sou bly. Met ’n lae tarief op Kaapse wyn in die Britse mark het veral die Kaapse wynboere ’n bloeityd beleef. Die groeiende mark het boere aangemoedig om baie kapitaal te belê in slawe, wat hoë pryse behaal het.
Skielik het alles dramaties en radikaal verander. In 1825 het Brittanje die tariewe op die wyne van Europa verlaag en daardeur die Kaapse wynbedryf ’n nekslag toegedien. Die wynbedryf en die hele Kaapse ekonomie het in ’n diepe depressie beland. Die waarde van slawe het skerp gedaal en sommige eienaars wat slawe op krediet gekoop of hulle as waarborg vir lenings gebruik het, is deur bankrotskap in die gesig gestaar. Hul enigste hoop was dat die regering spoedig tot hul redding sou kom deur slawerny af te skaf en behoorlike vergoeding aan die eienaars te betaal.
Slawerny was nie slegs ’n ekonomiese aangeleentheid nie. Die skielike beëindiging van slawerny was potensieel ’n groot bedreiging vir die openbare orde en die koloniste se veiligheid. Die onrustigheid daaroor is versterk deur die feit dat die Kaapse koloniste geen politieke verteenwoordigers gehad het wat in ’n parlement hul belange en vrese kon verwoord nie. Wat hulle verder ontstel het, was die feit dat die wetlike posisie van die slaaf met betrekking tot sy meester waarskynlik sterker as in enige ander slawebesittende kolonie was. Die getuienis van ’n slaaf teen sy of haar baas is dikwels deur die hof toegelaat.
Sommige eienaars het gevrees dat hul paternalistiese wêreld in duie stort. Dié vrees was nie heeltemal ongegrond nie. ’n Slaaf se lewe was so onuithoubaar dat baie eienaars ’n verskriklike vergelding deur slawe gevrees het; ander was bang vir algemene anargie. Omdat slawe so verspreid van mekaar was, was ’n grootskaalse opstand onwaarskynlik, maar eienaars was oor hul persoonlike veiligheid bekommerd. Kaapstad het ’n polisiemag van ’n skrale twintig man gehad en ’n bevolking van oor die 20 000. Dit het neergekom op een polisiebeampte per duisend mense in ’n stad wat nie eens straatligte gehad het nie.
In hierdie omstandighede het ’n slaweopstand in 1825 skokgolwe deur die kolonie gestuur. Dit het gebeur teen die agtergrond van ’n regulasie van 1823 wat die aantal houe wat aan ’n slaaf toegedien kon word tot 25 beperk het en die werksdag tot tien uur. Op die plaas Houd-den-Bek in die afgeleë Koue Bokkeveld het ’n slaaf genaamd Galant ander slawe op die plaas oorgehaal om saam met hom in opstand te kom. Hy het gesê dat hy gehoor het dat die slawe tussen Kersfees en Nuwejaar vrygestel sou word. As dit nie gebeur nie, moes die base vermoor word. Onder leiding van Galant het die slawe die baas en verskeie van sy familielede vermoor.* ’n Kommando het die opstand die nek ingeslaan. In die hofsaak daarná het die regters bevind dat “filantrope en kwaadgesinde mense” die slawe onder die indruk gebring het dat die regering aan hulle kant is.
In die hofsaak het die staatsaanklaer, D. Denyssen, die skok van die slawebesitters verwoord. Hy het dit met die Saint-Domingue-opstand vergelyk en gesê opstand spruit voort uit ’n begeerte “om die wette en gesag van die regering omver te werp, en uit ’n sug na bloedvergieting, oorlog, verwarring en rampspoedige anargie”. Hy het nie die moontlikheid oorweeg dat die rebellie ten minste deels deur ’n sug na vryheid veroorsaak is nie.
In 1826 het ’n aantal Stellenbosse burgers ’n memorandum onderteken wat die koloniste se vrese verwoord het: “The flame of devastation will not alone destroy our habitations, but will also cause your houses to fall in ruin! Not only our wives and daughters, but also yours will in libidinous manner be prosecuted by our slaves with rape and defloration, and when, after all this out of the pit of our murdered fellow-citizens a Saint Domingo has arisen, then may God grant that we be no more amongst the living, but then you yourselves will be compelled by the slaves who fought themselves free to carry the bones of your wife and your child to make a monument of their freedom obtained by fire and murder.”
Die regering het geprobeer om slawerny deur middel van regulasies effens draagliker te maak. ’n Slawebeskermer is aangestel om toesig oor hul behandeling te hou en lyfstraf vir slawe is beperk. In 1831 het die slawebeskermer die reg gekry om slawekwartiere te besoek en burgers is verplig om twee keer per jaar ’n strafboek in te lewer.
Die regulasies het amper ’n opstandjie in Stellenbosch ontlok. De Zuid-Afrikaan het openlik van verset gepraat en gewag gemaak van “die regte van Hollandse burgers en die lengte van boere se gewere”. In 1830 het die slawebeskermer gerapporteer dat die verhouding tussen slawe en hul base versleg het: “The tie which [had] existed between the Master and the Slave seems … completed [sic] severed. The Master does little for his Slave from real regard, and the Slave nothing for his Master from affection.”
Daar was darem ook slawebesitters wat nie net gekla en doemprofeet gespeel het nie. In die besef dat afskaffing ’n voldonge feit was, het hulle geprobeer om die inisiatief te neem om slawerny te beëindig. In 1826 het ’n vergadering van Kaapstadse slawebesitters voorgestel dat alle slawedogters ná ’n sekere datum vry moet wees. In dieselfde jaar is ’n soortgelyke voorstel ontvang van die landdros en heemrade van Graaff-Reinet. Stockenstrom het hiervandaan gerapporteer dat die distrik se houding teenoor die slawekwessie baie “liberaal” is.
Stockenstrom het besluit dat die enigste oplossing was om slawerny af te skaf. Hy het geskryf dat slegs die algehele uitwissing van slawerny ’n ramp sou verhoed. Sonder afskaffing sou die mense en regering [in Brittanje] nooit ophou om die meesters te pla nie en die slawe sou hul meesters so in die harnas jaag dat een teregstelling ná die ander sou volg.
Teen 1832 was die belangrikste kwessie vir slawebesitters of hulle billike kompensasie sou kry. Hoofartikels in De Zuid-Afrikaan het nou selfs begin praat van die algemene begeerte van eienaars dat slawerny afgeskaf word. Goewerneur Cole het verwys na die benarde finansiële toestand van die eienaars weens die ineenstorting van die slawe- en wynpryse. Die ryker boere het groot getalle duur slawe besit vir wie hulle nie werk gehad het nie.
Toe breek ’n politieke twis skielik tussen die twee wit gemeenskappe uit. Die Afrikaners het met slawe grootgeword en die oorgrote meerderheid van die slawe was in Afrikanerhande. Min was in Britse hande, omdat die regering die Britse setlaars van 1820 verbied het om slawe te besit. Vir Christoffel Brand, leier van die Afrikaanse slawebesitters, was die prioriteit om verteenwoordigende regering vir die Kaap te kry. Hy wou geen versekering gee dat eienaars afskaffing sou steun ná die instelling van so ’n stelsel nie, en het net ’n vae verwysing daarna gemaak.
John Fairbairn het aanvanklik ook verteenwoordigende regering voorgestaan, maar hy het begin twyfel of die Afrikaner-slawebesitters en De Zuid-Afrikaan, hul mondstuk, dit werklik ernstig bedoel met afskaffing. In hierdie tyd het sy skoonpa, John Philip, se Researches of South Africa verskyn, met niks goeds oor die Hollandse koloniste nie. Fairbairn het nou openlik die verbintenis van De Zuid-Afrikaan tot die afskaffing van slawerny in twyfel getrek.
De Zuid-Afrikaan was woedend. Na die koerant se mening was Fairbairn hooghartig en voorbarig. Hy het voorgegee dat hy persoonlik die vryheid van die pers bewerkstellig het en dat sy Commercial Advertiser die enigste ware onafhanklike koerant is. Vir De Zuid-Afrikaan was dit alles onsin. Die blad het verklaar dat dit voortaan die klem sou lê op vier belangrike vorme van onsin: VRYE PERS-onsin, ONAFHANKLIKE KOERANT-onsin, SENDELING-onsin en die ergste vorm van alle onsin, PHILIP-onsin. Op ’n vergadering van slawe-eienaars het Brand diegene aangeval wat “die Afrikaners daarvan beskuldig dat hulle venynige lummels is”.
Fairbairn het geantwoord dat ’n wetgewende vergadering wat deur Afrikaner-slawebesitters beheer word ’n belediging vir die gesonde verstand van die mensdom sou wees. Hy keur outokratiese regering aan die Kaap af, maar die despotisme van vyftig Koebergse boere sou vyftigduisend keer erger wees. Hy het gewaarsku: “JOHN BULL has awakened from his dream of confidence in the Afrikander.” Dit beteken die einde van “all danger of Dutch domination”. Die imperiale regering het die geskil in so ’n ernstige lig beskou dat hy die toekenning van selfregering langer as twee dekades uitgestel het. Die regering het nooit die burgers se voorstelle om slawerny geleidelik uit te faseer ernstig opgeneem nie. Dit het ook geweet dat die veldtog teen slawerny in Londen niks behalwe onmiddellike afskaffing sou duld nie.
Vroeg in die 1830’s het die imperiale regering besluit om slawerny af te skaf en kompensasie aan die eienaars te betaal. Fairbairn se Commercial Advertiser het eufories uitgeroep dat die besluit die Wes-Kaapse wynboere uit hul finansiële