dikwels verlore gelyk het, maar van die 1920’s af ’n ongelooflike skeppingskrag en oorlewingsvermoë aan die dag gelê het. Genl. J.B.M. Hertzog se Nasionaliste het met Yskor en Eskom die voortou geneem in die vestiging van staatskorporasies en die stimulering van plaaslike nywerhede wat, saam met die hoofsaaklik Engels-beheerde private sektor, daartoe bygedra het om Suid-Afrika ekonomies selfstandig te maak.
Dit vertel die storie van mense wat Afrikaans binne ’n kort tydjie omskep het in ’n gevorderde kultuurtaal wat op alle terreine van die lewe gebruik kon word – een van net vier tale in die wêreld wat dit in die twintigste eeu kon regkry. Dit is die verhaal van mense wat die vervaardiging van petrol uit steenkool tot ’n hoogs suksesvolle bedryf ontwikkel het, wat atoombomme gebou en die eerste hart oorgeplant het. Dit is ook die storie van mense wat apartheid ingestel het – wat van hulle die muishond van die wêreld gemaak het – en wat verwoestende oorloë in Suider-Afrika gevoer het.
Ten slotte is dit die storie van mense wat in die 1990’s die mag prysgegee het vóórdat hulle verplig was om dit te doen, iets wat nog selde gebeur het. Wat aan hierdie besluit ten grondslag gelê het, was die oordeel dat hul oorlewingskanse só beter sou wees as onder ’n wit diktatuur. Die Afrikanerdebat oor oorlewing – en heftige meningsverskille oor wat oorlewing behels – gaan ver terug in ’n geskiedenis wat soms heroïes, soms tragies, deurgaans boeiend is. Dit is ’n verhaal vol drama, ironie en paradokse.
Hierdie Afrikaanse uitgawe van die boek en die Engelse uitgawe verskil op die volgende maniere van mekaar: Die inleiding en die laaste deel van hoofstuk 16 is nuut. Hoofstuk 3 van die Engelse uitgawe is aansienlik verkort en hoofstukke 3 en 4 is saamgevoeg. In die ander hoofstukke is hier en daar materiaal in die Afrikaanse uitgawe bygewerk om die stof duideliker te maak, terwyl daar op ’n paar plekke besprekings van abstrakte akademiese kwessies weggelaat is. Die vertolkingslyn bly egter deur die hele boek dieselfde. Anders as hierdie uitgawe is die Engelse uitgawe voorsien van omvattende bronneverwysings en ’n omvattende bibliografie. Die leser wat die bronne wil naslaan waarop die feite en vertolkings berus, word na die Engelse uitgawe verwys.
Die inleiding van die Engelse uitgawe verduidelik hoe die vertolking aansluit by of verskil van die vernaamste benaderings van vakhistorici. Ek verskaf meer inligting oor die agtergrond van die skryf van die boek in die C.J. Langenhoven-gedenklesing wat ek op 18 September 2003 op uitnodiging van die Universiteit van Port Elizabeth gehou het. Die universiteit het dit onder die titel “Rediscovering and re-imagining the Afrikaners in a new South Africa: autobiographical notes in writing an uncommon biography” in hul reeks “Seminars, Simposia and Lectures” gepubliseer. ’n Hersiene weergawe het verskyn in die Nederlandse vaktydskrif Itinerario: European Journal of Overseas History, deel 27, nommer 3/4 (2003).
Ek het ’n soepel beleid ten opsigte van aanhalings gevolg. Uitlatings wat oorspronklik in Engels of Hollands gemaak is, het ek in Afrikaans vertaal, behalwe waar ek gemeen het dat ’n vertaling iets verlore sou laat gaan. Dit is ’n plesier om van die beste stiliste in Afrikaans, mense soos C.J. Langenhoven, N.P. van Wyk Louw, Piet Cillié, Schalk Pienaar en Breyten Breytenbach, in hul eie woorde aan te haal.
Ek wil graag die volgende skrywers bedank wat my toegelaat het om aan te haal uit manuskripte wat eersdaags verskyn. Ek het aangehaal uit John Kannemeyer se manuskrip van sy biografie van Jan Rabie en dié van sy verwerkte geskiedenis van die Afrikaanse literatuur. Uit Ebbe Dommisse se manuskrip oor die lewe van Anton Rupert het ek dele van die briefwisseling tussen Rupert en P.W. Botha vroeg in 1986 aangehaal.
Dit was ’n plesier om met die volgende mense saam te werk wat met groot professionaliteit bygedra het tot die publikasie van die Afrikaanse Afrikaners: Corinne Harmsen met tikwerk, Nazli Jacobs met ontwerp en set, Erika Oosthuysen met redaksionele bystand en P.A. Joubert met teksversorging. Hannes van Zyl, voorheen van Tafelberg, het van die begin af in sowel ’n Engelse as ’n Afrikaanse Afrikaners geglo. My dank ook weer aan Ton Vosloo, Richard Elphick, Jeannette Hopkins, Nicky Stubbs en al die ander mense wat bygedra het tot die oorspronklike Engelse boek, sowel as die Universiteit van Stellenbosch, wat my as buitengewone professor in geskiedenis aangestel en aan my ’n kantoor en navorsingbystand gebied het. Ek kon steeds reken op die ondersteuning en advies van Albert Grundlingh van die departement. Die dank wat ek in die Engelse uitgawe teenoor Annette Giliomee uitgespreek het, bly net so waar. Ek dra die boek op aan die nagedagtenis van my vader, wat op Porterville my geskiedenisonderwyser was, en my moeder. Hulle het hul gemeenskap met ’n gees van republikeinse betrokkenheid gedien … Ek dra dit ook op aan my kinders, Francine en Adrienne, wat in twee taalwêrelde leef, en my kleinkinders, James Giliomee Lake en Emma Frances Lea. My hoop is dat hulle, saam met veelvuldige ander identiteite, ook met die Afrikaners sal identifiseer en dat hulle vir Afrikaans lief sal wees of word.
Hermann Giliomee
Stellenbosch
Augustus 2004
Die Kaapkolonie en die verspreiding van die Suidelike Nguni, ongeveer 1800 |
Suid-Afrika 1900 |
Hoofstuk 1
Klein begin
Opstand en oorlewing
Daar was ’n geur van opstand in die lug op die middaguur van ’n somersdag in Desember 1658. Johan Anthonisz (Jan) van Riebeeck, kommandeur van die Tafelbaaise verversingstasie, het ernstige onraad vermoed toe veertien vryburgers onverwags opdaag en ’n petisie aan hom oorhandig. Gedurende die voorafgaande ses maande het die burgers vergeefs probeer vasstel wat die prys sou wees wat hul regering, die Vereenigde Oostindische Compagnie (VOC), sou betaal vir die koring wat hulle gesaai het. Dit was nou reeds Desember en hulle het geweier om hul oes te lewer voor die kommandeur sê wat die prys sou wees. Hulle wou ten minste tien gulde per mud hê, anders sou hulle weier om ’n enkele voet meer grond te bewerk. Hulle was ook gegrief dat hulle self hul lewens en plase teen die bedreiging van die inheemse Khoi-Khois moes beskerm.
Dit was vir hulle die grootste onreg dat die regering veehandel met die Khoi-Khois vir hulle verbied het. In die petisie was daar ’n sekere ontsteltenis dat al hierdie dinge gedoen word aan hulle, “die verdedigers van die land”, soos hulle hulle self genoem het. Hulle wou nie die slawe van die Kompanjie wees nie. In plaas daarvan om hulle te help, het die regering hulle onderdruk.
Jan van Riebeeck het die VOC-nedersetting wat bekend sou word as die Kaap van Goeie Hoop op 6 April 1652 gestig. (Die naam Kaapstad sou eers meer as ’n eeu later in gebruik kom.) In 1657 het hy nege Kompanjiesamptenare uit die diens ontslaan om voltydse boere te word. Hy het aan hulle klein lappies grond van ongeveer 13 morge (omtrent 11 hektaar) toegeken. Met hierdie stap het die VOC nie beoog om ’n kolonie van Europese setlaars te stig nie. Al wat dit van die boere verlang het, was om vars voedsel te verskaf aan die bemanning van die VOC-skepe wat Tafelbaai aangedoen het en aan die VOC-personeel in Tafelbaai.
Die burgers se opdrag was om te saai en te plant wat die regering voorskryf. Hulle moes die lae pryse aanvaar wat die regering vasstel. Die volgende jaar het Van Riebeeck die burgers belet om sonder sy toestemming vee aan mekaar of aan verbygaande skepe te verkoop. Hy het ook alle handel tussen die burgers en die Khoi-Khois verbied. Oor dié verbod en die stilswye oor die koringprys het die burgers in verset gekom teen die ampsdraers van die magtige VOC.
Daar was ’n rede waarom Van Riebeeck nie aan die burgers die koringprys wou meedeel nie. Sy base in Amsterdam het hom beveel om slegs vyf gulde per sak te betaal, en hy het geweet dit is ver te laag. In die smokkelhandel wat weldra sou ontstaan, het die burgers, tot die ontsteltenis van die amptenare, 12 gulde gekry vir ’n sak koring wat hulle aan die skepe verkoop het.
Op daardie dag in Desember toe Van Riebeeck die vryburgers te woord moes staan, het hy goed geweet dat veel meer as net die prys van koring ter sprake is. In sy dagboek het hy geskryf die burgers wil graag hul eie base wees en wil die