van kleins af saam met hordes troeteldiere grootword en ek sal vir die diere net so lief bly soos nou.”
“Die kinders sal kieme optel.”
“Nee, immuun raak teen kieme,” stry Ezette. “Dis die babas wat gepamperlang word, wat nie naby diere mag kom nie, wat vir siektes vatbaar is, wat nie immuniteit opbou nie.”
“Kathare veroorsaak tering. My seun gaan nie eendag saam met Mattewis en sy proesende osteo-iets grootword nie.”
“Osteomiëlitis.”
Carl ken haar van Januarie af. As dit langer was, sou hy geweet het om nie verder sout in Ezette se wonde te vryf nie. Maar sy toekomstige seun se gesondheid is op die spel en hy beskou dit as genoeg regverdiging.
“Daardie osteo-ding is gevaarlik. Derek het gesê dit kan chronies word.”
“Kan jy dalk die woord ‘beenmurgontsteking’ onthou? Of is dit ook vir jou brein ’n lang woord? Dis nie aansteeklik nie. Maar toe maar, lank voordat jou seun die lewenslig aanskou, sal Mattewis seker al verdrink of doodgery wees, as jy soos gewoonlik jou sin kry. Kan ons nie ’n groter woonstel huur nie?”
“En langer wag voordat ons eendag ’n huis kan bekostig?”
“Of ons verlowing ’n rukkie uitstel nie?”
Carl ruk hom op. “Wat van afstel? Dan is almal gelukkiger. Die spul ongediertes en dalk jy en ek ook.”
Ezette stoot die deur oop en klim uit. “Stap jy saam voordeur toe?” vra sy koel.
Toe hy nie gou genoeg reageer nie, stryk Ezette alleen aan na die ingang van Strelitziahof. Sy het verwag Carl sal agternakom. Maar hy is blykbaar nog steeds in ’n omgekrapte bui. Voordat Ezette by die trap kom, hoor sy die sportmotor se enjin brul.
“Ek hoop jy droom van daai dekselse Mattewis!” skree hy. Hy raak nog meer kwyt, maar die dreuning van die enjin doof sy verdere beledigings uit.
“En ek hoop jy droom van Magda Roux!” kap Ezette teë.
In die straat agter haar dreun die sportmotor verby. Carl kyk nie links of regs nie, wuif nie en wag ook nie totdat sy veilig binne-in die gebou is nie. Laaste wat Ezette sien, is twee agterliggies wat om die hoek verdwyn.
Ezette wag nie vir die hyser nie. Sy hardloop die trappe twee-twee op na die eerste verdieping. Toe sy haar sleutel in die slot steek, dink sy: Derek sou nie geëis het dat sy vir haar kat en honde ander base moet soek nie. Hy sou nie gekla het sy klere word vol hare nie en ook nie van die “spul ongediertes” gepraat het nie.
Maar Derek treur oor Ursula, mymer sy. Hy sal nooit oor haar dood kom of ooit ’n ander vrou in haar plek kan stel nie.
Ezette tel haar gemmerkat op en druk haar gesig teen sy wollyf.
“Carl kan op die maan gaan bly, eerder as by ons,” troos sy Mattewis. “Ek sal jou nié na ander mense laat gaan wat jou sal laat uitsit as hulle uitvind jy is siek nie.”
Mattewis antwoord met ’n tevrede prrr. Die basterbulterriër druk sy neus teen haar en flikflooi om aandag.
“Jy ook nie, Knersus,” belowe Ezette. “Ek sal jou nie vir ’n baas weggee wat jou dalk weer met doringdraad in die warm son sonder kos en water aan ’n paal sal vasmaak nie. Ek sal ’n plan bedink, my honne.”
Na hom kom die steekbaard neusskuur. Ezette kon nog nooit besluit watter soort kruising hy is nie. Sy het hom na dokter Pieter van Rooyen vernoem omdat die veearts al een was wat in die begin tot die bloedbesmeerde hond wat sy in die reënwatersloot gevind het, kon deurdring. Aanvanklik het Piet gehap en geknor vir al wat naby kom, en dit het maande se geduld geverg om hom weer ’n mate van vertroue in die menslike ras te gee.
“Maande van toewyding wat vermors sal wees as jy straks weer in ’n sloot land,” sê Ezette. “Ek sal nie so wreed wees nie, Pietman. Jy bly by my, wat ook al in die toekoms gebeur.” Sy glimlag skeefweg, soos Derek Myburgh. “Al moet Carl regtig op die sypaadjie slaap, soos hy gekla het.”
Terwyl Ezette die diere na die park oorkant die straat neem om hul laaste draai te loop, dink sy: Die maklikste en op die oomblik die aanloklikste uitweg is om nie met Carl te trou nie. Om te maak soos hy voorgestel het, naamlik om die verlowing af te stel. As hy net lief vir lees was, al was dit slegs skopskiet-en-hoogspringboeke. Of verstaan het dat sy ’n drang het om te skryf … Selfs al het hulle net van dieselfde soort musiek gehou …
Waarvan het hy haar alles beskuldig? Dat sy haar knie teen Derek s’n gedruk het. Dat Derek met haar ’n afspraak gemaak het, dat sy aan sy lippe gehang het en nie haar oë van hom kon losskeur nie. Hy is nie net onredelik jaloers op sy ouers nie, maar op háár ook.
Sy onthou die uitlatings wat Carl oor die droogte gemaak het, hoe hy ’n grap daarvan gemaak het dat Derek se pasiënte vrek. Hoe hy haar in die motor teen haar sin wou soen en hoe hy haar elke dag meer irriteer.
Terwyl sy vir die honde wag, dink Ezette aan die diamant-ring wat sy gesien en begeer het. In hierdie stadium het sy nie eers lus om weer daarna te gaan kyk óf die ring aan te pas nie. Nie net Magda nie, maar Alma én Susan kan Carl met graagte erf. Sy wonder wat hulle reaksie sou wees as hy so ongeskik was om nie laat in die aand saam te stap voordeur toe nie, maar in die motor bly sit het en beledigings deur die venster geskree het? Hulle sou nie met sulke behandeling gediend gewees het nie!
Die volgende middag is Ezette tot baie laat by die kunswedstryd besig. Drie van haar leerlinge doen mimiek, vyf dra voor en haar standerdagt-spreekkoor neem deel. Na ’n jaar se toegewyde oefening wen hulle net een silwersertifikaat en vier vir verdienslikheid. Nie veel om te wys vir ure se kosbare tyd en opoffering nie! dink Ezette en voel sommer terneergedruk. Sy weet die fout lê by haar. Sy is nie ’n gebore onderwyseres met genoeg entoesiasme en aanvoeling om die kinders af te rig nie.
Eers die volgende Vrydagmiddag is Ezette betyds tuis om haar inkopiesak uit te haal en ’n handdoek onderin die bodem te vou. Mattewis ken uit ervaring die groot geruite sak. Toe hy die reuk kry, gaan kruip hy onder die bank in. Sy nooi voel behoorlik soos ’n skurk toe sy hom met ’n happie biltong uitlok, hom gryp, op die handdoek in die sak sit en die rits toetrek. Ook uit ondervinding, weet sy dis die veiligste metode om ’n kat te vervoer. As sy hom dra, kan hy maklik uit haar arms spring en onder ’n motor beland.
“Toe maar, ons is nou-nou by die veearts,” kalmeer sy hom. “Hou net tien minute uit. Oom Piet gaan jou gou-gou gesond dokter.”
Daar is twee honde voor Mattewis, sien sy toe hulle daar kom. Een met ’n swerende oor en die ander een vir sy jaarlikse inspuiting teen parvo-virus. Ezette het pas met die volgende sieke se eienaar begin kwale uitruil, toe die ontvangdame haar inroep.
“Dokter Myburgh sal u nou spreek, juffrou Nel.”
Ezette het Derek Myburgh al twee dae op haar brein en sy is seker sy het verkeerd gehoor, gehoor wat sy graag wóú hoor, al het sy geweet dis onmoontlik.
“Dokter wie?” vra sy.
“Myburgh.”
Ezette frons onbegrypend. “Waar is dokter Van Rooyen dan, suster?”
“Dokter is in die hospitaal vir ’n mantelvliesoperasie. Hy is vanmiddag opgeneem en dokter Myburgh was so vriendelik om vir hom te kom locum. Net sekere dae, want tussenin woon dokter Myburgh ’n seminaar by Onderstepoort by.”
Ezette onthou Derek het van sy vriend gepraat wat nie gesond is nie en moontlik ’n operasie moet ondergaan. Veeartse is skaars en hierdie was natuurlik ’n goeie geleentheid terwyl Derek beskikbaar was om Pieter uit te help. Sy is oor Pieter van Rooyen bekommerd en kry hom jammer, maar terselfdertyd is sy pure vrou – ontsteld en spyt dat sy sommer ’n ou skoolhourok met sandale aanhet, en hare wat slordig oor haar voorkop hang. As sy vooraf geweet het sy gaan Derek te sien kry, het sy hare gewas en ’n beter rok aangetrek. En darem minstens vars lipstiffie en parfuum aangesit!
Moenie! keer sy haar onstuimige hart. Sy het hom maar eergister ontmoet en hulle het skaars ’n dosyn woorde met mekaar gepraat. Sy moenie