1806 het die Britte weer van die Kaap besit geneem. ’n Verslag van 1809 deur kolonel Richard Collins het min twyfel gelaat dat die toestand van die Khoi-Khoi-plaaswerkers onbenydenswaardig was: “A Hottentot can now seldom get away at the expiration of his term. If he should happen to be in debt to his master … he is not allowed to take his children, or he is detained under some frivolous pretence, such as that of cattle having died through his neglect, and he is not permitted to satisfy any demands of this nature otherwise than by personal service.”
Van 1809 het die sekuriteit aan die grens vinnig versleg. Die burgers was gedisorganiseer en vreesbevange en die Xhosas het met al hoe meer selfvertroue weswaarts beweeg, hier en daar vee gesteel en presente geëis. ’n Britse offisier aan die grens het gewaarsku dat as daar nie versterkings gestuur word nie “the black nation” tot ’n kort afstand van Kaapstad sou vorder. Die regering, wat tot elke prys ’n herhaling van die katastrofe van 1799-1802 wou vermy, het die burgers verbied om tot enige vyandelike handeling teenoor die Xhosas oor te gaan.
Anders Stockenström, ’n Sweed wat by die Kompanjie aangesluit het en nou as landdros van Graaff-Reinet gedien het, het die gebeure met stygende kommer gadegeslaan. Hy het gewaarsku: “We must hold out no threats if we do not intend to execute them, for I consider this the great cause of their boldness, as they fancy us afraid or unable to punish them according to their just deserts.”
Hy het al hoe meer begin twyfel dat vreedsame samebestaan van wit en swart in dieselfde grondgebied hoegenaamd moontlik is. “In the Zuurveld … neither peace nor friendship can subsist between the inhabitants and the Kaffirs while both inhabit the same country … The causes of this are interwoven in the character of the Kaffir, in that of the Colonist and in the nature of the country.”
Die boere, het hy vervolg, is liggelowig en vreesbevange ná hul ontsettende ervarings van die voorafgaande dekade. Die swart mans het baie tyd om rond te loop en te steel of presente te vra. Sommige van die koloniste is hierdeur tot die rand van bankrotskap gedryf. Hulle het die Xhosas probeer dreig, maar dit het min gehelp. “The Kaffirs, long accustomed to this kind of reception, and remarking that these kinds of threats are never carried into execution, treat the farmers with contempt and often exhibit actual violence.”
Sir John Cradock, wat in 1811 as goewerneur oorgeneem het, was anders as sy voorganger ’n militêre man. Sonder huiwering het hy besluit om tot kragdadige militêre optrede oor te gaan. In Desember 1811 het ’n mag bestaande uit 440 Britse troepe, 431 Khoi-Khoi-soldate, en 450 burgers onder bevel van kolonel John Graham uitgetrek.
Gedurende die voorafgaande veertig jaar het die burgers die Xhosas op verskillende maniere bejeën. Oor die algemeen het hulle groot getalle Xhosas wat op hul eie gewoon het as ’n bedreiging beskou. Die voortdurende “kuiery” het ’n groot steen des aanstoots geword. Terselfdertyd het etlike duisende Xhosas op plase gewerk. Die boere het ook met die Xhosas handel gedryf en soms met ’n faksie saamgespan om teen ander Xhosas te veg. Vir kol. Graham was die Xhosas egter slegs “horrid savages”. Hy het beveel dat Xhosa-stropers agtervolg moet word tot in hul krale, waar elke swart man, selfs kapteins, doodgemaak moet word. Daar moet by die Xhosas “a proper degree of terror and respect” ingeboesem word sodat hulle nie weer oor die Visrivier kom nie.
In die laaste maande van 1812 het die koloniale mag ongeveer 8 000 Xhosas uit die Suurveld oor die Visrivier verdryf en ook alles wat hulle gesaai het, verwoes. Vir die Xhosas was die verdrywing ’n traumatiese ervaring. Dit was totale oorlog. Vir hulle was dit ondenkbaar dat hulle soveel man kon verloor, dat ’n kaptein, Chungwa, in sy bed deur soldate doodgemaak kon word en dat die stamme so verpletterend verslaan kon word. Die kolonie kon op militêre en ander hulpbronne staatmaak wat veel gedugter was as wat hulle ooit kon dink. Die historikus Jeffrey Peires merk op dat die Xhosas in die Suurveld nie alleen uit die kolonie verban is nie, maar ook verwerp is asof hulle nie geskik is om mee saam te leef nie. Vir die eerste keer ná veertig jaar se konflik is ’n baie duidelike streep getrek tussen mense van Afrika en mense van Europa.
Die regering het geprobeer om die grensgebied te stabiliseer deur ’n linie van forte langs die grens te bou en troepe, veral Khoi-Khoi-soldate, daar te stasioneer. Twee nuwe grensdorpies, Grahamstad en Cradock, is beplan.
In 1813 het die regering die leningsplaasstelsel, wat ’n eeu oud was, afgeskaf. Die nuwe stelsel van ewigdurende erfpag het, anders as met leningsplase, eiendomsreg sentraal gestel. Plase moes behoorlik opgemeet word. Die boere moes die koste hiervan betaal voordat hulle oordrag kon kry. Die bedoeling was dat sekerheid van besit die pryse sou laat styg. Dit sou onbekwame boere uitdruk en hulle verplig om arbeiders te word. In die praktyk het hierdie hervorming misluk. Dit het geneig om plase se oppervlakte kleiner te maak en die huur was nou duurder. Die regering se onvermoë om die grondaktes spoedig beskikbaar te stel, het die onsekerheid van die grensboere verhoog.
Die opkoms van Andries Stockenstrom
Landdros Anders Stockenström was een van die slagoffers van die veldtog van 1811-1812. Hy het gesneuwel terwyl hy ongewapend besig was om ’n groepie Xhosas te oorreed om die gebied te verlaat voordat die oorlog uitbreek. Net op daardie oomblik het ’n boodskap gekom dat vyandelikhede reeds uitgebreek het. Hy en sewe van sy manne is afgemaai.
In 1813 is sy 21-jarige seun, Andries, aangestel as adjunklanddros van Cradock. Anders as omtrent al die goed opgevoede Kaapse amptenare het Andries Stockenstrom hom self ’n “Afrikaner” en “Boer” genoem. Hy was ’n eerlike man met ’n vurige, onafhanklike gees wat skynheiligheid nie kon verdra nie. Sy verbintenis tot reg en geregtigheid vir almal, ongeag kleur, was ferm. Terselfdertyd het hy geglo dat die Afrikaners vir die saak van hervorming gewen moes word eerder as dat dit opgedwing word.
Hy het geglo dat die meeste grensboere nie teen die beginsel van gelyke geregtigheid vir swart en wit gekant is nie. Die kernprobleem was die gebrekkige regstelsel. Ten spyte van die vestiging van verskeie nuwe distrikte was die meeste plase nog ver van die naaste dorp waar klagtes voor die magistraat kon dien.
Stockenstrom se eerste vuurproef was wat later genoem is die Slagtersnekrebellie, wat in 1815 uitgebreek het. Die rebelle was oor die algemeen ruwe mense met ’n agtergrond van wetteloosheid. Hulle het op swak grond geboer en min vee besit. Baie van hulle het gekom uit families wat deur die Xhosa-invalle van 1793 en 1799-1802 geruïneer is. Vroeg in die nuwe eeu het sommige oor die Visrivier gevlug om naby Ngqika te gaan woon. ’n Sestienjarige seun wat aan die rebellie deelgeneem het, het gesê: “Ek weet nie wat ’n regering is nie, want ek was nog nooit naby een nie.”
Maar die regering het wel al hoe meer sy teenwoordigheid in die verre buitedistrikte laat geld. In 1811 het die eerste Rondgaande Hof sittings in die binnelandse distrikte gehou. Die volgende jaar was daar wat later genoem is die Swart Omgang. Dit het onder meer klagtes aangehoor van mishandeling van Khoi-Khoi-werkers, wat deur Van der Kemp en Read ingedien is.
Vir die opstandiges was die Swart Omgang ’n duidelike bewys daarvan dat die regering die gelykstelling van die Khoi-Khois beoog. Net so onaanvaarbaar was die stasionering van Khoi-Khoi-soldate op die grens. Stockenstrom het later opgemerk dat die mense gesê het dat die “swart nasie voorgetrek is en nie die Christene nie”. Nog ’n bron van ontevredenheid was die tekort aan grond. Teen 1815 het net ’n kwart van die manlike burgers in die Graaff-Reinetse distrik grond besit.
Onder die rebelle was daar ook mense uit gevestigde families van die Baviaansrivier- en die Tarka-wyk, ’n gebied wat nog wild en onherbergsaam was. Die Prinsloos en die Klopperse het ’n agtergrond van weerbarstigheid en opstandigheid gehad wat al uit die jare sewentig van die agtiende eeu gekom het. Hulle was gegrief oor die erfpagstelsel en die Swart Omgang. ’n Rebelleleier het die Britse bewindhebbers as “God-vergete tiranne en skurke” bestempel.
Die Slagtersnekrebellie het vroeg in 1813 begin toe Freek Bezuidenhout Stockenstrom se dagvaarding om voor die hof te verskyn, ignoreer. Die klag was dat hy ’n werker aangerand en sy lone teruggehou het. Op Stockenstrom se versoek het twee Britse offisiere en 12 Khoi-Khoi-soldate uitgegaan om Bezuidenhout te arresteer. Hy het hom verset en is doodgeskiet. Sy broer Johannes (Hans) Bezuidenhout het wraak gesweer en saam met Hendrik Prinsloo manne vir ’n opstand gewerf. Hulle wou ’n ooreenkoms met Ngqika sluit om die Khoi-Khoi-troepe te verjaag en het gehoop