verslag van die rampe wat oor ons gekom het nie, maar ons wil jou graag versoek om ons die redes te gee vir iets wat ons nie kan verstaan nie: Waarom is ons by die Britse regering uitgebeeld as wrede en barbaarse monsters?”
Die implikasie was dat Stockenstrom hierdie stelling gemaak het. Dit was ’n verregaande beskuldiging. In sy getuienis in Londen het Stockenstrom in die sterkste taal die terugvatstelsel veroordeel en verduidelik hoe dit daartoe gelei het dat onder hierdie dekmantel wreedhede en onreg gepleeg is. Hy het in werklikheid geprotesteer teen die wyse waarop die Afrikanerboere uitgesonder is vir blaam. By ander geleenthede het hy ook sterk geprotesteer teen die neiging om die koloniste voor te stel as moordenaars wat gekant is teen elke poging om op goeie voet met die inboorlingstamme saam te leef.
Stockenstrom het hom nie verwerdig om Retief se bewering te weerlê nie. Hy het slegs aan Retief gesê dat hy mislei is om so ’n belaglike dokument soos die Winterberg-adres te onderteken. Op 20 September 1836 het Retief en Stockenstrom by die Katriviernedersetting byeengekom. As veldkommandant het Retief gerapporteer dat die grensgebied deur plunderende swart bendes oorval word en dat die burgers geen beskerming het nie. Stockenstrom het geantwoord dat hy dieselfde streng regverdigheid aan alle partye en gelyke regte vir alle mense van alle klasse en kleure aanbied. ’n Maand later het Retief geskryf dat baie mense besig is om die kolonie te verlaat, maar ander wag nog steeds om te sien of daar maatreëls getref word wat hulle veiligheid verbeter.
Vir Retief was die grootste steen des aanstoots ordonnansie 49 van 1828. Dit het regeringsagente gemagtig om passe vir kort tydperke uit te reik; swartes wat langer wou bly om op die plase te werk, kon ’n kontrak sluit. Dit was ’n poging om die swart rondswerwery aan die grens te beëindig. Maar dit was gou duidelik dat die regering nie daarin sou slaag om die bewegings van swart mense te beheer nie.
Soos in die vroeë jare twintig, toe Retief beswaar gehad het teen die regulasies wat hom verbied het om die grens oor te steek om vee terug te kry, wou hy nou Xhosas arresteer wat in die kolonie gekom het, al het hulle passe van regeringsagente gehad. Die burgers het sommige van die agente gewantrou en Retief kon geen rede sien waarom die Xhosas toegelaat word om weer in die kolonie in te kom en die bietjie goed wat nog oor was weg te voer nie.
Stockenstrom was in ’n moeilike posisie. Hy het nie middele gehad om behoorlike beskerming in die onsekere tye te bied nie. Hy was egter oor een ding baie seker: dit sou die situasie net vererger as Retief as burgeroffisier eie reg gebruik en die regulasies ignoreer. Anargie sou slegter as wanorde wees. Die grootste rampe wat die grens getref het, was die gevolg daarvan dat mense eie reg gebruik. In die Slagtersnekrebellie van 1815 het dit daartoe gelei dat mense aan die galg sterf. Hy het dit alles al voorheen gesien.
Hy het aan Retief geskryf as hy iemand met ’n wettige pas arresteer, sal hy die gevolge van die daad moet dra. Totdat die wet gewysig word, moet Retief dit gehoorsaam. Hy het gedreig om Retief as veldkommandant te ontslaan as hy die regulasies verontagsaam. Teen die einde van 1836 het Retief besluit om ook uit die kolonie te trek.
Die grensburgers se wantroue was op die sendelinge van die LSG toegespits. Hulle het Philip van allerhande onheilighede verdink. Hy het net voor die uitbreek van die oorlog samesprekings met sommige van die vernaamste Xhosa-kapteins in die neutrale gebied gehad. Hy en sy skoonseun, John Fairbairn, die liberale redakteur van die Commercial Advertiser, was lank baie krities teenoor die grensburgers en veral die kommando’s. Die burgers was oortuig dis Philip en ander kwaadwillige LGS-sendelinge wat hulle oral beswadder.
Die oorsake van die Groot Trek
Twee strome emigrante het die kolonie in die tweede kwart van die negentiende eeu verlaat. Die eerste was ’n emigrasie van boere wat trekboere genoem is, wat al in die jare twintig op betekenisvolle skaal begin het. Die ander was van mense wat later Voortrekkers genoem is. Terwyl die Voortrekkers politieke kwessies beklemtoon het, het dit vir die trekboere in die eerste plek gegaan oor ’n tekort aan weiveld. Die trekboere het as individue of enkele families getrek en aanvanklik net tydelik anderkant die grens vertoef; die Voortrekkers het in trekpartye beweeg wat dikwels uit groepe families bestaan het.
Wat bekend geword het as die Groot Trek was in feite ’n doelgerigte en daadkragtige reaksie op die oorlewingskrisis wat in die oostelike en noordoostelike distrikte van die kolonie geheers het. Dit was nie ’n geval van weghardloop nie – een van die drie opsies wat Stockenstrom in die debat van 1825 uitgelig het – maar ’n goed beplande massa-opstand teen ’n ondraaglike gebrek aan sekuriteit. Die trek het verskeie oorsake gehad, maar hulle kan opgesom word as ’n gebrek aan grond, arbeid en veiligheid. Hiermee het gepaardgegaan ’n wydverspreide gevoel onder die deelnemers dat hulle polities gemarginaliseer word.
’n Tekort aan grond was lank reeds akuut en die toestand het tussen 1812 en die middel van die dertigerjare steeds versleg. Die burgers het gevoel dat hulle vasgedruk is. Teen die begin van die eeu was daar reeds ’n akute gebrek aan grond aan die grens en alhoewel die burgerbevolking vinnig gegroei het, was daar geen verdere uitbreiding van die koloniale grondgebied nie.
Die grondkwessie is gekompliseer deur die oorskakeling van die leningsplaasstelsel na ’n erfpagstelsel in 1813. Die uitreik van die oordragaktes het lank gesloer. Baie boere het tien of twintig jaar nadat hulle die opmeetgelde betaal het nog gewag vir hul akte. ’n Ondersoek wat ingestel is, het vasgestel dat daar na alle waarskynlikheid bedrog plaasgevind het.
Teen die middel van die jare twintig het die boere se hoop dat nuwe grond beskikbaar sou kom, begin taan. Daar was geen kroongrond meer beskikbaar nie en van 1832 af het die regering alle aansoeke om grond teruggestuur. Die prys van gevestigde plase het skerp gestyg.
Vir Stockenstrom was hierdie situasie nie ’n ramp nie. Hy was oortuig daarvan dat solank die boere kon hoop dat die kolonie verder sou uitbrei hulle steeds die inheemse mense se grond sou begeer. Hy wou alle hoop dat daar verdere uitbreiding sou plaasvind die nek inslaan. Die doeltreffende boere sou dan meer intensief begin boer deur byvoorbeeld hul kuddes te verminder, kunsweiding te kweek en grond van uitputting te bewaar. Ondoeltreffende boere en hul seuns sou verplig wees om by ander boere te gaan werk of om na die stede en dorpe te trek.
Maar die boere was traag om hul metodes te verander. Kapitaal vir beleggings was skaars en die markte klein. Windpompe en draadheinings sou eers in die tweede helfte van die negentiende eeu beskikbaar raak. Die regering het ook geen voorligtingsbeamptes aangestel om die boere te help om te moderniseer nie. Die boere was traag om risiko’s te loop en eers ná die opkoms van wol as uitvoerproduk was hulle bereid om nuwe rigtings met hul veeboerdery in te slaan.
Die trekboere en Voortrekkers wou grond op groot skaal bekom vir bestaansboerdery, waaraan hulle en die vorige geslagte gewoond was, en dit het gelyk of die dieper binneland daarvoor ooplê. Reeds van die middel van die twintigerjare het trekboere in die noorde en noordooste elke seisoen ’n tyd lank anderkant die grens gaan woon. Teen 1830 het baie trekboere hulle plase verkoop en permanent anderkant die noordgrens gebly. Die beleid om die boere binne die kolonie te hou, het in duie gestort. Die voornemende Voortrekkers het ongetwyfeld hiervan kennis geneem. Die teruggawe van die Provinsie van Koningin Adelaide was vir baie die druppel wat die emmer laat oorloop.
Saam met die gebrek aan grond was daar ’n akute tekort aan arbeid. Die plase was groot en die plaashuise was ses tot sewe kilometer weg van mekaar, met geen grensdrade om die vee te beskerm nie. Dit was dus noodsaaklik om betroubare veewagters te hê, maar baie boere het nie hulle werkers goed betaal nie. John Philip het geglo dat die boere arbeid sou kon trek as hulle bereid sou wees om goeie kontantlone te betaal. Die Afrikanerkoloniste was egter veel minder as die Britse setlaars aan ’n markekonomie en kontantlone gewoond.
In 1828 het die arbeidsituasie dramaties verswak. Ná ordonnansie 50, wat alle beperkings op die Khoi-Khois afgeskaf het, het Khoi-Khoi-werkers in groot getalle van die plase weggetrek. Henry Cloete, ’n Kaapstadse Afrikaner, het geskryf van plase wat heeltemal verlaat is deur die paar Khoi-Khois wat nog as plaasarbeiders oorgebly het. Hulle het kennis gegee en hulle op sendingstasies gevestig. Hulle het die kuddes en troppe wat hulle by hul werkgewer verdien het, met hulle saamgeneem en elke aanbod of poging om hulle om te koop om langer in die diens te bly, verwerp.
Baie van hulle het gaan woon in plakkershutte wat hulle opgerig het buite dorpe of op kroongrond. Teen die