Sarah du Pisanie

Sarah du Pisanie Omnibus 8


Скачать книгу

is al amper by die deur uit toe sy hom hoor brom: “Nag, juffrou . . . dankie vir die koffie.”

      Lank lê sy in die donkerte en staar.Wat sou oor sy lewer geloop het? Gewoonlik wil hy haar soos ’n swart miertjie van die aarde af wegvee as sy in sy pad kom.

      Arme, eensame mens! Hoe min liefde moet hy nie ook maar in sy lewe ontvang het nie! Al wat hy geken het, was ’n verbitterde pa, ’n ma wat nie omgegee het nie en ’n meisie wat hom in die steek gelaat het. Hierdie dinge het van hom ’n verbitterde, ongemaklike soort mens gemaak.

      Hoofstuk 6

      Maandagoggend is die rus en vrede van die naweek soos ’n wasempie vergete.

      Alles is deurmekaar en die duiwel loop met lang treë in die skool rond.

      Die een koei is sommer net siek toe die seuns gaan melk. Filemon is laat met die ontbyt en die enjin wat die krag opwek, besluit dis ’n goeie tyd om te staak.

      Annie voel hoe haar wange gloei toe sy voor haar eerste klas van die oggend staan. Hier gaan vandag probleme kom. Die seuns is almal oorstuur oor die koei wat siek is. Dit lyk amper vir haar asof elkeen homself daarvoor blameer en hulle maak dus die onnodigste foute.

      Die laat ontbyt het weer die duiwel in Bertus wakker gemaak en al die gedagtes van vrede en liefde wat Saterdag­aand en Sondag so in hom gespook en gewoel het, is vergete.

      ’n Gekletter en die geluid van brekende glas in die bio­lo­gieklas wat net langs Annie se klas is, laat hulle almal versteen. Dis eers toe Bertus se bulderende stem tot hulle deurdring dat daar weer ’n bietjie lewe in hul lam spiere kom.

      “Kobus Snyman, as ek my sonde nie ontsien nie, klap ek jou van hierdie aardbodem af! Julle dink noudat julle in matriek is, is julle te groot vir ’n ordentlike pak slae. Nie een van julle is nie! Ook nie jy nie, verstaan my baie mooi. So ’n lomp mens is nie die amp van hoofseun werd nie!”

      Annie kners op haar tande. Hoe kan hy die arme kind so voor die ander verneder?

      “Maak dadelik daardie gemors skoon en kom spreek my dan in my kantoor. Julle ander kan solank stalle toe gaan – ek is binne tien minute daar. Alles moet dan skoon en gereed wees sodat ons met die les kan voortgaan.”

      Die reuk van formalien wat nou by Annie se klas inge­sweef kom, gee haar ’n goeie idee van wat in die klas langsaan gebeur het.

      Arme Kobus! Al die seuns is effens op hul senuwees oor Saterdag en nou moet die koei ook nog gaan staan en siek word. As dit moet uitlek dat hulle Saterdag nie by die koshuis was nie, sal Bertus sommer die koei se siekte daaraan koppel.

      Bertus storm met ’n onweersgesig by Annie se klas verby na die kantoor toe.

      “Juffrou, kyk daar!”

      Een van die seuns wys na die venster.

      ’n Wit motor met ’n vreemde registrasienommer hou voor die deur stil en ’n lang, ouerige man, geklee in ’n netjiese donker pak, klim uit.

      Annie voel hoe haar bene lam word.

      Daardie registrasienommer beteken net een ding: dis ’n inspekteur!

      Berge val op my en heuwels bedek my, prewel Annie onhoorbaar.

      “Luister, julle, gaan voort met die wiskunde-oefening. Ek wil nie ’n piep uit hierdie klas hoor nie. Peet, Dawie, kom ons gaan help gou vir Kobus. Dis ’n inspekteur wat nou net daar stilgehou het.”

      Toe Annie in die klas langsaan kom, voel sy lus om die moedelose Kobus styf teen haar bors vas te druk en hom te sus soos ’n baba.

      Die arme ding het nie minder as drie bottels van ’n rak afgestamp nie. Die hele vloer is vol formalien. Oral lê stukke ingewande van diere rond en in die een hoek lê ’n stokstywe slang.

      “Peet, gaan kry jy vir ons ’n emmer water, ’n lap en ’n mop. Kyk in die pakkamer. Gooi sommer ’n bietjie seep en ontsmettingsmiddel in die water.”

      Peet knik net en verdwyn vinnig.

      “Kobus, gebruik die skoppie en die besem en vee al hierdie gemors en stukke glas bymekaar. Jy kan dit in die emmer gooi sodat Dawie dit kan gaan weggooi. Of miskien moet jy dit liewer begrawe, Dawie.”

      “Ja, juffrou.”

      Kobus skep die gemors op en toe die grillerige goed vies-vies deur Dawie weggedra word, kom daar meer lewe in Annie.

      “Nou sal ek ook help.” Sy lag vir haarself enKobus grinnik verleë.

      “Hou jy die skoppie vas, Kobus, dan vee ek die stukkies glas met die besem op.”

      Teen die tyd dat Peet met die emmer water en die mop daar aankom, is die ergste gemors al opgeruim.

      “Ons moet roer, Kobus, hier is ’n inspekteur,” sê Annie en begin om die vloer behendig met die mop skoon te vee.

      Peet vra nie vrae nie. Hy sak net op sy knieë langs Kobus neer en droog so vinnig moontlik die vloer op.

      “Dankie, ou Peet, jy kan maar vir ons die emmer gaan bêre. Gaan sommer terug klas toe, ek is nou daar.”

      “Goed, juffrou.”

      Annie vee nog eers gou die spatsels teen die lessenaar se pote en van die naaste banke af.

      “So ja, Kobus, dalk kom die inspekteur niks agter nie.”

      “Ek sal my ook eers moet gaan skoonmaak. Ek stink nou behoorlik.”

      Annie lag.

      “Was maar net jou hande en gaan dan na meneer Kruger se kantoor toe sodat hy kan weet dis klaar opgeruim; Die duiwel is behoorlik los vandag.”

      “Ja, juffrou. En baie dankie! Wat het ons al die tyd sonder juffrou hier gedoen?”

      “In vrede gelewe!”

      Kobus glimlag net breed en drafstap dan kantoor toe.

      Dawie kom saam met haar by die klas aan.

      “Dankie, Dawie.”

      “Dis ’n plesier, juffrou.”

      Omtrent tien minute later stap die vriendelike inspekteur by haar klas in.

      Sy hoor ’n rukkie later die groter seuns terugkom na die klas langs hare en dan ook Bertus se diep stem.

      Arme Kobus! Hy sal nog vanmiddag gestraf word vir sy ou ongelukkie. Sy hoop nie Bertus gee hom ’n onredelike swaar straf nie, want dan sal sy net nie kan stilbly nie. Enige mens kan iets laat breek.

      Meneer Van Tonder kan geen fout vind met haar klas nie en hy prys haar mildelik vir die manier waarop sy die twee verskillende standerds gelyktydig hanteer.

      Sy en Bertus drink later saam met die inspekteur tee en hy haal weer die onderwerp op.

      “Jy handhaaf jou besonder knap hier tussen die seuns, juffrou. Ek hoop nie dis vir jou baie ongerieflik nie. Ons is egter in ’n vreeslike penarie. Ons kan nie eens vir julle iemand in meneer Fourie se plek stuur nie.”

      Annie kyk skaam voor haar toe die inspekteur na Bertus draai. “Of wat sê jy, Bertus? Toe was al jou lawaai oor ’n vrou hier op Skurwekop heeltemal onnodig en ongegrond.”

      “Hm!” Bertus brom iets en meneer Van Tonder lag lekker.

      “Ek behoort darem ook van beter te weet as om vir jou so iets te vra.Was jy dan nie vier jaar lank een van my leerlinge nie? Jy sal mos nooit erken jy het ’n fout gemaak nie.”

      Bertus lag verleë en kyk dan reguit na Annie. Haar woorde van Saterdagaand is weer helder en brandend in sy gedagtes.

      “Ja, sy gedra haar knap. Ek . . . e . . . ek en sy stem net nie altyd saam oor die manier waarop die seuns gehanteer moet word nie.”

      Annie kyk opreg verbaas na hom en meneer Van Tonder grinnik.

      “Jy sal ’n groot deegroller