“Nee.”
Daar is ’n ongemaklike stilte. Toe verander hy die onderwerp. “Lana? Will you consider … Sal jy dit asseblief ernstig oorweeg om saam met my ma te ry?”
“Wanneer moet jy weet?”
“Daar’s nie baie tyd nie, dis die probleem. Ek is net ’n bietjie meer as ’n week hier. Slaap tog net daaroor.”
“Ek sal. Maar …”
“Is jy op Saterdae besig?”
“Ek werk elke tweede naweek.”
“En dié naweek? Nie? Dalk kan ek jou en my ma môre vir ete kom haal. As dit goed is? Dan kan ons weer praat. Twaalfuur? Sy’s gewoond vroeg eet. Iewers wat sy sal geniet. Naby ’n park, of by water. Jy moet raad gee. En sê my waar jy woon.”
“By die Austin Roberts-voëlpark is daar ’n restaurant,” sê Lana. “Dis die soort plek waarvan jy praat, dink ek. Dis dalk beter om te bespreek, maar ek onthou nie die naam nie.”
“Ek sal uitvind.”
“Nou moet ek groet,” sê Lana. “Ek moet ’n dringende oproep maak.”
“Gee my net jou besonderhede, ek tik dit op my selfoon in.”
Toe hy tot siens sê, steek hy sy hand uit. Sy kyk af na hul hande, sien dat sy hemp ’n bietjie om sy maag trek. Hy het haar blik gevolg, glimlag effens: “A sedentary life style. Ek kry nie oefening nie. Ek behoort. ”
“Jy lyk goed, Konrad. Jy het min verander.”
“Jy ook. Dis regtig merkwaardig. Tot môre.”
Hy is weg.
Sy gaan sit agter haar tafel. Sy het vergeet wie sy moes gebel het.
5
Op pad huis toe hou Lana by ’n supermark stil. Dis kort voor ses en sterk skemer, die lug gloei rokerig rooi en oranje in die weste. Sy hoor die gekwetter van die streepswaels wat in Pretoria oorwinter. Die motoroppassers op die donker parkeerterrein is al weg, motors trek oral om haar uit: haastige huisvrouens wat ’n noodstoppie kom maak het om aandete vir hul gesinne te kan maak. Binne staan sy by een van die laaste betaalpunte wat nog oop is agter ’n student wat vir sy Coke en vleispastei wil betaal. Sy pak die amper ewe skraal inhoud van haar mandjie uit: een rou kalfschnitzel, ’n sakkie laevetmelk, ’n ryp avokadopeer, twee tamaties, ’n gesnyde bruinbrood.
Daar was ’n tyd toe sy soos die besige huisvrouens wat by haar verbygedraf het ’n huishouding gehad het, ’n groot hond vir wie sy hondekrummels gekoop het, ’n tuinman wat sy van mieliemeel en stowevleis moes voorsien, ’n man en ’n kind vir wie sy maaltye van rys, vleis en groente gekook het. ’n Tyd toe daar swembadchloor en sakkies kunsmis en grootmaat-seeppoeier in haar trollie was.
Dit help nie om aan sulke gedagtes toe te gee nie. Nie aan weemoed óf selfverwyt (of verligting) nie. Voor môre moet sy vir haarself uitmaak wat Konrad se versoek behels en wat sy daarop gaan antwoord. Dis nie sommer net naastediens aan ’n toevallige inwoner van die aftreeoord nie, dit is saam met Kónrad se ma wat sy noodwendig intieme dae sal moet deurbring, by wie sy onwillekeurig meer betrokke gaan raak. Wil sy?
Sy ry terug na haar woonstelblok. In die voorportaal haal sy ’n handjievol pos uit haar bussie. Alles onpersoonlik: ’n munisipale rekening, ’n bedelbrief van ’n kindersorgorganisasie, die kennisgewing van ’n wyksbyeenkoms, ’n nota om te sê inwoners moet die volgende dag hul brandblussers vir inspeksie buite hul voordeur laat. Wat het geword van koeverte met nuus daarin en ’n posseël daarop geplak? Selfs iemand soos haar ma het ’n boks briewe en kiekies nagelaat. Van die mense wat nou jonk is en alles met ’n rekenaar doen, dink sy, sal skaars ’n tasbare rekord of spoor van ’n geleefde lewe oorbly.
Vanaand gebruik sy die hysbak eerder as die trap – sy is moeg na die lang dag. Nie net van die drafpas en blitsdink-besluite van haar werk nie. Sy is gedreineer deur die begrafnisdiens en die ontmoeting met Konrad. Herinneringe het haar aangeval soos ’n swerm bye.
Bo sluit sy haar veiligheidshek en voordeur oop, sluit albei weer agter haar toe. Haar tuiste ontvang en troos haar. Sy sit haar handsak en inkopies op die ronde kiaathout-eettafel neer, skakel die twee leeslampe aan. Sy trek gordyne toe, die naaswit wolgordyne wat sy liefhet, en druk die knoppie van die CD-speler waarin die stem van Maria Callas van gisteraand af steeds vir haar wag. Die gestoffeerde meubels is geometries eenvoudig, klipkleurig, die ryk, dieprooi satynkussings daarop ’n toegewing aan haar geheime self. Daar is ’n geweefde mat op die vloer, en skilderye waarvoor sy telkens lank gespaar het. Teen een van die mure is ’n lang rak met boeke: meestal digbundels, en haar versameling kinderboeke. Daar is die enkele boeke wat nog aan haar as kind behoort het, dié wat haar kind s’n was, dié wat sy later bly koop het. Dit is ’n liefde waarvan sy aan niemand rekenskap hoef te gee nie.
Wees maar eerlik: daar is ook niemand om aan rekenskap te kán gee nie. En wie, wonder sy, ontvang eendag haar klein erfenis van boeke en meubels? Wie gaan, wanneer sy die dag doodgaan, háár goedjies uitsorteer?
Vanmiddag was sy te besig om meer as ’n toebroodjie in die kliniek te eet. Sy maak ’n aartappel in die mikrogolfoond skrik en sit dit in water verder aan die kook. Sy maak slaai in ’n donkerblou porseleinbakkie, sy gebruik blare en tamatie en ’n paar skerfies ui en blokkies avokadopeer, en ’n takkie basilie uit die kruietuintjie in ’n pot op haar balkon. Sy haal die sout- en peperpotjie en die botteltjie Franse slaaisous uit en sit ’n tafelmatjie op die tafel en dek vir haar ’n plek met messegoed en ’n kleinbordjie en ’n servet. Sy skink appelsap in ’n wynglas.
Hoekom sy dit só bly doen, verstaan sy nie presies nie. Aan die begin was dit seker om ’n stelling te maak ten opsigte van waar sy vandaan kom. Maar sy glo dat wanneer jy alleen leef, jy aan ’n beskaafde patroon moet bly vashou. Dit is deel van respek, al is dit net vir jouself. Ja, sy erken dis ook ’n bewys van onbuigsaamheid, van haar selfbewustheid en die onvermoë om van haarself te vergeet. Maar vanaand wonder sy of daar nie nóg iets agter haar ritueeltjies steek nie. Of haar noukeurigheid met haar onbesitte persoon, met haar onbesoekte huis, met haar ongedeelde tafel, beteken dat sy steeds, nog elke dag sedert tóé, besig is om te wag. Dat sy nie soos die dwase maagde van die Bybel onvoorbereid betrap wil word nie.
Sy skakel die liggie van die kap bo die stoof aan en haal ’n pan uit om haar schnitzel te bak, en ten spyte van haar somberheid kry sy lag. Sy het onthou van ’n Philip de Vos-bundeltjie op haar rak, oënskynlike kinderverse wat dit nie regtig is nie:
Magdalena Aggenbag
sit al jare lank en wag
elke dag en elke nag –
arme juffrou Aggenbag.
Waarop wag sý? Nie op ’n minnaar nie. Sekerlik nie op die laaste der dae of op die dood nie. Dalk wag sy op die lewe wat haar destyds onaangekondig verlaat het en enige tyd weer mag opdaag. Het dit dalk eindelik gebeur, nou met Konrad se koms? Natuurlik nie. Tussen hulle lê pyn, te diep om eers te begin oopkrap.
Hulle was vyf jaar lank getroud, sy en Vlok, toe hy die aand saam met Konrad huis toe gekom het. Hul huwelik was toe al op ’n mespunt. Aan die een kant was daar die dringendheid van hul behoefte om kinders te hê en die allesoorheersende wérk daaraan, die plig om swanger te word. Die doktersbesoeke, die toetse, die dissipline, die kil-kliniese prosedures, die blootlê van intieme sake wat die laaste flardetjie romantiek en misterie en erotiek laat verdamp het. Toe sy getroud is, was sy privaat en selfbewus. Ten spyte van haar verpleegopleiding wat alle geheime van die mens se liggaamlike bestaan ontluister het. En wat Vlok betref: Hy het geen woordeskat vir seks gehad nie. Dóén kon hy, praat kon hy nie. Dalk met sy vriende, in die kru taal waarmee sy verstaan mans dit doen. Nie met haar nie.
Ses jaar vóór Konrad gekom het, was daar natuurlik Vlok self. Die hele proses. Ontmoet. Uitgaan. Afspreek. Verloof raak. Trou. Huis opsit. Getroud wéés. Dit is deel van haar storie, van hoe alles gekom het. Want alles steek inmekaar, oorsaak en gevolg. Jy kan teruggaan en teruggaan as jy wil – nog verder terug as die dag en