Volgens hom het dit altyd goed gegaan. Hy was net altyd bekommerd oor hulle.
Intussen het sy pal by die hospitaal gewerk nadat sy haar opleiding daar voltooi het. Toe haar ma dus drie jaar ná haar pa se vertrek baie siek word, was sy in staat om haar self te versorg.
Petronella was egter baie beslis: haar man mag nie weet dat sy siek is nie. Martie het eers hewig kapsie gemaak en met haar geredeneer. Later het sy darem haar ma se standpunt begryp. Hy sal niks daaraan kan doen nie; hy sal hom net siek bekommer. Teen die tyd dat hy die brief gekry en met die ossewa die hele ent pad teruggesukkel het, was haar ma dalk lankal weer gesond.
Die volgende twee jaar het Petronella elke winter siek geword en dit het elke keer langer en langer geneem om te genees. Die laaste jaar was sy omtrent pal aan haar bed gekluister. Die dae dat sy nie sleg gevoel het nie, was baie minder as die ander.
So saam met haar ma se gesondheidsprobleme het die jare en haar jong lewe ook verbygevlieg. Hendrik le Roux het later moeg geword vir wag. Hy kon net nie verstaan dat sy nie haar ma alleen kon los nie. Nog minder wou hy verstaan dat sy haar ook nie kon saamneem Oosgrens toe nie.
Ses maande gelede is haar ma een nag net stil-stil weg. Soos wat sy geleef het, so het sy ook gegaan: stil, vreedsaam, altyd bedag op die goeie.
Martie staar na die wit seil bokant haar en vee die trane met die agterkant van haar hand van haar wange af. Sy voel hoe die neerdrukkende moedeloosheid van destyds weer om haar wil toevou. Vandat hulle die dag vir Petronella in die ryk, vrugbare aarde weggebêre het, daar waar die blomme nou al weelderig groei, woed hierdie begeerte in haar: sy wil by haar pa kom!
Sy het nagte omgeworstel met die probleem. Sy wou self vir haar pa van sy groot verlies gaan vertel. Sy wou daar wees om hom te troos wanneer hy van sy verlies hoor. Sy weet hoe ’n groot skok dit vir hom gaan wees. Hy was dan nie eens daarvan bewus dat haar ma se gesondheid die afgelope drie jaar so agteruitgegaan het nie.
Soos die Groot Voorsiener egter altyd voorsien, was daar hierdie keer ook uitkoms. ’n Jong sendingpaar, Hans en Ilze Frieling, moes van die Kaap af Walvisbaai toe gaan.
Apools en sy kleinseun, Chrisjan, Martie-hulle se twee getroue handlangers, het sonder om vrae te vra net eenvoudig hul goed begin pak. As sy gaan, moet hulle saamgaan. Daar is niemand anders wat na haar kan kyk nie.
Op die ou wa, wat beslis al beter dae geken het, het sy al haar aardse besittings gelaai en met die bietjie geld wat sy gehad het, moes sy ’n ordentlike span osse koop. Daar het dus nie veel oorgebly nie.
Hulle het stadig en rus-rus gevorder, sonder noemenswaardige teëspoed. Hans is ’n knap man. Sy twee hande staan vir niks verkeerd nie. Die paar probleme wat daar was, kon hy met gemak hanteer.
Oral langs die pad was daar boere wat hulle vriendelik gehelp het. Selfs deur die suide van Suidwes-Afrika het hulle ’n paar boeregesinne teëgekom. Hulle was maar min, maar darem genoeg sodat die reisigers nie heeltemal afgesonder gevoel het nie.
Vier lange maande is hulle al op pad. Volgens Hans het hulle besonder goed gevorder. Hulle het dit juis so beplan om voor die reëntyd by hul onderskeie bestemmings te wees.
Hier op Karibib moes haar en die Frielings se paaie egter skei. Hulle gaan Shepmansdorp toe. Dis ’n sendingstasie naby Walvisbaai en hulle moet nou wes draai. Hiervandaan moet sy nou noord gaan om by haar pa te kom. Volgens wat sy verstaan, is dit nog ’n groot afstand – maklik nog ’n maand of meer se trek met die ossewa.
Hierdie gevaarlike, woeste wêreld sal sy onmoontlik vrou-alleen kan aandurf. Apools is nie meer jonk nie en die omgewing is vir hom net so onbekend soos vir haar. Sy moes noodgedwonge wag totdat hier iemand verbykom wat noord gaan sodat sy saam met hulle kan trek.
Hier op Karibib, wat eintlik maar net ’n proviandpos is, wag sy nou al twintig dae lank. Sy het haar wa ’n entjie van Klaus Stolz se huis-winkel-hotel getrek en so wag en wens sy die warm, droë dae om. Die Stolze is vriendelike, gasvrye mense. Hulle het egter ’n swetterjoel kleingoed. Martie kon dit nog nie regkry om hulle te tel nie. Hulle was nog nooit almal gelyktydig bymekaar nie en die een lyk net soos die ander.
Sy het dadelik besef dat dit vir hulle vreeslik ongerieflik moet wees om nog ’n gas ook in die kleine huisie te huisves. Sy slaap dus in haar wa en berei vir haarself etes voor. Sy kon darem haar voorrade hier aanvul.
Dis ook die joviale Klaus wat daarop aangedring het dat sy hier moet wag totdat een van die transportryers weer hierlangs kom.
“Jy is gedoriewaar gelukkig, juffrou.” Sy geradbraakte Afrikaans was vir Martie soos musiek in haar ore. Sy kan heelwat Duits praat en verstaan, maar dit klink vir haar vreemd op haar eie tong.
“Hoe so, meneer Stolz?” Sy het angstig nader gestaan.
“Braam Potgieter is ’n paar weke gelede hier verby Walvisbaai toe. Hy is met drie waens vol velle en ivoor op pad – hy verkoop dit daar. Wanneer hy terugkom, laai hy altyd die waens vol voorrade, wat hy dan so streep-streep langs die pad aflaai.”
“Gaan hy noordwaarts?”
“Ja, hy is tans ons enigste transportryer vir daardie deel. Die ander manne wil nie meer ry nie. Hy boer sommer daar naby jou pa se sendingstasie.”
Sy kon huil van dankbaarheid. Dat alles so goed sou uitwerk, sou sy nooit kon droom nie. Skaam vir haar kleingelowigheid kon sy net stil-stil ’n dankgebed opstuur. Met ’n ligter hart kon sy ’n paar dae later van Hans en Ilze afskeid neem.
Die dae was vir haar eindeloos lank. Die afgelope week al stuur sy elke oggend vir Apools met die perd in die rigting van waar die waens moet kom. As sy net weet dat hulle aan die kom is, sal hierdie vreeslike angstigheid in haar bedaar.
Haar ongeduld spruit uit haar haas om by haar pa te kom. In haar verbeelding sien sy al die plooitjies om sy oë saamtrek van skone verbasing. Sy kan al sy verraste uitroep hoor en sien hoe hy sy arms vir haar oophou. Hy sal haar vasgryp en styf teen hom vasdruk.
Haar oë is sag as sy aan haar pa dink en ’n sagte glimlag plooi stadig om haar mond. Hy sal haar natuurlik nie meer kan oplig en in die rondte swaai nie – sy is darem nou al te groot! Sy is al . . . ja, laat sy dit maar aan haarself erken: sy is ’n oujongnooi! Ander meisies van vyf en twintig is lankal getroud en het al ’n hele string kinders.
Vanoggend het Apools hier aangejaag gekom met die perd. Hy het uitgelate afgespring en sy hoed in die lug geswaai. Martie het vinnig nader gehardloop.
“Hulle is aan die kom, juffrou Martie. Daar is drie waens.”
Sy het al haar goed nagegaan. Alles is egter skoon en netjies. Om die dae om te kry, het sy die hele wa uitgepak en uitgeskrop. Die seil van die watent is ook weer wit geskrop, die potte is blink geskuur en elke dingetjie is net reg. Die man moet tog nie nodig hê om vir haar te wag nie.
Volgens Klaus vertoef Braam Potgieter nooit lank hier op Karibib nie, want hy hou daarvan om vinnig te trek. Hy sal uiters vir ’n dag of twee oorstaan.
Met ’n vinnig kloppende hart vol verwagting het sy die waens sien aankom. Sy het haar oë skrefies getrek teen die skerp sonlig. Die man het geleidelik in haar gesigsveld verskyn. Sy het haar oë ’n paar keer geknip en gewag dat hy nader moes kom. Met haar hand bokant haar oë as skerm, kon sy nie glo wat sy sien nie. Dit was die grootste mens met die weligste swart baard wat sy al ooit in haar lewe gesien het.
Van ver af kon sy sy bulderende stem hoor soos hy op die osse en die touleiers skree. Dit was eers toe hy nader kom dat sy kon hoor dat die bulderende woorde deurspek is met vloekwoorde.
In haar vyf en twintigjarige bestaan het sy nog nooit iemand so wild en ongetem, so na aan ’n barbaar soos hierdie man gesien nie.
Haar hande bewe liggies en sy vat die Bybeltjie stywer vas. Sy maak haar oë toe om kalmte in haar gemoed te kry, want net om weer aan die man te dink, laat haar bewe.
Sy maak die Bybel sommer hier voorlangs oop. Dit kalmeer haar altyd om sommer net te lees. Later onthou sy wel party van die dinge wat sy nou so gedagteloos lees. Dit help haar darem om van die verskrikking daar buite te vergeet.
Die