Hermann Giliomee

Die Afrikaners


Скачать книгу

kroeg op te rig, maar kon ook dié wat hulle wangedra, dwing om na die Kompanjie se diens terug te keer. Hy kon sulke mense selfs wegstuur van die Kaap, al het dit hul bande met hul eie gesin verbreek. Maar teen wil en dank moes die Kompanjie toegee dat die burgers nie bloot lyfeienes was wat hulle aan elke reëling moes onderwerp nie. Van Riebeeck het dit in sy botsing met die burgers oor die koringprys in Desember 1658 ontdek.

      ’n Verversingstasie brei uit

      Die burgers se hoogste prioriteit was ekonomiese oorlewing; dié van die Kompanjie was maksimum wins, wat beteken het dat hy die produktepryse so laag as moontlik vasgestel het. Ook in ’n ander opsig het die Kompanjie en die burgers botsende oogmerke gehad. Die Kompanjie wou ’n klein, netjiese, kompakte nedersetting hê, wat nie veel verder sou strek as die skaduwee van die fort wat hy in Tafelbaai gebou het nie. Die burgers, aan die ander kant, wou hul boerdery uitbrei. Hulle het min geesdrif getoon vir die harde werk wat die saai en oes van koring, bemesting van die lande en die aanplant en snoei van wingerde vereis en het veeboerdery verkies.

      En die burgers wou ook nie self werk nie. Oral in die wêreld was Europese koloniste traag om die grond te bewerk as daar slawe of inheemse arbeid beskikbaar was. Toe die eerste skeepsvrag slawe in 1658 in Kaapstad aankom, was die vryburgers wat geboer het nog veels te arm en te vasgevang in skuld om slawe te bekostig. Weldra sou hulle wel in staat wees om dit te doen.

      Intussen het vee ’n al hoe groter deel van die boerdery geword. Die burgers het in weerwil van die regulasies vee van die Khoi-Khois geruil en op veld anderkant hul gesaaides laat wei. Hulle het hul vee al hoe dieper in die binneland begin instuur om goeie weiding te kry. Veeboerdery, wat algaande ’n onafhanklike tak van die landbou geword het, het teen die agtiende eeu die koring- en wynbou in omvang oortref.

      Vir die ongeveer honderdduisend Khoi-Khois wat in die gebied van die huidige Wes-Kaapprovinsie gewoon het, was die vinnig uitbreidende veeboerdery ’n groot bedreiging. Die Skiereilandse Khoi-Khois met wie die burgers die eerste in aanraking gekom het, was (soos alle Khoi-Khois) jagters en veeherders. Toe hulle besef dat die Europeërs gekom het om te bly en hul weivelde te beset, het hulle bekommerd geraak. Toe hulle die burgers sien landerye ploeg, het die kommer in vyandskap verander.

      In 1659 het die Skiereilandse Khoi-Khois onder Doman die eerste uitgebreide aanval op die nedersetting geloods. Hulle het plaashuise verwoes en vee weggevoer. In 1660 rapporteer Van Riebeeck dat hy vrede gesluit het, maar dat die Khoi-Khois ontsteld is oor die nedersetting. Toe hy teenoor die Khoi-Khois opmerk dat daar nie genoeg weiveld vir almal in en om die Kaap is nie, het hulle gevra: “Het ons dan nie rede om jou te verhinder om vee in die hande te kry nie, want as jy baie vee het, sal jy nie al ons weiveld gebruik nie?” Hulle het ook gevra: “Wie moet die eerste wyk: die regmatige eienaar of die vreemde indringer?”

      Van Riebeeck, en ook sy opvolgers, het nooit ’n duidelike en konsekwente beleid teenoor die Khoi-Khois gevolg nie. Sy bevele was dat die Khoi-Khois verdraagsaam behandel moet word, maar dat hy gyselaars op Robbeneiland kan aanhou as die diefstalle voortduur. Die kommandeur het gou ingesien dat botsings oor grond, vee en water nie sal ophou nie en dat vrede met die Khoi-Khois op die duur onmoontlik is. Terselfdertyd het hy besef dat om hulle dood te maak “barbaars en onchristelik” is. Hy het wel daaraan gedink om die Skiereilandse Khoi-Khois in kettings te slaan en dwangarbeid te laat doen, soos om robbe te vang en silwer (wat nog ontdek moes word) te delf, maar die Here Sewentien het geweier.

      ’n Nedersetting met ’n unieke karakter

      In 1662, by Van Riebeeck se vertrek, was die nedersetting se bevolking saamgestel soos onderstaande tabel aandui. (Tegnies was vroue nie burgers nie en hulle is nie onder daardie hoof getel nie, maar hulle het baie van die regte van hul volwasse manlike familielede gedeel.):

Kaapse bevolking 1662
Kompanjiesamptenare Burgers
Manlik 57 36
Familie 113 37
Slawe 24 23

      Die meeste burgers het in die klein dorpie rondom die Fort as skrynwerkers, messelaars en smede gewerk of kroeë en losieshuise aangehou. Sestien was boere.

      Die Kompanjie se keuse van Europeërs as vryburgers was nie ’n beginselbesluit nie. Sommige van die top-amptenare sou Chinese of vrygestelde slawe as boere verkies het en het in briewe dikwels hul minagting uitgespreek vir die vryburgers en hul talle gebreke. Van vroeg af het die burgers geleer om die regering te wantrou, iets wat meer as drie eeue lank ’n kenmerk van die burgergemeenskap sou bly.

      Wat die Kaap as nedersetting sy unieke karakter gegee het, was nie die geweld wat teen die inheemse bevolking gebruik is nie – dit was algemeen in die Europese kolonies – maar dat die Europeërs verkies het om met die inheemse mense handel te dryf en hulle op groot skaal in diens te neem, eerder as om hulle uit te wis of te verdryf.

      Baie van die Khoi-Khois het van die Kaapse Skiereiland en omgewing weggetrek nadat burgers hulle verdring het. Maar talle het aangebly, alhoewel hul weiveld nou deel van ’n burger se plaas was. Hierdie Khoi-Khois en burgers het heeltemal afhanklik van mekaar geraak. Die boere het arbeiders nodig gehad en die Khoi-Khois het kos vir hulle self en weiveld vir hul paar stuks vee gesoek.

      Party is teen hul wil op die plase aangehou, maar baie het vrywillig aangebly. Van Riebeeck het in die eerste jare deur middel van ’n wildeamandelheining skeiding tussen die mense van die hawedorpie en die Khoi-Khois probeer bewerkstellig. Maar dit was tevergeefs. ’n Komplekse samelewing was aan die vorm aanneem waarin Europeërs, slawe en Khoi-Khois verstrengel geraak het.

      Namate die kolonie uitgebrei het, het die veeruil met die Khoi-Khois ook toegeneem. Aanvanklik het die Skiereilandse Khoi-Khois hulle as middelmanne aangebied en stamme dieper in die binneland oorreed om die vee aan hulle te verkoop, wat hulle weer teen ’n profyt aan die Kompanjie verkoop het. Algaande het die burgers hierdie middelmanne uitgeskakel en die rol oorgeneem.

      Die regering het die veeruil verbied, maar sy gesag het nie ver genoeg gestrek om dit uit te wis nie. Die owerheid kon ook nie verhinder dat die burgers hul vee anderkant hul plaasgrense laat wei nie. In 1662 het Van Riebeeck die Kaap verlaat met die besef dat sy plan vir ’n kompakte, intensiewe nedersetting misluk het. ’n Gebied wat hy gedink het groot genoeg sou wees om onderhoud aan duisend gesinne te verskaf, was nou, nadat slegs vyftien plase uitgemeet is, as ten volle beset beskou.

      Sewentien jaar lank ná Van Riebeeck se vertrek het die nedersetting nie veel verder as die sandvlakte aan die buitewyke van die Skiereiland gestrek nie. Die weerstand van die Skiereilandse Khoi-Khois moes eers verkrummel, iets wat teen die einde van die 1670’s gebeur het. Daar was nou 240 volwasse vryburgers, van wie die helfte boere was.

      Die nedersetting brei uit

      Simon van der Stel, wat in 1679 as bevelvoerder van die Kaapse nedersetting oorgeneem het, het die taak gekry om die nedersetting uit te brei. Hy het in dieselfde jaar opdrag gegee om op Stellenbosch ’n drosdy te bou, wat as die setel van die distrik se administrasie sou dien. Hier het die regering ’n amptenaar as landdros aangestel en aan hom vier burgers as heemrade toegewys. Die Kollege van Landdros en Heemrade het in die distrik orde gehou en kleiner gedinge aangehoor en geskik.

      Onder Van der Stel is heelwat groter plase as onder Van Riebeeck toegeken – dit het van 32 tot 64 hektaar gewissel. In die distrik Stellenbosch was dieselfde kragte werksaam as wat in die Kaapse distrik intensiewe landbou ondergrawe het: kapitaal en arbeid was skaars, maar grond was daar in oorvloed. In Stellenbosch het die afstand van die mark dit selfs aantrekliker gemaak om na ekstensiewe boerdery oor te slaan. Teen 1687 het Van der Stel die distrik Stellenbosch as ten volle beset beskou. Grond wat geskik was vir intensiewe landbou is meesal gebruik vir weiveld. Dieselfde patroon het ontvou in Drakenstein (later genoem Paarl), Franschhoek, Wagenmakersvallei (Wellington), die Swartland (Malmesbury) en die Land van Waveren (Tulbagh), wat almal teen die einde van die sewentiende