Toe nog vyf, en ’n maand later die ander vier. Die Dreyers het nog gewag, maar toe dit vir hulle begin lyk asof dit slegter gaan met vader Sebastiaan, het hulle ook maar geswig voor die versoeking van rykdom.
Nou is dit net hulle twee en die elemente van hierdie wrede, ongenaakbare wêreld. Twee vroue alleen met ’n sukkelende groentetuintjie en ingemaakte en gedroogde kos wat baie min word.
Ansa druk die Bybel stywer teen haar vas. Sy sal nie nou daarin kan lees nie. Die wind sal die blaaie skeur. Die Bybel in haar hande bring tog vertroosting en berusting. Hulle weet tog waar hul hulp vandaan kom! Hoekom sal sy nou paniekerig word?
Sy sug diep en kyk na die sagte buitelyne van die duine. Hulle sal dadelik moet begin planne beraam om hier weg te kom. Veel langer sal hulle nie hier kan bly nie. Op hierdie oomblik is daar egter ’n groter bekommernis: hulle sal vader Sebastiaan moet begrawe. Daarna sal die tyd maar verder moet leer.
Traag en onwillig om die morbiede atmosfeer te betree, stap Ansa ’n rukkie later terug.
Suster Theresa is in die kerkie en Ansa gaan sit ook stil agter in die kerk op ’n bankie. Daar brand kerse en suster Theresa staan op haar knieë, haar hande voor haar saamgevou in gebed. Dierbare mens met haar groot geloof! Haar liefde vir die edel mens hier voor haar hang ’n oomblik salwend om Ansa.
Sy laat haar kop sak en suster Theresa se geluidlose gebede vind aanklank in haar hart. Saam dra sy vir vader Sebastiaan aan die Hoër Hand op. Sy weet dat hy nou afkyk na hulle en sy sien voor haar geestesoog die sagte lig van liefde in sy oë. Net soos vroeër toe hy na suster Theresa gekyk het.
Alles gebeur tog maar met ’n doel, al verstaan die mens dit nie altyd nie. Vir vader Sebastiaan en suster Theresa sou daar nooit ’n toekoms saam kon gewees het nie. Nou het suster Theresa darem mooi herinneringe wat later in ’n droom verweef sal word. ’n Droom wat dikwels baie mooier as die werklikheid is, omdat dit met net die mooiste gevul word.
Ansa sug liggies. Sy weet tog goed hoe hard die werklikheid kan wees. In haar twintig jaar het sy al te veel daarmee kennis gemaak.
’n Hand druk liggies op Ansa se skouer en haar oë fladder oop. Suster Theresa staan stil langs haar. ’n Sagte glimlaggie huiwer om haar mond en haar oë is neergeslaan.
“Kom, ons sal moet regmaak vir die begrafnis.”
Ansa staan op en stap saam met suster Theresa by die deur uit.
“Ek sal eerste grawe. Gelukkig is die sandgrond sag.” Ansa rol solank haar rok se moue op.
Suster Theresa keer haar egter met ’n besliste hand.
“Ek sal liewer eerste grawe.” Sy glimlag verskonend. “Jy kan die laaste stuk grawe. Ek sal nie meer uit die gat kan klim nie.”
Ansa slaan haar arm om suster Theresa se skouer en druk haar styf teen haar vas.
“Hier is mos twee grawe. Ons sal saam grawe en die laaste stukkie sal ek alleen doen. Daar is mos geen haas nie.” Haar stem is so sag en vol begrip dat suster Theresa vinnig wegdraai sodat Ansa nie die blink trane in haar oë moet sien nie.
“Ons sal dit ongelukkig diep moet maak. Hier gaan niemand wees om daarna te kyk nie. Die strandjutte sal die graf kom oopgrawe. Ons . . . sal ook eersdaags moet gaan.” Suster Theresa se stem is bewerig en Ansa weet dat sy nou bomenslike inspanning gebruik om dit nie te laat breek nie.
“Die strandjutte kan maar vergeet, ons sal die gat diep genoeg maak sodat geen wolf daar sal kan kwaad doen nie,” troos Ansa.
Daar is in elkeen van die vroue se hart ’n groot dankbaarheid oor hierdie groot taak wat vir hulle voorlê; hierdie eis wat aan hul beperkte krag gestel word. Dit hou ten minste hul gedagtes besig en help dat hulle nie aanhou tob oor ’n ander probleem nie – ’n probleem wat groot en ontstellend op die agtergrond huiwer.
Dié aand versorg suster Theresa vader Sebastiaan se liggaam en saam plaas sy en Ansa hom in die ruwe houtkis wat nog in die pakkamer is.
Die graf is eers teen laat die volgende middag klaar.
Ansa se spiere is styf en seer en haar gesig vuil van die sand toe sy saam met suster Theresa afkyk in die sandgraf.
“Ons . . . sal maar die diens vanaand hou, Ansa. Jy kan nou gaan bad en jou klere aantrek. Ek sal solank alles regmaak.”
“Goed, suster. Ek sal gou maak sodat ons dit nog voor donker kan doen.” Ansa sit die graaf eenkant neer en stap na haar kamer toe.
Haar kerkrokkie is al hopeloos te klein. Suster Theresa het nou die dag belowe om vir haar klere te laat maak sodra hulle in Lüderitz kom. Die rokkie span styf om haar bors en sit net-net onder haar knie. Die swart kouse wat onder die wit rokkie uitsteek, is dik gestop, maar dit sien Ansa nie eens raak nie.
Sy was haar hare om van die stof ontslae te raak en vryf dit sommer met die handdoek droog. Dis nog klam toe sy dit vleg en om haar kop draai.
Suster Theresa wag al vir haar in die kerk.
Ansa sit stil voor haar en kyk. Soos altyd in die verlede is hier ’n rustigheid en vrede wat jy nêrens anders ervaar nie.
Stadig bedaar die onrus in haar binneste en vloei die moegheid uit haar stram ledemate.
Hulle twee kan nie die kis alleen dra nie en is genoodsaak om dit op ’n kombers te sit en tot teenaan die graf te sleep. Ansa kyk met groot oë na suster Theresa toe hulle uitasem langs die oop graf tot stilstand kom. “Ons . . . kan nie anders nie, Ansa. Ons . . . sal maar die kis hier moet inrol.” Suster Theresa vermy haar oë.
“Nee! Nee, ons kan dit nie doen nie!”Ansa se stem is beslis. Sy is jonk en sterk. Sy kan nie toelaat dat vader Sebastiaan op so ’n hardhandige manier tot rus kom nie.
“Ek sal ’n tou gaan haal, dan laat sak ons die kis daarmee.”
Suster Theresa kyk bekommerd na Ansa en byt op haar onderlip.
“Ons kan probeer, maar . . . ek dink nie ons is sterk genoeg nie.”
Ansa kom terug met die tou en skuif dit onder die kis deur. Die tou is gelukkig lank en hulle kan dit twee keer deursit sodat hulle dit met albei hande kan vasvat. "Goed, kom ons probeer.” Ansa probeer optimisties klink en span al haar krag in.
Hulle lig die kis stadig en met groot moeite tot oor die gat, maar skaars ’n meter van bo af moet suster Theresa die stryd gewonne gee en glip die tou uit haar hande.
Toe die kis met ’n dowwe geluid die bodem van die graf tref, is sy langs Ansa en druk sy haar styf teen haar vas. Sy wieg die snikkende jong vrou liggies heen en weer asof sy nog ’n baba is.
“Hy . . . sal verstaan, Ansatjie. Ons . . . het net nie die krag gehad nie.” Toe die snikke effens bedaar, los sy haar en sonder ’n verdere woord tel sy die een graaf op en begin die graf toegooi.
Suster Theresa se gedagtes bly by Ansa wat nog steeds met haar hande voor haar gesig staan. Arme kind! Die lewe het haar tot dusver maar stief behandel. Hulle moet hier wegkom voordat groter ellende hulle tref. Wat gaan van die kind word as sy ook iets moet oorkom?
Die felheid van hierdie nuwe probleem maak haar knieë lam en magteloosheid wil-wil oor haar toesak.
Sy sug diep toe Ansa se graaf hier langs haar in die donker flits.
In stilte skep en gooi hulle – twee vroue wat al geleer het om saam met die ongenaakbare elemente van hierdie harde land te leef. Skep en gooi. Skep en gooi totdat die sand ’n bultjie stoot in die bleek maanskyn.
Hoofstuk 2
“Suster! Suster Theresa! Daar is iemand aan die kom!” Ansa storm teen die duin af en die sand maak vaal vlerke agter haar voete.
Suster Theresa kom uitgehardloop en ’n glimlag sprei oor haar gesig.
“Waar?”
“Nog ver, suster. Ek het hom met die verkyker gesien.”
“Is dit ’n polisiepatrollie?”