Sarah du Pisanie

Hard soos kameeldoringhout


Скачать книгу

juffrou Martie.”

      “Apools, julle moet uit die ander mense se pad bly. Ek wil tog nie moeilikheid hê nie.”

      “Hulle is gawe mense, juffrou Martie. Die drywers is Ovambo’s, maar daar is een van hulle – sy naam is Willem – wat ons taal praat. Hy sê sy oupa het ook van die Kaap af gekom.”

      “Nogtans, Apools. Ons moenie iets doen wat die man vies kan maak nie. Maak liewer maar jul kamp eenkant.”

      “Reg, juffrou Martie.”

      Die skraal gesiggie loer vuil en vol stof onder die groot, wit kappie uit. Sy was nog nooit iemand wat haar aan ander kon opdring nie. Sy het beskermd grootgeword en daar was altyd iemand om haar probleme mee te deel. Sy weet nie of sy dalk oor krag beskik waarvan sy nie bewus is nie; sy hoop maar so. Haar bravade van gisteraand begin egter nou baie vinnig ’n laagtepunt bereik. Hulle het goed bygehou. Haar diere is darem uitgerus in vergelyking met syne. ’n Uur later sien hulle die seile van Braam se watente, bleekwit in die ondergaande son.

      Hy wag hulle in. Sy arms is hoog oor sy bors gevou. Die rooi son wat besig is om agter die horison te verdwyn, rek sy skaduwee lank uit. Sy oë is hard en koud en met sy hoed teruggestoot op sy stowwerige swart hare, lyk hy skrikwekkend groot en boosaardig.

      Martie skuif haar kappie van haar kop af sodat dit agter haar rug hang en vee senuweeagtig oor haar hare. Sy trek egter haar skouers agteroor en kyk hom waterpas in die oë. Die man sal dit nie waag om haar hier van die drinkplek af weg te jaag nie.

      Sy praat haarself moed in, maar haar bene voel lam en bewerig toe sy van die wa afklim en nader stap.

      Braam se oë vernou toe sy nader kom. Martie sien die ongeloof op sy gesig en skielik het sy lus om hard te lag. Sy sluk egter haar lag toe die groot man sy oë ’n paar keer vinnig knip. Hy maak geen aanstaltes om nader te kom of te groet nie en Martie ignoreer hom dus ook.

      “Apools, julle kan maar die wa onder daardie boom intrek!”

      Sy wys na ’n geskikte boom die verste van Braam se waens af. Sy draai om om saam met die wa te stap, maar ’n rits vloeke en verwensings laat haar vinnig omswaai.

      “Wie de . . . wie is jy?” Die groot man bulder die woorde woedend uit.

      Martie vee die haarsliert teen haar wang agtertoe en druk dit by haar bolla in. Haar laaste bietjie bravade smelt vinnig voor sy oordonderende houding. Haar oë is egter versluier, sodat hy nie die twyfel en vrees daarin kan sien nie.

      “Ek is Martie Schlage – sendeling Schlage se dogter.”

      “Sy dogter!” Sy hoor die ongeloof in die man se stem en knik net haar kop.

      “Van wanneer af het hy ’n dogter? Hy woon dan al jare lank stoksielalleen hier.” Die opregte verbasing maak sy stem nog harder en growwer as wat dit gewoonlik is.

      Martie voel verlig dat hy haar nie sommer dadelik wegjaag nie. Sy glimlag breed vir hom. Sy wens sy kan al haar bekommernisse en vrese vir hom vertel, sommer alles wat aanleiding gegee het tot hierdie maande lange reis.

      Die woorde stol egter op haar lippe toe sy harde, sarkastiese woorde opklink.

      “Wát wil jy nou ewe skielik daar gaan maak? Al die jare moes die arme ou siel maar so alleen en siek daar aansnork. Daar is meestal nie eens ’n lewende wese om vir hom te sorg nie. Dis darem ’n vreeslike liefde wat sy dogter vir hom het!”

      Martie sluk die woorde wat op haar tong huiwer terug, en staar net stil na hom toe sy mond in ’n sarkastiese glimlag vertrek.

      “Waarvoor vlug jy? Hoekom word jou liewe, dierbare ou vadertjie nou skielik ná al die jare opgesoek? Nou is jy seker vreeslik lief en jammer vir hom. Toe hy jou egter nodig gehad het, het jy nie kans gesien vir hierdie eensame wêreld nie. Toe rinkink jy natuurlik te lekker daar waar jy vandaan kom. Nou is jy nie meer so jonk nie en kon jy seker nie jou kloue in ’n man vasgeslaan kry nie. Nou is Pappa goed! En ’n mens weet nooit – dalk kan jy sommer hier ’n man kry . . . een wat nie te kieskeurig is nie!”

      Martie draai sonder ’n woord om en haar rug is baie styf en regop toe sy na haar wa stap.

      “Moenie van my hulp verwag nie! Julle moet uit my pad bly. Julle gaan my nie weke lank verpes nie – ek skiet sommer alles vrek wat in my pad kom!”

      “Jy kan maar die osse laat suip, Apools.” Haar stem is dik van die ongestorte trane. Die seer brand in haar bors.

      Die kaal kol waar die waens staan, is nie so groot dat sy ongesiens haar gang kan gaan nie. Braam is ongemaklik bewus van die stil figuur wat so stil-stil haar werk doen.

      Apools het solank ’n vuur aan die gang gekry en Chris­jan is met die osse water toe.

      Apools loer onderlangs na Martie. As die oë so blink en die stemmetjie so verlate klink, sit die hartseer baie vlak. Hy sal maar vanaand vir haar rugstring en aartappels opsit, sy is tog so lief daarvoor.

      Braam kyk vererg anderpad. Sy blik val weer op die stil, eensame figuurtjie by die flikkerlig van die vuur. Sy is klein en skraal. Hy het nie in sy wildste drome gedink dat ou Schlage ’n dogter het nie. Hy het nie eens geweet hy is getroud nie. Toe Klaus van ’n vrou praat wat na hom toe wil gaan, het hy maar gedink dis die een of ander verpleegster wat daar wil gaan werk. Hulle is altyd aan die ou kant. Geen jong vrou sal tog hiernatoe kom nie.

      Hy wonder hoe oud sy is. Sy lyk nie meer na ’n kind nie, maar is glad nie so oud as wat hy verwag het nie!

      Martie peusel net aan die geurige kos. Sy kan die knop in haar keel nie afgesluk kry nie. Haar hartseer loop hand aan hand met die bekommernis oor haar pa. Vanaand klink die jakkalse se gehuil vir haar weemoediger as ooit tevore. Sy bly buite by die vuur sit totdat dit heeltemal uitgebrand is.

      Toe sy eindelik opstaan om te gaan slaap, kyk sy na Braam se netjiese, stewige waens wat bleek in die maan-skyn afgeteken staan. Sy sal nie kan byhou nie. Sy weet dit nou al. Haar wa is oud en mankoliekerig en daarby nog baie swaar gelaai. Haar span osse is ook nie so groot soos Braam se span nie. Hy het ’n sterk span voor elke wa.

      Die pas wat hulle vandag gekom het, sal sy diere kan volhou, maar sal hare kan? As hulle tog net oor halfpad kan kom, kan sy dalk iewers op ’n dorpie of by boere wag en vir haar pa laat weet dat hy haar daar moet kom haal.

      Braam lê met presies dieselfde gedagtes. Sy sal met daardie swaar, stokou wa nie ver kom nie. Hy moet haar laat verstaan dat sy moet omdraai, en sommer binne die volgende dag of twee, voordat hulle te ver van Karibib af is. Dit sal vir haar die heel beste wees om daar te gaan wag.

      Hy grinnik. Môre sal hy ’n pas handhaaf wat haar voor die middag sal laat besluit om om te draai. As sy môre al omdraai, is die spore nog vars en duidelik. Die pad is ook nie so ruig soos die dele wat nog vir hulle wag nie.

      Dis nog donker die volgende oggend toe Martie die bedrywigheid buitekant hoor. Dit voel vir haar of sy nou net aan die slaap geraak het. Sy spring egter op en trek vinnig aan. Die plek waar die osse gisteraand water gedrink het, is ’n pap, modderige affêre en sy sal maar liewer nie daar gaan probeer was nie.

      Sy gooi ’n bietjie water in ’n skotteltjie en was haar hande en gesig. Toe sy by die watent uitloer, sien sy dat Apools al ’n vuurtjie gemaak het en die waterketel opgesit het. Braam is nêrens te sien nie, maar daar brand ’n vrolike vuur naby sy wa. Dis so sinneloos dat elkeen sy eie vuur maak. Hulle kan tog maar saam ’n vuur gebruik. Hy is egter so onvriendelik dat sy nooit so iets sal voorstel nie.

      Martie het darem al haar tweede beker koffie ingegooi toe Braam by die waens terugkom. Twee van sy waens is klaar ingespan en hulle is nou besig om syne ook gereed te kry.

      Sy sien hoe hy vir hom ’n stuk vleis uit die pot haal. Dis van die vleis wat hulle gisteraand gebraai het. Sy eet maar net ’n stukkie beskuit; sy kan tog nie so vroeg in die oggend al vleis eet nie. Sy weet egter nou al dat sy rasend honger gaan word, want hulle span nie gedurende die dag uit nie.

      Die pas is vandag moordend. Braam dryf sy osse met meer vuur as wat nodig is. Sy werksmense loer brommend na mekaar, maar niemand