Maar die werklike mag het nog steeds by die goewerneur en koloniale sekretaris gelê. In 1837 het die regering voorsiening gemaak vir die verkiesing van munisipale rade deur onderdane van alle kleure, met ’n lae stemregkwalifikasie. Dit is beskou as ’n eerste stap in die rigting van demokratiese regering.
Met die instelling van plaaslike regering het van die voorste burgers tot die politiek toegetree. Onder hulle was F.W. Reitz, ’n welvarende boer wat in Europa gestudeer en gereis het voordat hy hom in die Swellendamse distrik gevestig het. Daar was ook Christoffel Brand, en die sakemanne J.H. en J.A.H. Wicht. Toe Kaapstad se eerste stadsraad in 1840 gekies is, het die Wichts ’n belangrike rol gespeel. In toenemende mate het hierdie raad begin om as ’n teenwig vir die Wetgewende Raad te dien. Engelse en Afrikanersakelui in Kaapstad het in so ’n mate gedeelde belange gehad dat Brand in 1841 opgemerk het dat die “partygevoel” verdwyn het.
In die loop van die veertigerjare het die Kaapse sake- en professionele gemeenskap al hoe ontevredener geraak met die gebrek aan beheer oor die goewerneur en die topamptenare. Hulle was ontevrede omdat daar so min aan die ontwikkeling van die kolonie se infrastruktuur, byvoorbeeld die hawe, bestee is. Die imperiale regering was egter nie bereid om die nodige finansiële waarborge te verskaf nie. Plaaslike sakelui het al hoe meer besef dat die kolonie se belange slegs onder ’n vorm van verteenwoordigende regering behoorlike aandag sou geniet.
Ontevredenheid het skerp toegeneem onder die outokratiese en baasspelerige goewerneur Harry Smith (1847-1852) en die konserwatiewe koloniale sekretaris in Kaapstad, John Montagu. Met ál groter selfvertroue het die Kaapstadse middestand die regeringsvorm bestempel as onverteenwoordigend en onverantwoordelik. Die stadsraad van Kaapstad en die regering het skerp oor nuwe belastings getwis. De Zuid-Afrikaan het gewaarsku dat die regering nie moet probeer om ongewilde belastings aan die mense op te dwing nie. Die opstande van 1848 in Europa het die misnoeë met die klein aristokratiese heerserskliek laat oplaai. F.S. Watermeyer, ’n jong Afrikaner wat ondanks sy Engelse opvoeding darem nog “Hollands” genoeg was om tot Het Volksblad by te dra, het ’n waarskuwing gerig: “Be it known that the revolutionary genius of the age has reached even unto the Cape … The people do not choose longer to have others rule them. They will not that the heel of power shall longer be upon their necks.”
Toe die Kaap eindelik op die punt kom dat ’n parlement ’n werklikheid begin word, het die gemeenskap in twee groot kampe verdeeld geraak. Daar was ten eerste die “konserwatiewe party” van die kolonie se oostelike distrikte. Hier was daar ’n luidrugtige minderheidsgroep van Britse setlaars, wat universele stemreg met lae eiendomskwalifikasies verwerp het. Hulle het op hoër stemkwalifikasies en ’n tweede, benoemde kamer aangedring. Hul leier, Robert Godlonton, het verklaar dat die mense nie ryp is vir die voorgestelde liberale instellings en ook geen geduld het met stemreg vir die “onopgevoede inboorlinge” van die Katriviernedersetting nie. Richard Southey, die goewerneur se sekretaris, het aan Godlonton geskryf dat die Engelse onder ’n demokrasie deur die “Hollanders en kleurlinge” oorweldig sou word. Godlonton en Southey was so gekant teen die vooruitsig van ’n meerderheid wat “onprogressief” sou wees dat hulle verkies het dat die Kaap onder direkte imperiale heerskappy bly.
Ten tweede was daar die “populêre party”, wat teen die konserwatiewe party stelling ingeneem het. In die weste het dit bestaan uit ’n losse bondgenootskap van Afrikaner- en Engelse sakelui en professionele mense, tesame met Afrikanerboere. In die ooste het Andries Stockenstrom na vore getree as leier van hierdie “populêre party”. Hier het sowel Afrikanerboere as die “kleurlinge” van die Katriviernedersetting hom ondersteun. Toe ’n grensoorlog teen die Xhosas in 1846 uitbreek, het die Afrikanerboere aan die grens geweier om onder ’n Britse bevelvoerder op kommando te gaan. Hulle het eers ingestem nadat die leiding aan Stockenstrom toevertrou is. Die Britse setlaars aan die grens was nog steeds sterk teen hom gekant (sien “Die luidrugtigste teen die Xhosa-nasie”: Britse handelaars en spekulante).
In Maart 1849 het die laaste stadium van die veldtog ten gunste van ’n parlement aangebreek toe dit bekend word dat Britse gevangenes as immigrante na die Kaap gestuur sou word. Die meeste van hulle was Iere wat ná die “potato patch”-rebellie van 1848 gevonnis is. Dit het dus beteken dat die Kaap soos Australië ’n strafkolonie sou word. Die populêre party het dit met alle krag teengestaan en in 1849 het Fairbairn, Stockenstrom en Brand saamgekom om druk op die regering te plaas om hierdie plan te laat vaar.
Ten einde raad maar steeds onwillig om aan die populêre party toe te gee, het die regering die gediskrediteerde Wetgewende Raad byeengeroep om ’n nuwe grondwet vir die kolonie te oorweeg. As toegewing aan die openbare mening het die regering die gekose munisipale en distriksrade byeengeroep om mense te benoem wat die Wetgewende Raad kon bystaan. Vyf lede van die populêre party, Stockenstrom, Fairbairn, die twee Wichts en F.W. Reitz, was boaan die lys. Hierdie uitslag het gewys hoe geïsoleerd die konserwatiewe party geraak het.
Om aan die oostelike provinsie verteenwoordiging te gee, het die goewerneur J.H. Wicht vervang deur Robert Godlonton, wat elfde op die lys was. ’n Konsepgrondwet, wat deur William Porter, die Kaapse prokureur-generaal, opgestel en deur die populêre party ondersteun is, het die raamwerk van die debat oor die nuwe grondwet geword. ’n Lae eiendomskwalifikasie van £25 is aanvaar vir die twee kamers van die parlement, wat albei verkies sou word. Dit was ’n teenwig teen die invloed van die welgestelde klasse, wat geneig was om stoere imperialiste te wees, en die werkersklas.
’n Grensoorlog (1850-1851) het die politieke proses tydelik onderbreek. Nou was daar ook ’n rebellie deur die Katrivierinwoners. In vorige grensoorloë het die Katriviermense aan die koloniale kant geveg, maar baie was nou vervreem. Die Grahamstown Journal van Godlonton was aan die spits van ’n veldtog om die Khoi-Khoisendingstasies en -nedersettings op te breek, en dit is sterk deur grondspekulante aangemoedig. Vir die konserwatiewe was ’n lae stemregkwalifikasie ’n gevaar, omdat dit te veel mag aan “onkundige gekleurdes” sou gee. Maar hulle het ook ander vrese gehad. Een van hul beroepe op die regering weerspieël die kragtige mengsel van vrese op rasse-, etniese en taalgronde: “The diversity of race, the extensive influence of the Dutch colonists and the exercise of a common language by the Dutch, Malay and Hottentot communities was a further fact, the consideration of which, with the evil of the low franchise, placed at once this large majority in the ascendancy, to the imminent peril and jeopardy of the rights and privileges of the English colonists.”
Die mense by Katrivier het al hoe agterdogtiger geraak. Hulle is verder vervreem deur ’n poging van die goewerneur om wetgewing teen rondlopery in te stel. Andries Stockenstrom, een van die vernaamste beskermhere van Katrivier, het gewaarsku dat die swartsmeerdery van die Katriviermense in die pers ernstige gevolge sou hê. ’n Sendeling van die Londense Sendinggenootskap in die Oos-Kaap, Nicholas Smit, het die aanklag verwerp dat die sendelinge die mense van Katrivier en ander sendingstasies aangehits het. Hy het verklaar dat “baie van die gekleurdes openbare vergaderings van die ‘Engelse’ bygewoon het waar hulle genoeg gehoor het om hul eie gevolgtrekking te maak oor hoe dié mense oor die gekleurde rasse voel”.
In die oorlog van 1850-1851 het sommige Katrivierinwoners hulle saam met ander gekleurdes by die Xhosa-invallers geskaar. Hulle het hulle self gesien as verteenwoordigers van ’n “gekleurde nasie” wie se stryd nie teen die boere was nie, maar teen die Britte. Die ontevredenheid van die gekleurde bevolking het uitgebrei na die gekleurde troepe wat in die grensoorlog geveg het. Daar was allerlei gerugte dat die troepe gesê het dat die “Hottentotte en Kaffers vir grond veg wat voorheen aan hulle behoort het en dat hulle die reg het om dit te doen”.
Goewerneur Harry Smith het geglo dat die rebelle in opstand gekom het om Stockenstrom se politieke standpunte te bevorder. Ná die grensinval was Stockenstrom se huis die enigste in die grensgebied wat nie afgebrand is nie. ’n Paar Britse setlaars het dit toe aan die brand gesteek.
Maande lank het onrus in die kolonie geheers. Selfs op die Wes-Kaapse platteland was boere op hol oor gerugte dat hul werkers reg staan om te rebelleer. ’n Kommissie het agterna bevind dat hierdie gerugte versprei is deur mense wat teenstand wou aanwakker teen die nierassige stemreg met lae eiendomskwalifikasies.
Die populêre party het by sy standpunt gebly dat die kolonie