Etienne van Heerden

In stede van die liefde


Скачать книгу

vir drie maande. Bel Miss Edelweiss. Sê haar hier kom ’n lokasiekind vir lesse. Ek sal betaal uit my hipnosegeld. Sê haar die kind is ’n Windvogel.

      “Sy moet goed verstaan dis Piet Draadspanner se kind.”

      Hy kyk weer na Snaartjie; na die strik in die hare, die skewe lip­stif, die hoëhakskoene ’n nommer of twee te groot.

      “Sy kan die hotelfiets leen om Hochschule toe te ry. Twee lesse ’n week, skoolvakansies ingesluit.” Hy draai na Snaartjie. “Oor drie maande kom jy na my, en as jy ’n behoorlike deuntjie kan speel, is die viool joue.”

      Hy haal diep asem. “Die mense hier ken nie van die dinge wat jy in jou kop hoor nie. Ek en jy kom van dieselfde wêreld. Ons moenie te veel daaroor praat nie. Dit ontstig. Kommer jou nie dat jy anders is nie. Luister. Maak jou kop oop vir wat Miss Edelweiss vir jou te sê het. God sy dank.”

      Hy huiwer ’n oomblik. “Oefen,” sê hy dan, en dis meer pleit as opdrag.

      Dís wat sy later sou onthou. Daardie een woordjie. Oefen. En die uitdrukking op sy gesig.

      Hy swaai sy hand soos sy verneem het hy tydens hipnoses doen en haar kop begin week raak.

      Snaartjie spring op; uit dankbaarheid, maar ook om onder Die Oog uit te kom. Die stoel agter haar val dawerend om. Sy storm by die eetkamer uit en sukkel om in die skoene te bly. Sy vergeet van die viool en strykstok. ’n Damwal breek en waters bruis deur haar kop. Dis die simfonieë en konserte wat sy op dubbelbeddens in die Lord Milner se leë hotelkamers aangehoor het. Hulle haas hulle soos wind en water deur haar kop, oorkruis en deurmekaar, dringend en druisend; die een oor en onder die ander.

      Sy trek die skoene uit en dra hulle in haar hand, nael by die trappies af, verby die fontein, uit by die hotelhek; sy hol om die hoek en oor die grasperk en deur die Baviaansdrif met die klipplate; sy hardloop tot sy later nie meer weet waar sy is nie en wat sy in haar kop hoor nie.

      Agterna sou mense sê: dis die dag toe Raspoetin die musiek by haar kop ingetoor het; met daardie een swaai van sy hand; met daardie stem; met sy stink Oog.

      Later gaan sit sy teen ’n miershoop. Sy is teen ’n rantjie, en ver weg, in die laagte, lê die hotel. Drie vlae beweeg vanmiddag lui aan die vlagpale. Die vlag van die nuwe Suid-Afrika, die vlag van Brittanje en die vlag van Rovos Rail. Die ou Suid-Afrika-vlag is vandag gestryk, en in die guns van Lewis Stores wapper daar ’n logo. Hulle is die borg van die Suiderkruisderby, en as deel van die ooreenkoms moet hulle vlag daagliks teen die paal op totdat die Diana Suite gewen en als klaar en verby is.

      Iedereen wag egter nou eers die koms van die luukse Rovos Rail-trein af, op safari van Kaapstad na die Victoriaval in Zimbabwe. Die wêreld se rykstes betaal duisende dollars om op hierdie trein te ry, en as hy verbykom, staan die hele Matjiesfontein op aandag. Lewis Stores, Laingsburg, se bestuurder is erg tevrede, word in Platdakkies vertel: al daardie Amerikaanse miljoenêrs en Japannese rykes op die trein wat vanaand Lewis Stores se logo gaan bekyk.

      “Nevvermaaind dat hulle nooit ’n dining room suite by hom sal kom koop nie,” spot die Matjiesfonteiners die hand wat hulle voed.

      Hulle voel ieder geval almal bietjie op skou as daardie trein by die stasie insleep en die toeriste in hul kraaknuwe kakieuniforms met hoede en kameras uitklim. Die kniekoppe is wit en die oë vervaard (gaan hier Zoeloes met spiese of Moslems met sjaals wees, Sanjagters, bedonnerde Boere met mausers of ’n Skotse regiment in rokkies? Wat is hierdie Suid-Afrika?), want hierdie mense het lank laas soveel oopte gesien soos hier in die Karoo. Die hotel met sy versiersuikeraansig (of is dit ’n fort teen die Xhosas? ’n Sendingstasie in die niet? Waar is die tromme? Die mensvreterleeus?) vang hulle on­kant, ook die man met die pluiskeil daar by die ingang, die bedelende kindertjies langs die spoor, en die kelnerinne in hul wit kappies wat by die hotelvensters uitloer.

      Iedere Matjiesfonteiner hoop op fooitjies, op ’n kameraskoot, op ’n laggie en ’n guns. Freddie Gladdebek is die een wat weet hoe om die mark te speel. “Showtime!” Hy spring in ’n rol in en almal se monde hang oop.

      In ’n ommesientjie het Freddie die hele geskiedenis van Matjiesfontein uitgelê – die toeriste staan ademloos voor die verhale van die Khoi, van die jagtende, grotskilderende San (“interior decorators”, noem Freddie hulle), van die stugge trekboere en die Britse regimente, van die groot oorlogskamp en die sprinkaanswerm, van Olive Schreiner, die skrywer, en die dooie offisiere. Van Cecil John Rhodes. Van krieketspanne in wit truie en die Umkhonto weSizwe-kok wat nou Engelse ontbyte bedien aan die yuppies uit Kaapstad. Van Freddie se eie bloubloed (hy lig sy hemp om die wit met die are op sy pens te wys). Van Raspoetin, die gunsteling van tsarin Alexandra aan die Russiese Hof, wat hierdie spul nou bestuur, in bevel van daaglikse spyse, die vloei van drank en die geniet van voedsel, die lewe van legendes en die gasvryheid so eie aan Afrika. Sodat spook en lewende, vyand en vriend, kneg en heer, hier saam kan lewe onder vlae oud en nuut; onder die wye bloue lug van die Groot Karoo, fooi­tjies ingesluit, God sy dank.

      Ook vir die Rooikruis iets, dankie, in die porseleinboksie met die gleuf.

      En jy kan kyk na Lord Milner, die Anglofiel, se hande, in porselein, teen ’n klein dankoffer. Onder in die Milner Room.

      Dankie, weer eens, en tot siens.

      En o ja, as u behoef: Raspoetin die Rus, ook bekend as Mister Eaglejohn Fieldhouse, kan teen ’n klein fooi (net buitelandse valuta, asseblief) u met sy Oog ondersit en u help om die sweer te laat oopbars.

      “Die sweer?”

      Ja, die bloedvint. Dinge wat ons almal maar in ons saamdra en wat soos ’n pitsweer swel; hy kan oopmaak en die vuil peul uit en jy klim op die trein, gepuur.

      Die Amerikaners skud hul koppe in onbegrip en kyk rond vir soeweniers; die Japannese loop eenkant en kiek met die nuutste digitale tegnologie. Die Britte kry ’n afstandelike trek op hul gesigte en gee ’n treetjie terug. Die Hollanders lag goedig oor die lokale kleur en gee nog ’n fooitjie.

      Freddie word ’n bekende man, op baie foto’s in baie huise, op die kontinent en in die Amerikas. In Japan.

      Daardie snaakse plekkie in daardie verwarrende land van Mandela, dit was elke sent werd. En daardie hotelgebou in die boendoe was die bonus.

      Jy kon die spoke hul hande oor jou lyf voel beweeg. Die fluiste­ringe van stemme, die nag toe die trein doekvoet vertrek.

      Jy het so min begryp van die wye en droewe land. Ineens, ’n hotel soos ’n filmstel. ’n Lewe en ’n legende. Geen tienduisend dollar aan Rovos Rail kon jou immuun maak teen die sagte por van Matjiesfontein se verlede nie.

      *

      Daar by die huis het die Windvogelswerm nou tot ruste gekom en sit hulle, soos die mense sê, op hul hakskene. Hulle wag vir haar, weet Snaartjie, om die aanddinge te doen: vars water in die drinkbakke, vreetgoed uitgestrooi, die hek goed op slot, die broeihokke afgesper; die laaste mooipraatjies en aanprysing. ’n Ent verder het die Gladdebekswerm ook neergestryk, op daardie komieklike toring van ’n hok wat Uncle Freddie pienk geverf het en wat, soos Snaartjie se pa sê, “soos ’n onstigtelike vinger des Satans die lug insteek”.

      Maar die gevoelens en kwade wedywering van die Suiderkruisderby is nou ver van haar gedagtes. Sy sit daar en voel of alles om haar oopgaan; of alles moontlik word.

      Lank sit sy so en hou die wolkies dop wat kom en gaan. Daar is ’n meerkat wat wegduik en weer uitkom, haar nuuskierig dophou, en dan weer induik. Dis asof sy vir die eerste keer die uitgestrektheid van die vlakte sien; die afstande.

      Sy sit totdat dit heeltemal donker is en die Vrydagaand-Boeing van Johannesburg uit die noorde aankom. Dis ’n bekende merker: die rooi liggie wat knipperend uit die noorde kom, so hoog dat die motore dikwels nie gehoor word nie. Maar op ’n stil aand soos hier­die kom die vliegtuig met geluid aan: ’n dowwe, skaars hoorbare suising vul die lug.

      Toe die Boeing bo haar kop oorkom, wonder Snaartjie Windvogel of daar iemand daarbinne is wat afkyk en haar daar sien sit teen die miershoop, op hierdie aand voordat sy van die viool besit neem.

      Sy het net een skoen aan; die