“Hy is trots op die naam Africaan en hy dink die titel Kaapse burger is iets besonders.” Die meeste mense in die burgergemeenskap was van Hollandse en Duitse afkoms. Volgens J.A. Heese was 36% Nederlands, 35% Duits, 15% Frans en 7% nie-Europeërs. De Bruyn, wat ’n ander metode gebruik het, bereken dat die samestelling teen 1807 soos volg was: Nederlands 34%, Duits 29%, Frans 25% en nie-Europeërs 5%.
Hendrik Biebouw se kreet dat hy ’n Afrikaner is, is in die 1730’s weer gehoor, en weer van ’n enigmatiese persoon. Hy was Estienne Barbier, gebore in Orléans, Frankryk, en gedurende die 1730’s ’n soldaat in VOC-diens. Anders as Biebouw was hy geletterd en het hy inderdaad genoeg regskennis gehad om senior Kompanjiesamptenare met regstappe te dreig, wat noodlottig vir hom sou wees. Net soos Biebouw het hy die term Afrikaner binne die konteks van die politieke verset gebruik.
Barbier se opstand het teen die volgende agtergrond afgespeel. Teen die 1730’s was selfs die westelike deel van die kolonie nog ver van ’n geordende samelewing. Soldate het gedros om weg te kom van die Kompanjie se ongenaakbare dissipline, wrede strawwe en karige loon; slawe het individueel of in klein groepies gevlug om vryheid te kon smaak; en “basters” het die gevestigde samelewing vaarwel toegeroep om aan diskriminasie te ontsnap. Baie van hulle was desperate mense wat soms met groot geweld ’n Khoi-Khoi-kraal aangeval en mense voor die voet vermoor het.
Maar geweld was nie net tot hierdie “vabonde” en “drosters” beperk nie. Daar was burgers wat die Khoi-Khois se vee wou roof en hulle wou dwing om vir hulle te werk. Hulle sou lieg, bedrieg en ook moor. So het ’n ekspedisie teen die einde van die 1730’s na die Klein en Groot Namakwas aan die Oranjerivier gereis om vee te ruil. Aanvanklik het alles vreedsaam verloop en ’n burger, Willem van Wyk, het selfs “op die Hottentotmanier” met ’n Khoi-Khoi getrou (wat blykbaar ingesluit het dat daar op hom geürineer word). Kort daarna het die geweld losgebars. Die burgers het ’n kraal aangeval, verskeie inwoners, ook die kaptein, doodgeskiet en ’n groot aantal vee met hulle weggevoer.
Die regering was onwillig om die burgers verlof te gee vir sulke veeruilekspedisies omdat dit dikwels net ’n dekmantel was vir rooftogte. Toe ’n aantal Namas in die Wes-Kaap opdaag om te kom kla oor skade wat hulle in hierdie strooptog gely het, het die Stellenbosse landdros hulle onder sy beskerming geneem en die beskuldigdes gedagvaar om hul gedrag voor die Raad van Justisie te kom verduidelik.
Barbier was nie self betrokke nie. Hy was in die tronk omdat hy ’n hoë Kompanjiesamptenaar vals van wangedrag beskuldig het. In 1739 het hy ontsnap en by boere in Drakenstein gaan wegkruip, waar hy verskeie burgers teen die hoë amptenare opgerui het. In ’n manifes het hy ’n beroep gedoen op sy “Afrikanders broederen” om by hom aan te sluit teen ’n regering wat “Hottentotte” bo wit mans verkies. Hy het ook ander griewe opgehaal, soos die onwilligheid om rekognisiegeld op die leningsplase te betaal.
Barbier en sy mense het hul opstand begin deur die regering se proklamasie teen veeruil met die Khoi-Khois van die kerkdeur in die Paarl af te ruk. Maar die opstand het nie breë daadwerklike steun uitgelok nie en die belhamels is gou gevang. Die Kompanjie het hulle nie te hardhandig behandel nie, omdat besef is dat hulle aansienlike passiewe steun geniet het. Barbier is egter in 1739 op ’n kenmerkend wrede manier tereggestel.
Gedurende die laat 1770’s en vroeë 1780’s het die burgers in die Wes-Kaap daarop begin aandring dat hul regte beter omskryf en ook uitgebrei word. In een geval het hulle in ’n petisie aan die regering na hulle self verwys as “Africanders”. Dit was die begin van die stryd van die sogenaamde Kaapse Patriotte. Hierna het die burgers al hoe meer die term Afrikaners gebruik en daarop aangedring dat hulle dieselfde regte en status as burgers in Nederland moet hê.
Ander waarnemers het die term “Afrikaners” of “Afrikanen” gebruik vir mense in die stad en “Boeren” vir dié op die platteland. Die Britte aan die Kaap was geneig om na slavinne wat lig van kleur was as “Africanders” te verwys, maar toenemend is die term gebruik vir Europeërs wat aan die Kaap gebore is en wat Hollands of Afrikaans gepraat het. In 1822 het die reisiger W.J. Burchell opgemerk dat almal wat in die Kaapkolonie gebore is en nie van Engelse nie maar van Franse, Duitse of Hollandse afkoms is en Hollands praat, hulle self “Africaanders” noem. ’n Paar jaar vroeër het die reisiger R.B. Fisher geskryf: “[They] all speak a very bad sort of Dutch language … and style themselves as an original nation, Africanes [sic].”
’n Besondere taal het van vroeg af aan die Kaap wortelgeskiet. Reeds in 1658 het ’n hoë amptenaar, H.A. van Reede tot Drakenstein, dit nodig geag om teen ’n korrupsie van die Hollandse taal te waarsku. Sy vrees was dat die Nederlandse koloniste se nabootsing van die inboorlinge en slawe se geradbraakte Hollands ’n “gebroke taal” sal laat ontstaan wat nie uitgeroei sou kan word nie. Die regering se vermoë om korrekte en amptelike Hollands op te dwing, was egter baie beperk. Die skole het slegs ’n eenvoudige onderwys verskaf en is swak bygewoon. Nog minder was die regering in staat om slawe en Koi-Khoi-bediendes korrekte Hollands te leer praat.
Die “swak soort Hollands” waarna Fisher verwys het, is genoem Kaaps-Hollands, Kaaps en Boere-Kaaps en sou eers vroeg in die twintigste eeu algemeen bekend word as Afrikaans. Afrikaans was in sy kern ’n Hollandse dialek wat mettertyd ’n beperkte mate van kreolisering of afwyking van die basiese Hollandse struktuur ondergaan het. Gedurende die eerste sewentig jaar van die nedersetting het slawe en Khoi-Khoi-bediendes waarskynlik die grootste rol in die ontwikkeling van die taal gespeel. In die loop van die agtiende eeu het sowel burgers as hul bediendes en slawe, in hul omgang met mekaar, hierdie herstrukturering verder gevoer. Hollands is vereenvoudig en ’n aansienlike aantal Maleis-Portugese frases wat deur die slawe gebruik is, is in die taal opgeneem. (Die uitdrukking “baie dankie” weerspieël sowel die afwyking van Hollands as die leen van die Maleise “banja”.)
Die taal was dus die gesamentlike skepping van Europeërs en nie-Europeërs, van wit en swart, van base en slawe. Die taal is sowel op die platteland as in Kaapstad ontwikkel. Die grammatikale struktuur van die omgangstaal was reeds teen 1750 soos dié van moderne Afrikaans. Die burgers het wel hul bes gedoen om suiwer Nederlands te skrywe, maar hulle was, soos J. du P. Scholtz opmerk, nie meer daartoe in staat nie. “Oral breek vorme en konstruksies uit hul spreektaal in hul skriftelike taalgebruik deur.” Die spreektaal Afrikaans en die skryftaal Hollands is nooit hermeties van mekaar geskei nie.
Daar was ook perke aan die kreolisering. Daar was geen uitgebreide plantasies waar groot groepe slawe of bediendes ’n volskaalse Kreoolse taal onder mekaar kon praat nie. Teen die agtiende eeu is die blanke Afrikaanssprekendes nog in ’n groot mate beïnvloed deur gesproke Hollands in sowel die kerk as die staat. Die burgers het die Hollandse Statebybel gelees, in Kaapstad en ook aan die grens. Sekere kerkleiers sou tot die derde dekade van die twintigste eeu volhardend probeer om Hollands in eredienste te gebruik. Hollands het Afrikaans in die stryd teen Engels onderskraag en ook gekeer dat dit nog verder as ’n afsonderlike taal ontwikkel.
Sonder die voortgesette gebruik van Hollands, veral in die kerk, sou Engels Afrikaans in alle waarskynlikheid verdring het. Die graad van kreolisering was in elk geval meer beperk as by die Hollandse Kreoolse taal in die Wes-Indiese eilande. Aan die Kaap het mense van Nederland redelik maklik Afrikaans verstaan. Reisigers het dit gesien as ’n dialek en nie ’n aparte taal nie. Burchell het byvoorbeeld reisigers aangeraai om kennis van Hollands te hê, “according to the Cape dialect, and even according to the corrupt dialect of the Hottentots”.
“Vrye burgers van ’n kolonie van die vrygevegte Nederland”
Die stryd van die Kaapse Patriotte tussen 1778 en 1787 toon dat die burgers se politieke bewussyn in die loop van die agtiende eeu baie ontwikkel het. Die stryd is geïnspireer deur die Patriotbeweging in Nederland gedurende dieselfde tyd met as vernaamste denker Joan Derk van der Capellen tot den Pol, wat hom beywer het vir die afskaffing van die pos van stadhouer en van die selfaangestelde regente. Engelse denkers soos Price, Hutcheson en Locke het weer Nederlandse denkers beïnvloed. Die Amerikaanse revolusie, wat van 1775 tot 1783 gewoed het, was ’n bron van inspirasie vir Europese koloniste oor die hele wêreld.
Alhoewel die Kaapse Patriotte uit die geskrifte van Verligting-denkers in Europa aangehaal het, was hul gedagtes op plaaslike omstandighede toegespits. Die groot probleem was dat die amptenare, ten