Marzanne Leroux-Van der Boon

Shomer Yisra'el. Beskermer van Israel


Скачать книгу

skielik daar uitgebreek, die leërbasis binnegestorm, handgranate gegooi en onophoudelik met outomatiese wapens op die soldate losgebrand. Dié was stom geskok. Hulle was nie op so iets voorberei nie.”

      “Ek verstaan in die proses is ’n Merkava-tenk opgeblaas. Die goed is mos verskriklik swaar gepantser … ?”

      “Gee jou ’n idee hoe goed bewapen die terroriste was. Jy weet hulle het twee soldate daar op die plek doodgeskiet en ’n paar gewond, een ernstig?”

      “So het ek gehoor.”

      “En toe is hulle met Gilad Shalit daardie digbevolkte Gasastad binne. Waar gaan mens hóm soek?”

      Marc onthou dié tierende stad wat hy die vorige jaar uit die IDF-buitepos kon sien toe hulle saam met Re’uven in Gush Katif was. Hy het die dinge al gehoor waaroor Moshe praat, maar luister nogtans weer ontsteld daarna.

      “Is dit net Hamas wat hiervoor verantwoordelik is of het Abbas ook ’n hand in die pie?” wil hy weet.

      “Hamas se opdragte kom via Damaskus uit Iran. Mahmoed Abbas is nie veel meer as ’n strooipop nie. Ek sal nie verbaas wees as die IDF Gasa weer beset nie. Ons dorpe in die Negev word aanhoudend daarvandaan met kassams bestook. Dink maar aan Sderot.”

      “Wie sal weet wat in Ehud Olmert se kop aangaan?” sug Marc.

      Die Israeli’s sien Olmert, wat Ariel Sharon ná dié se beroerte die vorige jaar as premier opgevolg het, oor die algemeen as slap en sonder fut; as iemand wat maar net polities korrek wil optree om deur die Westerse wêreld aanvaar te word. Hy was ’n groot voorstander van die onttrekking uit Gasa, wat nou by Israel kom spook het.

      Die gedagte aan die gewilde minister van binnelandse veiligheid kom by Moshe op.

      “Avi Dichter sê dan openlik dit kan vir die IDF nodig wees om gedeeltes van die noordelike Gasastrook permanent te beset as die aanhoudende kassam-aanvalle nie end kry nie.”

      “Oy vey! Dan word ons weer die wêreld se muishond,” sê Marc bitter.

      “Sal dit dan iets nuuts wees? Het jy verlede week gesien wat sê Yuval Diskin van Shin Bet?”

      “Ja … ons veiligheidsdiens. Ek het gehoor hulle praat oor die wapens wat in Gasa ingesmokkel word. Dis glo meer as wat in die laaste agt en dertig jaar sedert Israel daar in beheer is, die streek binnegekom het.”

      “Juis. Dit word ’n vesting vir al wat ’n terroris is.”

      Marc kyk af op die slapende gesiggie van sy seuntjie en ril merkbaar sodat Moshe sy hand ’n oomblik op Marc se arm lê. “Shomer Yisra’el sluimer of slaap nie, Marc. Nooit nie.”

      Die twee mans skrik toe die hond by hul voete skielik opspring en skerp begin blaf. Toe hulle omkyk, sien hulle Rivkah oor die plein aangestap kom.

      Marc kyk na sy vrou en ’n glimlag verhelder sy gesig. Nou nog, ná vier jaar, jeuk sy vingers om haar te teken. Die tenger figuurtjie, wilde krulhare agtertoe gebind met ’n doek blouer nog as haar oë. As jy haar so sien, dink hy, en die glimlag verdiep sonder dat hy dit agterkom, sal jy dink sy’s die sagste dingetjie wat jy in jou arms kan toevou. Niks van haar vuur is nou sigbaar nie.

      “Shalom,” sê sy sag vir Moshe en kom by haar man staan. Yhoshi maak sy oë oop toe hy sy ma se stem hoor. Sy tel hom van Marc se skoot af op en soen hom oor sy hele gesiggie en in sy nek sodat hy slaperig lag.

      Nou naby hom, sien Marc hoe donker haar oë is en hy reik na haar hand.

      Sy druk die kleintjie teen haar skouer vas en sug. “Hulle het Eliyahu Asheri se liggaam gekry. Blykbaar vroeg vanoggend, maar dis nou eers bekendgemaak.”

      Moshe kreun. “Wat het gebeur?”

      Rivkah wieg die kind, wat weer teen haar nek aan die slaap geraak het. “Die terroriste het hom blykbaar baie kort nadat hulle hom opgelaai het in die kop geskiet. Sy verkoolde liggaam is iewers by Ramallah gekry. Intelligensie het blykbaar uitgevind waar een van die terroriste bly en ’n eenheid van die IDF het die huis in El Bireh omsingel. Hulle het die terroris gearresteer en hy het blykbaar baie gou gesing, alles vertel wat gebeur het en die soldate na die liggaam toe geneem.”

      “Dis waarvoor ek bang was.” Moshe sug baie diep. “Wanneer is die begrafnis?”

      “Vieruur op die Olyfberg.”

      “Dan sal ek gaan,” sê hy afgemete. “Ek sal een van my lesings afstel en gaan. Ek glo nie daar sal veel mense wees nie. Itamar is ’n klein dorpie en Neve Tzuf, waar sy yeshiva was, is ’n klein yishuv.”

      “Ek wil ook gaan.”

      Marc kyk op na Rivkah. “Ek sal dit ook kan maak, ek is vandag al twee-uur klaar.”

      “Dankie,” sê sy en hy sien haar oë blink van ingehoue trane.

      “Wat sal ons met Yhoshi doen?” vra hy sag.

      “Ek sal hom by Shlomit laat bly. Sy sal nie gaan nie. Yaniv kry tande en hy’s huilerig.”

      Moshe het opgestaan. Die drie kyk mekaar ’n paar oomblikke stil aan. Toe sê Moshe sag: “Shalom,” en stap weg, sy kop laag tussen sy skouers.

      Selfs later die middag is dit nog siedend warm. Vir Marc en Rivkah word dit gou duidelik dat baie, baie mense dieselfde besluit as hulle geneem het. Ondanks die feit dat die pers die jong setlaar se dood koel bejeën het en daar in politieke kringe byna geen aandag aan gegee is nie, ruk letterlik duisende mense ten spyte van die geweldige hitte op na die begrafnishuis in die Jerusalemse buurt Sanhedrin.

      “Ek sien niemand van die regering hier nie,” sê Marc nadat hulle iewers ’n staanplekkie gekry het.

      “Het jy dit dan verwag?” vra Rivkah bitter. “Daar anderkant staan Effie Eitam darem.”

      Marc merk verbaas dat die oorweldigende meerderheid rouklaers tieners is. Aan die kleredrag is dit duidelik dat hulle byna deurgaans Ortodoks is. Baie dra die oranje linte van solidariteit ter aandenking aan die setlaars wat die vorige jaar uit Gush Katif in Gasa gegooi is.

      Die skare het begin om bekende psalms saam te siteer en dis asof dit hulle nader aan mekaar laat beweeg. Toe die familie met die liggaam aankom, verstil die stemme. Gedurende die lang seremonie staan die skare stil voor die grys klipgebou. Terwyl een spreker ná die ander hul pyn uitstort oor die verlies van nog ’n jong siel aan die barbaarsheid van Palestynse terreur, is al wat hoorbaar is die sagte gehuil van Eliyahu se vier broers en susters en die geruis van die bladsye van siddurs wat omgeblaai word.

      Terwyl hy staan en luister, dink Marc daaraan dat daar geen oproepe om wraak geskreeu word nie. Nêrens word masjiengewere in die lug afgeskiet om die skare tot ’n raserny van haat op te sweep nie. Daar is net die sagte gesnik van vroue en jong meisies. Hy kyk na Rivkah om dit vir haar te noem, maar hy sien hoe wit sy om die mond is. Hy voel haar pyn aan. En die magtelose woede. Hy wil sy arm om haar slaan, want hy sien sy byt op haar tande. Maar sy staan so verskriklik regop, haar ken so hoog gelig, dat hy dit nie doen nie.

      Die son brand genadeloos op die skare neer. Iemand het ’n paar bottels water gekoop en dit sirkuleer onder die skare. Rabbi Amar, die hoofrabbyn, kom aan die woord, maar hy raak so bewoë dat hy vir ’n lang tyd nie kan praat nie.

      Dit word doodstil toe Eliyahu se ma, Miryam, vorentoe kom om te praat. Sy sien daar klein en oud en weerloos uit, al kan sy skaars in haar middelveertigs wees. Haar stem hang dun in die lug, soos dié van ’n klein voëltjie.

      “Eliyahu, ons liefling, jy het in ’n nagtelike storm hemel toe gegaan soos die profeet wie se naam jy gedra het.”

      Sy vertel hoe Eliyahu, wanneer hulle as ’n gesin om die Shabbat-tafel gesit het, hulle keer op keer gemaan het om nie ander te oordeel nie. “Daar is maar één versoek wat ek vir jou het, Eliyahu. Wanneer jy voor die Ewige staan, tree dan asseblief in vir die volk Israel in alles wat hulle doen.”

      Ná die lofbetuigings pak die meeste mense die lang tog na die Joodse begraafplaas op die Olyfberg aan. Waar hulle uit Sanhedrin by die