Paula Marais

Skaduself


Скачать книгу

– in enige vorm – is “vleiserig”, “te ryk” en “eintlik nogal walglik”. Suikermieliesop is “smaakloos”. Ek bak brood, wat sy “maag opblaas” en my pasta is “oorgaar”.

      Op pad terug van die kampus af eet Annie die oorskiet met haar voete op ons bed.

      “Héérlik!” roep sy uit oor amper alles.

      “Man, jy’s ’n arm student – jy’t net nie fiemies nie.”

      “Het jy al ooit daaraan gedink dat Raj te veel fiemies het?”

      Wanneer Rajit van UCT af huis toe kom, is hy vies as Annie daar is.

      “Ek wil by jóú wees, nie by Annie nie,” sê hy dan.

      “Ek raak eensaam,” sê ek.

      “Hoekom doen jy nie iets saam met my susters nie?” vra Rajit. “Kesiree is mal oor jou.” Hy grawe in sy sak en haal van die kontant uit wat hy met klasgee verdien. “Hoekom gaan fliek julle twee nie? Ek het môreaand ’n lesing. Ek sal vir Amma vra of julle haar kar kan gebruik.”

      Toe ons vroegaand terugkom, wag Rajit ons in sy ma se sitkamer in.

      “Wat het julle gaan kyk? Hoe was dit? Kan ek die kaartjie sien?”

      Ek verstaan nie hierdie kaartjieobsessie nie, maar reeds vroeg in my huwelik leer ek om bewyse te hou. Om dit weg te steek, net ingeval.

      “Amma het aandete gemaak,” sê Rajit. “Ons eet vanaand hier.”

      Ná die kruisverhoor kyk ek hoe hy Asmita se lensiekerrie verslind asof hy maande laas geëet het. Hy lek sy lippe af, smak en sug, en sy hand beweeg soos ’n slanghalsvoël. Voor Asmita nog kan sit, is sy bord al leeg. Asmita glimlag, stapel nog ’n reuselepel rys op sy bord, dan die kerrie.

      Ek weet nie hoe om met my hande te eet nie. Ek het ’n paar keer probeer, maar op die ou end is my ken vol sous en die tafeldoek is borriegeel waar ek sit. Ek eet die kerrie met ’n lepel en probeer gewoond raak aan die smaak. Dit brand my mond, maar ek wil nie iets sê nie.

      “Amma is ’n briljante kok, nè?” sê Raj.

      “Wonderlik,” stem ek saam.

      Kesiree glimlag vir my oorkant die tafel. Sy het ’n geheime kêrel en ek is die enigste een wat van hom weet: ’n Moslem, die seun van ’n imam, nogal. Waafiq is selfs ongewenster as ek, en Raj se ouers sal woedend verby wees as hulle moet uitvind. Ek vertel nie vir Rajit nie. Die fliek was die perfekte dekmantel: Waafiq het ons daar ontmoet, en ek het gekyk hoe hulle hand aan hand wegslenter om The Karate Kid te gaan kyk, waarna ek nie wou kyk nie. Waafiq het my laat dink aan ’n bosvark, sy swart hare het styf orent gestaan soos penne op sy kop en sy neusgate was te groot vir sy gesig. Ek was nie eintlik seker wat Kesiree in hom gesien het nie.

      “Asseblief, Thea,” het Kesiree gesmeek. “Jy weet tog hoe dit is om verlief te wees.”

      Ek kon nie nee sê nie. As ek ’n oog oor hulle hou, sou hulle ten minste nie kans kry vir die warm vrysessies in die kar op Seinheuwel waarvoor ek en Rajit so lief was nie. Tog net nie nog ’n onbeplande baba, soos die een in my maag nie.

      Die probleem is dat die uitstappie niks gedoen het om my eensaamheid te verlig nie. Ek het alleen na Romancing the Stone gaan kyk terwyl ek langtand aan my springmielies knibbel. Teen die tyd dat Kesiree en Waafiq vyftien minute ná my te voorskyn kom, gloei my skoonsuster se hartvormige gesiggie, haar donker oë glinster en hulle hande is steeds styf inmekaargevleg.

      Dis donkiejare sedert Raj laas my hand so vasgehou het.

      Buitendien is Kesiree se geselskap nie dieselfde as om vir Annie te sien nie. Hoewel ek nou en dan met haar opvang, begin sy van my af wegdryf. Sy hou partytjie in Observatory, woon nou en dan ’n lesing by en bak in die son op Llandudno-strand. Dis nie dat sy my nie ondersteun nie. Sy het selfs vir my ’n bababed gekry by ’n buurvrou wie se kinders sy oppas; dit staan ingedruk tussen ons bed en die klerekas. Maar dinge het verander. Ons lewe loop in verskillende rigtings en, hoewel ek myself belowe het ek sal nooit spyt wees oor my man en my baba nie, wonder ek soms wat sou gebeur het as dinge anders was.

      As ek nie nou in hierdie vreemde plek gesit het en dhal oor my rys skep in ’n poging om die speserye te neutraliseer nie.

      Ek sluk ’n klomp water af en dink verlangend aan die aarbeijogurt in ons yskassie.

      “Hoe was vandag?” vra ek vir Rajit.

      “Lesings,” sê hy afwysend. “Ma,” sê hy en kyk na Asmita, “kan jy vir Thea leer kook?”

      Ek spoeg byna die mond vol dhal terug op my bord. Asmita glimlag breed.

      “Ek kán kook,” sê ek.

      “Nie soos ons nie,” antwoord Raj.

      “Amoy Ayaa het mý geleer. Dit kan pret wees om saam te kook,” sê Asmita en kyk na haar ma wat vooroorgebuig aan die ander punt van die tafel sit. Rajit se ouma is nie altyd ewe helder nie, dus is ek nie eens seker of sy haar naam gehoor het nie.

      Ek kyk hoe Asmita Raj ’n druk gee en hoe hy hom teen haar aanvly soos ’n snyershandskoen.

      “Kán jy?” vra Rajit in ’n kinderstemmetjie wat ek vermoed hy nog eendag op my gaan gebruik. “Ek kan niks eet wat sy maak nie.”

      Ek voel die hitte in my wange opstoot.

      “Jy moet vir Thea ’n kans gee,” sê sy pa. Net toe ek dankbaar vir hom glimlag, gaan Kandasamy voort. “Sy’s nog jonk. Sy kan nie help as sy nog nie weet hoe om ’n goeie vrou te wees nie.” Kandasamy steek sy hand in sy aandete en die kos verdwyn tussen sy vetterige lippe in.

      “Jy raak baie maer, Rajit.” Amoy Ayaa kyk van haar bord af op. “Eet. Eet.”

      Dis soos wanneer almal teen jou draai op die speelgrond. Selfs Kesiree, my nuwe beste vriendin, wie se geheim ek in my boesem bewaar, sê niks om my te verdedig nie. Om Waafiq se naam te noem, sou ten minste die onderwerp verander, en ek is baie lus en doen dit.

      “Jy kan begin deur ’n paar behoorlike bestanddele te koop,” sê Asmita.

      Behoorlike bestanddele, soos sy dit noem, kos geld, waarvan ons nie veel het nie.

      “Ek sal dan seker ’n werk moet kry,” sê ek.

      “’n Vrou moet waarde toevoeg,” sê Kandasamy. “Dis die eerste les.”

      “Jy gaan nêrens werk kry met daai maag nie,” sê Asmita. “En geen kwalifikasies nie. Ons kan saam gaan inkopies doen.”

      “En dan kan julle saam kook,” sê Raj.

      “Wonderlik.” Maar my stemtoon sê iets anders.

      “Eet, Raju, eet,” sê Amoy Ayaa. “Jy is besig om weg te teer. Asmita, hoekom kook jy nie vir jou seun nie?”

      Ek leun vorentoe om iets te sê, maar Rajit skud sy kop. Die beweging trek egter Amoy Ayaa se aandag.

      “En wie is jy, my kind? Ek dink nie ons het al ontmoet nie,” sê sy vir my. “Asmita, jy kon genoem het dat ons ’n gas gaan hê. En kyk, Asmita, ons gas gaan ’n baba hê!”

      En dit is hoe ek gevoel het, soos ’n gas. Skielik mis ek die geur van basiliekruid en knoffel wat uit Ma se kombuis aangesweef gekom het. Niks aan hierdie huis en hierdie gesin is vir my bekend nie. Hier is die oorweldigende geure dié van koljander, garam masala, uie, en olie wat braai. My ma se huis is gedemp en deftig, met elke ding op sy plek; Asmita se huis is vol oorgestoffeerde kussings, helder materiale en religieuse ikone en prente waarvan ek nog nie die betekenis kon uitmaak nie. En geen privaatheid nie. By Asmita val die bure gedurig in – en gaan huis toe met bakkies vol suikerboonkerrie en basmatirys.

      “Ek verstaan dit nie,” sê ek vir Rajit. “Dis tog seker genoeg om vir óns kos te gee?”

      “Dis maar ons manier,” sê Raj. “Ons kan hier onder in die pad gaan eet, as jy wil. Selvie Ayaa maak die heerlikste aartappelkerrie en roti.”