jare steeds bang dat vreemdes haar letsels sal raaksien. Therese Nicolić, trots, formeel. Van elders. Albei met mure rondom hulle.
Toe hulle uitgepraat is oor die weer, sê albei eers niks. Gewoonlik laat Lana dit aan ander mense oor om gesprekke deur die knikke van stiltes te help, nou moet sy die inisiatief neem: “Ek wil weet oor die begrafnis – of jy met alles reggekom het. Is daar enigiets waarmee ek kan help?”
“Daar is na alles omgesien, baie dankie. Die priester was behulpsaam.”
“Dis ’n requiem, verstaan ek.”
“Dis hoe Ribar gewoond was. Dis hoe dit gedoen is waar hy grootgeword het. Dáár is behoorlik na die liggaam van die gestorwene omgesien. Die lewende siel gaan die ewige lewe binne, maar met die laaste oordeel word dit weer met die liggaam verenig. Die liggaam is nie iets om weggegooi te word.”
“Jy het nie aan verassing gedink nie.”
“Dit is teen die tradisie van die kerk. As die liggaam eendag verheerlik gaan word, moet dit nou met respek behandel word. Dit is nog die Eigentum van die een wat gesterf het en dit weer sal opeis.”
“Dit moet ’n groot troos wees om dié sekerheid te hê,” sê Lana peinsend.
Therese kyk haar skerp aan. “Ribar het die sekerheid gehad. Ten minste die hoop. Ek sê nie dat ek dit self het. Maar as daar net ’n moontlikheid is dat die vaevuur bestaan en dat sy siel daarin vertoef, moet ek sorg dat daar vir hom gebid word. Daarom het ek my dogter ook laat weet. Matrone het haar gebel.” En toe Lana nie dadelik hierop reageer nie, sê sy: “Jy vind dit vreemd dat ek nie self met haar gepraat het?”
Lana skud haar kop. “Nee, ek vind dit nie vreemd nie. Ek vind selde enigiets aan mense vreemd.”
“Dan is jy wys,” sê Therese. “My seun het vanmôre weer uit Londen met my gepraat. Hy sê hy kan nou eers vroeg die Vrydagoggend volgende week hier wees. Te laat vir die lykwaak Donderdag. Betyds vir die begrafnis.”
“Woon jou dogter ook oorsee?”
“Sy woon naby Clanwilliam.”
“Jou kinders is getroud? Is daar kleinkinders?” Lana besef te laat dat die onderwerp van Therese se kinders eintlik al afgesluit is.
“Die seun is geskei. ’n Tweede keer geskei. Die dogter is ’n kunstenaar. Sy leef saam met iemand wat nie haar man is. Sy het twee kinders. Ek sien hulle nie.”
Daar val ’n stilte. Toe voeg Therese by: “Ek verwag nie dat sy sal kom.”
Lana hoor haarself sê: “As jy nodig het om Donderdag iemand by jou te hê … Ek sal ’n plan kan maak om weg te kom. Ek is dan nog hier. Ek gaan eers oor twee weke op verlof.”
Therese speel nie die ek-wil-jou-nie-moeite-aandoen-speletjie nie. Sy sê eenvoudig: “Ek sal bly wees as jy my na die lykwaak by die begrafnisondernemers sal kan neem.”
“Ek sal dit graag doen.”
Toe sy opstaan om te loop, neem Therese haar hande in hare en hou hulle ’n paar sekondes lank vas. “Dankie,” sê sy. “Ek het waardering.” Toe vra sy: “Is dit jou voorneme om in jou verloftyd weg te gaan?”
“Ek het opruimwerk tuis, dis al.”
Lana se enigste “voorneme” vir dié verpligte twee weke vakansie is om haarself te dwing om eindelik en ten laaste haar ma se besittings uit te sorteer. Sy kan hoogstens die geteëlde wastafel en die tweesitplek-riempiesbankie in haar eie woonstel verduur. Met elke dag en week en maand se uitstel maak sy die opruim en wegruim wat voorlê vir haarself nog moeiliker. Maar haar gedagtes bly wegskram van haar ma se goed. Lelike, swaar OK Bazaar-meubels van toet, gehekelde doilies en geborduurde lappies, nog haar ouma se handewerk. Geroeste koekpanne, aluminiumkastrolle, messegoed, voorskote, skoene, bokse met aambeisalf en pille, dikgeworde hoesstroop en leë asmapompies. Opgevoude plastieksakke, toiletoortreksels en toiletpapieroortreksels, blompotte. Bokse sigarette, asof ’n natuurramp of oorlog dalk net kon maak dat die winkels daarsonder sou wees. Poskaarte en foto’s van onbekende mense en, wonder bo wonder, van een bekende mens: haar pa. Daar is hy in swart-en-wit. Sy donker omkrulkuif. Sy oë wat sjarmant kreukel, sy wittand-glimlag.
Haar ma se dood het anders gebeur as wat Lana haar dit voorgestel het – sy wat elke dag met afgetakelde oumense te doene het. Daar was geen waarskuwing nie. Geen beroerte of longontsteking of terminale hartversaking nie. Geen verpligting om haar gemaklik te maak, by haar te waak, haar naam te noem, moontlik selfs haar hand vas te hou, haar lippe nat te maak, geen kans om goed te maak en om dalk die antwoorde te kry op vrae wat sy nog nooit gevra het nie. Daar was nie kans om ’n verhouding af te handel nie, daar was net die telefoonoproep. Haar ma het sommer in haar oorjas en pantoffels oor die straat gestap om ’n bakkie meel by ’n buurvrou te leen. Die munisipale bus wat haar getref het, het nog ’n halwe blok verder geparkeer gestaan met ’n groepie geskokte passasiers op die sypaadjie. In ’n plastieksak tussen die goed in Lana se motorhuis is steeds haar ma se uitgetrapte viltpantoffels met die oranje tossels.
4
Halfeen die volgende Donderdagmiddag laat Lana die kliniek in die sorg van een van haar adjudante en gaan haal vir Therese by haar woonstel. Therese is geheel in swart geklee, van haar outydse hofskoene met die vierkantige hakke tot by die swart hoedjie met die kort sluier op haar kop. Hulle ry amper woordeloos na die begrafnisonderneming, parkeer, word deur ’n man in ’n donker pak begelei na ’n vertrek waar die oop kis op ’n lae trollie staan, twee knielkussings daar langsaan, brandende wit kerse by die kop- en voetenent. Iemand het ’n krusifiks in meneer Nicolić se gevoude hande gesit. Lana sien vir oulaas die nou onbereikbaar streng profiel en sy dink: Hy het finaal van sy liggaam vertrek.
Die priester kom hulle tegemoet in sy lang swart toga, ’n piepjong man met ’n bloesende gesig en witblonde hare. Hy neem Therese aan die arm, buig in vertroulike gesprek sy kop tot by hare, lei haar na die kis, help haar kniel. Lana se afskeid van meneer N is afgehandel, sy vind vir haar ’n plek in die reggesitte stoele waar daar al drie of vier mense plaasgeneem het. Op ’n smal tafel net binne die deur is ’n oop besoekersboek langs ’n groot bos wit Helleborus-blomme in ’n glaspot. Die besonderse blomme laat haar gemoed ’n bietjie lig. Daar begin nog mense aankom: ’n handvol yl, dun ou mans wat lyk asof ’n windstoot hulle sal omwaai, ’n tiental somber geklede ou vroue met pêrels en gehoorapparate en wankelende kieries. Mense uit Therese en haar man se lewe lank voor Lana hulle geken het. Hulle doop een vir een hul vingers in die bakkie wywater by die deur, maak die kruisteken, beweeg na die kis en kniel om die beurt versigtig en stram om te bid vir Ribar Nicolić se siel. Daarna gaan hulle met ’n soort voldoening hul name in die besoekersboek neerskrywe.
Toe daar niemand meer aankom nie, praat die priester: Dis nou die geleentheid vir dié wat wil om iets oor die oorledene te sê. Eers lyk dit asof niemand gaan reageer nie. Toe staan ’n ou man op om te praat, na hom ’n tweede, daarna ’n vrou. Lana verstaan nie wat hulle sê nie, herken nie eens die taal nie. Daar is ’n stilte, toe soen die priester die kruis onderaan sy rosekrans. “In die naam van die Vader, en van die Seun, en van die Heilige Gees,” begin hy in Engels. Hy maak die kruisteken, sy vingers begin geoefen oor die gebedekrale beweeg terwyl hy sy klein gehoor in die Rosekransgebed lei.
Lana word meegesleur deur die amper hipnotiese, sikliese ritueel van herhalings en stiltes vir bepeinsing. Hy werk, sê hy vir die oningewydes, deur vyf van die geheimenisse betreffende die openbaring en verheerliking en offerande van Christus. Die vyfde hiervan sluit hy met die Wees-gegroet-gebed af: Wees gegroet, Maria, vol genade, die Here is met u. Geseënd is u onder die vroue en geseënd is Jesus, die vrug van u skoot. Heilige Maria, Moeder van God, bid vir ons sondaars, nou en in die uur van ons dood. Hy slaan oor na Latyn. Dis woorde wat Lana goed ken omdat sy Bach en Verdi se requiems liefhet, musiek waarna sy na haar ma se dood oor en oor geluister het: Réquiem æternam dona ei, Dómine. Et lux perpétua lúceat ei. Requiéscat in pace. Amen. Anima ejus, et ánimæ ómnium fidélium defunctórum, per misericórdiam Dei requiéscant in pace. Amen. Dit spoel oor haar. Daar kom ’n gevoel van rus oor haar.
Toe dit verby is, staan Therese op. Mense