nog moet gaan melk. Ons kan nie bekostig dat daar iets skeefloop nie.”
Moeg maar baie tevrede laai hulle die leë houers op die wa. Kobus laat hulle al die skille ook optel sodat hulle dit in die komposgat kan gaan gooi.
“Org, kyk tog asseblief dat die vuur goed dood is. Gooi sommer sand bo-oor en maak dit gelyk, dan is dit netjies ook.”
Annie sien hoe noulettend die groot seuns alles nagaan om te kyk of dit reg en netjies is. Hulle stel ’n pragtige voorbeeld vir die jongeres.
Wel, Bertus Kruger, dit het jy darem reggekry, dink sy. Hierdie seuns sal jou nie in die skande steek waar dit netheid aangaan nie.
Sy skuif haar reg op die wa en tel haar kitaar op haar knie. Die nat swembroek druk nat kolle deur haar bloes en langbroek. Haar hare hang kartelend agter haar kop af waar sy dit met ’n rekkie vasgemaak het. Haar gesiggie is blinkskoon en onskuldig. Die son sak stadig weg agter die groot bome toe die wa skommelend en tydsaam met die grondpad langs beweeg, sy vrag ’n groep moeë, gelukkige seuns en ’n juffrou met ’n blink gesiggie wat weggesteek tussen hulle sit.
“Heb mijn wagen vol geladen . . .” sing hulle uit volle bors en die klank dra ver oor die stil veld.
Bertus Kruger staar oopmond en heeltemal verstom na die vreemde toneel.
Hy het ’n halfuur gelede hier aangekom om die hele koshuis en die hele omgewing in ’n vreedsame stilte aan te tref. Geen sterfling was êrens te sien nie, nie eens Filemon was in die nabyheid nie.
Smeulend van woede het hy afgestap tennisbane toe. Daar was alles egter in orde en netjies. Die bane was gerol en die rollers gebêre. Selfs by die rugbyveld was daar niks waarmee hy kon fout vind nie. Tot die gras is netjies op die komposhoop gegooi. Nie ’n dingetjie is uit sy plek nie.
Verdwaas is hy terug. Hy het sedertdien ongeduldig gewag.
Hy het geweet hy sou vroegerig terug by die koshuis wees, maar hy wou hulle toets. Hy wou kyk wat maak sy wanneer hy nie hier is nie. As die kat weg is, is die muis baas. Hy het vanoggend spesiaal vir Kobus in bevel geplaas.
Vanaand wou hy daardie Kobus Snyman se velle vir hom afgetrek het as hy hom laat voorsê het deur ’n popgesiggie. Met haar vroulike lis is sy tot alles in staat.
Hy weet egter nie wat hy verwag het nie. Hier diep binne-in hom het hy seker maar gedink dat sy en die groot seuns ’n koers sou inslaan en die ander net so aan die genade sou oorlaat. Hy het beslis nie verwag dat die hele koshuis op die ou wa sou rondry nie. Party van die standerdsewes loop langs die wa, maar hulle sing met net soveel oorgawe soos die ander.
Iets raak stil in Bertus. Hoeveel keer in sy lewe het hy nie ook begeer om sommer net kind te wees nie . . .
Hulle was by die dam, hy kan dit nou sien. Party van die seuns het nog hul swembroeke aan en hul hemde hang in ’n worsie om hul nekke.
Hoeveel keer wou hy nie ook net lag en speel en vergeet van presteer nie, maar vir hom was daar nooit so ’n kans nie! Hy moes hulle wys – eers net vir sy ma en toe later sommer vir die hele wêreld. Hy moes haar wys wat sy verbeur het die dag toe sy weggeloop en hom en sy pa net so gelos het. Sy moes sien tot watter hoogtes kon haar seun klim sonder haar hulp.
Bertus kan hierdie vreemde gevoelens nie verstaan nie. Hy sug. Te veel jare al onderdruk hy hierdie menslikheid wat na die oppervlak wil kom.
Hy sien hoe die wa by die kraal stilhou en dan hoor hy Kobus se vrolike stem.
“Nou toe, kêrels, wie melk vanaand?”
Agt seuns klim van die wa af.
“Hoekom so baie van julle? Daar melk mos gewoonlik net vier op ’n slag.” Kobus kyk onbegrypend na die agt seuns.
“Ons help maar gou met die los werkies solank hulle melk, dan is ons vroeg klaar. Ons is bang julle gaan al die kos opeet wat juffrou gaan maak.” Oswald se harde stem dra suiwer deur die stillug.
“Komaan, julle grys perde! Sleep ons vuurwa tot by die koshuis sodat ons die oorblyfsels van ons proviand kan gaan bêre vir beter dae.” Pieter jaag die donkies met kleurryke taal aan. Hy staan regop soos ’n Romeinse soldaat op ’n strydwa.
’n Glimlag kom krap onverwags aan Bertus se mondhoeke.
Wie sou nou kon dink dat ou Pieter soveel sêgoed het? Hy is dan altyd so bedees.
Bertus is skielik vreemd onwillig dat die kinders moet weet hy is terug. Hulle lyk so gelukkig en tevrede, flits dit deur sy gedagtes. Die bakkie is in die motorhuis, dus sal hulle nie eens opmerk dat hy al terug is nie.
Hoofstuk 5
Bertus kyk verbaas na sy weerkaatsing in die spieël. Nou hoekom sou hy nou so vinnig hier by sy kamer ingeglip het? Word hy nou gek of oud of wat gaan aan met hom?
Hy druk met sy hand teen sy voorkop. Sy kop is effens seer! Hy is tog nie nou lus vir ’n konfrontasie met die kinders nie, veral nie waar sy by is nie.
Sy kan hom altyd so onskuldig en dan so verbaas aankyk as hy haar voor stok kry oor iets. Dit laat hom monsteragtig en gemeen voel.
Môre sal hy met ’n arendsoog die plaas deurgaan. Laat daar net een ding verkeerd wees. Hierdie seuns sal dan sien dat sy gesag nog hier geld.
Hy dink skielik daaraan dat nog vier seuns by die kraal afgeklim het om die ander te help, sodat hulle ook nog ’n bietjie plesier uit die res van die dag kan hê.
Bertus gaan sit stil in die diep leunstoel in sy kamer. Die vensters is oop en hy kan elke woord hoor wat daar gesê word.
“Julle ramme moet nou gaan stort en sorg dat alles netjies is. As Zeus môre iets verkeerd kry, bars ons!” Dis
Kobus se stem wat luid by sy venster ingedra word.
Bertus frons. Dis mos van hom wat hulle praat. Zeus! Verspotte goed! Hy het al gewonder wat sy bynaam is. Hoekom sou hulle hom so noem? Dink hulle regtig hy reken hy is die hoof van die gode?
Daar is ’n uitbundige lawaai soos die klomp storm vir storte en aan die gille en gelag kan Bertus hoor dat dit baie jolig gaan. Hy wonder wat van Filemon geword het. Die etensklok moes lankal gelui het.
Haar stem het hy nog nie weer gehoor nie. Sy het seker ook gaan bad en haar gaan mooimaak vir die seuns. Sy moes seker al gesien het hoe kyk Paul en Kobus en Flenters na haar. Klein flerrie!
Die gezoem van stemme beweeg eetsaal se kant toe en Bertus loer versigtig deur ’n skrefie van die gordyn.
Die seuns stap egter nie by die eetsaal in nie, die meeste tros kombuis toe.
Dan hoor hy die eerste keer weer haar laggende stem.
“Nee, uit hier! Julle is al onder my voete! Jan, dra jy en Oswald daardie tafeltjie uit en dan sit julle die borde en glase daarop neer. Ons kan sommer buite op die gras eet. Dis so lekker buite.”
“Ja!” ’n Koor van growwe seunstemme klink op.
Sy sit twee groot bakke op die tafeltjie neer en skep vir die seuns in, wat dit luidrugtig en waarderend ontvang.
Dit raak rustig op die gras en oral sit seuns met hul borde op hul skote.
“Ai, juffrou, dis heerlik! Kan juffrou nie vir Filemon leer om macaroni-en-kaas te maak nie?”
“Ek kan dit maar so af en toe self vir julle maak. Hou julle daarvan?”
“O ja!”
“Asseblief, grote Persephone! Ons van die onderwêreld sal dan altyd u gewillige slawe bly.” Pieter is op sy knieë voor haar met sy vurk oor sy hart gevou.
“Goed, Pluto! Onthou net jy en jou medeslawe van die onderwêreld sal moet help skottelgoed was. Ons kan nie vanaand alles so vuil los vir Filemon nie.” Haar laggie klink klokhelder op.
“Pluto sal dit vir die skone godin doen.”
Bertus glimlag in die donker. Hy wens hy het die moed gehad om hier uit