my op die sitplek en klou vas soos ’n bobbejaantjie op sy ma se rug. Toe nou.”
’n Bobbejaantjie, dink sy nog, en glimlag spontaan. “As jy nie omgee om my bobbejaanma te wees nie …” spot sy, klim op die sitplek agter hom en sit haar hande versigtig om sy middel.
“Klou vas!” roep hy waarskuwend toe hy wegtrek met sy motorfiets, en sy gehoorsaam hom werktuiglik.
As haar ouers werklik na haar kom soek en haar agter op ’n wildvreemde man se motorfiets gewaar het, sou haar liewe pa seker teen die naaste telefoonpaal vasgejaag het, en sou haar ma gesorg het dat sy onterf word, dink Maryna, verbaas oor die gevoel van veiligheid wat sy ervaar. Motorfietsongelukke is dikwels noodlottig en tien minute gelede sou sy heftig ontken het dat sy ooit haar lewe op ’n motorfiets sou waag. Maar hier sit sy ewe knus agter Christiaan de Necker se rug en geniet elke oomblik van hulle dolle vaart teen die bult af.
Christiaan draai by ’n afrit links uit die snelweg en volg ’n smal, kronkelende teerpad. Huise en enkele sakegeboue flits by Maryna verby. Christiaan roep oor sy skouer: “Dis Neckersrus. Die begraafplaas is groter as die dorp!”
Sy vermoed dat hulle onder die reën uitgejaag het, maar die storm haal hulle in toe hulle die laagwaterbrug bereik. Vlae grys reën deurweek hulle klere in ’n oogwink en belemmer die uitsig. “Hou stil!” roep sy, vir die eerste maal bang dat hulle sal verongeluk.
“Byna daar,” antwoord sy stem gerusstellend bo die reëngeruis en die dreuning van die motorfietsenjin.
Sy sien wit ingangspilare en weet hulle het hulle bestemming bereik. Oomblikke later hou Christiaan in die relatiewe stilte van ’n ruim motorhuis stil en skakel die enjin af. Hy kyk oor sy skouer na haar en sê tergend: “As jy my langer vasklou, gaan ek glo jy het my liefgekry. Maak jou oë oop en klim af, Maryna. Ons het die rit albei oorleef.”
Sy los hom so vinnig dat sy haar balans verloor, maar sy groot hand sluit om haar boarm. “Stadig nou, my blonde meisie. As jy neerslaan en jou geheel en al nerfaf val, glo jou pa en jou baie broers jy het van my motorfiets afgeval.” Christiaan help haar van sy motorfiets af, hou haar nog aan die arm vas en laat sy blik tydsaam oor haar dwaal. “Jy het ’n warm bad en droë klere nodig, maar ek veronderstel jy wil eers jou ouers bel,” sê hy saaklik, maar sy oë vonkellag in hare.
“Ja, asseblief,” versoek sy gesmoord, vies oor die blos van verleentheid wat op haar wange brand bloot omdat hy na haar kyk. Sy is sedert haar tienerjare gewoond aan die bewonderende of opsommende blikke van mans, en het lankal geleer om haar selfbewustheid agter ’n mantel van selfversekerdheid te verberg.
“Sê vir jouself jy is beeldskoon en tree op soos ’n skoonheidskoningin, en niemand sal agterkom jy is skaam nie,” het haar ma haar tien jaar gelede voorgesê. Tot dusver het haar ma se resep gewerk, maar dit was voordat sy Christiaan de Necker ontmoet het. Sy haal haar valhelm af, skud haar kop sodat die klam punte van haar blonde hare in toutjies op haar skouers hang, en hoop sy lyk soos ’n professionele verpleegsuster, en nie ’n blosende tiener nie. “My klere! My motor!” onthou sy ontsteld, haar waardigheid vergete. “Ek het vergeet om my motordeur te sluit en die sleutels te vat.”
“Ek het nie vergeet nie,” sê hy gerusstellend, en klop met sy hand op sy broeksak. “Kom ons stap met die trap op na die binnenshuise ingang. Neckershoogte is ’n mooi ou plek, maar dis makliker om dit in die sonskyn te bewonder.”
Maryna loop saam met hom na die verste hoek van die ruim motorhuis waarin verskeie luukse voertuie geparkeer staan. Hulle behoort seker aan al die ander mense wat op die plaas woon, dink sy. Moontlik boer hy saam met sy pa en broers – en dalk behoort een van die motors aan sy vrou. Sy vrou. Vreemd, sy was nog nooit so intens bewus van ’n man se fisieke teenwoordigheid nie. Dis moontlik waarom sy nie van die gedagte hou dat hy ’n vrou het nie. Sy trek haar asem vlak in toe hy haar, met sy hand onder haar elmboog, die trap ophelp. ’n Gevoel van welbehae vloei deur haar hele lyf. Sy byt hard op haar onderlip, verward oor al die emosies wat Christiaan in haar laat ontwaak. Moet skok wees. ’n Rit saam met ’n wildvreemde man op ’n kragtige motorfiets ís ’n traumaties ervaring, vandaar haar ongewone sensasies, redeneer sy, Christiaan maak ’n swaar houtdeur oop en laat Maryna die ruim voorportaal eerste binnegaan. Sy verstom haar aan die handgekerfde geel- en stinkhoutmeubels, die groot kristalkandelaar teen die sierlike plafon, en die talle skilderye teen die mure.
Op die geelhoutvloer lê verskeie Persiese matte wat haar skuldig laat sê: “Ons drup op alles. Waar is die naaste badkamer?”
“Ek sal ’n handdoek bring. Bel solank jou mense,” antwoord hy en loop met lang hale na ’n verskuilde uitgang agter die gevleuelde trap wat na die eerste verdieping lei.
Sy stap na die koordlose foon wat op ’n antieke muurtafeltjie staan, en steek in haar spore vas toe sy haar eie spieëlbeeld in die vergulde spieël bokant die tafeltjie gewaar. Sy is letterlik gegiet in haar sopnat, wit T-hemp en ligblou jeans, besef sy terwyl gloede van verleentheid oor haar nek en gesig kruip. Sy pluk die klouende T-hemp weg van haar lyf en kyk vlugtig na haar gesig. Die punte van haar krullerige hare waarvan die kleur tussen goue graan en silwerwit wissel, hang in toutjies. Sy het haar ma se fyn gelaatstrekke en vleklose vel geërf, en ’n onbekende voorouer is verantwoordelik vir die besonderse kleur van haar oë: seegroen, donker omkring, helder en veranderlik. Sy is van gemiddelde lengte, maar omdat sy slank is, lyk sy langer. Haar pa vertel haar graag sy is die mooiste meisie in die land, maar haar ma sê liefde maak alle meisies mooi. Sy lyk vandag mooi omdat haar oë …Sy ontwaak uit haar mymeringe toe sy naderende voetstappe hoor, lig die foon van die voetstuk af en bring dit vinnig na haar oor.
“Dè,” sê Christiaan en drapeer in ’n groot wit handdoek om haar skouers. “Kan jy nie deurkom nie?” vra hy en vryf met sy hande oor haar skouers en boarms.
“Ek …ek kan nie ’n skakeltoon kry nie,” antwoord sy, bewus van haar versnellende hartklop, en hou die foon uit na hom. Sy moet so gou moontlik wegkom van Christiaan de Necker, want hy speel woer-woer met haar emosies. Sy is gewoond aan die geselskap van mans en tot dusver was sy altyd in beheer van enige situasie waarin sy haar bevind het – totdat sy Christiaan ontmoet het. Wat hy doen, weet sy nie, maar dis asof elke senupunt in haar liggaam in sy teenwoordigheid vibreer. Sy is oorbewus van sy lang, lenige lyf, van die brons kleur van sy vel, sy spiere. Christiaan maak haar te bewus van haar eie vroulikheid, en dit spel gevaar.
“Laat ek probeer,” sê hy en neem die foon by haar, sit dit terug op die voetstuk en bring dit na sy oor. “Dood soos ’n mossie. Die telefoondrade is heel waarskynlik deur die storm beskadig,” merk hy onbesorg op en sit die foon terug op die voetstuk.
“As ek jou selfoon mag leen …asseblief? My ouers verwag my vir aandete,” verduidelik sy, so besig om haar in die handdoek toe te wikkel dat sy nie na hom hoef te kyk nie.
“Û …û …” reageer hy kopskuddend, sy uitdrukking simpatiek ondanks die huiwerende glimlag om sy mondhoeke. “Jy, Marynatjie, sit pens en pootjies …e …jy is in ’n penarie. Kyk deur die venster: die rivier kom af en stroom ’n meter of wat oor die laagwaterbrug – en dis maar die begin. As jy baie gelukkig is, sal ons die brug weer môreoggend kan gebruik en die snelweg miskien dan kan bereik.”
“Maar ek kan nie hier bly nie. Wat sal jou vrou en die ander huismense sê?” protesteer sy en wens vuriglik sy kan wegkom voordat sy sy vrou hoef te ontmoet.
“O, hulle sal nie omgee nie. Jy ken mos ons boeregemeenskap: altyd gasvry en verwelkomend teenoor alle besoekers. Gebruik my selfoon en verseker jou ouers dat die De Neckers jou sal voorsien van etes en slaapplek totdat jou motor herstel is.”
“Goeistetjie tog, ek het van my motor vergeet,” kwel sy terwyl sy sy selfoon by hom neem. “Sal dit nog daar wees wanneer ek môre daarna gaan soek?”
“Hopelik nie,” antwoord hy ernstig, maar lag dans in sy silwergrys oë. “Ek het my vriend Hanno gebel toe ek vir jou ’n handdoek gaan haal het. Hanno spesialiseer in motortjies soos joune en hy sal sorg dat dit veilig is.”
“Maar jy het my sleutels,” beskuldig sy.
“Nie werklik nie.