Hermann Giliomee

Die Afrikaners


Скачать книгу

die dag van bevryding aanbreek.

      Kort ná die Britse besetting van die Kaap in September 1795 het die nuwe regering aangekondig dat dit nie eiendomsreg sou skend nie. Slawe wat hulle by die besettingsmag gevoeg het in die hoop dat hulle vrygestel sou word, moes dus na hul meesters terugkeer.

      Die nuwe bewindhebbers was goed daarvan bewus dat druk vir die afskaffing van die slawehandel in die Britse ryk aan die opbou was. Hulle het dus Willem Stephanus van Ryneveld, hoofregter, gevra of die kolonie kon oorleef sonder die verdere invoer van slawe. Van Ryneveld was self ’n slawebesitter, maar ook een van die mees progressiewe denkers wat onder die Kompanjie aan die Kaap gebore is en grootgeword het.

      Van Ryneveld het geantwoord dat hy besef hoe swaar slawerny is en watter nadelige gevolge dit het. Dit hou sowel die eienaar as die slaaf in die greep van ’n gebalde vuis en maak die koloniste lui, hoogmoedig en wreed. Hy sien egter nie kans om aan te beveel dat die invoer van slawe gestaak word nie. Die voortgesette invoer van slawe is onontbeerlik vir die verbouing van koring en wyn. Om slawerny te beëindig, kos nie jare nie, maar eeue.

      Die Britte het kort ná hul besetting van die Kaap in 1795 hul kommer uitgespreek oor sekere praktyke wat met slawerny aan die Kaap verbind was. Hulle het die Raad van Justisie gevra of die doodstraf voltrek sou kon word sonder die marteling wat dit vergesel het. Die raad het betoog dat doodstraf sonder marteling nie ’n voldoende afskrikmiddel is nie. Die Britte het verskil: hulle het die doodstraf behou, maar geregtelike marteling afgeskaf.

      Agt jaar later het die Bataafse bewind (1803-1806) dieselfde vraag oor slawerny aan Van Ryneveld gestel. Hy het weer uitdruklik die afskaffing van slawerny verwerp. Afskaffing sou lei tot “die onmiddellike vernietiging van die hele kolonie” en sou ’n ramp vir sowel die vrye man as die slaaf wees.

      Tog was die eienaars bang dat die slawe teen hul ondraaglike lot in opstand sou kom. Hul vrese is aangewakker deur die skrikwekkende gebeure op die Franse eiland Haïti nadat die revolusionêre regering in Frankryk slawerny daar afgeskaf het. Kort ná die vrystelling het gevegte uitgebreek en die meeste wit mense moes vlug. Die volgende tien jaar het ’n bloedige stryd gewoed wat met gruwelike wreedhede gepaard gegaan het. In 1804 het swart leiers die eiland onafhanklik en die inwoners vry verklaar. Die eerste sterk swart leier, Toussaint L’Ouverture, het egter die arbeiders verdruk op ’n wyse wat min van slawerny verskil het. By slawebesitters in die Weste het dit die indruk laat ontstaan dat die alternatief vir slawerny nie vryheid en sekuriteit vir almal sou wees nie, maar die omverwerping van alle orde en die vervanging van wit deur swart tirannie.

      Haïti het ’n bevolking van 30 000 wit mense, 24 000 vryswartes en 452 000 slawe gehad toe die opstand op die eiland uitbreek. Aan die Kaap was daar baie minder slawe as in Haïti, maar die Kaapse wit mense was ook minder as dié van die eiland.

Bevolking van die Kaap
1750 1798 1820
Burgers 4 511 c. 20 000 42 975
Slawe 5 327 25 754 31 779
Vryswartes 349 c. 1 700 1 932
Khoi-Khois nie getel nie getel 25 975

      In 1808 het die gevreesde slaweopstand uitgebreek net nadat Brittanje die slawehandel afgeskaf het. Twee Ierse matrose wat die Kaap aangedoen het, James Hooper en Michael Kelly, en twee slawe, Abraham en Louis, het die opstand aangeblaas. Hulle plan was om al die slawe wat op plase in die Wes-Kaap gewerk het bymekaar te maak en hulle dan na Kaapstad te laat marsjeer. Hier moes hulle ’n nuwe regering uitroep, wat slawerny sou afskaf. Abraham het aan ’n slawevrou gesê: “Môre sal die troepe ’n rooi vlag hys en hulle vry veg en dan sal slawevroue aan hul nooiens ‘jy’ sê.” Die regter in die daaropvolgende hofsaak het gemeen hierdie aanspreekvorm is in Hollands so oneerbiedig dat dit slegs in die raamwerk van weerstand en opstand geuiter kan word.

      Omtrent 300 slawe en ’n paar Khoi-Khoi-bediendes van Koeberg en Tygerberg het by die mars na Kaapstad aangesluit. Die opstand is vinnig onderdruk en die regering het die meeste van die slawe dadelik na hul base teruggestuur. James Hooper en die slaaf Abraham en drie ander slawe is tereggestel.

      In 1808 het die Britse regering die slawehandel verbied, maar gehuiwer om verdere stappe te doen. Sir John Cradock, goewerneur van 1811 tot 1814, wou die gesag van die slawebesitter beskerm. Hy het geglo dat slawe aan die Kaap beter behandel is as enige ander plek waar hy was. Sy opvolger, lord Charles Somerset (1814-1826), het opgemerk dat “no portion of the [slave] community is better off or happier than the domestic slave in South Africa”. Maar soos onlangse studies van slawerny aantoon, is dit vergesog om te dink dat daar ooit iets soos ’n milde stelsel van slawerny was.

      In die eerste dertig jaar ná die Britse verowering het die kolonie selfs meer van slawerny afhanklik geraak. Onder Britse beheer het die plaaslike mark sterk uitgebrei en die bande met oorsese markte het veel sterker geraak. By boere in die weste was daar ’n toenemende vraag na slawearbeid om die produksie van koring en wyn op te stoot. Tussen 1795 en 1825 het die produksie van sowel koring as wyn verdriedubbel. Teen 1806 het ongeveer 40% van die boere in Stellenbosch en Drakenstein slegs slawearbeid gebruik.

      Historici het ’n duidelike korrelasie gevind tussen die aantal slawe op ’n plaas en die plaas se produksie. Slawe was ook ’n belangrike vorm van belegging. Op wyn- en koringplase het hulle gemiddeld 13 tot 17% van die totale waarde verteenwoordig. In Kaapstad het slawe wat as ambagslui uitgehuur is ’n opbrengs van 18% per jaar vir hul eienaar gelewer.

      Daar is egter ook aanduidings dat boere meer slawe aangehou het as wat die pryse van produkte geregverdig het. Baie plase was oorgekapitaliseer en kapitaal was soms so skaars dat boere nie kontant gehad het nie. Slawerny was nogtans ’n merkwaardig lewenskragtige stelsel. Daar was weinig alternatiewe beleggingsmoontlikhede aan die Kaap. Solank slawerny as instelling onaantasbaar was, was slawe ’n uitstekende belegging, gemeet in suiwer stoflike terme.

      Die burgers het die voortsetting van slawerny as onontbeerlik beskou. Hulle was oortuig dat die afskaffing van slawerny rampspoedig vir die ekonomie en die koloniste se sekuriteit sou wees. Net ’n dramatiese verswakking in die mark vir slawe sou hulle van mening laat verander.

      Die risiko van hervorming

      Die Britte was gretig om die mishandeling van die Khoi-Khois, wat in naam vry was, te beëindig. Hulle het hulle tot W.S. van Ryneveld gewend om raad. In sy verslag het hy verklaar dat die administratiewe stelsel heeltemal onvoldoende is om die goeie orde in die binneland te bewaar en reg vir almal te laat geskied. Van Ryneveld het dit beklemtoon dat die burgers en die Khoi-Khois as op gelyke voet beskou moet word en dat hulle ewe veel aanspraak op die beskerming van die regering het. Nietemin het hy aan die Khoi-Khois ’n veel mindere plek toegeken. Hulle moes op ’n sendingstasie, ’n gelisensieerde kraal of ’n plaas woon, en hulle moes belet word om van een plek na ’n ander te gaan sonder ’n sertifikaat. Hy het voorgestel dat ’n rondgaande hof uitgaan om aanklagte aan te hoor.

      In hul pogings om die maatskaplike stelsel te hervorm, moes die Britte seker maak dat hulle nie oorhaastig optree nie. Al manier om die binneland te beheer, sou ’n informele bondgenootskap tussen die regering en die meer welgestelde burgers wees. Die Britte het dus die hervorming van die ou orde versoen met pogings om die burgers tevrede te hou en te verseker dat hulle ’n bestendige arbeidsmag op hul plase het.

      Alhoewel die Britse hervormings baie versigtig was, was dit genoeg om sommige van die vooraanstaande burgers te laat vrees dat die stappe die samelewingsorde op losse skroewe plaas. Senior amptenare wat aan die Kaap gebore is, het die meeste gedoen om die burgers te oortuig dat hervorming wel nodig is. Onder hulle was die hoofregters W.S. van Ryneveld en J.A. Truter en landdros Andries Stockenstrom