sy die tou by hom.
“Gaan kyk jy liewer waar Apools is, Chrisjan. Hierdie wêreld is so ruig en vol gevare. Ek is bekommerd. Hy moenie so wegdwaal nie.”
“Ja, juffrou Martie, maar hy stap altyd net so op in die rigting wat ons gaan en dan kom hy weer by die wa uit as ons daar verbykom.”
“Hy is darem al lank weg. Vat die perd en ry tog maar ’n entjie vooruit.”
“Goed, juffrou Martie.”
’n Uur later kyk Martie al onrustig rond. Waar sou Chrisjan en Apools dan nou wees? Sy hoop tog nie Apools het iets oorgekom nie. Sy is glad nie gerus oor hom nie. Hy lyk vir haar deesdae so moeg. Sy is skielik rasend onrustig.
Dis egter net Apools wat haar ’n rukkie later onder ’n bos sit en inwag.
“Apools, waar was jy? Ek was al so onrustig!”
Hy lag sy ou tandelose laggie.
“Wat kan ek tog oorkom, juffrou Martie? Ek is in die veld gebore. Hoekom loop juffrou Martie dan saam met die osse? Waar is Chrisjan?”
“Ek het hom met die perd gestuur om jou te gaan soek.”
Martie sien hoe Apools frons en dan vind die onrus in haar binneste weerklank in sy donker ogies.
“Wag, ek beter hom gaan soek. Chrisjan sal maklik verdwaal. Hy ken nie die veld soos ek nie.”
“Apools, nee! Wag!” Martie byt angstig op haar lip. “Ja . . . ja, goed. Maar jy soek nie langer as ’n halfuur na hom nie. As jy hom nie kry nie, kom jy terug sodat ons vir meneer Potgieter kan vra . . .”
“Goed, juffrou Martie.”
Dit voel vir Martie soos ’n ewigheid voordat ou Apools se grys kop weer langs haar verskyn.
“Juffrou Martie, jy moet gou kom. Hy het seergekry. Hy het van die perd afgeval.”
“Afgeval?”
“Die perd het in ’n gat getrap en sy been gebreek. Hulle is nie ver hiervandaan nie.”
“Ag, Apools, dit ook nog!” Martie staar geskok na Apools. Sy gee die tou vir hom en hardloop dan vinnig vorentoe. “Meneer Potgieter! Meneer Potgieter!”
Sy swaai wild met haar arms. Braam sit op die bankie van die voorste wa en hy spring ligvoets af. Hy wag haar in, arms oor die bors gevou.
“Meneer Potgieter, daar het ’n vreeslike ding gebeur! Asseblief, kom help my tog!”
“As ek jou reg verstaan het, wou jy net agter my aantrek. Jy het niks gepraat van hulp nie.”
“Asseblief, meneer Potgieter. Chrisjan het met die perd geval. Ek moet by hom kom en die perd –”
“Ek het niks met jou probleme te doen nie. Niks en niemand gaan my ophou nie. Wat moet ek met jou werksmense maak as hulle nie eens bo-op ’n perd kan bly nie?”
“Asseblief, meneer Potgieter, ek moet dadelik by hom kom. Leen my net jou perd sodat ek vir Chrisjan na die wa toe kan terugbring.”
“My perd! My perd vir jou leen? Jy sal nie eens twee sekondes op hom kan bly nie!”
Vererg wip Martie om.
“Simpel, eenvoudige ding!” sis sy tussen haar tande deur. Hy het geen menslikheid in hom nie.
“Apools, maak die osse se leiriem daar aan die boom vas. Ek kry net ’n kombers en die geweer.”
Martie se hart klop woes in haar kuiltjie. Sal sy ooit genoeg moed hê om die perd te skiet? As hy tog net dit vir haar wou doen. Dit behoort vir hom ’n plesier te wees. Hy lyk so wild en wreed; sy is seker daarvan hy sal dit geniet om ’n dier te skiet.
Woede en frustrasie gee ’n ekstra wippie aan haar stap toe sy en Apools die bosse in verdwyn. Apools loop vinnig vooruit.
Chrisjan lê onnatuurlik stil. Hy het met sy kop teen ’n klip geval en ’n stok het diep in sy been se dikvleis ingesteek. Die perd lê rukkend eenkant, sy een been skeef onder hom ingevou.
Liewe Vader! Martie voel die mislikheid in haar opstoot. Die arme dier sal onmiddellik uit sy ellende verlos moet word. Sy sal netnou na Chrisjan kyk. Hy is bewusteloos en is genadiglik van niks bewus nie.
“Ag, my ou dier!” Martie sak met ’n snik langs die perd neer en streel oor sy kop. Die groot, bruin oë is smekend op haar gerig. “Ek sal dit móét doen, ou Bles. Ek sal net moet. Ek kan jou mos nie so laat ly nie.”
Bewend vee sy oor haar oë en staan ’n paar treë terug. Sy tel die geweer met bewende hande op en druk dit teen haar skouer. Haar oë is egter so verblind van trane dat sy glad nie gefokus kry nie.
Sy laat sak eers weer die geweer en vee dan oor haar oë met die agterkant van haar hand.
’n Skoot klap kort agter haar. Die perd ruk net een keer en dan verstil hy.
Verskrik spring Martie om. Braam staan omtrent vyf tree agter haar. Sy oë is stil en onleesbaar op die traannat gesiggie hier voor hom gerig. Hy laat sy geweer stadig sak. Hy het nie gedink sy sou die moed hê om die perd te skiet nie. Dis nie eens vir ’n groot, geharde mansmens soos hy maklik om so iets te doen nie.
Rukkerig laat sy die geweer sak, haar oë nog blink van die trane. “Dankie.” Sy prewel dit amper onhoorbaar en sit dan haar geweer teen die stomp neer. Met twee vinnige treë is sy langs Chrisjan en sak op haar hurke neer.
Apools is besig om water in sy gesig te gooi en tussen sy lippe in te dwing.
“Kom ons vat hom wa toe, Apools. Ons kan hom daar probeer lawe. Skuif die kombers onder hom in. Nou rol ons die kante op sodat ons hom kan dra.”
“Ons sal hom nooit gedra kry nie, juffrou Martie.”
“Jy kan bo vat, Apools. Ek sal onder by sy voete vat.”
“Maar, juffrou Martie . . .”
Martie wens sy kan ’n klip in ou Apools se mond druk! Sal hy dan nou sowaar hier voor die stilswyende Braam Potgieter vir haar kom vertel dat hulle nie die eerste probleem wat op hul pad kom self kan oplos nie. Die man wil hê sy moet erken dat sy nie hierdie pad kan aandurf nie. Dit sal sy nie doen nie! Sy moet eenvoudig so gou moontlik by haar pa kom.
“Apools, as daar ’n ander plan was, sou ek daaraan gedink het. Maar daar is nie nou ’n ander uitweg nie. Ons moet hom dra, dis al! Waar ons hom nie meer kan dra nie, daar sleep ons hom.”
“Ja, juffrou Martie.”
Apools staan kreunend op toe hy die bopunt van die draagbaar vasvat. Martie voel of haar rugstring mors afruk toe sy regop kom.
Apools het ook nie meer veel krag nie en sukkelend beweeg hulle treetjie vir treetjie vorentoe met die swaar vrag.
Sy maak of sy glad nie bewus is van Braam Potgieter se teenwoordigheid nie. As hy darem dink sy sal ooit in haar lewe weer vir hóm iets vra, maak hy ’n fout!
Bekommerd kyk sy na die stil Chrisjan. Wat kan tog nog gebeur?
’n Groot hand hou haar skielik teë. Die las word so vinnig uit haar hande geneem dat sy nie dadelik besef wat gebeur nie.
“Saal die perd af en bring die saal. Ek sal hom met my perd vat.”
Martie staan effens terug en kyk hom net verbaas aan. Dis eers toe Apools verbykom en dankbaar in Braam se rigting praat dat sy besef dat hy met Apools en nie met haar gepraat het nie.
“Ja, goed, meneer Braam. Dit sal baie gaaf wees. Juffrou Martie het net so min krag soos ek. Ons sou hom nooit by die wa gekry het nie.”
Braam antwoord hom nie. Hy lê vir Chrisjan dwars oor die perd se rug en vat dan die teuels. Met lang treë begin hy aanstap na die waens toe.
Martie draf vinnig agterna. Sy moet saam met hom by die wa kom sodat sy kan help om Chrisjan gemaklik te kry. Sy sien die rooi bloedkol aan Chrisjan se been en bekommernis maak ’n