en pro-Brits was. Daarteenoor was die burgers sterk pro-Frans, prorevolusie en anti-Brits. Craig het kort ná die besetting geskryf: “[It] is certain that the great body of the people are at the moment infected with the rankest poison of Jacobinism.”
Vir die Britte, as die verteenwoordigers van die wêreld se magtigste ryk, was dit maklik om die hoë amptenare en verskeie welgestelde burgers in en om Kaapstad na hul kant oor te haal. In die aangesig van ’n sterk Britse mag en besliste bevelvoerders het Wes-Kaapse mense met revolusionêre gedagtes besluit om hul verset te laat vaar.
Die posisie van die opstandiges aan die oosgrens het gou onhoudbaar geraak. Hulle was oorwegend afkomstig van die suidoostelike wyke, wat in stryd met die Xhosas verkeer het. Hul posisie het verswak namate die regering se ammunisieverbod begin byt het. Die burgers aan die noordoosgrens, wat in ’n hewige stryd met die Boesmans gewikkel was, het die opstand nie gesteun nie. Vroeg in 1797 het die rebelle die landdros aanvaar wat die regering uitgestuur het.
Oorweldig deur sy skuld en verlam deur die kwynende mag van Nederland het die Kompanjie vinnig gesink. In 1798 het die Kompanjie finaal ondergegaan en sy besittings is aan die nuwe Bataafse Republiek se Raad vir Asiatiese Besittings oorgedra. Die wêreld van die Kompanjie, die magtigste multinasionale maatskappy van sy tyd wat die wêreldhandel oorheers het, was verby. Die Kompanjie het nooit uit die Kaap ’n wins gemaak nie en dit het iets geword wat die Kompanjie nooit beoog het nie, naamlik ’n vestigingskolonie met ’n veel meer komplekse samelewing as wat die Kompanjie ooit voorsien het.
En tog het die Kaap nie aan die Kompanjie se invloed ontsnap nie. Die Kompanjie het die samelewing gekompartementaliseer en mense sou nie gou uit die hokkies van statusgroepe kom nie. Alhoewel huwelike met vrygestelde slavinne in die eerste 75 jaar algemeen was, is nasate steeds aan hul slaweafkoms herinner. Tydens die Bataafse bewind (1803-1806) het burgers teen die aanstelling van H.A. Vermaak as lid van die gemeenteraad beswaar gemaak, omdat dit dan moeilik sou wees “om het geslagt der heidenen te hebben tot hunne Burgervaders, want dat die Zwart Vermaak tot Raad der Gemeente is aangesteld, wiens Moeder nog slavin was geweest”. (Een van Vermaak se oumas was ’n slavin.) In die 1830’s is dieselfde soort beswaar teen Andries Stockenstrom ingebring.
Die nuwe gesagvoerders het gou gemerk dat die burgers ’n obsessie het oor wat hulle gelykstelling genoem het. Waarskynlik het die beheptheid met gelykstelling sy oorsprong in die Kompanjie se Oosterse besittings gehad, waar ’n proses bestaan het waardeur iemand van nie-Europese afkoms om burgerstatus aansoek kon doen. Die nasate van die Kaapse burgers sou protesteer teen elke stap of daad wat hulle simbolies in dieselfde posisie as hul onderhoriges plaas.
Met die Britse bewindsoorname in 1795 het die burgerstatus verval, maar die koloniste van Hollandse, Duitse en Franse afkoms het voortgegaan om hulle self as mense met spesiale pligte en voorregte te beskou. Die kern van hul opvatting van hul status was hul deelname aan kommando’s, waar hulle onder hul eie offisiere geveg het. Toe die regering in die middel-1830’s beplan om boere vir militêre diens op te roep, het die boere sterk geprotesteer omdat hulle, soos hulle gesê het, nie as “iets anders as vryburgers” beskou wou word nie. Ná ordonnansie 50 van 1828 was die burgers en die Khoi-Khois op gelyke voet voor die gereg, maar omdat die Khoi-Khois nou min op kommando uitgegaan het en nie baie belasting betaal het nie, het die koloniste na hulle as “knapsakburgers” verwys.
Tot 1891 nog het die regering in amptelike dokumente van burgers gepraat wanneer hulle die Hollands- of Afrikaanssprekende wit onderdane bedoel het. ’n Kommissie van ondersoek het byvoorbeeld in hierdie jaar die regering se onderwysbeleid beskryf as een wat “die burgers Engels sou leer”. Daar kan betoog word dat die apartheidsbeleid van die twintigste eeu sy diepste wortels in die Kompanjiestyd gehad het, met ’n geprivilegieerde burgerstatus as die kern van die bestel.
Hoofstuk 3
Die vrees vir gelykstelling
“Op gelyke voet met die burgers”
In 1797 het ’n geskil tussen die landdros en heemrade van Stellenbosch ontstaan toe ’n Khoi-Khoi vra dat sy werkgewer, wat hom na bewering geld geskuld het, gelas word om voor die hof te verskyn. Die heemrade het opgemerk dat “sulke praktyke nog nooit tevore hier in swang was nie”. Hulle het dit betwyfel of ’n Khoi-Khoi die reg het om te vra dat ’n burger voor die hof verskyn, en het die vrees uitgespreek dat dit “die gedagte kan laat ontstaan dat hulle op gelyke voet met die burgers is”.
Die landdros van Stellenbosch, R.J. van der Riet, het sterk verskil. Hy het geglo dat ’n Khoi-Khoi op dieselfde wyse as hy self deur die wet erken moet word en dat “dit die ware gelykheid verteenwoordig”. In die dae van die Kompanjie het burgers, slawe en Khoi-Khois almal formeel die reg gehad om klagtes by die hof in te dien. Maar dit was eers in die vroeë 1790’s dat Honoratus Maynier in Graaff-Reinet die beginsel van gelykheid voor die wet sonder aansien van persoon verdedig het.
Van der Riet het moontlik hierdie standpunt ingeneem omdat hy geweet het dat die nuwe Britse bewindhebbers – anders as die Kompanjie, wat wetlike statusgroepe sterk beklemtoon het – veral op die gebied van die regspraak nie onderskeid tussen verskillende groepe onderdane sou maak nie. Die een onderskeid wat hulle wel toegelaat het, was tussen vrye mense en slawe, maar slawerny het toenemend teenstand in Brittanje ondervind.
Die nuwe heersers was geensins revolusionêr nie. Hulle het wel die burgerstatus afgeskaf, maar baie van die burgers se voorregte en verpligtinge, byvoorbeeld kommandodiens, het oorleef. Die Britte het sterker as die VOC daarop gestaan dat die Khoi-Khoi-werkers toegang tot die howe moet hê en grond kan besit. In die praktyk het hierdie regte egter nie veel beteken nie. Khoi-Khois was nie Christene en kon dus nie ’n eed in die hof aflê nie, en hul getuienis het gewoonlik minder getel. Baie min Khoi-Khois het ooit grond ontvang. Lord Charles Somerset, wat tussen 1814 en 1826 goewerneur was, kon aan die einde van sy termyn slegs klein stukkies grond noem wat aan drie “Hottentotte” en drie “Baster-Hottentotte” toegeken is. Selfs in die dekades ná die uitvaardiging van ordonnansie 50 van 1828, toe die Khoi-Khois sogenaamd bevry is, was daar net een suksesvolle Khoi-Khoi-aansoek om ’n plaas in die oostelike distrikte.
Tog het die burgers die afskaffing van die wetlike statusgroepe beskou as ’n aantasting van hul hele lewensbeskouing soos dit onder die Kompanjie gevorm is. Hul beswaar teen gelykstelling het binne die konteks van hul burgerstatus ontwikkel. Dit was as oudburgers dat hulle bepaalde regte en voorregte geëis het.
In die geskiedenis van Europese kolonisasie het die regverdiging vir diskriminasie sterk verskil. In hiërargiese gemeenskappe, waarin die waardes van broederskap, gelykheid en geregtigheid nie sterk ontwikkel het nie, het mense dit gewoonlik onnodig gevind om ras of kleur as regverdiging vir voorregte voor te hou. In Latyns-Amerika het ’n adellike afkoms of rykdom meesal as rasionalisasie gedien vir diskriminasie teen die gewone lui.
Die burgergemeenskap aan die Kaap was nie ’n hiërargiese gemeenskap nie, en veral buite Kaapstad het die burgers mekaar onderling as gelykwaardig beskou. Dit was juis hierdie egalitariese houding wat hulle genoop het om te diskrimineer teen diegene wat hulle nie as burgers beskou het nie. Naas hierdie “status” het kleur ook as die basis van onderskeid en diskriminasie gedien. Burgerskap en velkleur het grootliks ooreengestem, en namate die idee van burgerstatus vervaag het, het kleur al meer die grondslag vir diskriminasie geword.
Die vrees vir revolusie en opstand
Die burgers het gou bewus geraak van die dramatiese gebeure wat hulle tussen 1789 en 1794 in Frankryk afgespeel het. Die Franse Revolusie met sy leerstellings van vryheid, gelykheid en die onvervreembare regte van die mens was die grootste skok wat slawebesitters aan weerskante van die Atlantiese Oseaan nog beleef het. In 1793 het die revolusionêre bewind slawerny in alle Franse kolonies afgeskaf, insluitende die eiland Saint-Domingue (later Haïti).
Aan die Kaap het die nuus van die aardskuddende gebeure in Frankryk ook die slawe bereik. Die kolonie was skielik in die greep van wilde gerugte. In 1793 is berig dat in Stellenbosch ’n algemene vrees heers dat slawe en Khoi-Khois van plan is om “die plase van Christene aan te val en die inwoners te vermoor”. In Kaapstad