nie nou alleen in die eetkamer sit en eet nie. Hy is al besig met sy tweede bord vol van die heerlike gereg toe hy die sagte voetval agter hom hoor. Vinnig swaai hy om. Annie staan in die deur met ’n ligroos kamerjas aan. Dit hang tot op haar voete in sagte, donsige voue. Haar hare is los en blink en die blinkskoon gesiggie staar verbaas na hom.
“O, ek . . . ek is jammer.” Haar hand gaan onmiddellik na haar hals toe en ongemerk knoop sy die knopie onder haar keel ook toe.
“Goeienaand, juffrou Delport.” Ná die seuns se gespot vroeër vanaand kyk hy met ander oë na haar. “Skort daar iets?”
“Ek . . . e . . . nee. Ek het jou nie gehoor kom nie en . . .
e . . . toe sien ek die kombuislig is aan en ek dog toe die seuns . . . Ek . . . e . . . ek het gedink Filemon het die lig aan vergeet.”
“Nee, hy het nie. Ek het die lig self aangeskakel.” Hy vat ’n hap van die kos en kyk dan met ’n glinstering in sy oë na haar.
As dit nie so vergesog was nie, sou Annie kon sweer dat daar nou ’n tergliggie in sy oë is.
“Die kos is heerlik vanaand. Ek moet vir Filemon komplimenteer. Hy kan dit gerus meermale vir ons maak.”
Annie sluk aan die droogheid in haar keel. Arme Filemon, sy het hom nou in ’n vreeslike ding laat beland. Sy moet tog net onthou om hom môreoggend vroeg te waarsku om niks te sê nie. Sy sal vir hom die resep haarfyn afskryf.
“Ja . . . e . . . . ja. Ja, dit was baie lekker.”
Annie kyk verbouereerd rond en staan ’n entjie terug. Bertus is skielik onwillig dat sy sommer weer moet gaan. Hy wens sy wil ’n rukkie langer hier bly.
Annie voel vreemd en ongemaklik in sy geselskap. Die seuns se tergery kom dring al op die voorgrond.
“Ek . . . e . . . Dan sê ek maar goeienag, meneer. Ek wou net kom seker maak het van die lig.”
“Juffrou Delport, jy weet nie dalk waar bêre Filemon die koffie nie? Ek is tog nie lief vir melk nie.”
Annie lek oor haar droë lippe en kyk verbaas na Bertus. Dan, onverwags, verskyn ’n kuiltjie in die sagte wang.
“Ek gaan trek my net gou aan en dan sal ek vir meneer kom koffie maak. Ek weet waar alles is.”
Hy bekyk haar op en af en Annie probeer blosend dieper in die skaduwees inkruip.
“Dis nie nodig nie, jy is mos aangetrek. Ek sal vreeslik dankbaar wees vir ’n koppie koffie. Ek is hopeloos in die kombuis.”
Annie gaap hom behoorlik oopmond aan. Wel, slaan dood en sleep weg! prewel sy in haar binneste. Toe sy net doodstil op een plek bly staan, kyk Bertus effens geïrriteerd op. Maar dan roer iets soos skaamte en skuld in hom en het hy lus om ook soos Org te sê: Ons is darem ’n klomp nare, ongepoetste goed, nè, juffrou!
Die mag van die gewoonte laat hom egter frons en voordat hy homself kan keer, is sy stem weer stug.
“Toemaar, ek sal regkom.”
Annie lag ’n ongelowige, vreemde laggie en stap by hom verby. Sy is vreeslik bewus van die dun kamerjas wat so sag om haar vou. Sy skakel die ketel aan en krap in die kas vir die groot blik koffie. “Daar is een ding hier op Skurwekop waarvan ek niks hou nie en dis die koffie! Ek hou niks van kitskoffie nie. Ek moet eendag vir meneer regte koffie maak.” Sy weet sy praat nou sommer van skone senuweeagtigheid, maar dis darem beter as om met ’n mond vol tande te staan.
Bertus kyk op en steek vinnig nog ’n hap kos in sy mond. Die klomp seuns het hom nou skielik van die juffrou se vroulikheid bewus gemaak en dit maak hom skoon verbouereerd.
Annie meet die koffie in die koppie af. Haar hande is dom van verleentheid en sy mors ’n streep op die kas.
“Wil jy nie ook koffie hê nie?”
Annie kyk blosend op toe Bertus skielik hier langs haar praat.
“Nee . . . nee, ek dink nie so nie.”
“Ag, drink maar ’n koppie koffie. Jy is nou wakker. Ons het nog nie veel gesels vandat jy hier is nie. Ek sal graag wil hoor of jy probleme het.”
Annie kyk hom wantrouig aan. Sy hoop nie hy het dalk gedrink nie, want nog nooit het hy so vreemd opgetree nie. Sy ruk haar gedagtes bymekaar toe sy die frons op Bertus se voorkop sien. Sy sou nog meer verbaas gewees het as sy nou sy gedagtes kon lees.
Bertus is skielik vreeslik skaam en bewus van sy eie ongepoetsheid en buffelagtigheid die afgelope ruk. Sy het hom vanaand verdedig toe die seuns allerhande dinge omtrent hom kwytgeraak het. Sy het glad gesê sy dink hy is ’n aantreklike man. Hy het dit regtig nie verdien nie. Vandat sy hier aangekom het, probeer hy om vir haar die lewe so onaangenaam moontlik te maak.
Sy moet vreeslik hard werk omdat Anton Fourie nie hier is nie. Maar nog geen enkele klagte het oor haar lippe gekom nie. Selfs die seuns word verdedig. Kyk nou maar die muisstorie met Org. Om te dink dat die seuns hom seker as voorbeeld geneem het. Hy het tog baie goed geweet die seuns sal haar siel probeer uittrek en haar allerhande poetse probeer bak. Diep in sy hart het hy dit seker goedgekeur en gehoop hulle skrik haar behoorlik af sodat sy sal weggaan.
Woordeloos haal Annie nog ’n koppie uit die kas en skink vir haar ook koffie in. Sy gee sy koffie vir hom en gaan sit by die verste punt van die tafel.
“Meneer Fourie sal eers volgende kwartaal terug in die tuig wees. Daar was vandag ’n briefie in die pos.”
Annie knik net. Sy kan aan niks dink om te sê nie.
“Daar is vir jou ook pos.”
Annie se gesig breek oop in ’n stralende glimlag.
“Dis gaaf! Ek het al gewonder of my mense my vergeet het.”
“Dis ongelukkig alles in die kantoor. Ek sal dit môreoggend vir jou gaan haal.”
“Dankie.”
“Sien jy kans om die hele kwartaal so alleen aan te sukkel? Is dit nie te veel vir jou nie?”
“Nee, wat, dit gaan goed. Die seuns is baie gedissiplineerd.”
Annie sê dit half afgetrokke en Bertus kyk vinnig na haar.
“Dit lyk nie juis of jy daarvan hou dat hulle gedissiplineerd is nie?”
Annie trek net haar skouers op en speel met die teelepel in die piering.
“As hulle nie ’n stewige hand aan die leisels het nie, ruk hulle handuit. Met so ’n klomp seuns bymekaar kan ’n mens nie streng genoeg wees nie.” Bertus probeer haar uitlok, maar haar antwoord stel hom teleur.
“Jy sal seker die beste weet, meneer Kruger.”
Fronsend kyk hy na haar. ’n Blinde mens kan met ’n stok aanvoel dat sy sy hantering van die seuns glad nie goedkeur nie. Hy wonder hoekom sê sy nie so nie, sy is gewoonlik so astrant.
Alles in hom voel deurmekaar. Hy was nog al die jare tevrede met homself soos hy is. Hy het nog nooit gedink dis nodig om die dinge binne-in hom uit te haal en te ontleed nie.
Hy het gaan studeer en toe sy pa dood is, het hy gevoel dis sy plig om te kom boer. Hierdie landbouskool waar hy sy kennis kan toepas, was vir hom die vervulling van ’n droom. Hier wil hy nog groot en buitengewone prestasies behaal. Hierdie skooltjie se naam moet verewig word in die geskiedenis. Hier gaan nog groot manne gevorm word, manne wat nog diep spore in die samelewing gaan trap.
Annie drink haar koffie vinnig en staan op voordat hy daardie frons op sy gesig in woorde kan omsit. Sy voel so skuldig oor vandag se rondbaljaardery met die seuns dat hy dit seker op haar gesig kan lees. Hoe gouer sy dus uit sy geselskap kom, hoe beter. Netnou laat glip sy iets en dan is die seuns en veral Kobus in groot moeilikheid.
Sy wens egter sy kon hom vertel hoe die seuns vandag se uitstappie geniet het. Hulle is tog mos net kinders! Die lewe bestaan mos nie net uit werk en plig nie. Hy sal baie meer uit die seuns kan haal deur saam met hulle dinge te doen en ’n spangees,