om veewagters te kry. Maar Xhosas was besig om die leemte te vul.
Veral in die geval van trekleiers het die arbeidskwessie en die versteurde verhouding tussen meester en slaaf of meester en Khoi-Khoi-werker ’n beslissende rol gespeel in die besluit om te trek. Louis Tregardt* was ’n suksesvolle boer en die eienaar van ’n hele aantal slawe. Hy het verbitterd geraak omdat die regering geweier het dat hy ’n plaas in die neutrale gebied opneem so lank hy ’n slawe-eienaar is. Gert Maritz, ’n ander leier, het ’n verlies van amper £1 000 gely toe sy slawe vrygestel is.
Die groot slawebesitters sou egter nie volgelinge kon kry slegs op grond daarvan dat hulle verliese in die vrystelling gely het nie. Tregardt het tien slawe besit, maar die ander 29 families in sy trek het tesame slegs vyf slawe besit. En teen die middel van die jare dertig was slegs een vyfde van die kolonie se slawe in die distrikte werksaam waarvandaan die grootste aantal Voortrekkers gekom het.
’n Verwante kwessie was die verlies van beheer oor slawe en bediendes. Ná 1825 het daar heelwat meer klagtes teen meesters ingekom en die gebrekkige administratiewe struktuur het nou ’n groot probleem geword. Baie mense moes twee of drie dae na die drosdy reis om daar ’n klag te gaan indien of om voor ’n hof te verskyn om getuienis af te lê of om op ’n aanklag te antwoord. Gevolglik het baie grensburgers verkies om nie klagtes in te dien nie, maar om hulle eerder te onderwerp aan dinge wat hulle diep gegrief het.
Ordonnansie 50 van 1828 het meesters verbied om Khoisan-bediendes te straf. Van die middel van die jare twintig het al hoe meer slawe klagtes teen hul base ingedien oor mishandeling. In 1834 is die reg afgeskaf om slawe, wat nou ingeboektes genoem is, te straf. Die verlies van patriargale gesag oor slawe en bediendes was een van die sterkste beweegredes van die trek. Verskeie Voortrekkerleiers het met die gereg gebots omdat hulle hul slawe of bediendes gestraf het. In 1825 is Piet Retief beskuldig van die mishandeling van twee van sy slawe, maar onskuldig bevind in die hof. Net voordat Hendrik Potgieter die kolonie verlaat het, moes hy in die hof verskyn op aanklag van een van sy ingeboekte slawe dat sy baas hom snags laat werk. Potgieter se verweer was dat die slaaf nie sy werk kon doen nie omdat hy heelnag “viool gespeel en danspartye gehou het”. Die hof het die slaaf se klagte verwerp.
Nog ’n leier, Piet Uys, is waarskynlik genoop om die kolonie te verlaat nadat sy vrou op aanklag van ’n ingeboekte slaaf in hegtenis geneem is. Hy het die klag as kwaadwillig beskou. Toe hy oor die oorsake van die trek gevra is, het hy geantwoord dat die mense eers ’n rondloperwet gevra het en daarna huijs reg. Daarmee het hy waarskynlik bedoel die reg om iemand in die huishouding te straf, maar hierdie versoek is ook verwerp. Deur uit die kolonie te trek, kon die trekkers die ou paternalistiese orde weer vestig. Verskeie Voortrekkers en trekboere het bediendes en oudslawe oorreed om saam te gaan.
Saam met die tekort aan grond en arbeid was die gebrek aan veiligheid aan die grens ’n deurslaggewende rede. In Tarka en in ander dele van die noordoosgrens was Boesmanbendes nog in die jare dertig bedrywig. In die sentrale en die suidoostelike sektor van die grensgebied het klein groepies swerwers van plaas tot plaas getrek en op klein skaal vee gesteel of by die huise kos gebedel. Dit was dikwels uit groot nood dat die Mfecane-vlugtelinge gebedel het.
Aan die ander kant was die Xhosa-diefstalle in die neutrale gebied ’n ingewikkelder verskynsel. Die Xhosas het beheer oor die Suurveld en later ook oor die neutrale gebied verloor, maar die regering het toegelaat dat party stamme in laasgenoemde gebied aanbly. Dit het gou oorbevolk geraak. ’n Akute tekort aan weiveld het sowel Xhosas as veeboere getref. Party Xhosas het vee gesteel omdat hulle verbitterd was oor die verlies van hulle grondgebied. Ander was kwaad oor die terugvatstelsel en party het gesteel bloot omdat dit maklik was.
Die grensburgers het al hoe minder geweet hoe om teen rondlopers en veediewe op te tree. Baie het swaar verliese weens veediefstal gely en toenemend het die grensburgers ook vir hul lewens begin vrees. ’n Mens kan die vrees illustreer deur na die lotgevalle van ’n paar leiers se families te kyk. In die Derde Grensoorlog (1799-1802) is al die vee wat aan Gert Maritz se pa behoort het gesteel. In die Sesde Grensoorlog (1834-1835) het Maritz se broer amper aan steekwonde gesterf. Piet Retief het in hierdie oorlog al sy vee verloor en sy plaas is in puin gelê.
In sekere dele was daar feitlik geen regeringsgesag nie. Die ergste was in die wyk Tarka, wat ongeveer 17 000 vierkante myl (44 200 vierkante kilometer) beslaan het in die Somersetdistrik aan die noordoostelike grens. Ongeveer een derde van die Voortrekkers het hiervandaan gekom. Die naaste amptenaar was ’n vrederegter gestasioneer op Cradock en hy is deur ’n enkele konstabel bygestaan. ’n Burger het gesê: “Dit is slegs in naam dat ons deur die wet beskerm word.” Goewerneur D’Urban het opgemerk dat die administrasie van die distrik Somerset nie veel meer as ’n dooie letter is nie.
Stockenstrom het die boere by geleentheid daarvan beskuldig dat hulle trek omdat hulle anderkant die grense wetteloos wil lewe. Hierop het voornemende Voortrekkers in die noordoostelike wyke geantwoord: “Die teendeel is waar: ons verlaat die kolonie omdat ons nie weet van ’n regering of van ’n wet nie – van die regering weet ons niks nie behalwe wanneer ons geld moet betaal, en die wet bereik ons nooit nie behalwe om ons te beboet of op ’n ander manier te straf. Dikwels is dit oor dade wat ons nie geweet het verkeerd is nie. Ons veldkornette kan ons geen hulp verleen nie en hulle bly net so in die duister as ons. Ons is soos verlore skape.”
Die Sesde Grensoorlog (1834-1835) was vir die grensboere ’n geweldige skok. Hulle kon nie glo dat ’n Xhosa-inval op so ’n uitgebreide skaal moontlik is nie. Hul hoop was dat die kolonie se teenaanval die Xhosas so totaal sou verslaan dat daar uiteindelik stabiliteit sou kom, maar dié hoop is gou beskaam. ’n Paar maande ná die einde van die oorlog het bendes stropers weer deur die grensgebied begin rondswerf. ’n Engelssprekende grenskolonis het in April 1836 gerapporteer dat die Afrikanerboere min hoop vir die toekoms het. Hy het bygevoeg: “One said that in his father’s life time and his own they had been five times clean swept out by the Kaffirs … that for protection the future would be like the past; indeed he thought that they were worse off than fifty years ago; in those old days when they were robbed they redressed themselves, but now their hands were tied while the Kaffirs were loose.” In September 1836 het ’n welopgevoede Engelse boer van Fort Beaufort gerapporteer: “The principal grievance of the farmers in my neighbourhood is … their having to support such incredible numbers of Hottentots, Bechuanas, and Fingoes that daily vagabondize the country and I do myself declare that in no period within the past fifteen years have I ever seen them in such numbers as they are at present … ten or fifteen idle vagabonds in a day.”
Die hele grensgebied was in ’n toestand van onrus. G. Jarvis, ’n Britse offisier, het “an extraordinary feeling of panic” gerapporteer. Mense was vreesbevange en reg om dadelik weg te trek. Ná die brief van lord Glenelg, wat die skuld vir al die oorloë hoofsaaklik op die grensboere gepak het, het mense besluit dat die imperiale regering nie ’n vinger sou lig as die wit mense heeltemal “verwoes en vernietig” word nie. ’n Waarnemer het verklaar dat die vernaamste rede waarom veral die vroue wil trek die regering se onvermoë is om die boere te beskerm.
“’n Onderdanige en minderwaardige ras”: vervreemding en verbittering
Die gebrek aan grond, arbeid en sekuriteit was ernstige oorsake van die boere se gegriefdheid, maar hierdie faktore saam of afsonderlik kan nie verduidelik waarom nie slegs mense met min of geen grond die kolonie verlaat het nie, maar ook redelik welgestelde boere, wat omtrent almal hulle plase goedkoop van die hand gesit het. Baie het getrek selfs voordat hulle kompensasie ontvang het vir hulle bevryde slawe of vir die voorrade wat hulle aan die militêre magte verskaf het of vir die verliese wat hulle in hierdie oorlog gely het.
’n Gevoel van vervreemding het ontwikkel binne die verband van ’n regering wat tussen 1824 en 1834 ’n sosiale revolusie van stapel gestuur het op dieselfde tyd toe dit al die plaaslike regeringsinstellings waarmee die burgers hulle vereenselwig het, afgeskaf het. Daar was nie langer enige burgers wat as heemrade gedien het om die landdros van advies te bedien nie, en die funksies van die burgers wat as veldkornette gedien het, is skerp verminder.
Terwyl die burgers uitgeskuif gevoel het, het swart mense vir die eerste keer regte gehad. Die burgers se grootste