leef voor ’n venstertjie van glas waardeur ek sou instaar na die mensdom se bedrywighede?
Dit is steeds so; al óm die eintlike dinge praat ons. Ek weet dit sal jou verras. Ons is immers praters, ek en jy. Eindelose gesprekke, met jou altyd trots daarop dat ons in ons vele stryery en die agternauitpluis wat soveel ure neem, dinge tot op die been oopvlek.
Maar nie tot op mý been nie, Christine.
Jy sit op die pawiljoen en sien my hardloop, maar jy weet eintlik verder niks.
Hier in Seepunt laat hierdie woonstel my dryf, verdiepings hoog bo die straat. Bo alles, eintlik; ’n geheime ruimte waarvan niemand weet nie. Hier gooi ek als af. My klere, my goeie maniere. My grappe en my opinies. Bloots sit ek hier, net in my vel, en ek is verras oor wat in my opkom en wat van my uitgaan.
Ek is ’n tuin van aardse luste, Christine, en jou suinige hand oor my lyf ken nie die begin of die einde van my verrukkings nie.
Ek sal jou hopelik eendag kan vertel. Eendag wanneer jy wakker word uit jou slegte droom.
*
My geveg met my geeks was ’n geveg met myself. Africart.com moes, wat my betref, ’n onderneming met ’n gewete wees. ’n Besigheid wat Afrika-kultuur sou bewaar eerder as kommodifiseer. Terselfdertyd moes ons egter geld maak en oorleef.
Ek was kwaad vir die geeks omdat hulle my met die onafwendbare gekonfronteer het. My kommer het begin toe hulle nog op die skoolbanke gesit het, in 1995, toe die Unidroit-verdrag in Rome tot stand gekom en ek africart.com gestig het. Toe het ek die aard van smokkelhandel beter begin begryp. En begaan geword. Dit was meer as ’n polities-korrekte kommer. Ek het destyds werklik gevoel dat dinge hier in Afrika om my weggeneem is; dinge wat my lewe sou kon verryk nes die kunswerke van Europese stede hul inwoners se lewens verryk.
Totdat een van my inhoudsbestuurders, Tracey met die tongring, eendag nonchalant ’n artikel deur die versamelaar Ortiz voor my op die lessenaar gegooi het. Ja, ’n lessenaar. Hulle sit in trosse by oop werktafels, maar ek het bly vashou aan dié laaste bastion. Al spot hulle dikwels dat dit soos ’n skoolhoof se werkstasie lyk daar in die neste van africart.com se daaglikse chaos.
In die artikel voer Ortiz Picasso op as synde bo geografiese grense. Hoe durf enigeen die kuns van Picasso binne een nasiestaat of selfs kontinent vaspen?
En wat van strominge soos die Dadaïsme, Pop-kuns, straatkuns? Die Dadaïsme, byvoorbeeld, is gebore in New York, via die Franse kunstenaars Duchamp en Picabia. ’n Vertakking het natuurlik ook in Zurich ontspring, waar Tristan Tzara seminaal was, en die Duitsers Hülsenbeck en Janco.
Wie hoort nou binne watter grense?
Net daar skiet Tracey my en my gedateerde getob af. The global village.
Ortiz praat van die permanente onstabiliteit van die lewe. Die onvoorspelbaarheid. Die onvaspenbaarheid.
Die klik-klik van Tracey se tongring teen haar tande het dit sekerlik ook vermoed.
*
Christine, maar as jy hier sit, in Seepunt, in Hoofweg, hier bokant die getoeter en die tjierts van bande en die stemme en die brul van motorfietse en die gekrys van seemeeue tussen die geboue, vervaag die Stellenbosse angs tot niet. Hier geld ander spelreëls. Hier is, waag ek my om te sê, ’n ander soort eer. Straat-eer? Die eer van die skemer? Kan al die mense wat ek buite op die trappe aantref, as eerlik beskou word? Seker nie in hoërskoolterme nie.
Maar hier’s ander kodes. Ons kom van oral. Hier is Mosambiekers en Rwandese, Indiërs en Boere. ’n Russiese bruid wat met die internet na Worcester gelok is en weggehardloop het van haar man. Hier is Chinese meisies wat skaars Engels kan praat, bedags in restaurante werk en snags aan pale ontklee. Hier is ’n ou tante wat in liederlike armoede leef, een van die laaste lede van Seepunt se ouer garde wat in hierdie geweste uithou en wag om te sterf in ’n totaal nuwe land. Hier’s ’n soort gedeelde desperaatheid wat as kil histerie alles moontlik maak. Dalk is dít die erekode in Hoofweg, Seepunt: leef en laat leef.
Ek wens ek kon jou voorstel aan my buurvrou. Sy’s nie skaam nie, en los dikwels haar deur oop. Ek stap daar verby, en sien die bed met die sneesdoekies, die opgevoude handdoeke op die laaikas daarnaas, en ek ruik die bedompige geure wat daar uitkom: KY-jellie en rubber en sweet. Babapoeier en vlieëgif.
Die radio blêr soggens by haar en sy’s gemoedelik besig met ’n mop en ’n emmer. Op haar gangteëls of in die benoude klein kombuisie. Sy’t smetvrees, dis klaarblyklik.
“Hi!” groet sy. Sy’s van Swaziland, en het ’n ruk in Duitsland in ’n klub gewerk, vertel sy my. Lank en mooi. Prominente gelaatstrekke. Iets van Pierre Matossy se Danseur dogon in haar. Die cliché van Afrika-misterie. Die bedwelming van blinkswart. Die ewige jeune femme africaine, liefling van soveel tentoonstellings. Oor en oor geliefkoos deur die nat kwaste en blink beitels van wit mans.
Sy is ook maar op iets soets. Wát, weet ek nie, maar sommige nagte, as dit stil raak langsaan, hoor ek die geluide van ’n vasgekeerde dier.
Steun-angs – ek het geen ander woord daarvoor nie.
Die man met die jeukvoete sien ek anderdag voor haar deur, vlugtig. Hy kyk weg; hy groet my en gesels net as my deur vir hom oopgaan en hy hier binne is. Ek het hom ook al op straat teëgekom. Hy is een van die baie anderpadkykers in Seepunt.
Mense wat intimiteite agter geslote deure deel, maar in die openbare domein vreemdelinge is. Die skyn van anonimiteit op straat. Binne, die sagte aai van ’n hand oor vel, die naald wat diep en heerlik byt. Die verrukking, soos weerlig. Soos seks, Christine, soos bungy-jump of ski agter ’n boot; soos iets wat jy jou nie kan indink nie; ek en my soortgenote, okapi’s in die dieretuin, elke boud verskillend gestreep.
*
Siebert se storie oor bende-inlywing spook by Christian. In sy onrustige drome in die woonstel sit ’n rotmotor agter die gesinsmotor waarmee hy, Christine en Siebert Wildernis toe ry, kort ná die hartomleidings. Dis helder oordag, hulle jaag oor die bulte van Swellendam met die lug wat oop en blou is. Maar agter die motor sit die jagstraal wat so sterk soos die son is.
Hy is terselfdertyd versigtig, want een van kokaïen se neweeffekte is paranoia. Ook ’n soort truspieël. So anders as Christine s’n, maar net so opdringerig.
Hy tel sy selfoon op en sit dit weer neer. Hy moet raad vra. Hy staan by die woonstelvenster en kyk oor die straat uit. ’n Seevoël hang voor die balkon, sien hom en swenk weg. Alles om my word simbole van myself, dink Christian. ’n Seevoël wat in die genade van die wind hang. ’n Koerant wat deur die wind oor die teer aangeskuif word. Die bergies wat teen die nagwind skuiling gesoek het en soggens op restaurantdrumpels begin roer wanneer die eerste taxi’s loop en die straat nog aan die werkers met besems en dromme en slopemmers behoort. Hy herken homself in die bondels wat knorrig roer wanneer ’n besem hulle aanpor en ’n kafee-eienaar oor hulle moet tree om sy saak oop te sluit. Is dit ’n voorspelling? Is dit waartoe dit gaan kom? Hoe die winde waai?
Hy draai om en tel die selfoon weer op. Bernard Fagan is ’n kundige oor die Kaapse onderwêreld; hy doseer kriminologie aan die universiteit. Bernard beantwoord die foon met die vaak toon van ’n leser wat diep uit ’n teks ontwaak.
Wanneer hy egter hoor waaroor dit gaan, kikker hy op. “In die dae voor die ANC oorgeneem het, was die inlywingsrituele van bendes soos die 26’s, die 27’s en die 28’s in klip geskryf,” vertel hy. “Vaste rituele wat in tronke afgespeel het en waaroor niks ooit na buite uitgelap is nie. Maar ná 1994 het die grense na Afrika oopgegaan en nuwe verdowingsmiddels het op die mark begin verskyn. Moderner bendes soos The Firm en die Americans het kannibalisties opgetree. Die ou rituele opgevreet en met nuwe konvensies gekom. Die ou mitologieë het begin verdwyn.”
Christian kyk oor die straat uit. Hy is versigtig om so min moontlik op die balkon uit te gaan. Dit mag net wees dat ’n verbyganger opkyk en hom herken. Of ’n motoris wat by ’n robot luier en opkyk teen ’n ongewone hoek en daar staan Christian. Iemand wat hom ken. Christian het al daar onder in die straat gaan staan en opgemik boontoe na sy woonstel en hy weet presies