kan gou vir julle kom verduidelik wat sy makeer en watter behandeling sy nou kry, dan leer julle sommer almal ook iets. Danie, gaan roep jy gou vir Kobus.”
Met ’n breë glimlag verduidelik Kobus aan die ander wat hulle wil weet en dis ’n meer ontspanne en tevrede klomp seuns wat onder die boom gaan koeldrank drink.
Donderdag roep Bertus die seuns in die eetsaal bymekaar.
“Soos julle weet, is daar Saterdag ’n atletiekbyeenkoms op Otjiwarongo. Tien van ons manne gaan deelneem. Ek het besluit dat ons Saterdag almal saam kan gaan – daar is oorgenoeg plek in die bus. Dan kan julle ander die atlete gaan ondersteun.”
’n Doodse stilte begroet die aankondiging en Annie kry Bertus skielik uit haar hart uit jammer. Hy het natuurlik nou ’n applous verwag en die seuns is te verbaas en te bang om te roer.
Sy spring dus op en klap haar hande bokant haar kop terwyl sy uitgelate juig.
Hulle kyk haar eers ’n sekonde of wat verbaas aan voordat daar ’n groot lawaai losbars. Die seuns lag en fluit en klap uitgelate hande. Bertus staar net verstom na die gewoonlik stemmige seuns.
Hy lig sy hand en onmiddellik is almal stil.
“Wel. Ek het regtig nie gedink julle sal dit so baie waardeer nie.”
“Meneer,” sê Kobus skielik en staan plegtig op, “ek wil net namens die atletiekspan baie dankie sê. Dit sal wonderlik wees om te weet ons het soveel ondersteuners. Ons hoop om nie een van ons ondersteuners of vir meneer teleur te stel nie.”
Bertus moet sluk aan die knop in sy keel. Die afgelope vier jaar regeer hy hulle met ’n ysterhand. Hy het nog nooit opgelet wat hy hulle alles ontneem nie. ’n Astrante juffroutjie met groot, bruin oë moes eers sy oë kom oopmaak.
“Ek is seker julle sal ons nie teleurstel nie, Kobus.”
Org se hand gaan ook op en Bertus kan sy verbasing nie wegsteek vir die vrymoedigheid wat die kinders nou skielik aan die dag lê nie. En dit alles net oor ’n enkele ou toegewinkie.
“Meneer, kan ons maar ’n banier maak met die woord Skurwekop daarop? Dan kan ons dit op die paviljoen vassit waar ons gaan sit.”
“Ja, goed.”
“Heng, dankie, meneer!”
Annie wag totdat die kinders uit die saal is en stap dan na Bertus toe wat hulle met gemengde gevoelens agternakyk.
“Meneer Kruger, ek wil ook net baie dankie sê. Dit sal soveel vir die seuns beteken.”
Bertus glimlag afgetrokke.
“Die seuns behoort eintlik vir jou dankie te sê, juffrou.”
“O nee, en ek wil ook nie hê hulle moet weet dat ek die sakie aangeroer het nie. Dit beteken vir hulle so oneindig baie omdat die voorstel van jou af gekom het. Hulle het soveel respek vir jou en so iets sal dit sommer laat omsit in liefde.”
Bertus kyk stil na haar.
“Maak dit dan vir jou saak of die kinders vir my lief is, juffrou, en of hulle my maar net vrees?”
Annie se groot oë is ernstig en onverwags skiet hulle vol trane.
“Elkeen van ons het liefde nodig, so oneindig nodig! Ons kan nie daarsonder voluit lewe nie.”
Sy draai vinnig om en stap uit voordat die trane kan opdam en oor hul walle stoot.
Hoofstuk 7
Annie lyk soos die lente self toe sy vinnig nader draf in ’n spierwit rok en wit sandale. Om haar dun middeltjie is ’n breë, groen-en-wit gestreepte serp gebind en ’n groen-
en-wit laphoedjie sit ongeërg op haar glansende bruin hare.
Sy gee haar kitaar vir Kobus aan voordat sy in die bus klim.
“Kom, kom, juffrou! Moet ons altyd vir die vrou van Skurwekop wag?” Org is vanoggend uit sy vel en baie
vrolik.
“Ekskuus? Waar is meneer Kruger?” Annie vra dit neus in die lug om te wys dat sy nie laaste is nie. “Ek is voor hóm hier.”
Sy stap deur die bus en gaan sit op die agterste sitplek wat hulle vir haar oopgehou het.
“Meneer Kruger sal seker nie saam met ons ry nie, juffrou. Hy ry gewoonlik met sy eie motor.”
“Ag nee, hy sal dit mos nie doen nie. Nie vandag nie. Ons ry dan almal saam soos een groot familie.” Sy kyk fronsend na die seuns. Dit sal maar moeilik gaan om hulle te laat glo dat Bertus Kruger ook ’n vriendelike en genaakbare kant het.
“Hy ry nooit graag saam met ons nie, juffrou. Buitendien sal dit baie lekker wees as dit net juffrou is wat saam met ons ry. Ons kan dan sing en raas en lag . . .” Flenters se harde basstem dra deur die hele bus.
“Ag, nee wat, julle moet nie altyd sulke goed sê nie! Kyk net wat het meneer Kruger nie alles vir julle gedoen om hierdie dag moontlik te maak nie. Wees julle net ’n slag spontaan en vriendelik met hom en dan sal hy ook so met julle wees. Julle kan mos nie verwag dat hy sal oorloop van vriendelikheid en liefde vir julle as julle julself toesluit vir hom nie. Liefde kweek liefde! Geen mens, hoe gehard ook al, is bestand teen liefde nie.”
Annie se stem is so ongewoon ernstig dat die seuns haar net stil aankyk.
“Ja, ek kan glo dat hy nie bestand sal wees teen juffrou se liefde nie, maar wat wil hy met ons s’n maak?”
Annie kan nie sien wie hierdie stukkie wysheid kwytgeraak het nie en die ander vind dit natuurlik baie snaaks.
“Ja, ek dink nie hy sal vreeslik beïndruk wees deur ouens soos Boef en Paul en Flenters se liefde nie,” laat ’n ander hoor.
“Ag, aan julle is tog nie salf te smeer nie. Kobus, gaan kyk asseblief waar meneer Kruger is. Dalk kan jy hom gou help. Hy is seker net besig om die geboue te sluit en ’n laaste paar dingetjies te doen.”
Bertus Kruger staan stil agter die bus. Hy hoor elke woord wat daar gepraat word. Hy wás van plan om met sy eie motor te ry. Hy weet mos goed dat die seuns dit meer geniet wanneer hy nie by is nie.
Hy druk sy motorsleuteis in sy sak en stap ongeërg om die bus. Hy loop hom byna in Kobus vas wat uitgelate by die bus se deur uitspring.
“O, hier is meneer! Is daar iets waarmee ek gou vir meneer kan help?”
“Ek is klaar, dankie, Kobus. Wag julle vir my?”
“Ja, meneer.”
“Het julle daardie mandjie appels en die mandjie lemoene ingelaai? Hierdie klomp gaan lus wees vir ’n eetding net sodra ons oor die bult is.”
“Ja, meneer, dis in.”
Kobus staan eerbiedig opsy sodat Bertus kan inklim.
Oom Gawie kyk goedkeurend na Bertus en glimlag breed agter die stuurwiel van die bus.
“Kom, meneer Kruger, ons wag net vir jou. Die seuns moet nog ’n bietjie uitrus en bene rek voordat hulle kan gaan hardloop.” Oom Gawie loer oor sy skouer na die klompie atlete. “Het julle almal jul spykerskoene, wegspringblokke, frokkies, atletiekbroeke . . .?”
“Ja . . . oom . . . Gawie!” Hulle sê dit afgemete soos ’n klomp kleuters. Dis deel van die ritueel. Oom Gawie moes eenkeer omdraai omdat een van die seuns sy rugbystewels vergeet het en hy laat hulle daardie voorval nooit vergeet nie.
“Waar sit ek?” Bertus kyk oor die dertig seunsgesigte heen, almal nou taamlik bedees.
“Meneer sal maar daar agter by juffrou moet sit. Sy gaan netnou vir ons kitaar speel.”
Bertus stap in die smal paadjie af. Van waar Annie sit, kan sy hom gemaklik dophou. Hy is geklee in ’n kortbroek en ’n blou geruite hemp wat hom jonk en baie aantreklik laat lyk. Hy het ’n blou hoedjie in sy hand wat hy vandag as skerm teen die kwaai Suidwesson wil gebruik. Sy oë lyk vreemd