hou sy regterhand uit. “Bly om jou te ontmoet, Ezette.”
Sy handdruk is koel en onpersoonlik, maar toe sy vingers om hare sluit, voel dit vir Ezette asof haar hand in syne wegsmelt. Sy voel hoe die bloed in haar nek opstoot en haar rok se kraag knel om haar keel.
“Maak jou tuis.” Derek beduie na die rusbank langs hom.
Carl se stem is skielik skerp. “Ezette sit altyd op die stoel by die venster.”
“Ook goed.” Derek tel sy bierglas op. “Sal julle twee iets drink?”
“Ek sal self skink,” antwoord Carl kortaf.
Carl se weiering het stuurs geklink en in die ongemaklike stilte wat volg, kyk Ezette verskonend na meneer Myburgh. “Naand, oom Julius. Ek is jammer u moes vir ons wag. Ons het teen Silverton netbal gespeel en hulle het eers na drie opgedaag, met die gevolg dat ons nie voor halfvier kon begin nie. Na die wedstryd was daar toe natuurlik nog eers verversings en … en alles.”
Ezette besef sy praat te veel en knip senuweeagtig die res van haar sin kort. Sy is versigtig om nie in Derek Myburgh se rigting te kyk nie toe sy by die venster gaan sit. Sy neem dankbaar die sjerrie wat Carl vir haar aangee.
“Het jy gewen?”
Waarvan praat Carl se pa? Dan onthou Ezette sy het van die netbal vertel.
“Net-net, oom Julius,” sê sy en knik en neem terselfdertyd ’n groot sluk sjerrie.
“Negentien-ses is nie net-net nie,” korrigeer Carl haar. “Dit beteken haar span is nou in die kwarteindronde,” spog hy. “Sy wen dalk nog die liga. Ons is net skrikkerig vir Lynnwood volgende Saterdag. Hulle afrigter is ’n oud-Springbok en hulle is sterk vanjaar. Veral hulle rugby. Lynnwood het ’n stelskopper wat nie ’n voet of ’n bal verkeerd sit nie.”
Soos gewoonlik wanneer Carl by is, handel die gesprek oor sport. Oor sy beste senter wat ’n dyspier geskeur het, oor krieket, oor Noord-Transvaal, Vrystaat en die Westelike Provinsie se kanse om die Curriebeker te kry.
“En moet Namibië natuurlik nie buite rekening laat nie,” spot hy. “Of het julle darem ’n A-span doer bo in die boendoes, broer?”
Derek glimlag skeefweg. “Jy sal beter weet as ek. Saterdae het ek die hele middag spreekure en nie tyd om te gaan rugby kyk nie. Nog ’n drankie vir Ma? Pa?”
“Nee, dankie,” antwoord mevrou Myburgh. “Carl kla hy is honger. Ek wil gaan kyk hoe ver Anna met die kos is.”
Aan tafel sit Ezette oorkant Carl, langs Derek. Sy is oorbewus van sy teenwoordigheid. Hy is so naby dat sy ’n hand kan uitsteek en aan hom kan raak. Toe hy die silwerskottel met die vleis aangee, verbeel sy haar sy kan die warmte van sy lyf deur sy trui voel deurslaan. Hy ruik na pyptabak en naskeermiddel. Duur tabak en ’n muskusgeur … Sy maak gespanne keel skoon.
“Is dit in Windhoek ook so droog soos in Pretoria?” wil sy weet.
“Ek is op Königsee, vyftig kilometer wes van Windhoek. Maar ja, dis skreiend droog. Die boere en die diere kry swaar.”
“Toe maar, hoe meer beeste en bokke vrek, hoe minder pasiënte het jy,” troos Carl. “Dalk kry jy later selfs tyd vir rugby.”
Ezette byt haar onderlip vas. “ ’n Mens voel so magteloos en terneergedruk. Jy voel nie om te sit en eet terwyl jy weet daar is plekke waar onskuldige diere van honger en dors omkom nie. Hulle het niks gedoen om die droogte te verdien nie.”
Die eerste keer aan tafel kyk Derek Myburgh direk na haar. Sy regterwenkbrou lig. “Is jy lief vir diere?”
Carl trek ’n suur gesig. “Liewer as vir mense. Sy het twee enorme honde in daardie beknopte woonstel van haar, plus ’n ongeskikte hans kat wat oor alles nies, hoes en proes. Dan nog ’n goudvis ook wat ’n kind in haar klas in ’n tamatiesousbottel aangehou het. Daar is omtrent nie plek vir my of vir die meubels nie.”
Derek knik. “Dis goed. Daar moet mense soos jy wees.”
“Ja, maar hoekom nie normale, gesonde diere nie, dan kon ek ook dalk vir hulle lief gewees het?”
“Die normale diere het genoeg huise.” Derek draai terug na Ezette. “Wat makeer jou kat? Griep?”
“Ek weet nie. Hy het sy katgriep-inspuiting gehad. Dalk is dit net verkoue.”
“Hoe lank hoes en nies hy al?”
“Amper ’n maand. Maar sy neus is nat en hy het ’n goeie eetlus.”
“Is hy lomerig? Sonder energie? Dooierig?”
Ezette dink na. “Ja, Mattewis slaap nogal baie, meer as gewoonlik, en soms as ek hom roep, is hy traag om te kom. En een keer was daar bloederigheid in die slym wat hy uitgehoes het.”
“Het jy opgelet of die kat hare verloor?”
“Ja, maar ek het gedink dis natuurlik, omdat dit nou somer begin word.”
“Dis nog te vroeg en nie natuurlik nie. Dit klink na osteomiëlitis, oftewel beenmurgontsteking. Jy moet daarna laat kyk, Ezette, anders raak dit baie maklik chronies.”
“Oppas, Derek is ’n duur veearts en hy gaan jou vir die konsultasie laat betaal,” waarsku Carl.
Derek skud sy kop. “Het jy ’n veearts of wil jy hê ek moet na Mattewis kom kyk, Ezette?”
“Dankie, ek wil jou nie moeite aandoen nie, Derek. Ek gaan gewoonlik na dokter Van Rooyen toe, net hier naby,” antwoord Ezette. “Jou pa het hom aanbeveel en hy is baie goed.”
“Pieter van Rooyen? Hy is ’n ou skoolmaat van my.” Derek wend hom na sy pa. “Piet en ek korrespondeer nog so af en toe. Hy is self ook nie te gesond nie. ’n Mantelvliesbreuk gee hom baie las en dalk as ’n laaste uitweg sal hy geopereer moet word. Hy sal dalk nie die seminaar kan bywoon nie. Ek wil môreaand ’n draai by hom en Petro gaan maak om te groet.”
“Hy was altyd ’n gawe seun,” merk sy ma op. “Sê groete. Hoe laat begin julle seminaar môre?”
“Halfnege, by Onderstepoort. Wil Mams nie saamgaan nie? Daar is ’n skyfievertoning en professor Reitz gaan ’n lesing oor wildbewaring gee.”
“Ek sou graag saamgaan, maar ek moet ongelukkig halfvyf vir ’n vergadering terug wees.”
“Ek sal Mams betyds terugbring, want ek wil ook voor vyf in die stad wees om ’n handboek te koop. Die een oor karakoelskape wat ek gebruik, is verouderd.”
“Het Königsee dan nie boekwinkels nie?” vra Carl.
Derek skud sy kop. “In so ’n gramadoela-plekkie? Ons het nie eers ’n motorhawe nie, boetie, wat nog te sê ’n boekwinkel!”
“En daar slyt jy jou lewe, net omdat jy idealisties genoeg is om te glo onderbevoorregte Namibië is ’n lewenstaak en ’n edel roeping,” sê Carl en lag neerhalend.
“Ek weet nie van ’n roeping nie. Maar as ek sou terugkom stad toe, is die wildreservaat plus ’n omtrek van tweehonderd kilometer se boere en veld sonder mediese hulp.”
“Ja, en hulle sal seker nie gou ’n ander veearts in die hande kry wat so gek soos jy is nie. Ek sal van verdriet doodgaan,” verklaar Carl. “Van jou kan ek dit glo en verstaan, want jy was altyd uit pas met ons normale mense. Maar jy moet onthou dat jy vir ’n jong kind ook verantwoordelik is. Jou dogter het nie meer ’n ma nie en haar pa is seker selde tuis. Hoe hou die arme Astrid dit in elk geval so alleen daar in die boendoes uit?”
Derek is lank stil, sy gesig afgewend en geslote. “Astrid is in ’n hoërskool waar sy met baie ander mense en kinders van haar ouderdom in aanraking kom.”
“Wou sy nie saamgekom het Pretoria toe nie?” vra Derek se pa. “Twee weke uit die skool sou seker nie so baie skade gedoen het nie. Ons het haar juis lank laas gesien. By die begrafnis laas.”
“Nee.” Derek se antwoord is kortaf