dan vertoef, weet nugter, want ná daardie warm somerdag toe die Kaap nog Hollands was, het niemand hom ooit weer van naby gesien nie.
Maar as die wit wolke op ’n lekker winderige dag so van Duiwelspiek af sak en oor Tafelberg tuimel, kyk die mense op na die berg en sê: “Ja-nee, vandag sit en stook Van Hunks en die duiwel weer behoorlik.”
Woordverklarings
aanmeer – ’n skip voor en agter in ’n hawe vasmaak
blaaskans – pouse, rustyd; afgelei van die manier waarop ’n mens of dier letterlik ophou werk en diep sug om ’n rukkie te rus
blad – die skouer se agterkant
bonkig – groot van lyf, gespierd
drinkebroers – mans wat gereeld saam alkohol drink
eenoog-verkyker – verkyker met net een buis
kaai – ’n plek waar skepe kan aanmeer
kleinboer – iemand wat op ’n klein stukkie grond met min produkte boer
loopplank – ’n plank waarop mense tussen die skip en die kaai kan loop
mynheer – ’n ou vorm van “meneer”, uit Nederlands afgelei
slonsig – slordig, vuil
stook – diep en baie rook
stroef – onvriendelik, somber
weet nugter – weet niemand
Postlees: Beantwoord die onderstaande vrae in jou werkboek (pas leesstrategieë toe). | |
1. | Wat was Duiwelspiek se naam vroeër en hoekom het dit Duiwelspiek geword? |
2. | Wie het hierdie rookwedstryd gewen? Hoekom sê jy so? |
3. | Noem vier beroepe van mense wat op die kaai saamgedrom het met Van Hunks se aankoms. |
4. | Hoe weet jy dit is nie die eerste keer dat die Kapenaars Van Hunks sien nie? |
5. | Skryf die sin neer waaruit ons aflei Van Hunks was deftig aangetrek. |
6. | Hoe weet jy hierdie verhaal het lank gelede afgespeel? Noem twee redes. |
7. | Noem drie kenmerke van die volksverhaal wat in hierdie verhaal voorkom. |
8. | In die winter vat Van Hunks en die duiwel ’n blaaskans. Beteken dit elkeen kry dan ’n kans om rook oor die Kaap te blaas? Hoekom sê jy so? |
9. | Is ’n “satanskind” een van die duiwel se kinders? Hoekom sê jy so? Raadpleeg ’n woordeboek vir jou antwoord. |
Hlaulu en die bosdier
Corlia Fourie
Prelees – groepbespreking
Die titel handel onder andere oor “die bosdier” maar in die illustrasie is ’n string krale, en net mense dra tog krale. Waarom laat krale en ’n bosdier jou vermoed dit is ’n volksverhaal?
Kan hierdie verhaal dalk oor Rooikappie gaan? Hoekom sê jy so?
Die verhaal
Eendag was daar ’n meisie met die naam Rooikrale Hlaulu, want sy het graag rooi krale om haar nek, haar middel en haar enkels gedra.
Elke oggend gee Hlaulu se ma vir haar ’n potjie pap om vir ’n siek ou vrou te neem. Die ou vrou woon aan die ander kant van die bos.
Hlaulu se ma sê nooit vir haar om nie die kortpad deur die bos te neem nie, want sy weet Hlaulu sal nie deur die bos stap nie. Niemand in die dorpie stap deur die bos nie. Nie die groot sterk manne nie, nog minder die vroue en kinders.
Want almal in die dorpie weet daar bly ’n vreeslike dier in die bos. Hy het ’n naam ook – Kwobu Khuni. Hoewel niemand al ooit vir Kwobu Khuni gesien het nie, kan almal hom hoor. Hy skreeu in die dag, maar hy skreeu veral in die nag. Hy skreeu so aaklig dat die leeus in die veld aan die brul gaan en die honde in die dorpie tjank.
Dan sê die mense: “Kwobu Khuni is weer baie kwaad vanaand. Pas op vir Kwobu Khuni.”
En die mans bly in hul hutte. En die vrouens sit naby hulle mans. En die kinders klim op hulle mammas se skote.
Almal is stil. Almal wag. ’n Mens weet mos nooit wanneer storm Kwobu Khuni uit die bos en val die dorpie aan nie.
Bedags is dit nie so erg nie. Jy sal Kwobu Khuni kan sien aankom as hy sou besluit om te storm. Jy sal iets kan doen. Iets soos onder ’n bos gaan wegkruip of in ’n boom klim, of die mans kan hul assegaaie gryp en hom almal saam aanval.
Dis oor sy bang is vir Kwobu Khuni dat Hlaulu die ver pad om die bos stap met die potjie pap op haar kop.
Dis baie ver om te stap. Ver met die son op jou rug as jy gaan en die son in jou oë as jy terugkom. En met elke tree word die vol pot swaarder en swaarder sodat dit later vir Hlaulu voel asof daar ’n klip in die pot is. Op pad terug is dit nie die pot wat pla nie, maar die paadjie wat net aanhou en aanhou.
Maar die ou vrou is baie bly oor die pap. So bly dat sy elke dag nadat sy eers ’n paar happe pap geëet het, vir Hlaulu ’n storie vertel.
Op ’n dag vertel die ou vrou vir Hlaulu die storie van die meisie en die bosdier.
“Eendag was daar ’n meisie wat altyd om die bos moes loop omdat daar ’n bosdier in die bos woon. Op ’n dag word die meisie moeg daarvan om so ’n ver pad te moet loop. En sy is ook nuuskierig om te sien hoe die bosdier lyk.
“Toe gaan die meisie stil soos ’n blouduiker die bos in en sy wag totdat sy die bosdier sien aankom.”
“Hoe lyk hy?” vra Hlaulu met groot oë.
“Lelik. Baie lelik. Hy’s amper so groot soos ’n olifant en hy’t ’n pels soos ’n hiëna en ’n gesig en pote soos ’n bobbejaan en ’n regop stert soos ’n vlakvark.”
“En toe?” vra Hlaulu met ’n dun stemmetjie asof sy die bosdier nou net buite die hut hoor skreeu het. “Wat het die bosdier toe met die meisie gedoen?”
Die ou vrou laat Hlaulu so ’n rukkie wag, toe sê sy: “Niks nie. Die bosdier het haar eers niks gedoen nie, want hy het haar nie gesien nie. Soos ’n blouduikertjie het sy onder die bosse weggekruip en die bosdier dopgehou.
“Toe sien sy hoe die bosdier ’n bok uitmekaar skeur en opvreet sodat daar niks van die bok oorbly nie, nie eens die horings nie. En toe sien sy die bosdier hou ook baie van wildevye en ander soet vrugte en toe kry sy ’n slim plan.”
“Watse slim plan?” vra Hlaulu.
“Net so stil soos sy die bos ingekom het, net so stil is sy weer daar uit,” sê die ou vrou en toe laat sy Hlaulu weer ’n rukkie wag voordat sy aangaan.
“Die volgende oggend het sy ’n potjie pap en heuning bos toe geneem. Sy het saggies geloop, maar die bosdier het haar gesien en haar ingewag. En sy was ook skaars in die bos, toe gryp hy haar. Hy wou haar sommer net daar opvreet, maar die meisie pluk haar een arm los en gooi ’n handvol pap en heuning in die bosdier se bek en toe hy dit proe toe kwyl hy van die lus en die lekkerte.
“Die meisie hardloop terug na die dorpie toe en so ver soos sy hardloop, laat sy stukkies pap en heuning val. Die bosdier is toe agter die heuning en pap aan die bos uit en daar op die vlakte het die meisie se broers die bosdier doodgesteek. Dit was die heel laaste keer dat iemand te bang was om deur die bos te gaan.”
Hlaulu het oor die storie nagedink. Toe het sy die leë potjie op haar kop gesit, die ou vrou gegroet en sy is daar weg.
Langs die pad het Hlaulu met haarself loop en praat. “Ek kan soos die meisie maak en vir Kwobu Khuni heuning en pap gooi.” Maar dan dink sy weer: “Nee, dit was tog net ’n storie. Wie sê Kwobu Khuni hou van heuning en pap? Sy loop nog ’n entjie en sê toe vir haarself: “Ek kan ook sag soos ’n blouduiker loop en ek kan ook in die bos wegkruip en die bosdier