sit ’n wit-en-swart speelgoedhond wat nie blaf nie en nie byt nie en net kop knik. Op en af. Op en af.
Ag, hoe oulik, dink die meisie en klop aan die voordeur.
Kirrrts, kraak die deur oop en ’n snaakse ou mannetjie met ’n lang wit baard en ’n blou-en-groen strepiesbroek sê: “Goeiemôre, Voorskootjie-sonder-Bandjies!”
“Hie-gie-gie,” giggel die meisie en sê sy soek werk.
“O, hier is baie werk, Voorskootjie-sonder-Bandjies,” sê die ou mannetjie. “Afstof en uitvee, kos kook en skottelgoed was.”
“Gaaf,” sê die meisie, “maar my naam is Tina, T-i-n-a, nie Voorskootjie-sonder-Bandjies nie.”
“Liewe kind, jy moet nog baie leer,” sê die witbaardmannetjie. “Hier by my het alles ander name. Hoe sal jy my noem?”
“Seker maar ‘meneer’ of ‘oom’,” sê Tina.
“O nee, ek is Meneer-van-’n-Meneer,” antwoord hy.
“Goed, Meneer-van-’n-Meneer,” sê Tina en lag agter haar hand.
“En hoe sal jy dít noem?” vra Meneer-van-’n-Meneer en wys na sy groot wit bed.
“Ag, seker maar bed of kooi,” sê Tina.
“O nee, jy moet dit noem: Wit-soos-Melk-Volstruiseierdop. En hoe sal jy dié noem?” vra hy en wys na sy blou-en-groen strepiesbroek.
“Ag, seker maar langbroek of strepiesbroek.”
“O nee,” sê Meneer-van-’n-Meneer, “dis Potloodstreep-en-Fluitjiesriet.”
Nou lag die meisie sommer kliphard.
“En hoe sal jy dít noem?” vra die mannetjie en wys na sy kat wat op ’n mat voor die kaggel lê.
“Wel, seker maar ‘kat’ of ‘kietsie’,” sê die meisie.
“O nee, sy is Witgesig-Snorbaard-Kniepootjies. En hoe sal jy dié noem?” vra hy weer en wys na die vuur in die kaggel.
“Wel, seker maar ‘vuur’ of ‘vlam’,” sê die meisie.
“O nee, dit is Sjoe-Sjoe-Snikheet-Hanekammetjie,” sê Meneer-van-’n-Meneer. “En hoe sal jy hiervoor sê?” en hy wys na die water in ’n emmer.
“Wel, seker maar ‘water’ of ‘vloeistof’,” sê die meisie.
“O nee, dit is Wolkedruppels-wat-Poeletjies-Maak,” sê die ou mannetjie. “Wat sal jy dié noem?” en hy wys na die hele huis.
“Wel, seker maar ‘huis’ of ‘woning’,” sê die meisie.
“O nee,” antwoord Meneer-van-’n-Meneer. “Jy moet dit Hoogste-Bergspits-van-Almal noem.”
Ná drie dae word Tina in die nag wakker omdat sy rook ruik. Sy hardloop die trap af en skrik groot toe sy sien wat aangaan. Sy storm na die witbaardmannetjie se kamer toe en roep: “Meneer-van-’n-Meneer, staan gou op uit jou Wit-soos-Melk-Volstruiseierdop en trek vir Potloodstreep-en-Fluitjiesriet aan, want Witgesig-Snorbaard-Kniepootjies het met haar stert ’n bloedrooi veertjie van Sjoe-Sjoe-Snikheet-Hanekammetjie opgevee en as jy nie nou dadelik vir Wolkedruppels-wat-Poeletjies-Maak gaan haal nie, sal die hele Hoogste-Bergspits-van-Almal nou-nou ’n Sjoe-Sjoe-Snikheet-Hanekammetjie wees!”
Toe spring die witbaardmannetjie uit sy groot spierwit bed, hy pluk sy blou-en-groen gestreepte broek aan, hy gryp ’n emmer water en gooi dit op die kat se stert om die vlammetjie te blus sodat die hele huisie nie vol vlamme staan en afbrand nie. Byna-byna was hy te laat – omdat die boodskap so vol lang woorde was!
En hy sê vir die meisie: “Toe, Tinatjie, gaan slaap nou maar weer in jou bed. Die water het die vuur geblus, die kat se stert het net ’n bietjie geskroei en ons huis staan nog.” Hy vat-vat so aan sy baardjie en toe sê hy: “Lyk my die kortste woord is tog maar die beste!”
Postlees: Beantwoord die onderstaande vrae in jou werkboek (pas leesstrategieë toe). | |
1. | Noem ses dinge (nie mense nie) wat in hierdie verhaal ’n ander naam kry. |
2. | Hoe het Tina agtergekom iets in die huis brand? |
3. | Waar kom die mannetjie aan die naam Wolkedruppels-wat-Poeletjies-Maak vir ’n emmer? |
4. | Waar kom die mannetjie aan die naam Sjoe-Sjoe-Snikheet-Hanekammetjie vir ’n vuur? |
5. | Gee ander name aan die volgende dinge (volgens die mannetjie se metode): verkeerslig, tuinslang, TV-stel. |
6. | Hoekom is dit beter om die kortste woord te gebruik? |
7. | “In Rome maak ’n mens soos die Romeine.” Hoe is hierdie spreekwoord van toepassing op hierdie verhaal? |
8. | Is daar baie spanning in die verhaal, iets wat ons laat naels byt oor wat volgende gaan gebeur? Hoekom dink jy so? |
9. | Noem nog twee kenmerke van volksverhale in hierdie verhaal en verduidelik hoekom jy so sê. |
Uilspieël betaal met die klank van geld
Linda Rode
Prelees – groepbespreking
Kyk na die illustrasie. Watse soort karakter kan ons in hierdie verhaal verwag: ’n inbreker, ’n poetsbakker, ’n sirkusnar? Hoekom sê jy so?
Kyk op die internet watse inligting jy oor Uilspieël kan vind en deel jou kennis met jou klasmaats.
Die verhaal
’n Goeie paar honderd jaar gelede was daar ’n terggees, ’n skelm en, ’n poetsbakker met die naam Uilspieël. Sy mus met die twee lang puntore met ’n klokkie aan elke punt het ’n bietjie soos ’n hofnar s’n gelyk. Met Uilspieël het die mense nooit geweet waar hulle aan of af is nie. Hy kon die slimste streke uitdink en gewoonlik die beste daarvan afkom.
Uilspieël het baie rondgeboemel, van een plaas of dorp of stad na die ander. Oral het hy kattekwaad aangevang. Op ’n dag is hy in die stad Keulen. Hy slaap en eet daar in ’n herberg. Maar toe dit tyd word vir middagete, is die kos nie klaar nie. Uilspieël wag en wag en kla later by die herbergier: “Hoe’s dit met julle hier in Keulen? Hier wag mens tot oudag vir jou kos!”
En toe skuif hy sy sitbankie tot teenaan die vuurherd waar ’n vet braaiboud oor die oop vuur gaar word.
“H’m, a ha,” snuif Uilspieël die heerlike braaivleisgeur. “H’m, heerlik!” En daar bly hy sit en snuif tot die herbergier sê die kos is gaar en die mense kan nou tafel toe kom.
Maar Uilspieël bly sit waar hy sit. “Kom jy nie eet nie, ou klakous?” vra die herbergier.
Uilspieël skud sy kop dat die twee puntore aan sy mus rondflap en die klokkies tieng-tieng maak. “Nee wat,” sê hy, “my maag is nou vol van die braaiboud se geur. Ek is heeltemal versadig.”
Ná die ete betaal al die gaste die herbergier vir die maaltyd. Die herbergier kom hou die geldbord ook vir Uilspieël en sê: “Betaal, asseblief. Jy sê mos jy het vol geword van die geur van die braaiboud. Dan moet jy vir jou ete betaal.”
Maar Uilspieël wil niks weet nie. “Harg!” lag hy onderlangs en sy oë flits skelm. Hy haal ’n geldstukkie uit sy sak en laat val dit op die vloer. Klieng! maak die geldstukkie. Die herbergier buk om dit op te tel, maar Uilspieël gryp dit soos blits en laat glip dit weer in sy eie sak.
“Hoe dan nou?” sê die herbergier. “Dis mos my betaling vir die geur van die braaiboud wat jy in my herberg geniet het.”
Uilspieël lag net. “As ek moet betaal vir die geur van die braaiboud, is die klank van die geld mos genoeg betaling vir jou. Dis tog regverdig, nie waar nie?” Hy gryp sy reisbondel wat hy aan ’n stok oor sy skouer dra soos dit daardie tyd die gewoonte was en maak dat hy wegkom uit die stad Keulen voor daar moeilikheid kom. Ligvoets loop hy,