in my briewe aan jou beteuel ek my. Rustig, sê ek aanhoudend aan myself. Mooi loop met die woorde. Omsigtige verklarings. Eerder dan langdradig, maar neem haar stadig daardeur.
Die plant waarvandaan coke kom, Christine, is die Suid-Amerikaanse Erythroxylon coca, en die blare is in die ou tyd eksklusief gereserveer vir Inka-adellikes. Selfs ou Shakespeare, sê hulle, was daarop. Ek hoor dat ’n mens tot 1916 kokaïen oor die toonbank by Harrods in Londen kon koop.
Freud, die vader van die proses wat jy deurgaan, was natuurlik ook ’n man wat ’n lyn of twee gesnuif het. Het jy geweet? Seker nie. Maar in my internetsoektogte om jou te probeer begryp, het ek daarop afgekom. Sigmund skryf in die lente van 1884 aan Martha Bernays, sy geliefde, dat hy in die haas onbekende middel coca belangstel. Later stuur hy die einste coca aan haar sodat sy ’n bietjie daarvan kan gebruik wanneer sy olik voel. Hy gebruik dit self om sy skaamheid, sy fobie vir openbare byeenkomste en sy terneergedrukthede te beveg. Eers ná die einde van die negentiende eeu raak hy van die gewoonte ontslae.
Ja, Christine, soms dink ek ek en jy is die laaste van die Freudiane. Gaan kyk maar op die web wat deesdae oor ou Freud, sy coca en sy teorieë geskryf word. Nou ja.
Gepraat van woede. Snags – en smiddaens ook – heeldag, come to think of it, hoor ek die woedende geklop van my buurvrou se bedstyl teen die dun muur tussen my badkamer en haar slaapkamer. Ek sien dan en wan ’n kliënt hier aankom. Die stoomdruk van ingehoue woede en frustrasie laat die hande oop en toe vuis. Die vinnige, jagse oë. Hulle wag voor haar deur asof voor die skoolhoof se kantoor. Asof op die rand van ’n afgrond.
Manne onder druk; gereed om te ontplof.
Waarvoor is hulle kwaad?
Vir die hand wat liefhê weerhou?
Erek daar by die Swazi voel hulle hul koning van die speelgrond en moeder se enigste grootseun.
*
Die Swazi het vanoggend ’n blouoog. Toe ek met bewende hande my woonsteldeur oopsluit (dit was kort ná my aankoms-selfoonoproep “vanuit Johannesburg” aan jou), toe kom sy ook na buite. Geen poging om dit weg te steek nie.
“Ek het nodig om met jou ’n whisky te drink,” smeek sy. Sy hou haar deur oop. Ek gaan na binne.
Ek het met opwinding Seepunt toe gekom vanoggend. Vir jou en Siebert gegroet, die lughawe-afdraaipad op die N2 verbygejaag. Nie met die triomfantlikheid waarmee ek vroeër altyd daar verbygery het na my rendezvous met my soetgoed nie, maar met ’n hooggelaaide dringendheid.
Christine, jy was vanoggend onmoontlik. Maar dit moet ek toegee – ek sou dit nooit kon hou by ’n vrou van saai konvensie nie. Op my sterfbed sal ek jou graag eendag, ná al die verwyte, formeel wil bedank vir die Noag-ark van jou gemoed. Dit was ’n oneindige stoet. Van die mooiste loeries tot die lelikste spinnekoppe. Van grillerige liaan-ape tot die fyn steenbok. Dis wat jy uitadem. Daardie surrealistiese uitstroom van fauna. Skoenlappers borrel by jou uit. Of ’n gifslang, ’n kapel, duik uit die swart holte van jou maag op my af. Jy was onvoorspelbaar. Soos die aandelebeurs. Op en af. Soos die gety. In en uit. Soos die sonbesies: priemend, aanhoudend. Jy’t my bly lok met jou buie. Ek had jou altyd ontsettend lief. Jy was my hysbak, sal ek sê. Op en dan weer, dikwels buite beheer, af. Die skag in. My begeerte na jou het nooit afgeneem nie. Dit was ons geheim: hoe verder jy weggebuig het in jou buie, hoe meer het dit my uitgedaag.
Ek is ’n predator, ja.
Maar gisteraand en vannag en vanoggend.
Ek moes dringend in Seepunt kom.
Toe nooi die Swazi my in. Ek het self gevoel of ek ’n blouoog het. Die geweld van jou psige het my soms ’n kishou geslaan. Dronkgeslaan. Ek steier die woonsteltrappe op, bekommerd oor my bloedsomloop (ja, die cholesterol en die pille wat nie akkordeer nie!), en daar is die Swazi in haar sweetpak, sonder grimering.
Jy’t laas nag in my arms lê en sidder asof demone jou beethad. Ek het nie meer raad nie.
Dan staan die Swazi daar met ’n onooglike oog en sy’s opgepof in die gesig en sy is gestroop van haar hoertige kleredrag, haar airs en haar lokkende vals wimpers. Sy’s ’n taamlik gewone swart vrou wat des moers geslaan is deur haar pimp.
Net ’n oomblik, sê ek; ek kan nie lank bly nie.
Ek wil nie met jou sake doen nie.
Ek weet, ek weet. Ons is bure, is ons nie!
Hy slaan my weer. Ek sien nie genoeg mans nie. Ek adverteer in die smalls, maar die mans wil die jong kinders hê wat van Athlone en Ravensmead ingebring word. Die Cape Flats gangs probeer die Nigeriërs hier uitdryf. Ek word te oud. Kyk maar, die mans gaan al jonger.
Ek knik. So sy werk vir die Nigeriërs. Hulle is versigtig om nooit hier te kom nie. Stuur net die Adidas-man na haar. Ons sit in die slaap-sitkamer. Op die vensterbank is die harige angoravel wat jy jare gelede op motors se dashboards gekry het: helder oranje. Volstruisvere in pers gedoop staan in ’n pot. Glansplakkate van naakte modelle. Die snesies en pakkie handdoeke. Verder ’n ghetto blaster en ’n stapeltjie CD’s. People Magazine. Haarkrullers. Ou stoele, maar met stukke materiaal oor die leunings gegooi om die vergaan weg te steek.
Sy skud haar kop.
Ek moet uitkom. Ek moet teruggaan. Dis van kind dra dat my tiete so hang. Ek het haar self melk gegee.
Sy gaan aan die huil. Die mans wil regop tiete hê. Nie iemand wat al kinders gehad het nie. “My baba!” ween sy en skud haar kop en sis met haar asem deur haar tande. Sy klem die snesie in haar hand en begin met haar lyf vorentoe en agtertoe wieg. Sy gaan histeries raak, sien ek. Ek herken die ademstote wat ek altyd, deur die muur, gedink het vals aanhitssteune is om kliënte so gou moontlik tot hul klimaks te dryf. Of woede-uitbarstings.
Haar voet begin ritmies en inderdaad woedend teen die vloer stamp. Dit het ek ook al gehoor, en ’n ander interpretasie daaraan gegee. Blou plakkies. Naellak op die toonnaels wat afdop. Vuil in die groottoonnael se hoek.
Ek vlug uit. Na my woonstel. Die sakkie bewe in my hand. Ek mors. Dalk moet ek begin rook aan die goed. Rocks. Hulle sê dit gaan dan vinniger. Inniger ook. Die Adidas-man beveel dit aan. Maar dis die einde. Ek vryf dit eerder aan my tandvleise. Wanneer my neus te veel bloei. Ek hoor haar steungeluide langsaan, die stamp-stamp van haar voet teen die vloer. Buite druis die stad. Deur die glasdeur sien ek verkeer beweeg en mense wat loop.
Sy het nie eens gesien dat ek uitvlug nie.
*
Woede. So arbitrêr, so heeltemal onverwags, teen my as plaasvervanger.
Ek wens ek kon sê dis onverdiend.
Maar ek kan nie, Christine.
Soos jy altyd sê, daar is geen patroon in God se ongenade nie.
Waarom moes juis jý uitgesoek gewees het vir wat met jou gebeur het?
En waarom moes die jongman met die rooi bandana nou juis oorkom wat hom oorgekom het – waarskynlik ’n uitgetorringde lewe in die mees karige omstandighede, daar in die buurte waar Mandrax op straathoeke gerook word en waar gesinne mekaar snags in ’n waas van woede en alkohol toetakel.
Woede; die groot, argelose natuurkrag. Hy wel in die klein enkeling se siel op en kom soos ’n tornado.
Het jy al gedink hoeveel woede sit in die mond wat gehoorsaam om die penis sluit?
Die Republiek van Woede.
*
Seepunt –
My liewe Christine
I greet you from the other side. Ons lewe die lewe van ontsmette Stellenbossers. Daar in Pleasantville, die mooiste en slimste dorp op die kontinent van Afrika.
Oorlog is ’n erotiese gebaar. Drang. Onderwerping. Inpalm. Eenword.
Erotiek, ten beste, is ’n geveg om die grondgebied van die ander in te palm.
Ons is predatore. Die professore – die goeies –