het die rebellie beskou as ’n kritieke keuse tussen orde en anargie. Hy het alleen en ongewapen by ’n groep voornemende rebelle opgedaag en hulle oorreed om van hulle plan af te sien. Danksy sy optrede het die welgestelde boere besluit om by die regering te staan. Die rebellie is die nek ingeslaan sonder dat daar geskiet is. In die hofsaak wat gevolg het, is die doodstraf opgelê en vyf van die leiers is opgehang.
Slagtersnek was ’n keerpunt in die vestiging van die regering se beheer oor die grens. Die burgers het nooit die Britse heersers ten volle vertrou nie, maar hulle het nou aanvaar dat gehoorsaamheid aan die regering in hul beste belang is.
’n Onstabiele vrede
Dit was ’n brose vrede wat geheers het ná die verdrywing van die Xhosas uit die Suurveld in 1811-1812. Die militêre mag wat langs die Visrivier geplaas is ná dié oorlog was heeltemal te klein om te verhinder dat die Xhosas strooptogte oor die grens uitvoer. Die goewerneur van die kolonie, lord Charles Somerset (1814-1826), en sy opvolgers het gesukkel om ’n vaste grensbeleid neer te lê. Die imperiale regering se inmenging het hierdie inkonsekwentheid vererger. Stockenstrom het die beleid as weifelend en wisselvallig bestempel.
Tydens ’n besoek aan die grens in 1817 het Somerset bevind dat drie vyfdes van die Suurveldplase ontruim is, en die oorblywende boere gereed om te vlug. Hy het ná samesprekings met Ngqika en ander senior kapteins bepaal dat die Xhosa-stam kollektiewe verantwoordelikheid vir diefstalle moet aanvaar. Uiteindelik was dit Ngqika se verantwoordelikheid om die diefstalle te staak. Vir die goewerneur was Ngqika die Xhosa-opperhoof met onbetwiste gesag. Vir Ngqika was dit ’n onmoontlike taak. Hy was van die meeste van sy volgelinge vervreem. Hy het geen mag oor ander kapteins gehad nie en as hy te straf teen diefstalle deur sy eie volgelinge optree, sou hulle by ander kapteins aansluit. Sy vernaamste teenstander, Ndlambe, het heelwat meer krygers gehad.
Om diefstalle te bekamp, het Somerset ’n spoor- of terugvatstelsel ingestel. Boere wie se vee gesteel is, moes die diefstal by ’n militêre pos rapporteer. Die bevelvoerder moes dan ’n patrollie uitstuur, wat die spoor van die vee na die eerste kraal moes volg. Hierdie kraal moes die gesteelde vee oorhandig of skadevergoeding betaal. Die veronderstelling was dat as die kraal onskuldig was dit verliese kon vergoed deur die vee van die skuldige kraal te verhaal. Daar is gesê dat die Xhosas so ’n stelsel onder hulle self gebruik.
Ngqika was ontsteld oor die ontsaglike verantwoordelikheid wat aan hom opgedra is, maar terselfdertyd gretig om die kolonie as bondgenoot teen Ndlambe te gebruik. In 1818 het hy met die hulp van soldate, burgers en Khoi-Khois Ndlambe ’n nederlaag toegedien. Die koalisie het 23 000 stuks vee gebuit, wat ’n groot deel van die veestapel van Ndlambe en sy volgelinge was. Maar die slag het slegs die grens verder gedestabiliseer. In die laaste dae van Desember 1818 en in Januarie 1819 het Ndlambe se volgelinge die kolonie ingeval en feitlik die hele Suurveld binnegedring. ’n Burger het geskryf: “God alleen weet wat van ons sal word. Dit lyk of die hele Kafferland hier is. Om Godsnaam kom help ons asseblief.” Die toordokter Nxele (of Makanda), het Grahamstad met 6 000 man aangeval en ernstig bedreig. Troepe en burgerkommando’s het egter betyds opgedaag en die Xhosas oor die Keirivier gedwing.
Somerset het besluit dat daar ’n omvattender plan moet kom om die grens te bestendig. Hy het die Vis- en die Baviaansrivier as grens behou, maar die grens van wat die regering as Xhosaland beskou het ooswaarts geskuif na die Keiskamma- en die Tyhumierivier. Hy het die gebied tussen die Vis- en die Keiskammarivier tot ’n neutrale gebied verklaar. Alle kapteins, ook Ngqika, moes uit dié gebed trek. Die “neutrale” gebied het gou die “verowerde” gebied geword en is effektief in die kolonie ingelyf. Swart en wit mense het mettertyd hier deurmekaar gewoon. Hiermee is ongeveer 7 800 vierkante kilometer toegevoeg aan ’n kolonie wat reeds baie moeilik was om te verdedig.
Die inlywing van die neutrale gebied het die situasie aan die grens vererger. Vir die Xhosas het die gebrek aan grond akuut geword. Om sake nog verder te kompliseer, het twee golwe van immigrante in die vroeë jare twintig opgedaag. Die eerste was Britse setlaars, ongeveer 4 000 sterk, wat hoofsaaklik gevestig is op Suurveldplase wat die burgers ontruim het. Om die administrasie van die grensgebied te verbeter, het die regering ’n nuwe distrik met Grahamstad as die setel geproklameer. Vyf jaar later in 1825 is die Somersetdistrik geproklameer.
Die tweede golf was die vlugtelinge van die bloedige stryd in Natal en die Hoëveld onder swart mense, genaamd die Mfecane in Nguni en Difaqane in Sotho. Aanvanklik is hierdie “volksverhuisings” amper uitsluitlik toegeskryf aan die aanvalle van die Zoeloe-kaptein Shaka se leër op naburige Natalse stamme tussen 1818 en 1828. Daar is gemeen dat dit ’n kettingreaksie tot gevolg gehad het. Onlangse navorsing toon dat die oorsake van die volksverhuisings meer kompleks was: droogte, bevolkingsurplus, verskerpte mededinging om grond en konflikte oor ivoorhandel. Nog ’n faktor was Griekwas gewapen met gewere, wat klein vlugtende stammetjies aangeval en sodoende nog groter chaos gesaai het.
Mense het na die noorde, weste en suide gevlug. Anderkant die Kaapse oosgrens het die Mfecane groot ontwrigting en lewensverlies onder die Xhosa-sprekende Thembus, Mpondo’s en Bhacas veroorsaak. Die ontploffing van geweld het uiteindelik gelei tot die stigting van die Swazi-, die Ndebele- en die Sotho-staat.
Van die vroeë 1820’s het die oosgrens die uitwerking van die geweld in die binneland begin voel. Vlugtelinge van die Thembu-stam het hulle naby die huidige Queenstown net binne die koloniale grens gevestig. Boere het hulle gevoed, maar hulle het gou ’n las geword.
“Ek word nie vertrou nie”: Piet Retief se grief
Vyf-en-twintig jaar lank, tussen 1813 en 1837, was daar twee Afrikaners op die politieke toneel met skerp verskillende standpunte oor oorlewing in die onsekere oosgrensgebied. Die een was Piet Retief, gebore in 1780 as die seun van ’n welgestelde wynboer in die Boland, en die ander Andries Stockenstrom, die seun van ’n landdros. Hy het in 1815 landdros van Graaff-Reinet geword. In 1828 is hy na Grahamstad verskuif, waar hy as kommissaris-generaal van die oostelike provinsie gedien het.
In die Boland het Retief gou al sy eiendom in spekulasie verloor en was bankrot toe hy in 1812 aan die oosgrens opdaag as deel van die Stellenbosse reserwemag in die Vierde Grensoorlog. Kort daarna het hy met ’n ryk weduwee getrou wie se man saam met Stockenstrom se vader vermoor is. Hy het besluit om hom aan die oosgrens te vestig.
Tussen 1817 en 1832 het Retief op die plaas Mooimeisiesfontein, veertig kilometer noordwes van Grahamstad, geboer, maar hy was amper meer bedrywig as sakeman op Grahamstad en Uitenhage. Op verskillende tye was hy algemene handelaar, bakker, meulenaar, slagter, drankhandelaar en afslaer. Sy geldsake het beroerd gebly. Teen 1824 was hy feitlik bankrot as gevolg van ’n onvoordelige kontrak wat hy met die regering gesluit het om ’n kaserne en drosdy op Grahamstad te bou.
Ten spyte van sy mislukkings was Retief baie gewild onder sowel die boere in die distrik Grahamstad as die Britse handelaars en offisiere op die dorp. Hy het klaarblyklik leierseienskappe gehad en is in 1822 as veldkommandant aangestel. Geen burger of lid van die berede mag is toegelaat om die grens oor te steek en die Xhosas se gebied binne te gaan nie. Van ’n vroeë stadium het Retief kritiek uitgespreek op die feit dat alle militêre optrede, ook kommando’s, onder streng reëls moes plaasvind.
In Maart 1822 het Piet Retief self 400 skape in ’n Xhosa-strooptog verloor en in September het hy bevel gekry om ’n kommando uit te roep om Xhosas wat hulle in die neutrale gebied probeer vestig het, te verdryf. Sy kommando het die spore van die gesteelde vee tot by die grens gevolg en anderkant die grens het Retief duisende stuks vee gesien. Dit was uiters frustrerend. Soos Retief dit gestel het: “Ek is nie toegelaat om die grens oor te steek met my troepe nie, aangesien ek nie vertrou is nie … So lank as wat nóg die landdros nóg die kommandant op die grens gemagtig word om [die instruksies] te verander, sal geen kommando uitgevoer kan word met enige sukses nie.”
Dit was dus vir Retief onaanvaarbaar dat hy ’n blote funksionaris van ’n veraf regering is sonder die diskresie om op te tree soos hy nodig ag. Later het hy aan die goewerneur geskryf met ’n lys van die moorde en diefstalle wat die Xhosas in die voorafgaande vyf jaar in die wyke onder sy beheer gepleeg het. Hy wou graag die grens oorsteek en die spoor van gesteelde vee volg tot by die Xhosa-kraal waarheen dit lei.
Hier kry ons ’n voorsmaak