gee ’n treetjie nader en haar stem is sag en kalm toe sy hom antwoord.
“Dit is net ons. Vader Sebastiaan is twee weke gelede oorlede.”
Daar verskyn ’n skewe glimlag om die man se mond en sy stem is snydend sarkasties.
“Jammer, ou pikkewyntjie, maar ek glo jou nie.” Hy druk haar sonder ontsag uit die pad en stap sonder uitnodiging na die kerkie toe.
Die man trek ’n rewolwer uit sy gordel en sy liggaam is snaarstyf gespan. Ansa voel hoe die skrik haar lam maak tot onder in haar tone.
Suster Theresa herwin eerste haar teenwoordigheid van gees. Met ’n paar lang treë is sy by hom. Sy sal nie toelaat dat hy hul heiligdom so sonder respek betree nie.
’n Groot hand sluit egter ferm om suster Theresa se maer arm.
“As hier niemand is nie, hoef julle mos nie te vrees nie.” Sy stem is snydend sarkasties.
Ansa is nou ook by. Sy haal ’n paar keer diep asem sodat die man nie moet agterkom hoe bang sy is nie.
“Los haar arm, jy maak haar seer. Jy het geen reg om hier in te storm en ons soos . . . gevangenes te kom behandel nie.”
Sy mond plooi in ’n glimlag, maar daar flits tog iets soos respek in sy oë toe hy suster Theresa se arm los.
“Laat ons mekaar net eers mooi verstaan. Julle sê vir my wat ek wil weet, dan kry niemand seer nie.” Hy staan ’n entjie terug sodat hy hulle beter kan sien, maar die waaksaamheid verlaat nie sy lyf nie.
“Vra dan wat jy wil weet en los ons in vrede. Ons sal bly wees as jy jou ry sal kry. Ek voel duidelik hier is nie plek vir ons én vir jou op Meob nie.” Ansa se stem is vas en daar is geen teken van die vrees wat haar wil versmoor nie. Suster Theresa het altyd gesê ’n mens kry krag in ’n krisis en nou ervaar sy dit self.
“Wie is dan nog almal hier op Meob?” Die man se stem sny deur Ansa se oomblik van selfvoldaanheid.
“Suster Theresa het mos al vir jou gesê dis net ons. As jy agter om die kerk stap, sal jy vader Sebastiaan se graf daar kry.”Ansa staar hom uitdagend aan.
Die ongelowige trekkie verskyn weer om sy mond en weerkaats in sy oë en haar bloed begin kook.
“Dis nie een van ons se tydverdryf om leuens te vertel nie, meneer . . . e . . .Wat het jy gesê is jou naam?” Sy probeer so waardig moontlik wees.
“Ek het nie gesê nie, suster.” Hy lê onnodig klem op die laaste woord en Ansa het lus en bespring hom en grawe vore met haar naels deur die sarkastiese grinnik op sy gesig.
Suster Theresa ken Ansa al ’n hele paar jaar en sy sien dat dinge nou-nou gaan skeefloop. Sy staan vinnig nader sodat sy tussen Ansa en die man staan.
“Wie soek jy, meneer? Die delwers is almal Oranjemund toe. Die eerstes is al omtrent ses maande gelede weg. Daarna is die res streep-streep agterna.”
Die man frons diep en hy lyk boos en gevaarlik.
“Het hier dalk enige vreemdelinge die afgelope paar maande opgedaag?” Hy praat met Suster Theresa en ignoreer Ansa heeltemal.
Sy het ongemerk nader aan suster Theresa geskuif en hulle staan nou styf teen die muur. Vrees is besig om deur die korsie bravade te breek.
“Vreemdelinge?” Suster Theresa dink diep. Dan skud sy haar kop beslis. “Nee, hier was geen vreemdelinge nie.”
“Dink, suster . . . dink ’n paar maande terug. Drie, vier, ses . . . Enigeen, ’n polisieman, ’n delwer of ’n handelaar . . . was hier niemand nie?”
“Nee, hier was niemand nie. Toe die eerste delwers begin trek, het ek vir vader Sebastiaan laat weet om ons ook te kom haal. Ek het geweet hulle sal almal soos vlieë agter die diamante aantrek.”
“Is jy seker, suster? Was hier nie iemand wat net ’n nag oorgebly het of ’n week of wat nie?” Die groot man leun behoorlik vorentoe van gretigheid.
“Nee. Vandat die delwers weggetrek het, weet almal dat Meob ’n spookdorp geword het. Wie sal nou hierheen wil kom?”
“Maar julle is dan nog hier.” Die man lyk skepties.
“Neels Dreyer het gereël dat die polisiepatrollie ons moet kom haal. Ek het mos reeds verduidelik dat vader Sebastiaan siek was. Ons kon nie saam met die ander gegaan het nie.”
“Ek sal nie daarop reken dat die polisiepatrollie een van die dae sal kom as ek jy is nie, suster. Die polisie is salig onder die indruk dat hier geen sterfling meer is nie. Ek is bevrees jou boodskap het nooit daar uitgekom nie.”
Ansa loer onderlangs na suster Theresa. Die vrees maak haar sprakeloos. Hierdie man weet blykbaar meer as hulle. Daar is nie eens meer hoop oor nie! Hy weet nou ook dat dit net hulle hier is, met geen lewende wese om hulle te beskerm nie.
Die man beduie met sy rewolwer na die kerk.
“Stap voor my uit. Ek wil sien of hier nie dalk nog iemand is nie.”
“Maar ons sê dan –” begin Ansa vererg, maar sonder ontsag druk hy die rewolwer in haar ribbes sodat sy vinnig padgee.
“Stap stadig en moenie iets waag nie. Ek sal julle sonder die minste gewetenswroeging skiet.”
Die man kyk oral in die kerk en hul wooneenheid. Sonder om weer met hulle te praat, bondel hy hulle in die beknopte pakkamertjie in en sluit die deur.
Sy stem dra duidelik deur die houtmuur.
“Ek gaan net gou die dorp deursoek om te kyk of daar nie iemand wegkruip nie. Ek sal julle later kom uithaal.”
Suster Theresa slaan haar arms om Ansa en druk haar styf teen haar vas.
“Alles is reg, my ou kleintjie. Ons twee is mos nie bang nie. Hy sal ons niks aandoen nie, jy sal sien. Ons wag net ons kans af en dan verdwyn ons. Ons goed is mos alles reggesit. Dis beslis vir ons ’n teken dat ons vinnig hier moet wegkom.”
Suster Theresa se nabyheid kalmeer Ansa en daar is ’n ongewone veglus in haar oë toe die vuil, bebaarde man hulle heelwat later kom oopsluit.
Sy stap kop in die lug by hom verby en haar oë is koud toe sy hom kopskuddend aankyk.
Suster Theresa kyk na die man se moeë gesig. Dis vir haar duidelik dat hy baie uitgeput is. Nou is hy vir haar ’n mens in nood en dit sal nie gevaarlik wees om hom te help nie.
“Ons het kos gemaak. Kom eet. Jy is moeg en honger.” Haar stem is sag en simpatiek en met genoegdoening sien Ansa hoe dit die man heeltemal onkant betrap.
Sonder ’n woord stap hy agter hulle aan. Hy sak langs die tafel neer, maar sy amper swart oë verloor nie hul waaksaamheid nie. Hy beduie met die rewolwer vir Ansa om regoor hom te kom sit terwyl suster Theresa die kos opskep.
Ansa loer onderlangs na hom en sien hoe hy hongerig die kos verorber. Hy moet seker dae laas ordentlik geëet het. Hulle sal hul kans goed afwag. Sodra hy gaan slaap, sal hulle ’n plan moet maak om hier weg te kom.
“Wil jy nie gaan rus nie? Jy lyk moeg.” Sy probeer haar stem op dieselfde simpatieke noot kry as suster Theresa s’n. Sy sien egter met ’n bang gevoel hoe ’n fyn, sarkastiese laggie om sy mond kom lê.
Hy antwoord haar nie eens nie, hou net sy bord na suster Theresa uit vir nog. Die twee vroue sit doodstil en wag dat hy moet klaar eet. Hulle probeer nie eens om ’n gesprek aan te knoop nie.
Eindelik stoot hy sy bord terug en tel sy rewolwer op. Hy kyk na suster Theresa toe hy praat. “Jammer, ou suster, maar ek sal julle weer moet toesluit terwyl ek ’n bietjie slaap. Ek is doodmoeg; ek het twee dae laas gerus.”
Suster Theresa sug net gelate en knik.
“Dis regtig nie nodig nie. Ons kan nêrens heen gaan nie.” Haar stem klink so eerlik en opreg dat die mansmens sowaar ’n verleë grinnik op sy gesig kry.
“Ek kan ongelukkig nie die kans waag