op die een rosige wangetjie en mymer fluisterend, met haar lippe teen sy wang: “Jy kon my eie seuntjie gewees het, jou pragtige kleinding. Met daardie blonde hare en blou oë kon jy my en Renier se seuntjie gewees het.”
Santi is baie hartseer toe sy en Walter later terugkeer. Walter is stil en afgetrokke, en ’n somber atmosfeer heers in die huis.
“Ek dink ek sal ’n rukkie gaan rus,” sê Santi. “Ek het so ’n ellendige hoofpyn, dit voel of my kop wil bars.”
“Jy sal hoofpynpoeiers in die medisynekassie in die badkamer kry,” sê Tina, “en moenie jou oor klein Ian bekommer nie, ek sal vir hom sorg. Hy is glad nie ’n inkennige seun nie, en dit lyk nogal of hy van my hou.”
Die res van die oggend speel Tina met klein Ian op die voorstoep. Na die middagete sit sy hom in die bed en bly by hom totdat hy slaap. Hierna gaan sit sy langs die swembad en dink aan alles wat die afgelope vyftien maande plaasgevind het.
Renier en die Beukesse weet bepaald almal dat haar pa gevangenisstraf ontduik het deur sy eie lewe te neem, dink sy. Dan wonder sy weer waarom Riana nooit haar brief beantwoord het nie.
Sy verag my bepaald omdat ek Renier destyds verlaat het, dink sy. Ja, dis nooit anders nie. Die hele gesin was lief vir Renier, en haar ouers het haar seker belet om langer met my vriende te wees.
Nou dwaal haar gedagtes weer na Renier. Sy het dit al dikwels oorweeg om hom by die Orion-staalfabriek te bel, maar die gedagte dat hy nie eens haar brief beantwoord het nie, het haar nog telkens van die plan laat afsien. Sy besef dat hy niks meer met haar te doen wil hê nie. Ja, vir al wat sy weet, is hy straks weer getroud. Aantreklike mans soos hy bly nie lank ongetroud nie . . .
“Waarom sit jy so alleen hier langs die swembad, Tina?” praat Santi meteens agter haar.
“Ek het sommer net aan die verlede gesit en dink,” antwoord sy weemoedig. Sy nooi Santi om te sit, maar laasgenoemde skud haar kop.
“Dankie, ek wil nie sit nie,” sê sy. “Walter het my gestuur om jou te kom haal. Hy sê daar is iets wat hy met jou wil bespreek.”
Tina kom stadig orent, glad nie gretig om nou al na daardie somber huis toe terug te keer nie. Sy haak by Santi in, en tydsaam stap hulle terug huis toe.
Hulle tref Walter in die sitkamer aan waar hy diep ingedagte in ’n sagte leunstoel sit en rook. Hy nooi hulle om te sit en vervolg bedaard: “Ek dink die tyd het aangebreek dat ons oor jou toekoms gesels, Tina. Jy besef natuurlik dat al Pa se besittings verkoop sal moet word, dat die firma reeds beslag gelê het op alles wat hy besit?”
“Ja, ek weet, Walter,” antwoord sy sag. “Ek het gister daaraan gedink en ook besluit om vir my ’n betrekking in die een of ander kantoor te vind.”
“Wat is jou kwalifikasies, kleinsus?” vra hy na ’n rukkie.
“Wel, ek het ’n matrieksertifikaat met handelsvakke. Maar ek sal natuurlik nie hier in Johannesburg aansoek doen om ’n betrekking nie. Ek glo nie hier is ’n enkele werkgewer wat wyle Gerhardus Eksteen se dogter in diens sal neem nie.”
“Dis waar, jy kan nie hier bly nie. Ek dink dit sal beter wees as jy by ons kom intrek. Met jou kwalifikasies behoort jy maklik ’n betrekking by die Unika-staalfabriek te kry. Trouens, die oubaas se private sekretaresse tree die einde van volgende maand in die huwelik, en met jou kwalifikasies behoort jy die werk te kan doen. Ek sal oubaas Meiring in dié verband spreek sodra ons tuis is.”
Tina oorweeg Walter se voorstel en vra dan: “Wanneer moet ons die huis ontruim, Walter?”
“Ek was vanoggend by Pa se prokureur. Hy sê jy het vyf dae tyd om die huis te ontruim, maar ek het vir hom gesê ons vertrek die dag na die begrafnis en dat jy by ons kom woon. Jy sal dus môre moet begin inpak, Tina.”
Sy knik haar kop instemmend.
“Dis tragies dat alles verkoop moet word – hierdie huis, die strandhuis, die vakansieplaas en die hotel op Margate,” sê Tina half ingedagte. “Ek wonder of die verkoop van al die eiendomme genoeg sal oplewer om al die skuld te dek. Dit bedra derduisende rande.”
“Ons sal dit eers weet nadat alles verkoop is,” kom dit bedaard van Walter. ’n Ander gedagte tref hom ineens. Hy kyk Tina met ’n simpatieke blik aan en vra versigtig: “Wat het tussen jou en Renier skeef geloop dat julle geskei het, Tinatjie?”
Tina kyk hom verbaas aan. “Het Pa julle dan nie vertel nie?”
Walter skud sy kop. “Pa het ons net vertel dat hy van jou geskei is en dat jy swanger is.”
“H’m . . . dis tipies van hom om sy . . . sy gemene dade vir ander te verbloem,” sê Tina met minagting. “In elk geval, daar het niks tussen my en Renier skeef geloop nie. Ons was die gelukkigste mense op aarde, totdat Pa sy verskyning by ons woonstel gemaak het . . .”
Terwyl sy vir Walter en Santi vertel hoe hul pa haar huwelik vernietig het en op hoe ’n slinkse wyse hy haar van haar kindjie beroof het, is daar soveel pyn en hartseer in haar stem dat Santi ongemerk die trane uit haar oë vee.
Sy vertel dat haar pa haar weer, na die geboorte van haar kindjie, wou dwing om met Thys Joubert in die huwelik te tree, en dat sy gedreig het om Thys te vertel dat sy reeds getroud was en selfs ’n kind gehad het.
“Nou verstaan julle waarom ek nog nie een traan gestort het nie. Ek kan nie trane, berou en hartseer veins wat ek nie voel nie. Die pyn, hartseer en verlange wat ek voel, is vir Renier en ons kindjie, die twee mense wat die naaste aan my hart is.”
’n Lang stilte volg op Tina se ontboeseming, toe vra Santi: “Waarom het jy nie vir Renier geskryf en alles aan hom verduidelik nie, Tina?”
“Ek hét vir hom geskryf, maar hy het nie eens my brief beantwoord nie,” vertel sy. “Hy dink bepaald ek is ’n swakkeling omdat ek my so volkome deur Pa laat oorheers het. Maar ek kon nie toelaat dat hy Renier leed aandoen of sy loopbaan verongeluk nie, en dit was juis die dinge wat hy gedreig het om te doen.”
“Het jy nooit weer geprobeer om met jou gewese man in aanraking te kom nie, kleinsus?” vra Walter.
Tina skud haar kop. “Wat baat dit dat ek aanhou skryf en hy beantwoord nie my briewe nie?”
“Het jy hom nie eens laat weet dat jy swanger was nie?” Walter kyk haar verbaas aan.
Tina byt op haar onderlip om die bewing te stil. Sy is baie na aan trane, maar kry dit tog reg om te sê: “As ’n vrou haar man in die steek laat, kan sy tog nie verwag dat hy in haar toestand moet belangstel nie, Walter!”
“Maar jy het verkeerd, Tina, elke normale man sal in sy kind belangstel,” help Walter haar reg. “Jy het jou man verlaat, dus het hy, volgens wet, meer reg op die kind gehad as jy. Ek ys as ek dink aan wat die gevolg gaan wees as hy moet vasstel dat sy kind sonder sy medewete weggegee is, en dit nogal sy eerste kind en ’n seun daarby. Dit was ’n onwettige daad . . .”
“Dit was nie die enigste onwettige daad wat my pa gepleeg het nie, Walter,” val Tina hom in die rede. “Maar toe hy vind dat sy onwettige dade hom ingehaal het, gaan soek hy ontvlugting in die dood. In elk geval, hy het baie duur betaal.”
Tina dink ’n oomblik na en vervolg ernstig: “Ek sal vanaand vir Renier skryf en hom van ons kindjie vertel. Moontlik slaag hy nog daarin om my kind op te spoor en aan my terug te besorg.”
Tina is so diep ingedagte dat sy nie eens die onrus in Santi se oë opmerk toe sy Walter betekenisvol aankyk nie.
“Ek glo nie jy sal Renier na vyftien maande nog by die ou adres vind nie, Tina,” hoor sy Walter sê. “Ek voel oortuig daarvan dat hy na jul egskeiding in die een of ander hotel gaan loseer het.”
“Dis moontlik,” stem sy saam, “maar dit sal nie moeilik wees om sy huidige adres op te spoor nie.” Sy staan van die stoel af op en vervolg: “Ek gaan net gou die firma bel waar hy werk. Hulle sal my sy regte adres kan gee.”
In haar pa se studeerkamer neem sy die telefoongids en soek na Meyerstad.