Kristel Loots

Sushi en sjampanje


Скачать книгу

klink my voetstappe soos dié van ’n wyfie-olifant in ’n paar stiletto’s wat nie behoorlik pas nie.

      Die maître d’ staan dadelik nader toe ek by die deur instap. “Good evening, welcome to The Orchid Room.” Deftig. Nes ek daarvan gedroom het. Behalwe natuurlik dat ek in my droom nie alleen hier gestaan het nie, veral nie met bewende bene en my aandsakkie styf onder my arm vasgeknyp nie.

      My oë beweeg oor die restaurant. Waar ís hy? Waar ís die bliksem? Die maître d’ wil weet of hy my kan help, of ek na iemand op soek is, of ek bespreek het. Sy stem sag soos fluweel, maar die uitdrukking op sy gesig nie meer heeltemal so verwelkomend nie. Wat het hy hier? ’n Vrou van die nag? Sy met haar swart mini en die verlore uitdrukking op die gesig? High-class genoeg as hy mooi na my Jimmy Choos sou kyk en my Franse parfuum sou ruik, maar nogtans nie noodwendig welkom hier tussen die A-lys-gaste nie.

      Ek dwing my oë terug na hom toe. Jeffrey Burgess, lees ek op die kopernaamplaatjie teen sy bors.

      Yes. Ja. Nee, hy hoef nie te worry nie. Ek . . . daar ís plek vir my. Bespreek, ja. Onder wie se naam? Onder

       . . . wel, seker onder Gary se naam? Van Heerden, ja, dis reg. Gary van Heerden, sy ma is Afrikaans, you know?

      Die arme Jeffrey Burgess kyk my aan asof ek ’n taal praat wat nog nie voorheen hier in Suid-Afrika gehoor is nie. Maar Gary se naam maak darem vir my die deur oop. “Ah! Miss Sally Smith, I believe.”

      So, ek het eintlik nie gelieg nie. Daar ís plek vir my bespreek, vir my, Sally Smith, Gary van Heerden se skelmpie.

      “Mister van Heerden asked me to look out for you. Please come with me.”

      Maar ek wil nie soos ’n mak lammetjie agter die maître d’ aanstap tot by Gary nie. Ek wil soos ’n leeu daar aankom, hom tref soos ’n onverwagte weerligstraal, gevolg deur ’n donderslag.

      “Nee, nee,” keer ek. “Wys net vir my waar hy sit. Ek wil hom verras.” Ek weet ek is veronderstel om Engels te praat, maar dis asof ek nie aan ’n enkele Engelse woord kan dink nie.

      Jeffrey Burgess glimlag, hy wys tande, gelerige tande, maar die res van sy gesig glimlag nie saam nie. “Just around the corner to your left,” beduie hy strammerig.

      My voete sak weg in die sagte mat toe ek hoek toe stap. Ek loer om die hoek. Daar sít hy! Daar sit die bliksem in sy pak klere wat hy iewers na werk moes gaan aantrek het. Uitgevat soos die kapokhaantjie wat hy is, die das wat sy ma verlede Kersfees vir hom gegee het om die nek. ’n Aaklige das met patrone op wat soos vlermuise lyk, sulke flapperige ontwerpe. Toe sien ek die orgidee, ’n pragtige, perfekte pers orgidee wat langs Gary op die tafel lê. Die hele Orchid Room is vol orgideë, maar die een wat hy hier ingedra het, is selfs meer eksoties as dié in die blompotte op die tafels.

      Nice touch! So romanties! Om Sally Smith met ’n orgidee in te wag.

      Die jaloesie wil-wil my verswelg, die hartseer en die woede. ’n Eksotiese blom vir die blonde ding wat hy in sy gedagtes opgetower het, die skelmpie wat hy vanaand hier ontmoet. Terwyl hy nie eens vir Valentynsdag vir my ’n blom gekoop het nie. Nie eens ’n plastiekroos nie!

      “Dis ’n rip-off, Jack. Jy betaal meer vir ’n enkele blom as normaalweg vir ’n hele bos.” Asof hy sal weet hoeveel ’n bos blomme kos. Asof hy ooit vir my ’n bos blomme koop.

      “Natuurlik is dit ’n rip-off,” het ek hom probeer opvoed oor die betekenis van Valentynsdag. “Dis juis die idee – dat jy soveel vir jou geliefde omgee dat jy vir haar ’n blom koop op ’n dag wat dit jou ’n ekstra paar rand kos.”

      “Ons is te oud vir sulke twak,” was sy verweer.

      Nie te oud nie, wou ek vir hom sê, net te koud.

      En hier sít hy nou. Gary van Heerden, my flippen verloofde wat vir ’n ander meisie kan uithaal en wys, maar nie vir my nie. Miskien moet ek net omdraai en uitloop. Huis toe gaan. Voordat hy my sien. Voordat hy weet wat aangaan. Sally Smith se selfoon gaan afskakel en iewers diep wegsteek en hom by die huis gaan inwag met ’n glimlag op my gesig en nie veel meer aan my lyf nie. Hy sal troos nodig hê, die arme ding, die versekering dat daar darem nog iemand is wat hom wil hê. Selfs al het die wonderlike Facebook-flerrie nie vir hom kans gesien nie. Dalk, so sal hy dink, het sy hom deur die venster gesien en besluit hy is niks om oor opgewonde te raak nie. Te kort. Te vaal. Dit sal hom aarde toe bring, die verwaande klein miskruier!

      Iemand kug agter my. Jeffrey, die maître d’ wat nie die vrede vertrou nie. Iets sê vir hom alles is nie kosjer hier nie. Ek kan nie vorentoe nie en ek kan nie agtertoe nie. Ek strompel vorentoe, nog steeds met die grasie van ’n wyfie-olifant in Jimmy Choos. En bekruip Gary skuins van agter.

      “Haai, Gary, hoe’s dinge?” vra ek toe ek by hom kom.

      Gary word nie wit nie, hy raak deurskynend. Soos ’n bloedlose insek, as ’n mens so iets kry. “Jacki?” vra hy. Letterlik asof hy ’n spook sien, nie sy verloofde in ’n sexy swart nommertjie nie.

      “In lewende lywe, ja.”

      Hy lig hom effens uit die stoel. “Wat? Hoekom is jy hier?”

      “Kom ons vra eerder hoekom is jý hier?”

      “Ek . . . het jou mos gesê ek moet iemand ontmoet.” Ek sien hoe Gary oor my skouer kyk. Seker bang Sally Smith daag hier op en betrap my by hom.

      “In Franschhoek, ja, ek onthou.”

      “Franschhoek? Ja. Ja, dis reg. Maar . . . ons planne het verander.”

      Ek verstom my daaraan dat Gary so maklik op sy voete kan dink. Hoeveel keer het hy dalk al vir my gelieg? En ek, arme naïewe, liggelowige ou Jacki de Wet, slurp alles op.

      Gary gluur my aan. “Ek verstaan nog nie hoe jy geweet het waar om my te kry nie, maar jy sal my moet verskoon. Ek het ’n belangrike afspraak.” Hy wag sowaar vir my om te loop, verwag van my om mooi soet huis toe te gaan en daar vir hom te wag!

      Ek pluk die stoel oorkant hom uit en gaan sit met ’n plofgeluid lomp daarin, nog steeds die ene oorgewig wyfie-olifant. Wat ek nie is nie. Ek is skraal genoeg, gesofistikeerd genoeg as ek die dag hard genoeg probeer. Dis hý – dis hierdie man, hierdie . . . hierdie bliksem wat my reduseer tot ’n vrou sonder enige grasie of sofistikasie, dis hy wat my so onwelkom laat voel soos ’n virus wat op iemand se rekenaar beland het.

      “Ek weet alles van Sally Smith af, Gary,” gooi ek hom met ’n klip teen die kop.

      “Sally Smith?” Hy sluk. “Van wie praat jy?”

      “Van jou skelmpie, Gary.”

      Hierdie keer word hy rooi in die gesig. “Ek weet nie wie vir jou allerhande stories aangedra het nie, Jacki. Maar jy weet nie waarvan jy praat nie.”

      “O nie? Ook nie van die gedig wat jy vir Sally Smith geskryf het nie?” Ek probeer onthou wat hy geskryf het. “ ’n Sneeustorm van verwondering oorspoel my, oor jou, virtuele vrou wat ek in my hart hou. So iets.”

      Dis ’n simpele gedig sonder enige meriete. Maar ek was jaloers toe ek dit lees. Jaloers op Sally Smith wat Gary sover kon kry om dit vir haar te skryf. Ek kyk hom uitdagend aan. Iewers in daardie verwaande brein van hom moet dit registreer dat ek meer weet van die intieme gesprekkies tussen hom en Sally Smith as wat hy sou raai.

      Die kelner staan nader om ons bestelling te neem, maar Gary waai hom weg. Maklik vir hom om dit te doen, hy sit met ’n drankie in die hand. Dis ek wat droëbek bly sit. The story of my flippen life! Eintlik kan ek doen met iets om my senuwees te kalmeer. Iets taamlik drasties soos ’n papsak bakleiwyn vir die pyn.

      Gary is self aan die sweet. “Wat gaan hier aan, Jacki? Wat het jy nou weer gaan staan en aanvang?”

      “Aanvang? Wie? Ek?”

      “Ja, jy. Of jy en hierdie Sally Smith saam? Waar kom jy aan haar? Ken julle mekaar? Het julle gekonkel? Wat het jy vir haar gesê dat sy nie vanaand vir ons vergadering opgedaag het nie? Ek sit al hoe lank hier vir haar en wag.”

      “Vergadering?”