Hermann Giliomee

Die Afrikaners


Скачать книгу

en sendinggenootskappe. Die kerk, lank gewoond aan die feitlike monopolie wat dit geniet het, het gevrees dat sendingwerk tot kerkskeuring sal lei. Maar daar was ook ’n ander rede waarom die NG Kerk so stadig met sendingwerk aan die gang gekom het. Die Britte het eers in 1824 verlof gegee dat die NG Kerk ’n koloniale sinode kon byeenroep. Sonder so ’n sinode was dit baie moeilik om oor sendingwerk te besluit.

      Vir die Britse bewind was dit vreemd dat die NG Kerk so min daaroor bekommerd was dat die groot meerderheid van die slawe en Khoi-Khois nog nie tot die Christelike geloof bekeer was nie. Dit was in stryd met die Christelike opdrag om die boodskap aan almal te bring en het boonop gelyk of dit met die belange van die slawebesitters bots. Teen 1820 was slawebesitters in die Amerikaanse Suide oortuig dat slawe beter slawe is nadat hulle Christene geword het.

      Die beleid van die NG Kerk aan die Kaap was ferm: Die kerk is oop vir alle gedooptes, en die Nagmaal moet bedien word aan almal wat aangeneem is, ongeag of hulle wit of swart is. Hoewel die kerk nie vyandig teen sendingwerk was nie, wou dit die sendingwerk wat deur sy eie lidmate gedoen is onder sy eie beheer bring, veral aangesien die meeste lede van die ZAZG ook NG Kerk-lidmate was. Die ZAZG en sy medewerkende genootskappe wou egter nie deur die NG Kerk geabsorbeer word nie omdat dit sou beteken dat hulle hul outonomie moes prysgee en hul bande met hul Lutheraanse lede verbreek.

      Maar hoewel die NG Kerk oop was vir alle rasse het dit geen groot geesdrif getoon om groot getalle nie-Europeërs in die gemeentes in te bring nie. Soms was hul louheid openlik, soms subtiel. ’n Predikant kon die deur toehou deur gewoon slawe of vryswartes wat hulle wou laat doop of aanneem, te laat druip wanneer hul kennis van die Gereformeerde geloof getoets is. Die kerkraad van Stellenbosch het opgemerk dat “terwyl daar slawe mag wees wat God in hul harte vrees, hulle te dom is om baie te memoriseer”.

      Nadat die Britse regering die slawehandel in 1808 afgeskaf het, het slawepryse aan die Kaap viervoudig toegeneem tot 1824. Omdat slawe so duur was, was eienaars nog onwilliger om hulle na die doopvont te bring. In 1812 het fiskaal Daniel Denyssen, ’n Kaapsgebore staatsaanklaer, gerapporteer dat min slawe aangeneem is. “Daar is wel ’n aantal slawe by wie die beginsels van die Christelike geloof van hul kinderjare af ingeskerp is, maar daar is skaars een wat ver genoeg gevorder het om aangeneem te word.” Sy advies aan goewerneur Cradock was om gedoopte en aangenome slawe sekere voorregte te gun, soos die reg om ’n wetlike huwelik te sluit en die vryheid om kerkdienste by te woon.

      In 1812 het die regering die verbod op die verkoop van Christelike slawe herroep, maar tussen 1808 en 1824 is slegs 86 slawe, gemiddeld 6 per jaar, uit ’n totaal van meer as 35 000 slawe gedoop. Die koers van manumissie het nou tot so laag as dié in die Amerikaanse Suide gedaal, die slawebesittende gemeenskap met die laagste manumissiekoers in Noord- en Suid-Amerika.

      In die dieper binneland het sommige burgers die Khoi-Khois probeer indoktrineer om ’n permanente posisie van minderwaardigheid te aanvaar. Hulle het dit gebaseer op die ketterse stelling dat die Khoi-Khois nie deel is van die skepping wat die Europeërs op die aarde geplaas het nie. Couragie, ’n Khoi-Khoi-kaptein, het aan Van der Kemp gevra “of dit waar is dat God ons geskep het net soos die Christene [blankes], want u weet dat die Hollandse boere ons leer dat God ons nie geskape het nie en nooit enige notisie van ons neem nie”.

      Gedurende die eerste dekades van die negentiende eeu het ’n bestendige stroom sendelinge aangekom. Die eerste Wesleyaanse sendelinge het in 1816 gekom; daarna het gevolg die sendelinge van die Glasgow-Sendinggenootskap (1821), die Rynse Sendinggenootskap (1829), die Paryse Sendinggenootskap (1829) en die Berlynse Sendinggenootskap (1834). Daar is in die negentiende eeu dramatiese vordering gemaak met die kerstening van die inboorlinge van die land. Dit sou die NG Kerk onder groot druk plaas om sy bedrywighede uit te brei.

      Buiten Andries Stockenstrom het geen prominente Kaapsgebore kolonis ’n leidende rol gespeel in die golf van radikale hervormings wat in 1823 begin en in 1834 met die vrystelling van die slawe geëindig het nie. Behalwe ordonnansie 50 is al hierdie maatreëls in Londen beplan en in die kolonies ingevoer met min erkenning van plaaslike omstandighede.

      Die leier in die bevryding van die Khoi-Khois van alle vorme van wetlike diskriminasie was die sendeling John Philip, wat in 1819 in Kaapstad aangekom het om die bedrywighede van die LSG te koördineer. Philip is gebore in Kirkcaldy, Skotland, die klein dorpie waar Adam Smith sy groot boek oor die kapitalisme, The Wealth of Nations, geskryf het. Philip is geïnspireer deur Smith se visie dat vryhandel en vrye mense rykdom en welvaart sou laat vermenigvuldig. Die boere aan die Kaap het daarteenoor nog geleef in die wêreld van paternalistiese arbeidsverhoudinge en bestaansboerdery waarin kontantlone selde betaal is.

      Philip en die burgers het gou van mekaar vervreemd geraak. Hy het sy hoofdoel geformuleer as “ending the slavery of the Aborigines within the colony of the Cape of Good Hope”. Hy het die boere die stryd aangesê oor hul behandeling van hul arbeiders. Die verhouding is vererger deur sy neiging om die Afrikanerboere die skuld te gee vir al die konflikte aan die oosgrens tussen die koloniste en die Xhosas. Hoewel Britse soldate en Britse setlaars saam deelgeneem het aan die militêre optrede op die grens, was die burgers na sy mening skuldiger aan wreedheid as die ander.

      Philip het goed geweet hoe om die humanitêre drukgroepe in Londen te beïnvloed. Wat die burgers die meeste ontstel het, was dat hy hul Christelikheid bevraagteken het. Hulle het nie geweet hoe om hom te oorreed of hoe om hulle kant van die storie te vertel nie. Philip self het nooit die moontlikheid oorweeg om die burgers deur middel van oorreding eerder as veroordeling te beïnvloed nie. Hy het steeds Britse standaarde van “humanity and justice” voorgehou.

      Philip het ’n nuwe liberale orde verkondig. Sendingstasies moes toonbeelde wees van hierdie liberale orde, en beskawing en hardwerkendheid vooropstel. Om hierdie proses te begin, wou hy die Khoisanmense se wetlike status verander deur hulle van alle bande te bevry. Philip het op die regte tyd met sy veldtog begin. Die druk van die humaniste in Londen om alle vorme van slawerny en gedwonge arbeid in die kolonies te beëindig, het eers onstuitbaar geraak nadat die Britse ekonomiese beleid beslissend in die rigting van die vrye mark geskuif het. In woorde wat deur Adam Smith geskryf kon gewees het, het Philip verklaar: “[Make] the coloured population in your colony free, permit the natives to choose their own masters … allow them to bring their labour to a free market, and the farmers will no longer have an occasion to complain of a want of servants.”

      Sir Lowry Cole, goewerneur van die Kaapkolonie, het Philip beskryf as “meer ’n politikus as ’n sendeling”. Philip het dit ontken, maar dit is waar dat hy politieke en ekonomiese argumente gepaar het met morele en godsdienstige pleidooie. Vir hom was die Khoi-Khois nie net mense met siele nie, maar ook mense met gesonde verstand, wat goed geweet het wat die waarde van hul arbeid is. Hul inlywing in die ekonomie as vrye arbeiders sou nie net regverdig wees nie, maar ook die mark vir Britse produkte uitbrei.

      In 1825 het die Kaapse ekonomie dramaties verander met die beëindiging van die imperiale voorkeur op Kaapse produkte en die herstrukturering van die Kaapse ekonomie. Dit het gevolg op die aanbevelings van ’n kommissie van ondersoek wat die Kaap tussen 1823 en 1825 besoek het. Soos Philip het die lede min simpatie vir die burgers gehad en behalwe Andries Stockenstrom het geen Afrikaner vrywillig getuienis afgelê nie. Soos Philip het die kommissarisse die Hollandssprekende koloniste as die vernaamste struikelblok vir vooruitgang geïdentifiseer. Hulle was krities oor die koloniste se “want of intelligence and … indifference to those comforts that are indispensable to Englishmen”.

      Hulle het voorgestel dat die Khoisanmense bevry en die slawe vrygestel word. Om arbeid vry te stel is nie slegs regverdig nie, het hulle verklaar, maar dit sal ook die leeglêery van die Hollandse koloniste uitwis en hulle begeester met “a spirit of active industry and intelligence in their life”.

      Die kommissarisse het min gedink van die instellings waarmee die burgers hulle vereenselwig het. Volgens hulle was die reg- en administratiewe stelsel blootgestel aan die invloed van “local partialities, of hereditary prejudices, and of family connections”. ’n Kommissaris het opgemerk dat kleurvooroordeel dit vir regsgeleerdes onmoontlik maak om aan die Kaap ’n behoorlike regsopleiding te geniet. Hulle