dat die meesters baie onrustig oor hul persoonlike veiligheid was. Daar was die vrees dat slawe kon hand uitruk en probeer om hul meesters te vermoor. Hy het bygevoeg: “Almal in hierdie kolonie is verplig om snags hul kamerdeur toe te grendel en ’n gelaaide vuurwapen byderhand te hê uit vrees dat hul slawe wraak sou neem.” Burgers was nie soseer bang vir ’n algemene slaweopstand nie as vir hul eie slawe wat hulle kon vermoor of die huis afbrand. Hierdie fobies het die wit gemeenskap in Suid-Afrika gekenmerk in die eeue wat sou kom.
Die Kaapse stelsel van slawerny was in ’n belangrike opsig eienaardig. Die eienaars het naamlik baie min tasbare belonings aan slawe gebied om hulle te versoen met hul lot. Sedert die antieke tyd het slawebesittende gemeenskappe aansporings aan slawe gebied, waarvan ’n redelike verwagting dat hulle vrygestel sou word die belangrikste was. Maar aan die Kaap was daar min hiervan. Slawe is nie toegelaat om hul eie kerk te stig nie en min van hulle is skool toe gestuur. Ook het die eienaars nie range onder die slawe ingestel om diegene wat meer senior of besonder lojaal was groter status te gee nie. Eienaars het ook nie ’n spesiale poging aangewend om slawe as families te laat saamwoon nie.
Die gemeenskap van burgers het minder as tien slawe per jaar vrygestel. Een van die redes waarom manumissie so selde voorgekom het, was die vereiste dat meesters ’n som moes deponeer wat verbeur word indien die vrygestelde slaaf hulpbehoewend raak. Omdat daar so min tussenposisies in die Kaapse ekonomie was, was dit goed moontlik dat ’n vrygestelde slaaf nie ’n vaste werk sou kry nie. Die manumissiekoers aan die Kaap was ses keer laer as dié in Brasilië.
Aan die Kaap was dit paternalisme met sy besondere praktyke en ideologie wat slawe met hul lot moes versoen. Die paternalistiese ideologie het die mite verkondig dat slawe deel van die huishouding is, en informeel selfs deel van die uitgebreide familie, bestaande uit die eienaar se eie familie, sy broers of susters wat soms ook op die plaas gewoon het saam met hulle gesinne, en een of twee bywonergesinne.
Paternalisme was veronderstel om vir albei kante voordele te bring. Dit het behels dat die slaaf lojaal teenoor sy baas of nooi moet wees en hulle met respek moet behandel. Op sy beurt is van die eienaar verwag dat hy teenoor die slaaf optree soos ’n soort vader, wat gehoorsaamheid beloon en oortredings bestraf, net soos met sy eie kinders. Hy en sy vrou het die slaaf gevoed, geklee en versorg wanneer hy siek was. Die slaaf het soms ook saam met die gesin huisgodsdiens gehou. Die huisslawe het gewoonlik op hul hurke gesit of teen die muur van die voorkamer gestaan, terwyl die familie om die tafel gesit het. In die eienaar se oë was die gesamentlike huisgodsdiens ’n bewys van sy sorg vir die slawe. Dit het die burgers versterk in hul siening van hulle self as draers van die Christendom en beskawing na Afrika.
Paternalisme het selde die slaaf om die bos gelei. Dit was meer om die heersersklas self gerus te stel dat dit regverdig optree. Nietemin het paternalisme soms ’n stabiele verhouding bewerkstellig. Die stabielste verhouding was dikwels dié tussen die nooi en ’n vertroude slawevrou. ’n Waarnemer het oor laasgenoemde soort slaaf opgemerk: “They are entrusted with everything that is valuable – more companions than slaves, but the mistress rarely and the slave never forget their relative situations, and however familiar in private, in the presence of another due form prevails.” Slawevroue het selde harde handearbeid in die landerye verrig soos in baie ander slawegemeenskappe. Hulle was soogvrou, kinderoppasser, kok, huisskoonmaker.
Die slavin wat soogvrou was, was ’n sleutelfiguur in die burgerfamilie. In Holland is die gebruik afgekeur, maar aan die Kaap was dit algemeen. Die biologiese moeder kon gevolglik gouer weer ovuleer en met korter tussenposes kinders hê. Slawe wat soogvroue en oppassers was, het dit vir die burgergemeenskap moontlik gemaak om vinnig te vermenigvuldig. Slawevroue was letterlik die burgergemeenskap se boesem. Daarteenoor kon die slawebevolking aan die Kaap hom nie self laat aanwas nie, aangesien die gebruik die soogvrou se eie vrugbaarheid benadeel het.
Die woorde “minnemoer” of “mina” en “aiya” of “aia” het oorgebly as nalatenskap van hierdie intieme verhouding. Daar is soms gegis dat die intieme verhouding tussen seuns en die vrou wat hulle gesoog en opgepas het, hulle meer op hul gemak met swart vroue laat voel het en dat hulle selfs seksuele omgang met swart vroue verkies het. Maar dit is blote spekulasie. Dit is opvallend dat wanneer die seuns volwasse geword het hulle selde hul soogmoeders bevry het. Dit was eerder die Europese vroue wat soogmoeders en vertroude oppassers en vertrouelinge vrygestel het.
Geen slawestelsel is ooit anders as wreed nie. Ook die Kaapse slawerny was wreed en hardvogtig. Die ondraaglikste was dikwels die hegte en soms versmorende bande binne die uitgebreide familie wat die slaaf moes verduur. Slawe- en burgerkinders was speelmaats, maar wanneer hulle volwasse geraak het, het die burgerkind ’n baas geword en die slaaf het slaaf gebly. Selfs as volwassene is die slaaf aangespreek as “jong” (seun) of “meid” (meisie) en is hy of sy op hul eerste naam genoem. Slawevroue was dikwels baie lojaal aan hul “familie” en het dié se vertroue geniet, maar hulle het permanent kinders gebly.
Soos die mans moes slawevroue hul eie familielewe opoffer vir dié van hul baas en nooi. Dikwels moes die slawevroue dit ook verduur dat die baas of sy seuns by hulle aanlê en hulle is soms verlei of verkrag. Dit was hierdie slawe wat die meeste gely het, want hulle moes sowel die intieme as die wrede kant van slawerny verduur. Dit was húlle wat die gouste gevoel het dat hulle deur die paternalistiese verhouding verkul word. Toe die Britte aan die Kaap in die 1810’s en 1820’s maatreëls ingestel het om die slawe se lot te versag, was dit slawevroue wat die meeste klagtes by die slawebeskermer ingedien het.
Nuwe identiteite
Die grootste deel van die agtiende eeu het die koloniste na hulle self verwys as “burgers” of “Christene” en partykeer ook as “Hollanders”, maar teen die einde van die eeu het twee ander selfkonsepte na vore gekom. Dit was “blankes” en “Afrikaners”. Gedurende die eerste 150 jaar aan die Kaap was daar geen dringende rede om kleurverskille te beklemtoon of om ’n rasse-ideologie te ontwikkel nie. ’n Slaaf is met minagting behandel omdat hy ’n slaaf was.
Op die Wes-Kaapse platteland het die kloof tussen wit en swart in die loop van die agtiende eeu al hoe groter geword. Daar was min vryswartes wat hierdie kloof kon oorbrug en vryelik in die dominante gemeenskap kon beweeg. In Kaapstad was daar ’n groter vloeibaarheid. Teen die 1770’s het vryswartes in Kaapstad al hoe meer ’n sigbare deel van die bevolking begin vorm.
Dit was die aansporing vir die regering om regulasies uit te vaardig om hulle te beheer en vir pogings deur die burgers om hulle sosiaal uit te skuif. Die eerste keer kry ons nou dokumente waarin rassevooroordeel uitgespreek word. Die regering en die kerk het al hoe meer afsonderlike lyste vir verskillende kategorieë van mense begin hou, byvoorbeeld vir basters of vryswartes wat gedoop is. In 1761 het die Swartlandse gemeente ’n aparte lys in sy doopregister geopen vir basters en Khoi-Khoi-werksvolk. In sommige gevalle is nie-Europeërs in aparte seremonies gedoop. Op Stellenbosch het sommige burgers in 1788 by ’n krygsoefening geweier om onder ’n bepaalde korporaal te dien op grond daarvan dat hy swart was en “van heidense oorsprong”. Die Kompanjie het daarop ’n spesiale eenheid gevorm vir “Basters en mistiches” en dit die Vrye Korps genoem. Alle vryswartes was verplig om hierin te dien.
In 1793 het twee Nederlandse kommissarisse, S.C. Nederburgh en S.H. Frykenius, gewag gemaak van die “blankes” se gevoel van meerderwaardigheid, maar dit is moontlik dat dit hulle Europese agtergrond weerspieël. Dié term kom nou wel al hoe meer in die dokumente voor. In die loop van die agtiende eeu is al hoe minder mense wat as swart beskou is in die burgerfamilies opgeneem. Cillié de Bruyn se berekening toon dat in 1807 slegs 5% uit ’n monster van 1 063 kinders wat gedoop is ’n oupa of ouma gehad het wat deur genealoë as “nie-Europeër” aangedui word. Hierdie grootouer was gewoonlik ’n slavin.
Die term “Afrikaner” het op die voorgrond begin kom. Teen die einde van die agtiende eeu het daar onder die burgers die gevoel bestaan dat eerder as om ’n Hollander of ’n Fransman of ’n Duitser te wees hulle Afrikaners is. J.S. Stavorinus was een van die eerste besoekers wat hierdie ontwikkeling geboekstaaf het. “Although the first colonists here were composed of various nations, they are, by the operation of time, now so thoroughly blended together, that they are not to be distinguished from each other; even most of such as have been born in Europe, and who have resided here for some years, changed