Schalkie van Wyk

Maryna se liefdeslied


Скачать книгу

hy gemoedelik.

      “Nee, ek weet nie, Christiaan. Ons het ure lank gesels, maar jy het my ondervra en nooit oor jouself gepraat nie. Ek weet net jy is nie ’n boer nie, want jou hande is te sag,” sê sy vies en staan op.

      Hy lag haar goedig uit. “Ek, kwaai Maryna, het nooit gesê ek is ’n boer nie. En ons het glad nie so lank gesels nie, want jy het nouliks jou aandete klaar geëet, of jy raak soos ’n liewe dogtertjie teen my skouer aan die slaap. Jy en Leonie moes die vorige nag bitter min geslaap het, want jy kon jou oë nie oophou nie.”

      Sy bloos skuldig. “’n Uur of twee, want ons was so verlig omdat ons eindelik klaar was met ons gemeenskapsdiens dat ons nie kon ophou praat nie. Maar dis oggend …” Sy kyk na die ou staanhorlosie en draai hoopvol na hom. “Dis ’n paar minute voor agt. Het die rivier klaar afgekom?”

      “Gisteraand al. Hanno het jou motortjie net na elfuur afgelewer en ek het hom op my motorfiets teruggeneem huis toe,” vertel hy met opsigtelike genoegdoening.

      “Terwyl ek geslaap het?” vra sy ongelowig.

      “Terwyl jy soos ’n soet kind geslaap het.” Hy strek sy hand uit na die tafeltjie langs die rusbank en tel ’n selfoon op. “Ek het jou selfoon gelaai sodat jy jou ma kan bel. Sê vir haar jy sal huis toe ry sodra ons ontbyt geëet het. Ek verkies om jou met my motor te neem terwyl Hanno jou motortjie bestuur, maar as jy koppig wil wees, sal ek jou op my motorfiets volg en sorg dat …”

      “Nee, Christiaan, asseblief nie. Baie dankie dat jy my selfoon gelaai het, maar ek moet so vinnig moontlik hier wegkom. Ek sal ter wille van my ma se senuwees terugry Bultfontein toe en Leonie en haar vakansietasse oplaai – en sommer by hulle ontbyt eet. Nadat ek gistermiddag vir my ma gejok het, durf ek nie sonder Leonie by ons huis opdaag nie. Ek het werklik elke oomblik van my kuiertjie hier geniet en jy was baie gaaf en gasvry, maar …”

      “Maar jy is skaam om my aan jou ouers voor te stel?” vra hy gelykmatig, sy oë deurdringend in hare.

      “Nee. Dis net …Ek het klaar vir my ma gejok oor die oom en tannie by wie ek kuier, en ek sal dieselfde storie aan Leonie moet vertel sodat sy saam met my kan jok. Daag ek saam met jou by ons huis op …Dis verskriklik moeilik om vir my ma te jok, want sy snuffel leuens soos ’n speurhond uit. Jy gaan die hele situasie net ’n duisend maal erger maak, want …want my ma sal dadelik agterkom ons is vriende.”

      “Is ons vriende?” vra hy, sy stemtoon onverwags streng.

      Haar oë pleit: “Jy weet ons is. Ek skuld Hanno geld vir die nuwe waaierband en al sy moeite. My ouma Le Grange gee altyd vir my geld vir Kersfees, want sy sê as ’n meisie genoeg geld in haar beursie het, laat sy mans nie toe om haar met drank en duur etes te verlei nie. Ek sal jou bel sodra ek terugkom van Jeffreysbaai af en Hanno betaal. Hy sal mos tot na Nuwejaarsdag kan wag?”

      “Hy sal, maar ek kan nie. Of liewer, ek wil nie.” Hy glimlag onverwags. “Goed, my koppige Maryna. As jy jou tande wil borsel, sal ek solank vir ons koffie maak. Jy mag my hemp leen as jou T-hemp nog nat is – en ek sal dit persoonlik kom haal.”

      “Ek sal jou hemp was en stryk en dit per spoedpos aan jou terugstuur,” sê sy kamma vermakerig, buk vinnig en raap haar selfoon op. “Net koffie, nie ontbyt nie, asseblief, Christiaan. As die rivier klaar afgekom het, daag jou Isabel dalk hier op om julle nuwe huishoudster uit te trap oor haar onbeskoftheid. Ek kan soos my ouma Le Grange klink, maar kan nie soos sy lyk nie!” voeg sy by.

      Maryna sit haar leë koffiebeker in die opwasbak en kyk verras op na Christiaan toe hy ’n plastiekhouer na haar uithou.

      “Dis ’n paar toebroodjies. Jy het my gisteraand vertel jy is dol oor ham-en-tamatietoebroodjies. Eet dit op pad Bultfontein toe, anders word die brood sopperig,” sê hy ernstig.

      “Dis bedagsaam van jou, dankie, Christiaan,” antwoord sy en sluk aan die knop wat sonder oorsaak ineens in haar keel vassteek. Sy wil nie weggaan nie, besef sy, en sluk weer. “Dankie vir die leen van jou hemp – my wit T-hempie is die ene ghrieskolle. Ek sal by ’n vulstasie stilhou en ’n ander T-hemp aantrek sodat Leonie my nie uitvra oor jou hemp nie.” Sy is hardop aan die dink terwyl hulle in die lang gang afstap na die voorportaal.

      Christiaan bly naas die dubbele voordeur staan en staar haar stilswyend aan. Sy vermy sy oë en kyk na die bronsbruin holte in sy nek bokant sy borsbeen. Daar is ’n ligte lagie sweet op sy vel wat in die sonlig glinster, en sy ervaar die begeerte om liggies met haar vingers oor sy nek en bors te streel.

      “Bel jy my nie na Kersfees nie, besoek ek jou pa. Ek sal wel aan ’n rede dink waarom ek die advies van ’n bekwame advokaat nodig het.”

      “Dis afdreiging …dis ’n oortreding. Ek sal bel, ek beloof, maar wag tot na Nuwejaar,” antwoord sy, kyk in sy oë en draai vinnig weg na die muurtafeltjie om haar T-hemp en haar skouersak op te tel. Sy moet wegkom van die groot man met die silwergrys oë en ’n glimlag wat ongekende flikkerende sensasies deur haar liggaam stuur. As sy alleen is, sal sy weer nugter kan dink en haar gevoelens onder beheer kry.

      “Tot siens, Christiaan,” groet sy, haar stem effens hees, en draf by die voordeur uit. Sy klim die trap af na die geplaveide parkeerterrein onder hoë skadubome, en steek haar hand na die deur van haar motortjie uit.

      “Jy het jou motorsleutels vergeet, haastige meisie,” praat Christiaan vlak langs haar, sy asem warm op haar nek en oor. Sy lippe raak vlindersag aan haar wang. “Tot siens, Maryna. Sien jou na Nuwejaarsdag.”

      Sy sluk, haar glimlag stram, neem die sleutels by hom en klim gou in haar motor. Sy skakel die enjin aan en ry weg sonder om om te kyk, bang dat hy die trane van hartseer in haar oë sal sien. Sy is veels te volwasse en intelligent om halsoorkop op ’n wildvreemde man verlief te raak, redeneer sy met haarself, maar sy en Christiaan het ’n besonderse vriendskap. Dis waarom sy nou huil: sy hou so baie van hom dat sy vir altyd by hom wil wees.

      Maryna bring haar motor in die skadu van ’n kareeboom langs haar ouerhuis tot stilstand, skakel die enjin af en kyk waarskuwend na Leonie Redelinghuys. “Onthou nou, Leonie: ons het op die plaas Doringlaagte by oom Giepie en tant Soekie Joubert oornag nadat my motor se waaier­band gebreek het. Oom Giepie is lank en maer en bles, en hy het bruin oë, en tant Soekie se hare is spierwit en sy het blou oë. Hulle plasie is nie groot nie en hulle het ’n paar melkkoeie en skape en …”

      “Ja, ja, ek weet al: en bokke en hoenders en kalkoene en …” val Leonie haar in die rede. “Genade, Maryna, dit het gereën toe die gawe oom Giepie ons in sy bakkie opgelaai het en vanoggend het ons nie tyd gehad om na sy boerdery te kyk nie. Ons is ’n bietjie laat omdat die motor­werktuigkundige moes sukkel om ’n nuwe waaierband vir jou Sonneblom te kry. Mag ek nou asseblief uitklim?”

      “Nie kalkoene nie,” verwyt Maryna met oordrewe bitterheid. “En moenie in my ma se oë kyk wanneer jy met haar praat nie: jy knip jou oë altyd vinniger as gewoonlik wanneer jy jok.”

      “Ek weet,” sê Leonie afgehaal. “Terwyl jy jou ma se nuuskierige vrae beantwoord, gaan ek my tasse na jou kamer sleep en vinnig stort en verklee. Ek voel vuil en verkreukel. Ek hoop jou suinige ouers koop vir jou ’n nuwe motor met lugreëling, want ons is darem nou professionele verpleegkundiges.”

      “Professionele vroue wat bang is vir my ma?” spot Maryna en maak haar motordeur oop.

      “Ek is net diplomaties. Jou liewe ma het beloof om vandag spesiaal tuis te bly en op jou terugkeer te wag, pleks van haar belangrike werk in die hof te gaan doen. Ek wed sy kan nie wag om haar dogter geluk te wens nie.” Leonie sluit sugtend by Maryna by die oop kattebak van die motor aan. “Ek het my oumagrootjie Saartjie se bloedrooi hare en goudgeel oë geërf, daarom gee my ma voor ek is haar stiefdogter. My broers het, let wel, elkeen ’n motor gekry toe hulle mondig geword het net omdat hulle blond en aantreklik soos sy is.”

      Maryna laat val ’n tas op Leonie se voet, ignoreer haar gemompelde verwensings en vra gekweld: “Waar is my ma? Sy kom altyd onmiddellik uit om my te groet, want Sonneblom brul mos soos ’n trekker.”

      “Ek dink jy het minstens ses beentjies