeërs aan te neem nie, maar as hulle vrede in hul gemeente wou hê, moes hulle sorg dat elke vereiste noukeurig nagekom word. Dit was seker dat ’n relletjie sou ontstaan as iemand wat nie gekwalifiseerd was nie, veral ’n nie-Europeër, toegelaat sou word om die Nagmaal te gebruik. Nie-Europeërs wat wel behoorlik gedoop en aangeneem is, is aanvaar as gewone lidmate van die kerk. In die gemeentes Kaapstad en Stellenbosch was daar ’n hele aantal nie-Europese lidmate. Ná 1750 het swart en bruin gesigte al hoe minder geraak in gemeentes dieper in die binneland.

      Aan die Kaap het die regering die predikante besoldig en die kerk het nóg die middele nóg die begeerte gehad om sy taak tot mense buite die Europese gemeenskap uit te brei. Die Kompanjie self het geen materiële gewin daarin gesien om slawe of Khoi-Khois te