ma en haar pa.
Haar pa het ’n kuif en ’n swart snor en helderblou oë gehad. Een ding het hy vir haar gedoen, één ding wat sy later nie uit haar geheue probeer sny het nie. Dit was hy wat haar leer swem het. Een Desember, toe die temperatuur in die middel dertigs moet gewees het, het hy hulle drie vir ’n week na ’n goedkoop vakansieoord naby Pretoria geneem. Haar ma het dikmond onder ’n boom gesit en sweet afvee. Hulle twee het ure in die swembad deurgebring. Hondjieswem, eers. Toe onder die water. “Duik. Duik in en skóp, man!” Toe, sommer gou, kruipslag. “Soos ’n vis in die water!” het hy vir haar ma gesê. “Sy kry dit van my.” Daardie vakansie het sy hom aanbid.
Haar pa het vragmotors vir Trengrove Countrywide Transport bestuur en hy het ’n houvrou en twee kinders op De Aar gehad van wie niemand in Pretoria geweet het nie. Eendag het haar ma ’n telefoonoproep gekry. Haar pa het daardie nag in ’n hotel geslaap en die volgende dag weer op een van sy ritte vertrek, en daarna nie weer teruggekom huis toe nie. Haar ma het vir hul buurvrou gesê hy het werk in die Kaap gekry, maar dat sy nog eers in hul huis sou aanbly, want hulle wou nie vir Lana uit haar skool vat nie, haar onderwysers meen sy kan volgende jaar die laerskool se hoofmeisie word.
Natuurlik het die bure geweet. Hulle was nie doof nie. Of dom nie: Selfs al werk ’n man in die Kaap, hang sy wasgoed tog soms oor langnaweke aan die wasgoedlyn. Dit sou makliker gewees het as alles maar oopgegooi was. Maar toe sy later op hoërskool ook moes antwoord op die vraag hoeveel kinders hulle was, het sy steeds gesê “een”.
Haar ma het toe al probleme met haar voete gehad, maar sy het werk gekry in die meubelafdeling van die OK Bazaar in Pretoria se middestad waar sy baie moes staan, en sy het gewig aangesit omdat wrewel en eensaamheid en frustrasie haar gedryf het na soet olieringe en Chelsea buns en roomkoek en gevulde sjokolade. Later ook na jenewer, wat veronderstel was om nie jou asem te laat ruik nie. Om vir die drank en haar Chesterfields te betaal, het sy ’n loseerder in die buitekamer gehuisves en nog een wat na naskeermiddel geruik het in die spaarkamer. Party nagte het Lana haar ma se bed ritmies hoor kraak. Syself het geleer om haar behendig uit ’n skynbaar goedig omhelsende arm te draai, om nie op skertsend-suggestiewe komplimentjies te reageer nie, om haar kamerdeur te sluit, om te sorg dat sy nie in die gang of ’n hoekie van die kombuis vasgekeer kan word nie.
Daar was ’n tyd toe Lana gevaar geloop het om soos haar ma uit te rys. Dis moeilik om skraal te bly as jy vroeg uitgegroei is en as daar net Strawberry Pops en supermark-rolkoek en witbrood en polonie en pakkies tjips in die huis is. Wanneer jy liefde- of aandaghonger is, stel eet ten minste nooit teleur nie. Dit het verander toe haar klasonderwyseres in standerd sewe vir haar gesê het sy is slim en mooi, en nie wanskape omdat sy toe nog langer as die seuns in haar klas was nie. Ook dat dit belangrik was om te let op wat ’n mens eet en dat klein porsies en rou kos en growwe brood gesond was. Lana het haarself uit ’n verflenterde eksemplaar van Kook en geniet geleer hoe om bobotie en frikkadelle te maak en ’n hoender in die oond te bak en sy het lysies van die kruideniersware begin opstel wat haar ma van die OK moes saambring huis toe.
Sy was nie net ’n enigste kind nie, maar ’n alleenkind. ’n Leser, weetgierig. Maar alles aan haar, haar gedagtes, haar onbepaalde hunkering, haar vrese, die wêreld wat boeke vir haar oopgemaak het, was geheim.
In die grade al is sy geprys vir hoe goed sy haar leesles voorberei het wanneer sy nooit eens nodig gehad het om tuis na die leesboekie te kyk nie. Op laerskool was sy die een wat gevra is om in die klas voor te lees. Sy het van rekenkunde gehou, later van wiskunde, sy kon nie verstaan hoe enigiemand daarmee kon sukkel nie. In matriek was sy nogtans een van die onsigbares, op geen manier merkwaardig nie. Ook nie een van die tien beste presteerders in die standerdgroep nie. ’n Dertiende of veertiende plek hou jou veilig uit die openbare oog. Die mediasentrum het haar toevlug geword. Die media-onderwyseres het in die domein waaroor sy regeer het, onaantasbare mag gehad. Sy het gunstelinge gehad, maar hulle ook in die werk gesteek. Sy was van die min personeellede wat Lana se kamoeflering gesien het vir wat dit was.
Tog was sy nêrens ’n uitgeworpene nie. Daar is nie met haar gespot of oor haar geskinder nie. Sy was nie aantoonbaar asosiaal nie, daar was ’n groepie meisies in wie se kringetjie op die speelgrond sy welkom genoeg was wanneer sy nie met een van haar take in die biblioteek besig was nie. Sy is gereeld saam met hulle per bus na die munisipale swembad. Die ander het in die water gespeel en op die gras op hul handdoeke gelê, gereed vir die moontlikheid van seunsgeselskap. Sy het gegaan om te swem. Sy het altyd eers ’n oomblik lank op die swembadrand gestaan en kyk na hoe die baanlyne onder die roerende, helder water vorm en vervorm voordat sy induik. Kruipslag. Borsslag. Soms rugslag. Maar die heel meeste het sy daarvan gehou om onderwater te swem, afgeslote en veilig in ’n klanklose wêreld. Sy kon haar asem langer ophou as enigiemand wat sy geken het.
In die skool het sy nie negatiewe aandag van die onderwysers getrek nie, sy was nooit arrogant of “parmantig” en veral nie “lui” nie. Sy was geen stokkiesdraaier of roker of uitbreker met ’n behoefte om oë te laat rek nie. Sy het af en toe selfs saam met die groepie meisies gaan fliek, partykeer was daar seuns by, en sy het met hulle nie anders of moeiliker oor die weg gekom as met die meisies nie.
’n Seun wat soms haar wiskundehuiswerk afgeskryf het, het haar na die matriekafskeid genooi. So het sy ook nie onnodige aandag getrek deur weg te bly, soos sy heeltemal gereed was om te doen nie. In daardie stadium kon sy nie iemand wat swakker as sy in wiskunde gevaar het, regtig respekteer nie, maar hulle was gemaklik met mekaar, en hy was ten minste langer as sy. Haar ma se buurvrou het, spelde in die mond, vir haar ’n pienk tafsyrok vir die geleentheid gemaak, ’n kleur wat haar nie gepas het nie. Sy het die aand geduldig geluister na wat hy kwytgeraak het oor Grand Prix-wedrenne en omgeboude motorenjins en oor watter motorfiets hy eendag wou koop. Toe hy haar aan die einde probeer soen, asof hy gedink het dit word van hom verwag, was sy ’n oomblik lank tot bewegingloosheid geskok deur die eienaardige intimiteit daarvan: vreemde lippe, ’n bietjie droog, huiwerig, op hare. Dit was die reuk van Old Spice wat haar laat wakker skrik het. Sy het haar met haar óú bedrewenheid uit die seun se arm losgedraai en by hulle voordeur ingeglip.
Soos byna alles van tóé het haar matriekafskeid net ’n dowwe indruk op haar agtergelaat. Sy het die naam van dié seun vergeet, sy onthou skaars die meisies in die speelgrondkringetjie. Daar lê ’n waas oor haar skooljare. Asof niks belangriks in daardie hele tyd met haar gebeur het nie.
Sy weet nou sy het niks ná aan haar laat kom nie omdat sy haarself beskerm het. Teen die herinnering aan haar pa. Teen haar ma se verbittering en onvermoë om liefde te wys, teen die lelike omgewing en verwaarloosde huis, teen motorwrakke in voortuine en mans in frokkies op stoepe. Wanneer ’n mens doodstil is, wanneer jy skaars die feit dat jy bestaan met ’n oogknip verklap, kan dié dinge jou nie bekruip en ’n hand op jou skouer lê en jou vir hulle toe-eien nie.
Maar wanneer jy aan niks behoort nie, behoort baie min aan jou.
Wat hét wel aan haar behoort? Haar skerp verstand. Haar voorneme om weg te kom.
6
In matriek het Lana besluit sy sou universiteit toe gaan. Mense wat dít reggekry het, kom nie weer terug na waar hulle begin het nie, soos hul bure se seun wat in Johannesburg gaan leer en daarna in Amerika werk gekry het. Om te studeer was die één ding waaraan sy met passie gedink het, die toekoms was vir haar werkliker as elke dag se aantrek en skool toe gaan en huis toe kom en skoolwerk doen. Werkliker as haar gesig in die spieël, as haar ma, as die loseerders, as hul huis, as die reuk van vlieëgif in die kombuis. Soms is sy met die bus Kerkplein toe en van daar met ’n ander een in Lynnwoodweg op, verby die Universiteit van Pretoria waar die rye en rye studentemotors op die sypaadjies onder jakarandabome geparkeer gestaan het. Sy het na die studente gekyk, na die vryheid waarmee hulle beweeg het wanneer hulle by ’n verkeerslig oor die straat stap, die meisies se sandale, hul driekwart-katoenbroeke, hul bandjietoppies, die aantekeningboeke wat hulle met twee arms teen die bors vashou terwyl hulle lag en gesels. Eenkeer het sy in haar skoolklere afgeklim en by die ingang in Roperstraat ingestap en oor die kampus geloop. Sy onthou geen geluide nie. Sy onthou die ruimte, die bome, die geboue, trappe, die groot, groot grasperk waarop kringe jongmense gesit het asof hulle piekniek hou, die stromende studente, mans en meisies. ’n Toneel uit ’n klanklose film.