“So goed as wat dit onder die omstandighede kan gaan. Sy mis haar ma.”
“Geen wonder die arme kind is wanaangepas en sukkel op skool nie,” beskuldig Carl hom. “ ’n Veertienjarige het maats en afleiding nodig. En wat van jou, Derek? Wat maak jy as jou motor breek of jy wil vleisbraai hou en het skielik ’n dosyn biere nodig?”
“Ek maak die motor self reg. En bier is ’n luukse. As ek dit nie het nie, kom ek daarsonder klaar.”
“Los die verdriet,” lag Carl. “Ek sal lank voor die tyd van dors omkom. Ursula was jonk en mooi. Dit gaan my verstand te bowe hoe sy met so ’n kluisenaarsbestaan tevrede kon wees.”
“Ursula het haar musiek en pottebakkery gehad,” antwoord Myra Myburgh en probeer subtiel die onderwerp verander. “Sal ons koffie in die gesinskamer geniet?”
Carl is eerste by om die skinkbord te neem toe sy ma met die koffie inkom. Hy plaas dit op die marmertafeltjie. “Wil jy skink, Diertjie?”
Ezette bedien meneer en mevrou Myburgh, dan Carl. “Melk en suiker?” vra sy vir Derek.
“Swart, sonder suiker, asseblief.”
“Jy is nie nou op Königsee sonder voorrade nie,” merk Carl op.
“Ek verkies dit so, dankie.”
Ezette wou die koppie ongeërg op die sytafeltjie langs Derek neersit, maar hy staan op om dit by haar te neem.
“Dankie, Diertjie.” Hy gee haar ’n skewe glimlag.
Ezette weet sy moet ook ongeërg glimlag, omdraai en wegkyk. Maar sy kan haarself nie keer nie. Haar koppige hart steur hom nie aan haar verstand nie. Hoeveel nooiens het al vir hom gesê hy is onweerstaanbaar aantreklik? Ursula, natuurlik! En hoeveel ander?
“Nou weet ek waar jou bynaam vandaan kom. Omdat jy so erg is oor honde en katte.”
“Alle diere.” Hy het leeu-oë, dink sy, en die wimpers is amper te lank vir ’n man. Hy het verleidelike oë, maar om in hulle te kyk, bring dieselfde gevoel as om in ’n waterpoel te staar – aanloklik, maar terselfdertyd diep en gevaarlik.
Intuïtief voel Ezette aan dat Carl ook na haar kyk. Sy draai vinnig anderkant toe en begin met oordrewe konsentrasie om die koffiepot en melkbeker reg te skuif.
“Nog koffie, Carl?” bied sy aan, verdedigend, soos een van haar leerlinge wat weet hy of sy het nie tuiswerk gedoen nie of ’n toets gedruip.
Carl antwoord nie en toe sy opkyk, sien sy dat hy steeds na haar staar, vreemd en ontoegeeflik. Ezette lig haar skouers en maak ’n hulpelose gebaar, maar Carl reageer nie en sy gesig bly kil en stroef.
“Nog koffie?” herhaal sy.
“Nee, ek wil nie eers hierdie hê nie. Vanaand is ’n weeksaand. Jy het gekla jy is moeg en môremiddag na skool het jy kunswedstryd tot baie laat. Sal ons gaan?”
Dis nou eers twintig voor tien, tog het die aand vir Ezette soos ’n leeftyd gevoel. Sy is uitgeput en gedreineer en lus om by haar woonstel te kom. Sy wil tussen die koel lakens inkruip en vergeet van ’n man met die naam van Derek Myburgh wat haar ontstig, ontstem en heeltemal van koers af gebring het.
“Dankie, die ete was heerlik, tant Myra, oom Julius,” groet sy. “Goeienag, almal. Lekker slaap.”
“Moenie vir my wakker bly nie, Ma,” sê Carl. “Ek sal laat terug wees.”
Ezette wens hy het dit nie gesê nie. Dit het insinuerend geklink en sy voel verleë, wetend wat Derek van die opmerking gedink het.
Hoewel daar niks met die sportmotor skort nie, moet hý sy baas se humeurigheid ontgeld. Carl klap die deur hard toe, sonder ontsag vir die ruite óf skarniere. Die gruis spat en die ratte krap toe hy wegtrek.
2
“So, dit was nou my voortreflike en briljante broer,” merk Carl sarkasties op. “Die een vir wie my ma haar spesiaal mooi gemaak het en ’n duur rok gekoop het. En vir wie jy jou wittebroodrok aangetrek het. Was hy darem al die geskarrel en moeite werd?”
Dubbel en dwars, dink Ezette. Sy is steeds op die verdediging. “As ons volgende Saterdag die liga se kwarteindronde gewen het, sou ek ook die rok aangetrek het. Dis nie my bruidsreisrok nie.”
“Watse ding? Ekskuus, ek is maar net ’n dom LO-onnie, nie ’n taalkundige soos jy of die wonderlike Derek vir wie almal oor hul voete geval het om ’n goeie indruk op te maak nie.”
“Jou ma laat buitendien gereeld elke week haar hare versorg om vir haar Vroueaksie- en VLU-vergaderings mooi te lyk,” paai Ezette. “Nuwe klere is ’n móét in elke vrou se klerekas en dit help nie om jou beste silwerware in kaste weg te pak waar niemand dit kan sien nie. Die ete was nie net ter wille van Derek vertraag nie, maar omdat ek en jy ook laat was.”
“My krieketspan speel Saterdag ’n belangrike wedstryd. Sal my ma net so entoesiasties inwillig om te kom kyk as wat sy haar ander seun se uitnodiging vir ’n vervelige ou lesing aanvaar het?”
Ezette lê haar hand op Carl se arm en gee dit ’n drukkie. “Derek en jou ma aard na mekaar. Sy stel ook in natuurbewaring belang. Onthou, sy werk nie bedags nie en om ’n bietjie uit die huis uit weg te kom, is vir haar lekker.”
“Mits die uitstappie saam met haar gunstelingseun is.”
Ezette besef opeens die rede vir Carl se onvergenoegdheid die hele aand. Derek is al jare lank uit die huis en Carl is aan sy ouers se onverdeelde aandag gewoond. Hy is jaloers oor die ophef wat hulle van hul oudste seun maak. Hy besef waarskynlik dat Derek aantrekliker as hy is, met ’n sterker persoonlikheid. Hy is afgunstig en daarom wil Carl terugslaan, daarom dat hy die hele tyd sy broer gekritiseer en probeer aftakel het.
Hoewel Ezette besef dat Carl kleinlik en onvolwasse is, het sy nogtans simpatie met hom, want sy het ook ’n ouer suster in wie se skaduwee sy grootgeword het. Katinka hou ook skool, sy is met ’n gesiene man getroud, het twee pragtige kinders en daar is ’n moontlikheid dat sy volgende jaar ’n departementshoofpos op Nylstroom kan kry. Katinka is talentvol en bekwaam, maar Ezette ding nie met haar ousus mee nie omdat sy van kleintyd af aanvaar het dat Katinka ouliker as sy is en sy het haar nie daaroor veroordeel nie, wetende die fout lê by haarself, dat sý te kort skiet. Sy het haar mooi en slim sus eerder bewonder en aangemoedig. Maar mans is blykbaar anders. Hulle wil hulself laat geld en beskou ’n suksesvolle broer of suster as ’n bedreiging en teenstander.
“Carl …” raas Ezette liggies. “Jy weet jou ma maak geen onderskeid tussen haar twee seuns nie. Jy behoort bly te wees dat Derek die moeite gedoen het om tydens die seminaar by julle oor te bly in plaas van om in ’n hotel tuis te gaan.”
Carl draai sy kop om sy wang teen Ezette se kouer te lê. “Ek weet, maar hy irriteer my. Vir wat nooi hy jou om langs hom op die bank te kom sit en maak asof dit sý huis is? Bied my glad ’n drankie in my eie huis aan …?”
“Dis sý huis ook,” merk sy redelik op.
Carl is ergerlik. “Dit is g’n sy huis nie. Derek se huis is by sy kind op Königsee, waar in die wêreld dié verlate plek ook al is.”
“Vyftig kilometer wes van Windhoek,” antwoord Ezette en besef dan dat sy nie so vinnig moes gepraat het nie.
Carl kyk tersluiks na haar. “Jy het heel aandagtig geluister.”
“Ek het dit terloops gehoor toe ek gevra het of Windhoek ook so droog is.”
“Terlóóps gehoor?” herhaal Carl. “Jy het aan Derek se lippe gehang en aan tafel kon jy nie jou oë van hom af wegskeur nie.”
Ezette se hart klop in haar keel en sy voel ’n tamheid in haar binneste, ’n begeerte om weg te vlug na waar sy alleen kan wees om te dink. Sy antwoord nie op Carl se beskuldigings nie.
“Derek pla jou nie en hou nie vir jou ’n bedreiging in nie, Carl,” sê sy en probeer kalm bly. “Gun hom die twee weke in die huis waar hy