hy maan homself weer tot kalmte. “Hoe wou jy dit doen, lief?”
“Ek weet Imma sal met groot liefde ’n paar oggende in die week na Yhoshi omsien.”
Hy stoot sy vingers deur haar hare. “Nee, Rivkah, asseblief, moenie dat ons hieroor stry nie. Dit was nie ons ooreenkoms voor Yhoshi se geboorte nie.”
“Ek het nie geweet daar was ’n ooreenkoms nie.”
“Nie?” Hy hou sy stem opsetlik lig. “My Tora-gehoorsame vrou weet nie wat HaShem van ’n ma verwag om te wees nie?”
Sy sê niks, maar hy voel haar teen hom verstyf. “En ek onthou ook hoe duidelik ons albei daaroor was in Zvi Bacher se spreekkamer toe ons gehoor het dis ’n seuntjie wat jy verwag. As ek dit nie mis het nie, was jy die een wat gesê het jy sal nie weer gaan werk nie.”
“Die toestand in die land was nie toe wat dit nou is nie.”
“Net voor die Gasa-onttrekking?” Hy lig haar gesig na hom toe op, maar sy stoot sy hand ergerlik weg.
“Hier kom oorlog.”
“Rivkah, hier kom altyd oorlog. Moet asseblief nie dat ons nou ’n probleem hiervan maak nie. Dis Shabbat. Kom, dis nou-nou sesuur en dan word Yhoshi wakker.” Hy trek haar kop weer teen sy bors en vryf haar kopvel saggies totdat hy voel sy verslap.
Gou hoor hy aan haar asemhaling dat sy insluimer. Eers toe hy seker is sy slaap vas, trek hy behoedsaam sy arm onder haar uit en staan op. Slaap het van hom af weggevlug.
Hy gaan in die woonkamer voor die venster staan. Die maan hang soos ’n groot kaas tussen die bome waar die nagwind deur die blare stoot. Hy ruik die naglug wat uit die stene opslaan. Shmu’el kom staan teen sy bene. Hy tel die wolbolletjie op en druk hom styf vas. Die hondjie lek sy wang ekstaties.
“Abba,” sê hy in die stil nag, “daar is so verskriklik baie spanning in die land, laat dit asseblief nie na my eie huis toe ook kom nie. Gee my asseblief wysheid om te weet wat om te doen as Rivkah daarop aandring om weer te gaan werk. Ek verstaan haar soldate-hart, haar Israeli-hart … Maar ek wil asseblief nie dat Yhoshi êrens anders as in sy eie huis grootword nie. Ek wil nie dat die gejaagde angs daar buite nou al deel van hom word nie. Help my om my huis se priester te wees.”
Hy gaan sit die hond weer in sy mandjie. Toe stap hy na sy seuntjie se kamer toe. Bokant die traliebed hang ’n pragtige bewertjie van kleurryke vlinders wat sy ma uit Suid-Afrika gestuur het. Dit dobber ligweg in die soel naglug wat deur die venster bo die bedjie kom. Ver weg blaf ’n hond halfhartig en nog verder weg antwoord ’n ander. Die oop venster herinner Marc aan die anderste soort veiligheid van Israel. Hy dink aan die diefwering voor die venster waarmee hy in Suid-Afrika grootgeword het, aan die ysterdeure, die ingewikkelde alarmstelsels wat nou sy ma en sy stiefpa in hul huis moet beskerm. Hy kan hom nie voorstel dat iemand daar in ’n stad eens sal droom om ’n venster in ’n babakamer oop te laat nie. Veral nie op die eerste verdieping soos hier nie.
Hy dink aan die plein onder hom, waar die kleintjie baie ure bedags onder sy ma se waaksame oog speel. Tussen kinders wat op dieselfde manier as hy grootgemaak word. Hy dink aan die afgelope aand se Shabbat-viering waaraan hy elke week blootgestel word. Aan sy vroom Ortodokse grootouers. Aan ouma Ruwth se invloed op die kind. Hoe hy byna elke aand teen sononder saam met sy ouers in sy stootwaentjie met die trap af hobbel vir die aandgebed by die Kotel. En hy weet dat hierdie land op baie gebiede die veiligste plek op aarde is.
Hy gaan by die bedjie staan, hande op die traliewerk. Maanlig spoel oor die kind. Marc sluk toe hy sien dat die lang donker hare nes Rivkah s’n oor die kussing sprei. Die beer lê langs hom, staar met sy bruin glasogies onsiende in die verskiet. Marc kan homself nie daarvan weerhou om aan sy seuntjie te raak nie. Warm, sagte wangetjie onder sy vingers. Die donker ogies gaan net vir ’n oomblik oop en ’n effense glimlag verskyn om die mondjie. Maar dan gooi hy sy lyfie om, boor met sy koppie in die kussing en slaap verder.
Marc dink aan die bedreiging uit Gasa en op die grens met Sirië en Libanon. Aan die oënskynlike onbevoegdheid van die regering. Hy dink aan die ouers van Gilad Shalit en Eliyahu Asheri en hy wonder wat die ergste is: om nie te weet waar jou kind is nie, of om te weet dat hy vermoor is. Om te wroeg oor wat met hom gebeur. Of om te wil sterf oor jy weet wat met hom gebeur het.
Hy trek die kombers oor Yhoshi, soen hom in sy donker haartjies. “HaShem!” is al wat hy kan prewel. “Beskermer van Israel …”
Stellenbosch
11 Julie 2006
“Hannes!”
Sy vrou se angstige stem laat Hannes vinnig opkyk van waar hy by sy rekenaar sit en werk.
“Wat?” vra hy, sy aandag dadelik weer op die skerm voor hom.
“Hier op die TV! Kom kyk!”
Hy onderdruk ’n sug, staan op en kom na waar sy voor die televisiestel sit.
“Daar kom oorlog in Israel!” sê sy.
“Daar’s altyd dreigemente van oorlog daar, man.”
“Nee, dis anders. Luister wat hulle sê.” Sy beduie na die skerm, waar twee Israeli-politici in ’n gesprek gewikkel is.
Hy luister vir ’n paar oomblikke. “Hulle sal nie oorlog maak net omdat een van hul soldate ontvoer is nie.”
“Maar dit was op hul grondgebied.”
“Hulle sal nie daaroor oorlog maak nie, my skat. Dis alles net dreigemente.”
Sy skud haar kop. “Ek glo nie so nie, ek het ’n nare voorgevoel.”
“Jy het altyd ’n nare voorgevoel oor Marc en Rivkah-hulle, onthou,” sê hy ligweg.
“As daar oorlog is, gaan Marc opgeroep word, hy’s nou ’n landsburger. Hy’s ’n reservis,” sê sy, haar blik steeds op tonele wat onder meer die verwoeste tenk wys by die militêre buitepos in die Gasastrook.
“Reserviste word nie sommer opgeroep nie.”
“Nogtans.”
“Moenie die bobbejaan agter die bult gaan haal nie, Mara.”
“Ek gaan hulle bel.”
“Ek sou dit nie doen as ek jy is nie, jy gaan hulle én jouself net ontstel.” Hy kom oorkant haar sit. “Kom nou, hoeveel keer was daar nou nie al gerugte van oorlog vandat Marc in Israel is nie? Hoekom sal dit nou gebeur?”
“Ek het net so ’n snaakse gevoel …” sê sy weer.
“Nou bel dan maar.”
“Rivkah was ook in die weermag. Sy sal mos ook opgeroep word.”
“Ag, ek glo nou regtig nie hulle sal ’n vrou met ’n baba van minder as ’n jaar oproep nie.”
“Ek dink hulle roep al wat leef op.”
“Gaan bel dan,” sê hy weer, ligweg geïrriteerd.
“Dink jy so?”
“Jy wil tog in elk geval weet hoe dit met Yhosh gaan.”
Haar wange word warm. “Dis vir my vreeslik dat ek my enigste kleinkind nog nie gesien het nie.”
“Ons gaan mos in Desember,” paai hy. “Gaan bel hulle maar, anders kom jy tog nie tot rus nie.”
Sy huiwer nog ’n oomblik, maar toe staan sy op en stap na die vertrek langsaan waar die telefoon is.
Hannes skakel die televisie sonder meer af en gaan terug na sy rekenaar.
Mara is so gou terug dat hy verbaas opkyk.
“En?”
“Marc is nie by die huis nie.”
“Het jy met Rivkah gepraat?”
Sy knik en hy sien haar wange weer warm word.
“Wat sê sy?”