Hermann Giliomee

Die Afrikaners


Скачать книгу

nie wit was nie.

      Toe Europa in die sewentiende eeu tot kolonisasie oorgaan, het Europeërs die eerste keer op groot skaal met ander beskawings kennis gemaak. Dit het hul bewussyn van hulle self en hul eie beskawing versterk en omlyn. Portugese, Spanjaarde, Engelse en Nederlanders was ewe oortuig dat hulle as Europeërs kultureel meerderwaardig is. Vir die sewentiende-eeuse Nederlanders was om swart te wees die teenoorgestelde van dit wat hulle as normaal, mooi en aantreklik beskou het. Hierdie vooroordeel is versterk deur die kulturele meerderwaardigheid wat Christene teenoor heidene, en wat die “beskaafde” Europeërs teenoor die “barbaarse” inboorlinge van Afrika gevoel het.

      Ras as biologiese term het eers teen die einde van die negentiende en die vroeë twintigste eeu wortelgeskiet om die onderskeid tussen wit en swart aan te dui. Tot dan toe is “ras” amper in dieselfde sin as “nasie” gebruik met die klem op kultuurverskille, soos dié tussen die Angel-Saksiese en die Hollandse “ras”. Aan die Kaap is vooroordele aanvanklik selde in kleurterme uitgespreek.

      ’n Gemeenskap van immigrante

      Jan van Riebeeck het op 6 April 1652 met drie skepe in Tafelbaai aangekom. Negentig Europeërs het aan land gestap: “swak en onkundige mense”, soos hy hulle beskryf het. In die eerste drie dekades was die meeste Europese immigrante enkellopende mans uit Nederland. Tussen 1688 en 1700 het ongeveer 200 Franse Hugenote bestaande meesal uit gesinne, aangekom en later het nog enkeles bygekom. Behalwe die Franse vroue was die meeste vroulike Europese immigrante Nederlanders, veral jong vroue of dogters uit weeshuise in Nederland.

      Die meeste van die manlike immigrante was ongeletterde of halfgeletterde kleinboere of arbeiders van Noordwes-Europa. Die Kompanjie het hulle as soldate of matrose vir minstens vyf jaar in diens geneem. ’n Loopbaan as matroos of soldaat in VOC-diens was onbenydenswaardig. Die daaglikse loon was baie laer as dié van ’n arbeider op land of ’n matroos in die handelsvloot. Op die VOC-skepe moes hulle swak kos, hardvogtige dissipline en siektes trotseer. Vyftien tot 20% van diegene wat na die Ooste geseil het, het onderweg gesterf.

      Gedurende die agtiende eeu was die meeste Europese immigrante aan die Kaap enkellopende manlike Duitsers. O.F. Mentzel, ’n Duitse reisiger, beskryf die omstandighede waarin ’n tipiese Duitse immigrant in die Kaap beland het: Hy het in Nederland opgedaag, swak geklee, sonder geld en naarstig op soek na werk. As hy geen geld gehad het om homself te onderhou terwyl hy wag om deur die VOC gewerf te word nie, het hy gewoonlik in die hande van ’n agent geval, wat hom geld vir sy onderhoud voorgeskiet het totdat hy sy eerste betaling ontvang het. In sommige gevalle het dit vyf jaar geduur voordat hy sy agent kon afbetaal. Aan die Kaap moes hy spaarsaam leef. Hy het 28 stuiwers per maand as kosgeld of ’n kontantloon ontvang, en ’n ekstra 28 stuiwers as onderhoud. Saam daarmee het hy ses pond brood per week verdien. Weens die groot skuld wat hy moes afbetaal, moes hy dikwels met minder as twee stuiwers per dag uitkom. Selfs in die eenvoudigste eethuis het ’n klein porsie vleis twee stuiwers gekos.

      Hoewel die immigrante uit die laer range van die Wes-Europese samelewing gekom het, was hulle geen uitvaagsels nie. Hulle was ondernemend genoeg om die kans te waag om ten minste vyf jaar in ’n verafgeleë land te gaan werk. Van die Duitsers wat na die Kaap gekom het, was ambagslui wie se lewe deur die Dertigjarige Oorlog ontwrig is. Dit was hulle wat die beste in hul nuwe vaderland gevaar het.

      Nederland, eerder as Duitsland of Frankryk, het die aard van die Kaapse nedersetting die meeste beïnvloed. In die Europa van die sewentiende eeu het die Nederlanders die meeste individuele mobiliteit en die grootste gelykheid voor die reg geniet. In die provinsie Holland, waar die Romeins-Hollandse reg gegeld het, is geen spesiale voorregte aan die adel toegeken nie. In die woorde van die groot juris Voet het dit “gelykheid bewaar en die burgers op gelyke vlak saamgebind”. In 1665 het ’n Franse besoeker aan Nederland verbaas opgemerk dat diensknegte so baie regte geniet dat hul meester hulle nie eens ’n klap kon gee nie. Dit was die Romeins-Hollandse reg wat in die Kaap toegepas sou word.

      In Nederland het die Gereformeerde Kerk, gebaseer op die Calvinistiese leerstellinge, amptelik voorrang geniet. Dit was egter nie die staatskerk nie en slegs die helfte van die bevolking was lidmate. Die fundamentele Protestantisme het die individu toegelaat om sy sieleheil sonder bemiddeling van priesters of heiliges te soek, en om wêreldlike voorspoed na te streef. Die Gereformeerde Kerk was sterk gekant teen die streng hiërargie van die Katolieke Kerk. Lidmate het geensins dieselfde eerbied aan predikante betoon as wat Rooms-Katolieke teenoor hul priesters aan die dag gelê het nie. Die staat het die kerk noukeurig dopgehou en daarop gestaan dat dit hom nie moet kritiseer nie. Dit was ook die geval aan die Kaap, waar die VOC die Gereformeerde predikante besoldig het.

      In Nederland het die mense ook nie baie eerbied teenoor politieke gesagsdraers betoon nie. Die staat was ’n losse konfederasie van provinsies en stede met die State-Generaal as ’n soort konfederale parlement, en die Prins van Oranje was as stadhouer die simboliese hoof van die staat. Vergeleke met die res van Europa was die klasseklowe nie skerp nie. Daar was in Nederland ’n klein bolaag van aristokrate, gevolg deur die “hoë bourgeoisie”, en onder hulle weer ’n breë stratum van die burgerlike middestand, wat bestaan het uit geskoolde ambagslui, winkeliers en verskaffers van diverse goedere. Laer af was daar ’n werkersklas wat oor die algemeen swak betaal is, maar nietemin gereelde werk gehad het. Heel onder was die “grou” – die droesem van die samelewing.

      Belangrik was dat ’n ondernemende arm man kon uitstyg tot die middestand. Die burgers was vryer om hul eie belange na te streef as elders in Europa. Hier het die kapitalisme met sy revolusionêre uitwerking op die samelewing reeds goed wortelgeskiet. Die begrip van individuele grondbesit het sterk posgevat. Saam was kapitalisme en Calvinisme ’n kragtige brousel. Alhoewel die kerk gewaarsku het teen aanbidding van die “goue kalf”, was voorspoed vir baie mense die sigbare teken van ’n vrome lewe.

      Die meeste immigrante wat vryburgers aan die Kaap geword het, was nederige en onkundige mense, maar die term “burger” was dieselfde as wat gebruik is vir die vooruitstrewende burgers in die sentrum van die sewentiende-eeuse Nederlandse samelewing wie se stralende selfvertroue Rembrandt, Steen, Vermeer, Hals en ander skilders so goed verewig het.

      Die Nederlandse burgers is nie op grond van hul ekonomiese funksie gedefinieer nie. Hulle was heel eerste burgers – ’n politieke term – en slegs tweede homo economicus, mense gedrewe deur hul eie materiële belange. Die Kaapse burgers het dieselfde politieke status nagestreef, maar vir die Kompanjie het hulle hoofsaaklik ’n lae ekonomiese status gehad.

      Die Kompanjie se heerskappy en die burgers se strewes

      Van Riebeeck se vrystelling van sommige Kompanjiesamptenare in 1657 om as “vryburgers” te boer, het nie beoog om ’n eilandjie van vryheid te skep nie. Die doel was om geld vir die VOC te bespaar. Die burger was onthef van sy taak as soldaat of matroos, maar hy was nog steeds aan die Kompanjie se regulasies vir die Kaap onderworpe. Hy moes belastings aan die Kompanjie betaal en kommandodiens verrig.

      Die burgers het gou hul eie mites oor die stigting van die Kaap en hul onmisbaarheid geskep. Hulle het hulle self gesien as mense wie se belange deurslaggewend vir die regering behoort te wees. Die term “verdedigers van die land” wat hulle in hul onderonsie met Van Riebeeck gebruik het, was die eerste teken van ’n ontluikende politieke bewustheid. Dit is verder aangewakker deur die belangrike rol wat hulle in die landsadministrasie gespeel het.

      Die regering aan die Kaap was dikwels ontsteld oor wat hulle beskou het as die burgers se aanmatigende houding en buitensporige eise. In Van Riebeeck se oë moes die burgers dankbaar wees vir die beperkte vryheid wat hulle ontvang het. Hulle moes nie nuwe eise stel nie, maar hul belange ondergeskik stel aan dié van die Kompanjie, wat ’n magtige maatskappy was. In werklikheid was Van Riebeeck korrek: die Kompanjie was ’n soewereine mag in eie reg. Volgens sy oktrooi van 1602 kon die VOC soldate werf, oorlog voer, verdrae sluit en die orde in sy nedersettings handhaaf. Die Nederlanders in sy diens moes trou sweer aan sowel die Kompanjie as die State-Generaal in Nederland. Hulle was dus onderworpe aan die Nederlandse wette én aan die Kompanjie se regulasies.

      Vir die amptenare was die vergelyking wat die vryburgers tussen hulle status en dié van Nederlandse burgers getref het, vergesog. Die Kompanjie kon voorregte toestaan, maar hy kon hulle ook terugtrek. Hy het die