Hermann Giliomee

Die Afrikaners


Скачать книгу

en gelykstelling

      Die burgers het goed aangepas by twee belangrike veranderings in die maatskaplike orde tussen 1806 en 1853. Dit was die bevryding van die Khoisanmense en die vrystelling van die slawe.

      Met slawerny uit die weg het die Afrikaner-elite in die middelste derde van die negentiende eeu toenemend die idee van vooruitgang aanvaar. Hier het die klem geval op die nierassige stemreg, verteenwoordigende demokrasie, skeiding tussen kerk en staat, sekulêre onderwys en die waarde van wetenskaplike ondersoek. In die kleurkwessie het die burgers bly soek na ’n wyse waarop hulle hul paternalisme kon versoen met ’n nuwe nierassige liberalisme. Hulle het die beginsel van gelykheid voor die gereg en universele stemreg met lae kwalifikasies aanvaar, maar het gelykstelling van die hand gewys. Hierdie teenstand het gewortel in die ou statushiërargie van die Kompanjiestyd.

      In die godsdienstige lewe het die burgers gedurende die 1860’s die Christelike plig van sendingwerk met entoesiasme aanvaar. Dit was egter net moontlik omdat ’n kompromis aangegaan is tussen die kardinale beginsel van die eenheid van die kerk en die paternalistiese aandrang van gewese slawe-eienaars dat daar geen gelykheid in aanbidding mag wees nie. Die gemeente is geskei as toegewing aan die “swakheid van sommige”.

      Die vernaamste politieke verteenwoordiger van hierdie nuwe kompromis tussen paternalisme en liberalisme was J.H. (“Onze Jan”) Hofmeyr, ’n broerskind van N.J. Hofmeyr. Hy sou leier word van die Afrikanerbond, die eerste politieke party. Sy biografie onthul die teenstrydighede van die kompromis. Jan Hofmeyr het op ’n keer ’n swart man se hoed opgetel wat deur die wind afgewaai is. Aan ’n vriend wat hom daaroor betig het dat hy hom voor so ’n “vuil neger” verneder, het hy geantwoord: “Maar hy sou dieselfde vir my gedoen het.” Hy het nietemin die Xhosasprekende swart mense as kinders beskou wat op vriendelike en hoflike paternalistiese wyse opgevoed moet word.

      Gekleurde mense wat gekwalifiseer het vir die stem moes egter behandel word soos volwassenes en aan hulle moes menseregte toegeken word. Maar daar was perke. Eendag het ’n afvaardiging van gekleurde kiesers navraag gedoen of hulle lede van die Afrikanerbond kon word. In plaas daarvan om te antwoord het Hofmeyr die lede na sy huis uitgenooi. Volgens sy biograaf, Jan Hofmeyr, ’n broerskind wat een van die vooraanstaande liberale politici van die 1930’s en 1940’s sou word, het die lede van die afvaardiging die boodskap onmiddellik gesnap. Nes dit vir hulle onmoontlik was om die uitnodiging vir ete te aanvaar, het hulle besef dat hulle nie in alle opsigte as gelyk behandel sou word nie.

      Hofmeyr het geen beswaar daarteen gehad om gelykheid voor die gereg te aanvaar nie en sy organisasie het om die kleurlingstem gewedywer. Dit was gelykheid en dit was aanvaarbaar. In teenstelling hiermee was dit heeltemal onaanvaarbaar om saam met gekleurdes in sy huis vir middagete aan te sit of hulle as lede van sy politieke party te aanvaar. Dit was gelykstelling.

      Hoofstuk 4

      Die vuurproef van die oosgrens

      ’n Rampspoedige grensopstand

      Met hul hande vol om hul plase te verdedig, het die Sneeubergers afsydig gestaan van ’n moontlike nuwe opstand. Daar was net ’n buitekans dat hulle deur Van Jaarsveld tot optrede aangespoor sou word. Die kerngroep van rebelle het uit Bruintjieshoogte en die Suurveld gekom en het onder leiding van Marthinus Prinsloo gestaan. Hulle het hulle in Januarie 1797 aan die Britse gesag onderwerp, maar hul griewe was groter as ooit. Die toestand in die Suurveld was so onseker dat teen 1799 twee derdes van die 148 families wat in die vroeë jare negentig plase hier gehad het, nog nie teruggekeer het nie. Op plase waar daar wel boerefamilies was, het Xhosa-mans dikwels opgedaag op wat hulle “besoeke” genoem het en presente gevra. Heinrich Lichtenstein, ’n Duitse reisiger, het geskryf dat “hierdie barbare” uiters lastige bure is, want “in peace they expect as a sort of tribute what in war they seize by force”.

      Vir Prinsloo en sy volgelinge was die tyd ryp vir ’n opstand as die eerste fase van ’n plan om die Xhosas uit die distrik te verdryf en terselfdertyd Xhosa-vee te buit of vee wat aan die burgers behoort het, terug te vat. Hulle het geweet dat Van Jaarsveld gevaar loop om tronk toe gaan. Hulle het gehoop op steun uit Swellendam, waar die verbanning van Petrus Delport, ’n leier in die opstand van 1795, mense ontstel het. In hul oë was hul troefkaart die burger Coenraad de Buys, wat die moeder van Ngqika, die jong Xhosa-opperhoof, tot vrou gevat en met Ngqika ’n spesiale verstandhouding gehad het. Die rebelle het geglo dat burgers wat traag was om aan die opstand deel te neem die skrik op die lyf gejaag sou word deur hul dreigement dat Buys aan die hoof van ’n bende Xhosas hulle wreed sou straf.

      Ngqika het, soos die grensboere, in vyandskap verkeer met die Xhosas wes van die Visrivier, wat sy bevel veronagsaam het om ooswaarts oor die Visrivier terug te trek. Veral omdat hy van ’n vroeë stadium onder sy onderdane ongewild was weens sy gierigheid en hardvogtigheid, het Ngqika meer as ander Xhosa-kapteins steun onder die grensboere probeer kry. Om bondgenote te werf, sou hy bereid wees om grond tussen die Vis- en die Koonaprivier uit te gee. Prinsloo en sy volgelinge het lank reeds die oog hierop gehad. Daar was boere wat bereid was om onder die gesag van ’n swart opperhoof te woon as hulle daardeur goeie grond in die hande kon kry.

      Toe die nuus Kaapstad teen die middel van Februarie 1799 bereik dat Prinsloo en 40 man Van Jaarsveld bevry het terwyl hy onder bewaking na Kaapstad onderweg was, het die Britse bewind besluit om finaal die wetteloosheid en opstandigheid die nek in te slaan. Hiervoor het die regering spesiaal Khoi-Khoi-soldate ingesluit in die militêre mag wat hy onder genl. T.P. Vandeleur na die grens gestuur het met die bevel om die opstand te onderdruk en die Xhosas oor die Visrivier te verdryf.

      Die mag het geen teenstand ondervind in die uitvoering van die eerste deel van sy opdrag nie. Vroeg in April het Prinsloo en ongeveer 150 manskappe by Bruintjieshoogte hul wapens neergelê. Die vernaamste rebelle het later in Kaapstad tereggestaan, waar die Raad van Justisie die doodsvonnis oor Van Jaarsveld en Prinsloo uitgespreek het. Die vonnis is nie voltrek nie, maar Van Jaarsveld het in die tronk gesterf.

      Aan die oosgrens het die Britse mag se verskyning saam met die inhegtenisname van belangrike burgers die indruk by sommige Khoi-Khois gewek dat die bordjies verhang is. Hulle het daarin geslaag om hulle as ’n mag te organiseer, en het van plaas tot plaas gegaan en gewere en klere geëis vir lone wat na bewering nie aan werkers betaal is nie. Daarna het hulle by die troepemag aangesluit. Die leier, Klaas Stuurman, het aan Vandeleur vertel hoe erg Khoi-Khois onder die boere gely het en hom gevra om hulle onafhanklikheid te herstel.

      Vandeleur het misluk in sy poging om die Xhosas in die Suurveld oor die Visrivier te verdryf. Hy was nie van plan om iets vir die Khoi-Khois by hom te doen nie. Toe hulle dit besef, het ’n groot aantal by die Xhosas in die Suurveld aangesluit. Baie was goed gewapen en het perde gehad. Saam met Xhosa-vegters te voet het hulle ’n gedugte kombinasie gevorm. Die “roering” waarteen Van Jaarsveld met sy inhegtenisname gewaarsku het, was besig om ’n totaal ander vorm aan te neem as wat