Engelse offisier hom doodgeskiet en sy lyk is later geskend. Die troepe het nou geprobeer om die Xhosas se bestaansbasis te vernietig deur oeste te verbrand en op vee beslag te lê.
Die Xhosas was nogtans nie verpletter nie. Baie is oor die Keirivier gedryf, maar talle het in die neutrale gebied oorgebly. Die oorlog het nie vrede gebring nie. Die Xhosas wou geen nuwe grens aanvaar wat die blankes bepaal nie. Tyhali het nog steeds geëis dat al die grond oos van die Visrivier aan die Xhosas teruggegee word. Die verhoudinge tussen wit en swart het verder verbitter.
In 1835 het goewerneur D’Urban die oosgrens geskuif na die Keirivier en die oorsprong van die Wit-Kei. Die gebied waarop beslag gelê is, is die Provinsie van Koningin Adelaide genoem. By baie burgers het die hoop opgevlam dat hulle plase in die nuwe gebied sou kry. In Londen het die gety egter teen D’Urban se beleid gekeer. ’n Gekose parlementêre komitee het onder andere van Philip en ander sendelinge getuienis aangehoor oor die behandeling van die inheemse volke. Philip se getuienis, wat geredelik aanvaar is, het die grond onder D’Urban weggekalwe.
Naas Philip was Stockenstrom, wat van Swede gereis het, ’n sleutelgetuie. Vir hom was die grootste oorsaak van die oorlog die terugvatstelsel en die skade wat die Xhosas daardeur gely het. In plaas van die ou militêre “oplossings” het hy ’n verdragstelsel bepleit om konflikte te besleg.
Op 26 Desember 1835 het die minister van kolonies, lord Glenelg, D’Urban se besluite herroep. Terwyl die koloniste nog onder die indruk was dat die Xhosas gedwing sou word om die skade van hul inval te vergoed, het Glenelg verklaar dat die Xhosas tot die daad gedryf is deur ’n “long series of acts of injustice and spoliation” en dat hulle “ample justification” vir die inval gehad het. Die grond van die Provinsie van Koningin Adelaide sou teruggegee word en die koloniale grens sou teruggeskuif word van die Kei na die Keiskamma-, die Tyhume- en die Gagarivier. Die kolonie sou beheer behou oor die ou neutrale gebied tussen die Vis- en die Keiskammarivier. Die kapteins moes alle aansprake op hierdie grondgebied prysgee. Die regering was egter bereid om grond in hierdie gebied aan kapteins te “leen” op voorwaarde van goeie gedrag.
Glenelg het Stockenstrom verras deur hom te vra om na die Kaap terug te keer as luitenant-goewerneur om hierdie beleid uit te voer. Hier was die kans om uitvoering te gee aan die verdragstelsel wat hy lank gepropageer het en wat sekerlik in sy gedagtes was toe hy in 1825 met Philip en sy ander gaste op Graaff-Reinet geargumenteer het. Hy het besluit om die uitdaging te aanvaar.
Oorlewing aan die grens: Stockenstrom teen Retief
Die eerste Voortrekkers het laat in 1835 en vroeg in 1836 die kolonie verlaat. In September 1836 het ’n groot geselskap onder Gert Maritz uit Graaff-Reinet weggetrek. Selfs in Oktober 1836 was Piet Retief nog steeds besig om mense te oorreed om nie te trek nie, maar kort daarna het daar ’n meningsverskil tussen hom en Stockenstrom ontstaan wat baie lig werp op die toestand op die vooraand van die trek en die botsende standpunte van twee hooffigure oor oorlewing in die grensgebied.
Die twee persoonlikhede het skerp verskil. Stockenstrom was ondiplomaties, liggeraak en by tye so koud en afsydig dat hy hooghartig en onverdraagsaam voorgekom het. Op enige aantasting van sy persoon het hy met groot verontwaardiging gereageer en hy was geneig om gou gekrenk te wees. Hy kon baie bladsye bestee aan verduidelikings en regverdigings van sy optrede. Maar dit alles is in die skadu gestel deur sy sterk punte. As amptenaar was hy pliggetrou, beginselvas en volkome toegewyd aan sy taak. Hy het hom sterk vereenselwig met burgers wat die wet gehoorsaam en hy was gereed om hulle teen onregverdige beskuldigings te verdedig.
Teenoor hom het Retief gestaan: ’n warm mens, oop, toeganklik en charismaties. Ten spyte van sy groot skulde en herhaalde mislukkings as sakeman was hy buitengewoon gewild onder sowel Afrikaners as mense van Britse afkoms. In die Sesde Grensoorlog het Retief met groot heldemoed die verdediging van die Winterbergwyk gelei. Op sy instruksies het ’n groot groep mense, wat meer as tweehonderd vroue en kinders ingesluit het, in ’n laer saamgetrek. Dit was feitlik die enigste plek waar mense sterk weerstand teen die invallers gebied het. Die tekort aan ammunisie het hulle byna hul lewens gekos. Indien die aanvalle veel langer geduur het, sou die invallers die laer oorstroom het.
Retief is tydens die inval as voorlopige veldkommandant aangestel. Die goewerneur het dit bevestig en verwys na Retief se uitstekende optrede en sy doelgerigtheid en oordeelkundigheid. Maar hy het ernstige finansiële probleme gehad. In die jaar voor die oorlog het hy ’n kort tydjie in die skuldenaarstronk gesit en is ook bankrot verklaar. In die oorlog het hy en sy familie ernstige verliese gely. Sy huis is afgebrand en die Xhosas het 48 beeste, 4 perde en 300 skape weggevoer. Hy het gesê dat hy “alles verloor het”. Hy sou tot sy laaste dae in die kolonie briewe van sy krediteure kry, onder meer van die eienaar van die Vrymesselaars se taverne vir drank, onthaalkoste en verblyf.
In Augustus 1836, toe Stockenstrom na Grahamstad onderweg was om sy amp as luitenenant-goewerneur te aanvaar, het Cradock se burgers hom hartlik ontvang en hulle griewe sober in ’n dokument uiteengesit. Stockenstrom het vroeg in September 1836 op Grahamstad aangekom. Hy het gevind dat baie burgers óf reeds getrek het óf voorbereidsels daarvoor tref. ’n Massa-emigrasie van grensboere was aan die gang. Vir Stockenstrom was dit ’n groot terugslag vir sy planne om orde en sekerheid te bewerkstellig. By sy kantoor het ’n brief gewag van die baie gerespekteerde veldkommandant S.J. van Wyk, wat hom gevra het om die emigrasie van die grensboere te stuit, en ook ’n brief van ’n Britse setlaar wat hom meegedeel het dat hy die mense sou kon laat afsien van trek as hy hul griewe uit die weg ruim. Daar was ook ’n boodskap dat Retief ’n onderhoud aangevra het.
Die meeste ingesetenes van Grahamstad was vyandig teenoor Stockenstrom. Diegene onder die Britse setlaars wat die kolonie se grense wou uitbrei, het hom al lank as hul grootste vyand beskou. Hulle wou hom ’n adres aanbied wat op oneerbiedige wyse na sy getuienis in Londen verwys, maar hy het geweier om dit te ontvang.
Stockenstrom se prioriteit was om mense aan albei kante van die grens ’n gevoel van sekuriteit en stabiliteit te gee. Om in vrede gelaat te word deur die Xhosa- stamme moes die koloniste die grenslyn respekteer en hulle nie lastig val nie. As die patrollies en kommando’s nie beëindig word nie, kan daar geen vrede en “beskawing” wees nie.
Maar Stockenstrom het beklemtoon dat die grensboere ook regte het. Aan Glenelg het hy geskryf dat hulle toegelaat moet word om hul eiendom en lewens te beskerm teen plunderaars en stropers, en desnoods die invallers te skiet. Hy het bygevoeg dat een van die grootste oorsake van die rampe wat die kolonie getref het die weifelende en teenstrydige beleid was wat gevolg is, ’n beleid wat van een uiterste tot die ander gewissel het.
In briewe aan goewerneur D’Urban het Stockenstrom verder verduidelik: Militêre poste moet opgerig word waar ’n sterk mag geplaas moet word, al kos dit baie. ’n Burgermag wat volgens streng reëls optree, moet vir verdediging aangewend word. ’n Digte bevolking moet in die grensgebied gevestig word. Die burgers het na sy mening werklike en geregverdigde griewe.
Om die gebrekkige administrasie te verbeter, het hy aanbeveel dat resident-magistrate in Cradock, Colesberg en op nog ’n plek verder oos aangestel word. Hulle moet duidelike opdragte kry oor wanneer hulle plunderaars kan skiet om lewens en eiendom te beskerm. Daar is bendes wat oor die hele grens swerf en plunder en ferm optrede is dus nodig. (In 1834 het die regters van die hooggeregshof dieselfde mening uitgespreek.) Stockenstrom het gevra dat die regering die geld wat dit aan burgers skuld vir die voorrade wat hulle in die onlangse grensoorlog verskaf het dadelik betaal en ook die lank vertraagde grondbriewe uitreik.
Daar was geen dwingende rede waarom Retief en Stockenstrom nie kon saamwerk nie. Stockenstrom het van Retief gesê: “Ek het hom altyd as ’n nugter en tegemoetkomende mens beskou.” Maar Stockenstrom het geglo – en hier was hy omtrent sekerlik reg – dat Retief kop in een mus is met sy grootste vyande, die ekspansionistiese militêre offisiere, handelaars, spekulante en joernaliste. Hy het ook geglo dat hulle gerugte oor dreigende gevare versprei om die emigrasie van grensboere aan te help en sodoende hul plase spotgoedkoop in die hande te kry. Vir hierdie mense het Stockenstrom net minagting gehad.
Stockenstrom het hom vererg toe Retief hom ’n adres van sy Winterbergwyk wou aanbied waarin bewerings gemaak is oor die getuienis wat Stockenstrom voor die “Aborigines Committee” in Londen afgelê het.