almal eet van die heerlike eierbrood.
Die rabbi hou sy hand seënend oor sy vrou en die twee jong vroue. “Wie sal ’n deugsame vrou vind, want haar waarde is ver bo korale.”
Toe spreek hy die seën oor sy twee kleinseuns uit: “Ye’simcha Elohim … Mag die Ewige gee dat julle sal wees soos Efraim en Manasse.” Hy lê sy hand afsonderlik op elkeen se koppie en sy stem bewe van ontroering.
Dan lig hy sy hande oor almal en spreek die priesterlike gebed oor hulle uit: “Y’varekh’kha Adonai, v’ishmerekha … Adonai sal julle seën en julle behoed; Adonai sal sy aangesig oor julle laat skyn en julle genadig wees; Adonai sal sy aangesig oor julle verhef en julle shalom gee.”
Daarna sing almal saam. “Sh’ma Yisra’el, Adonai Eloheinu, Adonai echad. Baruch shem kavod malchuto l’olam va’ed.”
Ná ete gaan Rivkah en Shlomit die babas in hul stootkarretjies aan die slaap maak. Die mans versit na gemakliker stoele in die woonkamer en weldra wentel die gesprek tog maar om die gebeure van die afgelope week en die gespanne toestand in die land.
“Olmert se regering is nie opgewasse teen hierdie situasie nie,” sê Re’uven en roer afgetrokke sy koffie. “Dis pynlik om te sien hoe hy en ministers soos Amir Peretz en Tzipi Livni sukkel om iets te begryp van wat die gevolge gaan wees van die Palestynse aanval op die IDF Sondag. Een oomblik sê hulle Abbas is verantwoordelik vir Shalit se vrylating, dan sê hulle weer Hamas moet in hul spoor trap of hulle word aangevat. En net die volgende oomblik sê hulle hulle gaan nie nou teen Hamas optree nie. En net nadat hulle bekendgemaak het hulle sal onder geen omstandighede met terroriste onderhandel nie, gaan praat Olmert met Hamas. Wat ’n gek manier van doen! Wie kan ontsag hê vir ’n land wat só rondval?”
“Wat anders bly daar vir hulle oor om te doen?” vra sy suster, wat weer by hulle aangesluit het. “As hulle iets anders probeer doen, moet hulle erken dit was ’n ramp om uit Gasa te onttrek – erken dat dit net een ding tot gevolg gehad het: om terroriste die hef in die hand te gee. En as jy terroriste bemagtig, is hulle bemagtig. Dis eenvoudig ’n basiese waarheid. En Olmert en sy Kadima-party hou by hul onbegryplike sienswyse dat as jy ’n terroris bemagtig, maak jy hom minder aggressief, raak hy makliker hanteerbaar, kan jy met hom onderhandel. Absolute snert, dit weet ons tog almal. Is dit nie wat Ehud Barak ook met Yasser Arafat probeer het nie? En waar het dit ons laat beland? Met nog ’n Intifada.”
“Die grootste wanopvatting waarvoor Olmert en sy trawante geval het, en die VSA saam met hulle, is dat Abbas teen terrorisme is … dat hy ’n vennoot vir vrede is,” sug Re’uven. “Hulle wil Abbas sielsgraag sien as ’n betroubare vredesonderhandelaar, ’n bondgenoot van Israel. As ons hóm verloor, reken hulle, bly daar vir ons niks anders as Hamas oor nie. En aangesien Hamas slegte nuus is, móét Abbas goeie nuus wees. Ongelukkig is Abbas ook ’n terroris.”
“Vir my lyk dit nie of daar veel verskil tussen Hamas en Abbas se Fatah is nie,” sê Hadassah, wat ook weer kom sit het nadat sy die etenstafel opgeruim het.
“Albei terroriste, Imma. Geen verskil nie.”
“En as mens dink aan die duisende gewere en miljoene patrone ammunisie wat die VSA Abbas verlede maand gegee het …” Marc skud sy kop.
“Wat het hy daarmee gedoen?” val sy vrou hom sonder seremonie in die rede. “Hy’t sy man in beheer van veiligheid opdrag gegee om met Hamas saam te werk en Palestyne te vermoor wat daarvan verdink word dat hulle ons met ons antiterreuroperasies help.”
“Inderdaad,” sê Re’uven. “En hierdie sogenaamde bondgenoot van Israel is besig om in samewerking met Hamas se premier ’n bloudruk vir oorlog, wat opgestel is deur daardie massamoordenaar wat hier in die tronk sit, as ’n vredesplan voor te lê.”
“Het jy dit oor Marwan Barghouti?” vra die rabbi.
“Hy, Abbas, einste hy. Abbas is net so verantwoordelik vir Sondag se aanval by Kerem Shalom-grenspos as wat Hamas is. Fatah het gedreig om Israel met chemiese en biologiese wapens aan te val en weer met aanvalle in Jerusalem te begin as die IDF ’n groot operasie in Gasa onderneem.”
“Ek glo nie die regering kan waag om te erken dat Hamas en Fatah hand aan hand loop nie, want dan sal hulle moet erken dat Abbas ’n terroris is. Dit sal beteken hulle moet erken om hom te bemagtig beteken om terroriste te bemagtig,” sê Marc.
Rivkah kyk op, duidelik verras oor haar man se insig. Sy knipoog vir Re’uven.
“Absoluut.” Sy swaer knik in Marc se rigting. “Ehud Olmert en sy agterryers het nog ’n hele paar ander slagspreuke, behalwe hul paai-die-terroriste-clichés. Soos oor die veiligheidsheining onder meer: ‘Ons sal hier wees en hulle sal daar wees.’ Of: ‘Israel sal ’n muur bou en nooit weer probleme met die Palestyne hê nie.’ Maar toe wys daai gemene ou Palestyne ons Sondag dat hulle onder die heining kan deurgrawe. Hulle wys ons elke dag dat hul rakette oor die heining kan skiet. Hulle kan lere bou om oor die muur te klim.”
“En hulle het geen probleem om hul boewery eenvoudig aan hul samesweerders aan hierdie kant van die muur te subkontrakteer nie. Soos in Eliyahu Asheri se geval,” sê Rivkah. “Kyk, onse Olmert en sy trawante het altyd hul monde vol gehad daaroor dat die IDF se teenwoordigheid in Gasa ’n vermorsing van geld is. Dat hulle net gebruik is om die fanatiese setlaars in die Gush Katif-streek te beskerm. Maar noudat ons die setlaars daar uitgehaal het, skiet die terroriste met raketlanseerders onafgebroke kassams op die westelike Negev-stede af en hou hulle die hele ekonomie van die suide van Israel gyselaar. Dis tog ’n duidelike teken dat die IDF nie daar was net om die setlaars te beskerm nie. Hulle was daar om Israel te beskerm. Maar as Olmert nou ’n groot offensief in Gasa onderneem om hierdie terroriste uit te roei, sal hy moet erken verlede jaar se onttrekking daar was ’n fout.”
Dit raak stil in die vertrek.
“Mense,” sê Chaim ná ’n paar oomblikke, “laat ons hier op Shabbat vir ons regering bid en nie wanhopig raak nie. Laat ons ook onthou dat elke volk die regering het wat hy verdien. Ons is steeds besig om ons hoop op die regering en die IDF te vestig. Ons vergeet Wié dit is wat Israel bewaar.”
Toe hulle eindelik terug is by die huis en die baba weer aan die slaap geraak het, maak Marc liefde met sy vrou. Hy voel egter sy is nie met soveel oorgawe by hom soos altyd nie. In die sagte lig van die maan wat deur die venster val, buk hy oor haar. Haar donker hare waaier oor die kussing. Hy sien haar hande is alkant van haar gesig ligweg gevuis.
Hy raak skrams aan haar wang. “Wat is dit?”
Sy sug. “Ek … weet nie.”
Hy buig af en soen haar lank, totdat hy voel haar klein liggaam raak heeltemal sag teen syne. “Wat is dit?” vra hy weer.
“Dis vir my … Ek … voel so half of ek niks meer vir die land beteken nie … ”
Marc voel sy keel saamspan, maar hy maan homself tot rustigheid en gaan lê langs haar. Hy trek haar styf teen hom aan, sy gesig in die soetheid van haar hare. “Hoe kan jy so sê? Jy maak ’n kind vir die land groot.”
Sy reageer nie dadelik nie. Hy vryf sy wang teen hare. “Is dit nie so nie?”
“Ek weet nie of dit genoeg is nie.”
“Wat sou jy meer wou doen?”
Sy sug weer. “Yhoshi is my lewe, dit weet jy tog. Maar gister by die begrafnis en vanaand weer toe ons so gepraat het oor wat hier aangaan … toe het dit gevoel … asof ek meer kan doen.”
“Soos wat?”
Sy huiwer, maar toe draai sy vinnig in sy arms om sodat haar mond teen sy keel is. “Ek het gewonder … of ek nie weer by MADA moet gaan werk nie … Natuurlik net deeltyds.”
Die blote gedagte aan Israel se Rooikruis laat Marc se maagspiere saamtrek. Rivkah het vier jaar lank as paramediese assistent in hul ambulanse gewerk. Hy dink daaraan hoe sy gedurende die Pesach-oorlog van 2002, toe hy haar net leer ken het, daar gewerk het. En later, toe sy permanent aangesluit het, die ontsettende selfmoordbomaanvalle waarmee sy gedurig te doen gekry